Valse vertalings?

Beste Udo

Ek wonder of julle weet van die nuwe Afrikaanse Bybel vertaling en die implikasies vir Afrikaanse Kerke? Die Bybel is die swaard van die Gees en het gelei tot Christene (Protestante) se skeuring met die Katolieke Kerk en die APK se skeuring met die NGK. Ek het die volgende epos gestuur aan ‘n beperkte aantal leiers van Afrikaanse kerke wie nog die 1953 Bybel gebruik. Na drie jaar se stryd met hulle het ek moed opgegee met hulle. Die 1983 Bybel is heimlik die kerk ingebring en nou wil hulle dit weer met die nuwe Bybel doen. Met internet gaan dit nie weer gebeur nie.

Ek sien op internet dat 15 Afrikaanssprekende kerke (Okt 2012 vergadering) voortgaan met die vertaling van die nuwe Afrikaanse Bybel (vyf kerke was op die punt om hulle te onttrek). Hieronder is Skrif bewyse dat die nuwe bronteks – Hebreeus / Griekse Bybel (saamgestel uit manuskripte deur die internasionale Bybelgenootskap se “deskundiges”) wat vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans gebruik word korrup is. Om ligimiteit te verleen aan hul korrupte bronteks gebruik hulle selektief ook die Textus Receptus bronteks! – Hebreeus / Griekse Bybel vir die Authorized King James Bybel en die1953 Afrikaanse Bybel. Die nuwe bronteks is dieselfde as vir die New King James, korrup!

1 Johannes 5:6,7,8 (vers 6 verklaar Apostel Johannes se woorde “Maar een van die soldate het met ‘n spies in sy (Jesus se) sy gesteek, en dadelik het daar bloed en water uitgekom.” Joh 19:34). Nuwe Bybel bron: www.nuwekerkbybel.co.za

Vers 6    1953 Bybel (Textus Receptus):                                            Vers 6    Nuwe Bybel (2016?):

Dit is Hy wat deur water en bloed gekom het, (spies)                Hy, Jesus Christus, is die Een wat

Jesus die Christus;                                                                                    deur water en bloed gekom het-

nie deur die water alleen nie, (water doop nie)                           nie deur die water nie,

maar deur die water en die bloed; (spies water en bloed)       maar deur die water en die bloed.

en dit is die Gees wat getuig,                                                   Die Gees is die Een wat getuig (“Een” hierbo)

Want die Gees is die waarheid.                                              want die Gees is die waarheid.

Vers 7:                                                                                               Vers 7:

Want daar is drie wat getuig in die hemel:                      Want daar is drie wat getuig. (res weggelaat)

die Vader, die Woord en die Heilige Gees,

en hierdie drie is een; (een Here)

Vers 8. (gelees met vers 6):                                                                        Vers 8:

en daar is drie wat getuig op die aarde:                                             (kern weggelaat)

die Gees en die water en die bloed (spies)                                        die Gees en die water en die bloed,

en die drie is eenstemmig.                                                                       en hierdie drie is dit eens.

1983 Bybel (vrye vertalingwyse – Sinaiticus bronteks):

 Die Een wat deur die water van sy doop (korrup!)        Vers 7.

en die bloed van sy dood na ons toe gekom het,          Daar is dus drie wat getuig: (Soos nuwe Bybel)

is Jesus Christus; (spies gesteek en nie mee gedood nie!)

nie net deur die water nie, (asof ook waterdoop)                      Vers 8.

maar deur die water en die bloed.                                                    (kern weggelaat soos nuwe Bybel)

Die Gees is die getuie daarvan                                                            die Gees en die water en die bloed,

en die Gees is die waarheid.                                                                en die drie se getuienis stem ooreen.

Die nuwe Bybel (2016) en die 1983 Bybel is “leuen” Bybels en korrupeer die waarheid, die Woord en Gees van waarheid, wat vir ons sal getuig in die hemel en op aarde! ‘n Persoon wie nie die leuen van die waarheid kan onderskei nie, het nie die Gees van God in hom nie.

Dit blyk nou dat die Heilige Gees staan nie die nuwe korrupte Bybel teen nie maar laat dit toe om ware Christene te dryf uit die “leuen” kerke – presies soos dit met my en miljoene Christene wêreld wyd tans die geval is. Oor hierdie saak berus ek my nou by die wil van die Heilige Gees.

Groete in Jesus Christus, die Woord.

Winkelsmidt

 

 

Hallo Winkelsmidt

Dankie vir jou kommentaar – ons waardeer dit. Ek sal graag jou kommentaar wil hoor op die volgende kort artikel van Daniel Wallace oor 1 Johannes 5:7-8. ‘n Langer, meer breedvoerige artikel is hier te vinde.

Groete
Udo

 

Beste Udo

Dankie vir jou epos. Ek het gaan kyk na die webwerwe waarna jy verwys en is welbekend met die polimiek rondom hierdie verse. Kommentaar: Hierdie verse is die maklikste manier vir leke om ‘n vals Bybel te kan identifiseer. Verse 7 en 8 openbaar dat daar getuies vir ons in die hemel en op aarde is wat nie in ander Bybels geopenbaar word nie! Sonder vers 8 kan ons nie vers 6 ten volle verstaan nie – en die vers van die spies – bloed en water uit Jesus gekom het. Vers 7 is uiters belangrik want nou weet ons dat daar drie is wie vir ons getuig en wie hulle is wat vir ons in die hemel getuig voor die regterstoel van Here Jesus Christus – anders het ons dit nie geweet nie. Verse 7 en 8 is belangrik wat dit word twee maal herhaal dat daar drie is wie sal getuig want dit sluit aan by die Ou testament en herhaal in die Nuwe Testament dat as iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy op die getuienis van twee of drie mense. Johannes, wie lewend na die hemel gegaan het, openbaar wie die drie getuies vir ons op aarde en in die hemel sal wees.

Wanneer ‘n Christen die volledige verse 7 en 8 lees en sien wat in ander Bybels staan dan sal geen ware Christen twyfel watter Bybel die ware Woord van God is nie. Dit is die hoof rede waarom valse teoloë wie valse Bybels aanhang so woedend raak oor die drie Johannes verse.

Groete,

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek is nie so seker of ons die polemiek op dieselfde manier verstaan nie. Volgens my is die vraag of die historiese getuienis werklik daarop dui dat verse 7 en 8 van 1 Johannes deel was van die oorspronklike manuskripte, siende dat dit nie deel vorm van die vroegste Griekse manuskripte tot ons beskikking nie (en weens ander oorwegings). Dit klink nie vir my dat iemand soos Daniel Wallace en baie ander kenners bloot die Bybel se gesag probeer ondermyn of ‘n valse Bybel daar wil stel nie, maar bloot eerlik wil omgaan met die historiese gegewens tot ons beskikking. As daar êrens toevoegings tot die Bybel ingesluip het, dan wil ek daarvan weet, maak nie saak hoe oulik die teologie is wat ons rondom daardie toevoegings opgebou het nie.

Ek probeer bloot eerlik en verantwoordelik met die vraag omgaan, want dit help nie om die Woord se betroubaarheid en gesag te verdedig (en ek glo in beide) as daar werklik goeie redes is om bepaalde gegewens te betwyfel nie.

Groete

Udo

 

Beste Udo

Dankie vir jou epos. Ek deel jou opregte soeke na net die waarheid. As leke is ons afhanglik van wat die eksperts sê want ons het nie die manuskripte gesien of (kan) gelees nie. – elke ekspert, vir of daarteen, stel sy eie kant van die saak. Vir myself het ek dit asvolg uitgeklaar naamlik om die drie verse te vergelyk met verskillende Bybels. Die 1983 Bybel en nou weer met die nuwe Bybel. Albei se vers 7 lees “Want daar is drie wat getuig. Wie is die drie wat getuig en wat getuig hulle en waar getuig hulle. Daar kort iets in hierdie vers en die 1953 Bybel daarteenoor verduidelik dit volledig – wie, wat, waar. Die twee nuwe Bybels se vers 8 is net so afgestomp en onvolledig teenoor die 1953 Bybel se vers 8. Die twee nuwe Bybels se verse 7 en 8 saam gelees vorm een begrip net ter ondersteuning van vers 6. In die 1953 Bybel ondersteun (verduidelik) vers 8 vir vers 6 maar vers 7 (getuies in die hemel)  is ‘n nuwe openbaring – wat gebeur by die regterstoel voor Here Jesus Christus. Vers 8 (getuies op aarde) verwys wie deel deur die Heilige Gees in Jesus se kruis water en bloed tot vergifnis van sonde en dit bepaat na watter deel van die twee dele van die doderyk ons sal gaan. (hoofstuk Opstanding uit die dood: Doop met vuur).

Kortweg. Christene kan slegs die drie Johannes verse beoordeel soos dit in drie Bybels staan en daar volgens besluit wat hulle dink is die waarheid – die volle woorde van God. Daar is enkele manuskripte wat wel die oorsprong van verse 7 en 8 bevat soos gemeld in die 1953 Bybel. Teoloë bepaal die aanvaarbaarheid van manuskripte volgens die min of baie manuskripte wat dieselfde “vers” ondersteun. Dit is die wese van hul beswaar teen die Textus Reseptus Johannes verse. Hulle steur hulle nie aan die inhoud van verse 7 en 8 nie. Nou moet elke Christen hierdie saak vir hom self uitklaar en besluit watter Bybel is die Woord van God.

Dit is lekker om met jou te gesels.

Groete,

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Dankie vir jou skrywe. Ek maak enkele verdere opmerkings.

Ons is almal afhanklik van die “eksperts” in byna alle areas van die lewe. Ek stem saam dat dit soms moeilik is om te bepaal watter van hierdie eksperts ons moet glo wanneer ons met teenstrydige aansprake te doen kry. Tog dink ek nie ons is maar net uitgelewer aan wat die eksperts sê nie, ons kan self bepaalde sake krities beskou en die argumente opweeg vir of teen ‘n bepaalde posisie.

Hoewel dit nie opsigself ‘n argument is nie, is dit noemenswaardig dat die oorgrote meerderheid van navorsers (ja, ook Christene wat die Bybel as God se Woord aanvaar) aantoon dat die Comma Johanneum nie eg is nie. Die rede hiervoor het te doen met tekskritiese navorsing oor die vroegste manuskripte soos die volgende aanhaling aantoon (“the passage” verwys na 1 Joh 5:7-8):

However, the passage is not in any manuscripts of the ancient versions except the Latin and even then is not in the earlier form of the Old Latin or Jerome’s Vulgate meaning that it does not appear in the Syriac, Coptic, Armenian, Ethiopic, Arabic, Slavonic, Tertullian, Cyprian, Augustine, codex Fuldensis, codex Amiatinus or Alcuin’s revision of the Vulgate.[xxiii] Additionally there appear to be variants within what Latin is available and the Latin reads opposite the Greek.[xxiv] Turning to the Greek; none of the Greek Fathers quote the passage even though they would have had every reason to in the Trinitarian controversies involving Sabellius and Arius.[xxv] The passage appears for the very first time in 1215 in a Greek version of the Latin Acts of the Lateran Council.[xxvi]

Dit help dus nie om die drie verskillende Afrikaanse vertalings met mekaar te vergelyk nie, want hierdie vertalings is almal afhanklik van onderliggende aannames oor die oorspronklike teks. Sommige van hierdie aannames staan egter onder ernstige verdenking soos bg. verwysing aandui. Ek wonder verder hoekom jou petisie net tot Afrikaanse vertalings beperk is, as hordes Engelse vertalings (om maar één ander taal te noem), behalwe die KJV, nie hierdie verse as eg insluit nie (en as dit wel ingesluit word gaan dit gepaard met ‘n voetnota wat dit as sodanig duidelik maak).

Laastens wil ek weer noem dat ‘n mens nie teologiese konsepte (of selfs nuwe openbaring) uit verse kan aflei en dan die waarheid van daardie konsepte kan gebruik as rede vir waarom die verse waaruit jy dit afgelei het, in die Bybel hoort nie. Die eerste vraag is NIE na die inhoudelike betekenis van die verse nie, maar of die verse in die eerste plek in die Bybel moes gewees het. (As jy weer na die artikel kyk waarna ek verwys het, dan sal jy sien dat daar egter juis ook interne probleme is met die betekenis van daardie verse.)

Ek is bly dat ons ‘n soeke na die waarheid deel. Ek neem ook ter harte (soos ek glo jy ook) dat ons baie versigtig moet wees om nie dinge tot God se Woord by te voeg (hoe mooi en lofwaardig dit ook al mag klink) net soos ons ook nie daarvan moet wegneem nie. Die punt is egter dat ‘n vertaling nie outomaties God se Woord is nie, maar slegs in die mate waartoe dit getrou is aan die oorspronklike geïnspireerde woorde van die skrywers daarvan. Dit is waaroor ek besorg is en dit is waarom ek nie met jou kan saamstem oor hierdie spesifieke saak nie.

Beste groete

Udo

Sien ook:

 

1 Comment

  1. Winkelsmidt: Ek dink persoonlik nie dat die verse wat jy noem die belangrikste verse in die Bybel is nie, of iemand dit nou bygevoeg het of nie; in Openbaring word die mense gemaan om nie ‘iets by te voeg, en nie iets weg te laat nie’, daarby word bedoel van die ‘core message’ van die Bybel. Ons weet daar is die anticris in die wereld, maar wat daar ook staan in die Bybel is dat daar baie false profete en baie antichriste sal wees. Studeer die Bybel, daar staan ook ‘luister na die ‘preek’ en gaan dit na in die Bybel. Stel vas Wat het die rooms katolieke kerk en JV’s verander of weggelaat uit die Bybel, dit sal jou n ‘clue’ gee van hoe satan met n draai; met n gelieg, en met sy kronkelpad die waarheid van die Bybel. Onthou satan ken die Bybel beter as ek en jy, en sodoende weet dit wat om te verdraai, te verander

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.