Hoe weet ek of ek werklik ‘n Christen is?

Hi Udo

Jy was ‘n rukkie terug by ons skool en ek het gewonder of jy dalk die volgende vrae kan beantwoord.

Hoe weet jy of jy werklik ‘n Christen is? En of jou sondes werklik vergewe is al het jy vergifnis gevra? Wat is ‘n Christen werklik? En hoe weet jy of jy gered is en hemel toe gaan? Hoe moet jy weet die Here is by jou?

Wat is die Here werklik?

A. Is hy ‘n koning wat jou straf as jy enige sonde doen en dat jy moet smeek vir aanvaarding en dat jy anyway hel toe gaan?

B. Is hy liefdevol en verstaan jou en sê dat jy hemel toe gaan?

Die een kerk sê A en die ander een B. Ek weet nie wat om te glo nie.

Dankie

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek is baie bly dat jy geskryf het, ek help graag waar ek kan.

Jy vra oor hoe jy kan weet dat jy ‘n Christen is. Wel, kom ek vergelyk dit met twee mense in ‘n huweliksverhouding. Veronderstel ek vra vir ‘n man hoe hy weet dat hy sy vrou se man is. Ek kan my indink dat so ‘n man bloot sal sê dat toe hy en sy vrou die dag getroud is, het hulle aan mekaar trou en toewyding beloof. Hulle behoort dus aan mekaar as man en vrou omdat hulle eens op ‘n tyd besluit het om met mekaar in verhouding te tree en vir altyd aan mekaar toegewy sal wees.

Omdat Christenskap oor ‘n verhouding met die Here gaan, is dit baie dieselfde. Ek behoort aan die Here wanneer ek glo en verstaan dat hy ‘n verhouding met begeer. Ek moet natuurlik ook so ‘n verhouding met die Here wil hê. As ek dus ja sê vir so ‘n verhouding waartoe die Here my nooi, dan is dit amper soos om ja te sê wanneer ‘n man sy verloofde vra om te trou.

Om dus ‘n Christen te wees (en te word) is dus so maklik as om te weet dat die Here jou genooi het tot ‘n verhouding en dat jy daarvoor ja gesê het (net soos wat twee mense doen wanneer hulle met mekaar trou). Ek wil voorstel dat jy die volgende gedeeltes in die Bybel gaan lees waar dit praat oor alles wat waar is van iemand wat ‘n verhouding met die Here het: Johannes 1:12, Efesiërs 1:7, 1 Johannes 5:11-13, Johannes 14:15-17. Jy het gevra hoe ‘n mens al hierdie dinge kan weet. Wel, die Here sê eenvoudig vir ons dat dit so is in sy kommunikasie aan ons. Is dit iets wat jy glo? Maak dit sin?

Jy vra ook of die Here iemand is wat straf vir ons sonde uitdeel en of hy eintlik liefdevol is. Soos ek die Bybel verstaan is God baie ernstig oor sonde en is dit juis die rede waarom Jesus gekom het om in ons plek die straf vir ons sonde te dra sodat ons nie hoef nie. Maar dis juis omdat God liefdevol is dat hy in ons plek vir die vergewing van ons sonde gesterf het (anders sou ons almal in die hel verlore gewees het). Hier is egter die punt wat baie mense miskyk. God is nie soos ‘n kwaai onderwyser wat met ‘n lat rondloop en kyk waar hy iemand kan straf as hulle iets verkeerd doen nie. Nee, God is eerder soos ‘n liefdevolle Pa wat ‘n verhouding met sy kinders het, wat hulle versorg en wil lei en help om te groei om verantwoordelike volwassenes te word. Soms doen ons as kinders wel verkeerde dinge, maar dan sal ons tog van enige goeie pa verwag dat hy sy kind sal wil reghelp en teregwys sodat hulle tot beter insigte kan kom. As ons kinders van God is (m.a.w. as ons ‘n verhouding met die Here het), dan hoef ons geen straf te wagte te wees nie (al ons straf is deur Jesus aan die kruis gedra) en kan ons weet dat God ons beste belange op die hart dra.

As jy hou van lees en jy sien kans vir ‘n langerige artikel waar ek ‘n soortgelyke vraag van iemand beantwoord, dan is jy welkom om die volgende webblaaie te besoek:

Wat ook al die geval is, laat my gerus weet of wat ek nou hier vir jou gesê het, vir jou sin maak. As dit nie doen nie, of as jy nog vrae het, dan gesels ek weer met jou.

Baie groete

Udo

4 Comments

  1. Graag het ek vraag op grond van WAT het Adam en Eva en Moses en Dawid en daardie generalise Hemel toe gegaan ….voor Jeshua gesterf het?

    • Dis op grond van hul geloof in God dat mense voor Jesus se koms en sterwe gered is. M.a.w. dis mense wat ‘n verhouding met God gehad het en waar hulle lewens gewys het dat hulle hom vertrou het (selfs al het hulle ook soms gefaal).

      Jou vraag is byna identies aan hoe Paulus dit in Romeine 4:1-2 verwoord. Let dan op die antwoord in vers 3 (sien ook vers 16) wat terugverwys na Genesis 15:6. Lees gerus die hele Romeine 4 en die verbintenis wat dan gemaak word met Jesus se dood en opstanding in die laaste paar verse (23-25).

      Lees ook Hebreers 11 oor die wat die uitwerking was van talle Ou Testamentiese gelowiges se geloof.

      Ek hoop dit maak sin?

  2. Ek het die volgende in die bybel gelees:Joh 3:13 “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is.”

    Maar nou wat gebeur met mense wat dood gaan. Die bybel verduidelik die toestand van die dooies. Pr 9:5,10 “Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet.” “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.

    • Hannes, Jesus se woorde in Joh.3 het baie eerder te doen met sy identiteit (sien ook Joh 1) as dit iets wil sê oor wat met ons gebeur as ons dood gaan. En interessant genoeg gee die Prediker sélf ook bietjie meer perspektief verder aan in Pred. 12:7: “en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.”

      Die Skrif gee egter nie ‘n omvattende verduideliking van wat presies met ons gebeur nadat ons liggame sterf nie. Tog kry ‘n mens wel ‘n sterk aanduiding uit verskeie gedeeltes in die skrif dat kinders van God wel onmiddelik in God se teenwoordigheid sal wees. M.a.w. die siel sal in ‘n tydelike, bewustelike, maar nie-beliggaamde staat in die teenwoordigheid van God wees totdat die verheerlikte liggame opgewek word. Presies hoe dit is om as ‘n nie-beliggaamde siel in die teenwoordigheid van God te wees, word nie presies beskryf nie, maar uit die onderstaande gedeeltes kry ons wel ‘n idee: Filippense 1:23, 2 Korintiërs 5:6,8, Lukas 23:42-43, Lukas 16:19-31, 1 Tessalonisense 4:15.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.