Moenie spesifieke paaie verabsoluteer nie

(Sien heel onder vir die ander gedeeltes in hierdie gesprek)

Udo,

Ek kyk gisteraand so na ons groepie en besef dat ons almal goeie en ordentlike mense is.

Almal is maar op soek na iets wat permanent vastigheid en geborgenheid op die stukkende ou aarde.

Soos jy weet is ek  ook voortdurend maar aan’t lese en dinke.

Ek dink net nie ons moet spesifieke paaie verabsoluteer nie. Ons uiteindelike mikpunt is dieselfde. Die hele natuurwetenskap het ‘n vurige gesoek na die een ‘teorie’ wat ‘alles’ kan verklaar.

Ek dink nie mens gaan veel bereik deur sekere apologete (soos Dawkins) af te speel en ander ouens bv Lennox op te speel nie. Nie een van hulle het die finale antwoord nie. Iewers iis daar maar brak kolle. Dawkins – soos ek gisteraand gesê het, het nie ‘n kat se kans om wetenskaplik te bewys daar is nie ‘n God nie. Op hierdie oomblik in tyd sal hy moet omskakel in energievorm [wat onmiddellike dood sal beteken omdat geen enkele atoom in ‘n lewende wese op sy eie lewe bevat nie. Tweedens sal hy alomteenwoordig moet wees –fisies en metafisies. So ook die mense wat hy wil oortuig. Tans is die  spoedbeperking in die heelal  die spoed van lig. Teen selfs hierdie spoed, gaan dit hom 4 en ‘n half jaar neem om by ons naaste son-buurman uit te kom.

Ek kan sien dat filosofiese beredenering van allerlei vraagstukke ‘n hoë prioriteit by julle is. As dit egter nie bydrae om mense nader te trek en liefdevoller teenoor mekaar te maak nie, help dit nie veel nie.

Wat immoraliteit betref. Die woord het ‘n baie relatiewe aard. Die Boesmangesin sien dat hulle deur  fisiek veel sterker  Zoeloes aangeval gaan word. Is dit immoreel as die jonges die ou mense en klein kindertjies net daar laat en in evolusionêre terme –omdat hulle meer ervare hardlopers is-kan oorleef? Jy moet regtig die fliek ‘Verraaiers’ gaan kyk. Daar kom die vraagstuk van hoogverraad aan die orde. Die ‘immorele verraaiers’ is godsdienstige mense. Die ‘morele’ karakters is wraaksugtige en genadelose mense. Zuma sal sê dat ‘n poligame huwelik nie immoreel is nie want almal bly getrou aan mekaar. Hy beskou Enkellopende mense wat in ‘n verskeidenheid van seksuele verhoudings is, as immoreel.

Immoraliteit bevat na my mening altyd ‘n element van skadelikheid-vir die individu en breër samelewing. Ek dink dis waarom die samelewing met mekaar ‘n sosiale kontrak’ sluit en die bepalings daarvan in wette vervat en met ‘n regstelsel afdwing op mense wat nie konformeer nie en sodoende ander kan benadeel.

Maar ag, ek dink sommer maar net.

Ek sal dit regtig waardeer as ons evolusie by geleentheid kan bespreek. Weer eens –nie om te proseliteer nie –maar klinies en nugter ‘n oop debat daaroor te voer. Op die manier kan die swakhede/sterk punte uitgewys word en almal vertrek as meer ingeligte mense in plaas van ‘Wê, ek het die geveg gewen. Dit is ‘n verloor /verloor situasie.

Hoop jyt ‘n mooi dag.

Groete

Winkelsmidt

 

 

Dankie, Winkelsmidt, ek is bly dat jy ons almal as goeie en ordentlike mense beleef het. Ek reageer puntsgewys op van jou opmerkings:

  • Jy noem  dat ons almal op soek is na “iets wat permanent vastigheid en geborgenheid op die stukkende ou aarde [gee].” Ek sou dit ‘n bietjie anders wou verwoord. Ek dink dis belangrik om as denkende wesens te soek na wat waar is (oor enigiets). Vir iemand om te sê dat hulle oortuig is van ‘n bepaalde waarheid, beteken nie dat hulle ore toe hoef te wees vir opponerende idees nie. Ek dink ‘n mens behoort altyd bereid te wees om na ander se idees te luister en die meriete daarvan versigtig en verantwoordelik te oorweeg. Iemand kan dus baie sterk oortuigings hê, sonder om daaraan skuldig te wees dat hy iets verabsoluteer.  Ek kan natuurlik nie namens alle Christene praat nie, maar ek dink beslis dis ‘n benadering waarna alle verantwoordelike Christene behoort te streef.
  • Jy is reg dat dit wetenskaplikes se strewe is om ‘n teorie van alles te formuleer, maar ‘n mens loop die gevaar om ook die natuurwetenskappe te verabsoluteer deur te dink dat dit aan ons kan voorskryf (selfs met ‘n goeie teorie van alles) oor hoe ons behoort te leef en watter betekenis, indien enige, daar in die lewe is.  Uit die natuurwetenskappe kan ons beskrywings gee van hoe dinge is, maar nie hoe dinge behoort te wees nie – dit is nie in die wetenskap se vermoë of die plek van die wetenskap om dit te doen nie. Hoe lofwaardig ‘n teorie van alles ook al sal wees, sal selfs so ‘n teorie onderhewig wees aan beperkinge.
  • Ek stem saam dat nie Dawkins of Lennox finale antwoorde het nie. Niemand hoef egter aanspraak te maak op finale antwoorde om tog aanspraak te maak op redelike antwoorde nie. Dis hoekom ons iemand soos Dawkins ernstig opneem, nie omdat ons dink hy gee finale antwoorde nie, maar omdat ons die antwoorde wat hy wel gee vir redelikheid wil ondersoek. Terloops, gewoonlik is dit die geval dat wanneer ons ander se brak kolle uitwys, dit is omdat ons dink dat ons antwoorde het wat nie so brak is nie!
  • Jy noem dat dit onmoontlik is om God se bestaan wetenskaplik te bewys. Ek stem saam, maar hoekom is dit nie moontlik nie, na jou mening?
  • Ek bespeur weereens by jou ‘n aversie in wat jy “filosofiese beredenering” noem, so asof jy dink dat sodanige beredenering eintlik futiel is. Maar is dit dan nie die moeite werd om by die waarheid oor iets uit te kom nie? En hoe anders probeer ‘n mens by die waarheid uitkom, as om dit te beredeneer? Elke liewe standpunt wat jy handhaaf, Winkelsmidt, word deur filosofiese aannames onderlê – jy kan eenvoudig nie daarvan wegkom nie, niemand kan nie. Dit is daarom vir ons belangrik om ondersoek in te stel na die aannames onderliggend aan enige stelling wat iemand maak (soos o.a. Dawkins) om die geldigheid daarvan te toets (die taak van die filosofie). En dit het met liefde niks te doen nie; ek kan die grooste respek vir iemand hê, maar dit beteken nie dat ek met sy idees hoef saam te stem nie.
  • Oor die aard en gronde vir moraliteit kan ons gerus verder gesels, hoewel ek nie nou dadelik tyd het om breedvoerig daarop in te gaan nie. Om dit baie eenvoudig te stel: Byna enige mens kan moreel optree en moraliteit herken (behalwe miskien vir psigopate), maar nie alle mense kan ‘n rede gee vir waarom hul optrede juis werklik moreel sou wees nie. M.a.w. as daar sekere optredes is wat vir alle mense oor alle tye heen en onder alle omstandighede verkeerd sou wees, wat is dit wat sulke optrede verkeerd maak? Dalk omdat dit mense skade doen (soos jy suggereer). Maar hoekom is dit verkeerd om mense skade te doen? Dalk omdat dit hulle welsyn of geluk ondermyn. Maar hoekom is dit verkeerd om mense se welsyn en geluk te ondermyn? Dalk omdat jy nie wil hê dat iemand anders jou eie welsyn moet ondermyn nie. Maar hoekom mag iemand anders nie my welsyn ondermyn nie? …. En so kan ons aangaan, en nooit by ‘n punt kom waar ons kan sê, “hier is nou die heel basiese rede vir waarom hierdie optrede moreel verkeerd is” nie. Vir elke antwoord wat jy gee, gaan ek kan vra waarom dit spesifiek dan juis verkeerd is. Om die Handves van Menseregte as absolute maatstaf vir morele optrede te gebruik, is kwesbaar vir dieselfde soort morele skeptisisme: Waarom moet ek hierdie sosiale kontrak aanvaar? Wie het besluit dat almal dit moet aanvaar? Hoekom dra dit gesag vir my as ‘n individu? Hoekom dra dit gesag vir alle samelewings: waarom was Nazi-Duitsland verkeerd in die opstel van hul eie politieke beleid – wie is ek en jy om hul unieke morele sisteem te bevraagteken? Om morele begronding te motiveer is nie so eenvoudig as wat jy dink nie, Winkelsmidt, veral nie in ‘n heelal waar alles maar net uit atome bestaan en niks meer intrinsieke waarde het as enigiets anders nie.

Ons kan gerus verder gesels, maar jy gaan maar ‘n bietjie geduld aan die dag moet lê vir die volgende twee weke. Ons buitelandse gaste het vandag gearriveer en ek het my hande vol met allerlei logistiese uitdagings.

Beste groete

Udo

 

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.