Die Bybel moet eers geredigeer word

(Sien heel onder vir die ander gedeeltes in hierdie gesprek)

Beste Udo

Ek hou van debatteer – daarom het ek tot sover betrokke gebly.  

Ek staan egter onverbiddelik by my standpunt dat die Bybel hoogstens nog bruikbaar is in die huidige tydsgewrig indien dit eers met ‘n fynkam deurgegaan is en alles wat oneties, immoreel, diskriminerend, weersprekend, beledigend, onwetenskaplik, gewelddadig, barbaars ens., is  DAARUIT gehaal is. EN EK GEE BEWYSE VIR MY  ARGUMENTE OOR HOEKOM GOED UITGEHAAL MOET WORD.

In die opsig gee ek jou gelyk. Vir die Bybel om in die huidige tydsgewrig sin te maak, vra denke in die konteks van die huidige tydsgewrig.

Wat  die bestaan van God/Gode betref, is ek agnosties. Ek erken ruiterlik ek weet nie (7 Miljard mense weet ook nie maar verkies om in ontkenning te leef). Wat nie die moontlikheid uitsluit dat dit wél iewers in tyd geweet kan word nie. Dan sal ek heroorweeg – as dit nog in my lewe gebeur – soos enige goeie wetenskaplike maak. As nuwe getuienis inkom, pas ‘n mens jou daarby aan.

Jy staan onverbiddelik by die aanvaarding van die bestaan van Die Drie-enige Bybelse God [sonder dat jy dit kan bewys – behalwe deur onkontroleerbare spekulasie of by selektiewe aanhaling van tekste. Net so staan jy onverbiddelik by die hele Bybel en aanvaar – sonder bewyse- dat die hele Bybel van die begin af en tot in ewigheid die Woord van God was en sal bly. Of is ek verkeerd oor jou standpunt?

Gelowiges – van alle gelowe GLO hulle het die finale waarheid beet –  en doen soms onder lewensgevaarlike omstandighede sending, omdat hulle glo dat hulle godsdiens die enigste universeel geldige waarheid oor godsdiens is.

Gegewe dié uitgangspunt – waaroor geen gelowige sal stry nie – moet die godsdiens aan universeel-geldige wetenskaplike  norme voldoen – veral omdat Godsdiens tans deurgaan as ‘n ‘wetenskap’ (Alle geleerdes is deesdae betrokke in   ‘Godsdienswetenskap’, ‘sendingwetenskap’ ens.) Dit moet vir alle tye vir alle mense presies dieselfde geldigheid hê soos ‘n natuurwet. En selfs hier is dit soms shaky: Om bv. te sê dat alle hemelliggame van die begin af gelyk het soos hulle nou lyk en sal vir ewig so bly, is  oënskynlik waar. Akkurate wetenskapsbeoefening is  altyd openended – as nuwe bewyse inkom, gaan die voriges argief toe.

Godsdiens’wetenskap’ is egter geslote. Ondanks biblioteke vol boeke met Bybelkritiek – wat op ware m.a.w. krities, ondersoekende bevraagtekenende , kruiskontroleerbare en herhaalbare wetenskaplike gronde gedoen is, is daar ‘n klipharde kern van onversetlikheid (‘fundamentalisme?) by gelowiges dat die Bybel/Koran ens. moet bly soos dit is. Dit word reggekry deurdat groot genoeg getalle mense verkies om alle geldige Skrifkritiek eenvoudig te ignoreer en met hulle geld en getalle nog genoeg suurstof kan  koop om godsdiensdiensbeoefening aan die lewe te hou.

Dis natuurlik baie maklik – en dis my kernargument – want die totale Bybel is lankal nie meer die basis dokument nie. Wel die dogma gebou op selektiewe uitpik van tekste. Om dus die hele Bybel te aanvaar, is nie vir onkritiese gelowiges moeilik nie. ‘Godsdienswetenskaplikes’ sê dis reg so! En dan verstewig die ‘wetenskaplikes’ hulle greep met die teks wat lui (vry aangehaal), ‘Laat enigiemand nou waag om iets uit die Bybel weg te laat of by te voeg, dan moet jy nie huil as jou saligheid in gedrang kom nie.’

Lang storie kort te maak. Ek aanvaar jou  argument dat die Bybel in tydkonteks en in ontstaanskonteks verstaan moet word. Die huidige tydskonteks vra dat die Bybel radikaal geredigeer moet word om geldigheid te hê. Selfs dan gaan dit nog omstrede wees omdat nòg teïs nòg ateïs die God kan bewys – dat dit wat oorbly – op hierdie oomblik in tyd wel ‘n God se woord is.

Dit  wat weggelaat word in die redigeerproses, kan dan beskou word as gegewens wat historiese waarde het en as sodanig bestudeer word.

Intussen leef ek maar – a la ou Paulus – in vrede met alle mense sover dit moontlik is.

Dis my afsnypunt. Ek kan nie anders nie. Die handves vir menseregte help my. Intussen sal ek peinsend voortdurend krities bly nadink oor die misterie van die skepping.

Dialoog beteken dus vir my gesprekke oor wat in die Bybel kan bly en wat moet uit. As ons verdere kontak nie is om te begin redigeer aan die Bybel nie, is voortgesette dialoog nie moontlk nie – en dis nie ek wat die dialoog stol nie.

Vriendelike groete – laat weet maar.

Winkelsmidt

 

 

Hallo Winkelsmidt

Ek is baie jammer om dit so reguit vir jou te moet sê, maar ek het lanklaas met iemand te doen gehad wat sy gespreksgenoot so totaal ignoreer en eenvoudig op een deuntjie bly voorthamer.  Ek kan werklik tot geen ander gevolgtrekking kom as dat jy absoluut geen belangstelling het in wat ek werklik glo en hoekom ek dit glo nie. Jou hele betoog tot dusver is deurspek met selfversekerde en neerhalende aannames wat jy eenvoudig sonder verposing, subtiel of minder subtiel, op my probeer afdwing.

Ek stel belang in gesprek met jou, nie in debat nie. Daar is natuurlik plek vir debat, maar dis nie waartoe ek my gaan verbind in enige korrespondensie tussen ons nie. Ek vra dus om verskoning van my kant af vir die skep van enige misplaaste verwagting hieroor. Dis egter vir my toenemend duidelik dat daar huidiglik nie enige konstruktiewe gesprek en ware dialoog tussen ons sal kan plaasvind nie.

Miskien sal van die ander ouens by Dialoog met jou in debat wil tree, maar ek wil nie namens hulle praat nie. Onthou egter dat die meeste mense veel meer by gesprek baatvind as by debat. Nietemin, ek wens jou voorspoed met jou ondernemings.

Groete

Udo

 

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.