‘n Paar vrae oor die Christelike Apologetiek

(Hierdie vrae is oorspronklik in ‘n onderhoud met André van Zyl op RSG gevra)

Die woord “Apologetiek” val nogal vreemd op die oor, wat is dit presies?

Ja, die woord apologetiek klink nogal of iemand vir iets omverskoning vra, maar dit is nie waarna die woord verwys nie.  Die woord apologetiek word afgelei van die Griekse woord “Apologia” wat gewoonlik in verband met hofsake gebruik is.  Om ‘n “apologia” te gee was om terug te antwoord op ‘n vraag/beskuldiging/saak wat teenoor jou posisie in die konteks van ‘n hof gebring was.  Dus beteken Christelike apologetiek om ‘n antwoord te gee oor die hoop wat in ons lewe (I Pet 3:15).

Beteken dit dat julle dink mense kan tot geloof beredeneer word?

Nee, verseker nie.  Ons weet dat dit die werk van die Heilige Gees is om mense tot reddende geloof te bring.  Ons dink egter wel dat daar mense is wat opregte en ernstige vrae en/of besware het oor die Christelike geloof.  Hulle verdien ‘n redelike antwoord vanaf die Christelike gemeenskap en dit is die rol wat apologetiek speel.

Baie mense dink geloof staan teenoor rede of kennis.  Wat is jou opinie hieroor?

Ek het een keer gehoor dat iemand sê dat geloof beteken om iets te glo wat moontlik nie waar is nie.  As dit die definisie van geloof was, dan sou ‘n sterk geloof beteken om bykans seker wees dat iets vals is, maar dit dan steeds te glo.  DIT is egter nie ‘n beskrywing van wat die Christelike konsep “geloof” beteken nie.  Christelike geloof behels KENNIS en VERTROUE.  Ons word opgeroep om die Christelike geloof te glo (vertrou) primêr omdat dit waar is.  Ons kan slegs weet iets is waar as ons goeie redes het om dit te glo.  As die Christelike geloof reg verstaan word, dan word dit versterk deur kennis en rede, nie daardeur verswak nie.  Dit is ook interessant dat God ons oproep om Hom lief te hê met ons hele hart, ons hele siel en ons hele verstand.  As Christelike gemeenskap is ons redelik goed met die hart en siel dele, maar hoe het ons God lief met ons verstand?  Ons kan dit doen deur ons verstand so goed as moontlik te gebruik in ons geloof.

Dit klink vir party mense nogal konfronterend om te wil antwoorde gee en argumenteer, ens.  Hoe pas dit by Christenskap is?

Ek dink ons maak maklik foute na die twee uiterstes.  Eerstens gee baie Christene te veel toe of onttrek as hulle met moeilike vrae gekonfronteer word.  Hulle is dus soos sout wat sy krag verloor het of wat in die soutpot bly.  Aan die anderkant kry ‘n mens bakleierige Christene wat orals skoor soek en met almal baklei.  Hulle is weer soos te véél sout in die kos.  Die geheim lê in I Pet 3:15 en 16.  Paulus spoor ons aan om ‘n rede te gee vir die hoop wat in ons leef, maar om dit met beskeidenheid en eerbied vir God te doen.  Dus waarheid in liefde.  Dan is ons die regte hoeveelheid effektiewe sout wat ware geur en smaak aan die kos van die lewe gee.

Behalwe vir I Petrus 3, sou jy sê apologetiek is ‘n Bybelse praktyk?

Ek dink verseker so, ja.  Eerstens kom die woord apologia op ‘n hele paar plekke in verband met die werk van die verspreiding van die evangelie voor.  Tweedens is daar al vele boeke geskryf oor die apologetiek van Jesus en laastens kom Paulus as ‘n fantastiese apologeet in Handelinge na vore.  Ek dink apologetiek is juis deel van die Bybelse benadering van die verspreiding van die Evangelie.

Dink jy vandag se mense het nog steeds baie vrae oor sake wat geloof raak?

Verseker!  Om die waarheid te sê, ek dink dat mense vandag selfs meer vrae het as wat mense in die verlede gehad het.  Ons het dikwels nie in die kerk die kultuur geskep waarin mense gemaklik gevoel het om hul opregte vrae te vra nie, maar die vrae was en is steeds verseker daar.  Elke keer as ons met groepe mense werk en hulle die geleentheid gee om vrae te vra, is ons verbaas oor die hoeveelheid en die deurdagte aard van mense se vrae.

Mense sê deesdae ons leef in ‘n postmoderne tyd en dat ‘n mens eintlik oor niks kan seker wees nie.  Wat dan van die Christendom se radikale aansprake oor absolute waarheid?

Voor ek die vraag antwoord wil ek net eers sê dat ons dikwels in die kerk te seker oor alles wou wees.  Ek dink dit is ‘n fout en ek dink ons as Christene moet erken dat daar ‘n hele klomp goed is waaroor ons nie geheel en al seker is nie.  Baie aanhangers van postmoderne denke wil egter deesdae sê dat ons van niks kan seker wees nie en dat ons te klein en nietig is om enigiets te weet.  Dit klink baie nederig, maar behalwe dat dit selfweersprekend is, is dit ook nie naasteby so nederig as wat dit klink nie.  Postmoderne denkers maak die fout dat hul ons onvermoë om alwetende kennis oor goed te hê gelykstel aan ons onvermoë om oor enigiets seker te wees.  Slegs God is alwetend en daarom sal daar altyd onbeantwoorde vrae oor enige aanspraak kan wees.  Tog het ons toegang tot wat Francis Schaeffer “ware waarheid” genoem het.  Alle mense leef so en alle mense maak absolute aansprake.

Watter vrae vra mense in jou ervaring deesdae die meeste?

Die heel belangrikste en seker die moeilikste vraag wat ons as Christene gevra word is hoe ons ‘n liefdevolle God met al die swaarkry en boosheid in die wêreld kan versoen.  Dit is beide ‘n kop en ‘n hart vraag omdat mense soms intellektueel daaroor wonder, maar ook omdat almal van ons met tye swaarkry en dit daarom ook ‘n emosionele ervaring is.

Vrae oor die eksklusiewe aansprake van Christenskap in die pluralistiese samelewing waarin ons lewe sou seker volgende op die lys wees.  Hoe moet ons Jesus se aansprake verstaan en wat dan van skynbaar goeie mense wat in ander geloofstelsels leef?

Vrae oor die betroubaarheid van die Bybel en oor Jesus as historiese persoon sou volgende op die lys wees gevolg deur vrae wat mense persoonlik raak en ook meer teologiese vrae.

Is daar enige vrae wat Christene nie moet vra nie?

Ja, vrae wat nie logies sin maak nie, verdien nie ‘n antwoord nie, bloot omdat dit in essensie vrae sonder betekenis is.  As die Christelike geloof egter WAAR is, en ons glo dit is, dan behoort ons daaroor enige vraag te kan vra.  Dit beteken nie dat ons as Christene alles weet nie en dit beteken ook nie ons kan alle vrae ewe goed beantwoord nie, maar enige vrae oor die waarheid van ons geloof is toelaatbaar.

Wat se raad het jy vir mense wat vrae het oor geloof?

Ek sou enigiemand wat met geloofsake worstel aanraai om aan te hou vrae vra en aan te hou soek na bevredigende antwoorde.  Ek sou egter ook by sulke persone wou weet watse tipe antwoorde nodig sou wees om hulle te oortuig?  Is hulle oortuigbaar en is hulle bereid om die getuienis te volg waarheen dit ookal lei?  Indien iemand regtig soekend is, dan sal so ‘n persoon vind dat daar regtig goeie antwoorde gevind kan word op die vrae waarmee so iemand worstel.  Ek dink daar is altyd plek by God vir mense met opregte vrae.

Wat se raad sou jy gee aan mense wat reeds Christene is en wat hulself meer in die apologetiek wil begeef?

Die eerste ding wat ek sou sê is dat ek dink dat alle Christene God met hulle hele verstand behoort lief te hê.  Wat ek bedoel is dat ek dink dat alle Christene die basiese inligting oor die waarheid van ons geloof behoort te ken.

Vir mense wat meer belangstel sou ek die volgende raad gee:

Eerstens sal jy bereid moet wees om vir God en vir mense lief te wees (ook dié wat anders as jy dink en glo).  Dit is die eerste en heel belangrikste vereiste.  Tweedens moet jy jouself begin toerus deur te lees, na kundiges te luister, deel te neem aan gesprekke, ens.   Derdens sou ek jou wou aanmoedig om in jou eie verhouding met die Here en in jou kennis van die Bybel te groei.

Watter materiaal kan jy aanbeveel vir mense wat hieroor sou wou begin lees?

Daar is nog relatief min goeie materiaal in Afrikaans beskikbaar.  Ek weet van ‘n boek of twee en Roedolf Botha is in die proses om ‘n nuwe boek die lig te laat sien.  Dus sal meeste van mens se leeswerk maar in Engels moet begin of vertaalde boeke moet lees.  Vir mense wat vir die eerste keer begin lees sou ek Lee Strobel se boeke (“The Case for-” – reeks) aanbeveel.  Ek dink ook Tim Keller se “The Reason for God” is een van die beste samevattende boeke wat ek nog gelees het.  Indien mense bietjie dieper wil grawe sal ek onder andere die werke van William Lane Craig aanbeveel.

Het jy enige ander raad vir mense wat die kennis uit die apologetiek sou wou gebruik?

As jy beplan om met iemand oor jou geloof te praat moet jy bereid wees om die moeite te doen om werklik te verstaan waar jou gespreksgenoot op die oomblik staan en waarheen hulle oppad is.  Dit beteken jy moet hulle wêreldbeskouing probeer verstaan en jy sal hulle moet raaksien vir wie hulle werklik is.  Dan moet jy ook weet dat party mense net vrae vra sonder om werklik antwoorde te wil hê.  Hulle gebruik die vrae as wapens en Bill Craig beskryf hulle as mense wat op die balkon van die lewe sit en ander wat besig is om op die geloofspad te stap, kritiseer.  Dit is gewoonlik nie moontlik om met sulke balkonsitters werklik sinvol oor geloof te praat nie.  Hulle het geen werklike belang daarin nie en speel eintlik ‘n tipe speletjie.  Ek sou nie te veel tyd aan sulke mense spandeer nie, want hulle WIL nie regtig weet nie.  Wees eerder op die uitkyk vir mense wat werklik soekend is, wat oop is vir ‘n geloofsreis, maak nie saak waar hulle is of in watter rigting hulle oppad is nie.  Solank hulle regtig wil weet, kan mens sinvol met hulle gesels.

Vertel my bietjie meer van AntWoord bediening se ontstaan?

AntWoord bediening bestaan al op ‘n informele manier sedert vroeg in 2003 in Gauteng.  Die bediening het ontstaan uit ‘n eie behoefte om vrae te mag vra oor geloof en om saam na sinvolle antwoorde in Afrikaans te soek.  Daar is baie Engelse materiaal, maar Afrikaanse mense het toenemend self begin vrae vra en het toenemend met mense met ander sienings te doen begin kry.  Ek en Udo Karsten het toe besluit om ‘n bediening in Afrikaans te begin om Afrikaanse mense se vrae te help beantwoord.  Intussen was die Here baie goed vir ons. AntWoord bediening het baie gegroei en bestaan nou reeds uit 6 permanente lede en ‘n hele klomp mense wat op verskillende maniere bydra.

Julle naam is interessant en ek sien julle skryf dit effe vreemd.  Vertel my bietjie van die naam van die bediening.

Die naam verwys na die feit dat ons glo Christene moet kan antwoorde gee oor die hoop wat in ons lewe.  In die postmoderne tyd waarin ons leef het baie mense hulle begin roem in hul onsekerhede en ek dink dit is belangrik dat ons die kompleksiteit en morsigheid van die lewe erken.  Ek dink egter dat ons as Christene baie goeie redes het om te glo wat ons glo.  Ons kan baie sinvolle antwoorde gee op enige vrae wat mense kan vra.  Ons is oortuig dat ons slegs een finale antwoord het en dit is dat Jesus God se dood en opstanding vir ons as mense versoening met God bewerk het.  Al ons ander antwoorde is redelik en ons dink oortuigend, maar is oop vir gesprek en beredenering.  Die manier waarop ons ons naam skryf verwys na die maniere waarop ons glo God homself aan die mensdom openbaar.  Gaan lees gerus hierdie artikel op ons webwerf wat hierop uitbrei.

Jy praat van ‘n webwerf. Wat is die hoof aktiwiteite van die AntWoord bediening?

Ons het ‘n redelik omvattende webwerf wat by www.antwoord.org.za te siene is.  Die webwerf sal nog vir ‘n baie lang tyd ontwikkel, maar ek dink dit is reeds ‘n baie goeie hulpbron.  Ons raak ook graag met mense per e-pos in gesprekke oor geloof betrokke.  Ons verkies egter nogal dat mense ons nie oor randsake waaroor Christene onder mekaar verskil, moet e-pos nie.  Ons hulpbronne is effe min en ons verkies om die tyd wat ons het in gesprek met mense spandeer wat werklik met vrae oor die kernsake van die Christelike geloof worstel.  Ons besoek ook graag selgroepe en gemeentes om spesifieke sake aan te spreek.  Ons het ook al ‘n hele paar kampe gereel of by gemeentekampe gepraat.  Dan is daar die jaarlikse “Faith & Reason” konferensie wat in 2012 vir die 5e keer in Centurion aangebied sal word in samewerking met die Southern Evangelical Seminary in die VSA.  Die laaste ding wat ek sal wil noem is die verskeie debatte en openbare gesprekke waarby ons betrokke was oor die afgelope paar jaar.  Hoogtepunte sluit in die debatte tussen William Lane Craig, Mike Licona en Sakkie Spangenberg en Hansie Wolmarans (2010) asook tussen Mike Licona en Abel Pienaar hierdie jaar.

Wat dink jy van die debatte wat huidiglik in sommige van die Afrikaanse kerke plaasvind?

Ek dink nie die vlak van debatvoering is baie hoog as dit by die Apologetiek kom nie.  Die meer kontroversiële Afrikaanse teoloë is nogal kleinserig en nie besonders goed beredeneerd nie.  Ek dink die debatte het dit sover duidelik na vore gebring.  Dit is seker een van die redes waarom ons hierdie jaar by bykans al die teoloë wat ons genader het om met Mike Licona oor die opstanding te gesels toe deure gekry het.  Hulle is vol bravade as hulle in hul eie klaskamers staan of as hulle die geduldige bladsye van sommige Afrikaanse koerante het, maar as hulle hul standpunte in die openbaar moet verdedig, skarrel hulle soos muise weg.  Ek wil sommer net ook noem dat met Bill Craig se besoek ons die ateïste in SA ook genooi het vir openbare debat, maar al die meer prominente ateïste was nie bereid om in die openbaar met hom te debatteer nie, selfs nie die van hulle wat graag hul standpunte in boeke en hier op RSG stel nie.

Wat is die pad vorentoe vir die AntWoord bediening?

Ons is geweldig dankbaar vir die geleenthede wat die Here ons tot dusver gegee het en vir die mense wat ons kon leer ken.  Ons is tot sy beskikking en ons sien uit om te sien hoe hy ons wil gebruik.  Die een ding wat ek baie graag sou wou sien gebeur is dit dat van ons apologetiek materiaal in al 11 ons landstale beskikbaar raak en dat daar apologete na vore sal kom wat in al daardie tale vir die waarheid van die evangelie kan staan.

Sien ook:

Menslike antwoorde of vertroue in God?

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.