Julle fundamentalisme en dogma is onaanvaarbaar – Udo se repliek

(Sien heel onder vir die ander gedeeltes in hierdie gesprek)

Hallo Winkelsmidt

Ek reageer graag op jou skrywe.

1.  Dogma

Ek is nie seker presies hoe jy “dogma” definieer nie, maar dit klink of jy dit met “kritieklose aanvaarding” vereenselwig. Dit is seker een manier om die term te verstaan en te gebruik en ek ontken glad nie dat sommige gelowiges mag dink daar is een of ander deug daarin om dinge kritiekloos te aanvaar nie. Maar is dit regtig waaraan alle Christene skuldig is? En is Christelike dogma (die inhoud van wat Christene/die kerk glo en deur die eeue bely) werklik iets wat irrasioneel, onredelik of vals is? Jy glo natuurlik dat dit is, en ek gaan my bes probeer om te verstaan waarom jy so dink, want ek, as denkende (!) Christen, is werklik besorg oor wat rasioneel, redelik en waar is, ten spyte van wat jy mag dink van die kerk of die Christendom in die algemeen. M.a.w. as die Christelike dogma vals is, dan wil ek daarvan weet en is die verantwoordelike ding om dit te verwerp.

Mag ek noem dat ek simpatie het met die feit dat jy kern-aspekte van die Christelike leer verwerp, want dit kan nie anders gegewe sekere van jou oortuigings nie (hoewel ek tog dink dat jy effe karikatuuragtig omgang met jou verwysing na “minimumvereistes”). Jy glo nie in God se bestaan nie en glo dat die Bybel grootliks opgemaakte stories is (of dit nou van kreatiewe of misleidende aard is). Dis daarom heeltemal verstaanbaar dat jy die Bybel skepties gaan bevraagteken en verwerp. (Die vraag na God se bestaan en na die aard van die Bybel en sy boodskap, is natuurlik baie belangrik, maar later meer hieroor. Terloops, jy sal nooit by my die argument hoor dat ek dink iets is waar bloot net omdat dit in ‘n boek met die naam “Bybel” staan nie.)

Ek wonder egter of jou negatiewe beoordeling van die Bybel jou nie meer beïnvloed as wat jy dalk mag dink nie. Ek probeer geensins jou integriteit in twyfel trek nie, maar ek vind jou eksegese geforseerd op ‘n manier wat my laat wonder of ons regtig dieselfde Bybel lees.

Jy praat byvoorbeeld van twee beelde van Christus in die Bybel. Ek het ‘n vermoede dat jou negatiewe karakterbeoordeling van Jesus baie meer met bepaalde voorveronderstellings te doen het as met die konteks van die gedeeltes waaruit jy bepaalde beskrywings oor sy karakter formuleer. Ek sal graag wil hoor uit watter spesifieke teksgedeeltes jy karaktereienskappe soos “geweldadig”, “onverdraagsaam”, “skadeberokkend” en “arrogant” aan Jesus wil toedig. Ek kan natuurlik raai waar jy dit vandaan kry, maar ‘n mens moet regtig konteksloos (of selektief!) met die teks te werk gaan om sulke afleidings oor Jesus se karakter uit die Nuwe Testament te maak. Terloops, ek erken bv. heeltemal dat Jesus ‘n snydende tong gehad het. Die onus rus egter op jou om aan te toon dat so ‘n snydende tong en veroordeling, in die konteks waarin dit voorkom tesame met ander dinge wat ons van Jesus se karakter weet, misplaas was en dat dit sy goeie karakter onder verdenking plaas.

2.  Die Bybel

Jy is natuurlik reg – oor die Bybel kan ‘n mens eindeloos debatteer. En, wil ek byvoeg, hoe meer skepties ‘n mens is, hoe meer dinge is daar om in eindelose debatte betrokke te raak. Ek sien in jou vrae ‘n tipe skeptisisme wat my laat wonder of daar regtig antwoorde is wat jou tevrede sal stel. Maar dalk is ek verkeerd, ek sal wag en sien hoe jy reageer.

Jy wonder oor wie die waarheid gepraat het – God of die duiwel in Genesis 3. Mag ek antwoord deur ‘n teenvraag te vra: Het Adam en Eva dan nie wel gesterf nie? (Genesis 5:5). Jy mag reageer deur te sê dat Adam en Eva nie dadelik gesterf het toe hulle ongehoorsaam was nie. Daar is egter niks in die teks wat aandui dat hulle dood onmiddelik sou of moes plaasvind nie.

Oor Lukas 16 neem ek aan dat jy na die gelykenis in die eerste helfte van die hoofstuk verwys. Kan jy dalk vir my verduidelik wat jy dink Jesus se punt met hierdie gelykenis was (verse 8 tot 12 kan dalk help)? Ek wil graag sien hoe jou eksegese van hierdie gedeelte jou daartoe lei om Jesus se boodskap te vertolk dat dit korrupsie op een of ander manier sou goedpraat.

Jy wonder verder oor hoe wie vir Jesus hoor bid het die nag toe hy in Getsemane gearresteer is. Goed, kom ons kyk na wat in die teks geskryf staan (verwysing na die skrywers van Matteus, Markus en Lukas se weergawes van die gebeure). Jesus en sy dissipels kom in Getsemane aan en hy vra drie van hulle om saam met hom te gaan bid. Dan vra hy hierdie drie dissipels om saam met hom te waak en bid, terwyl hy ‘n entjie verder (‘n klipgooi verder, volgens een evangelie-skrywer se weergawe) op sy eie gaan bid. Dan hoor ons Jesus se gebed, ‘n gebed van ongeveer drie sinne lank. Daarna gaan Jesus na die drie dissipels terug, kry hulle aan die slaap en vra hulle dan: “Kon julle nie eers een uur saam met my wakker bly nie?” Uit hierdie vertelling is dit redelik om die volgende af te lei: Dis nie dat Jesus se gebed van drie sinne ‘n uur lank geduur het nie, maar hierdie drie sinne is skynbaar die belangrikste van wat ten minste een van die drie dissipels op ‘n afstand kon hoor terwyl Jesus begin het om hardop te bid. Langsaam het die dissipels egter aan die slaap geraak. En elke keer as Jesus hulle kom wakker maak en dan weer gaan bid het, kon hulle hoor dat hy min of meer dieselfde gebed gebid het voordat hulle weer aan die slaap geraak het. Is dit ‘n redelike verduideliking van wat gebeur het en waarom Jesus se gebed wel later weergegee kon word? Wel, jy moet maar self oordeel.

Dan is ek nie heeltemal seker wat jou punt is met die Romeine se aandeel in die kruisiging nie. Want ek kan heeltemal akkoord gaan met jou verduideliking van hoe Jesus as ‘n bedreiging voorgehou is aan die Romeine (sy eie dissipels het hom gesien het as hul politieke verlosser) en ‘n faktor is vir waarom hy gekruisig is. Maar die Romeine was maar een rolspeler in die oploop tot waarom Jesus gekruisig is. ‘n Mens kan nie die Joodse skrifgeleerdes se eie griewe weens godsdienstige redes ontken wat bygedra het tot Jesus se uiteindelike kruisiging nie.

3.  Moraliteit

Ek wil heelhartig met jou saamstem. Die idee dat geloof in God ‘n voorvereiste is om ‘n morele lewe te lei is totaal misplaas. Inderdaad, baie ongelowiges leef meer voorbeeldige lewens as sommige gelowiges.

Ek wil ook erken dat daar dikwels inkonsekwensies is in die manier waarop die kerk soms optree. En ek sal die eerste persoon wees om sulke inkonsekwensies saam met jou ten sterkste te veroordeel (soos enige vorm van geweld wat in die naam van God of Christus gepleeg word of al gepleeg is). Maar geen institusie of groep mens is perfek nie, en die kerk/mense skiet dikwels te kort. Daar is egter ook baie ortodokse Christene (reg deur die geskiedenis) wat opreg en met daad besorg is oor sulke inkonsekwensies en hoe mense binne en buite die kerk seergekry het. Om die Christelik kerk (‘n historiese diverse en komplekse entiteit) daarom in sy geheel af te skiet en te veroordeel loop die gevaar om simplisties en met onvanpaste veralgemening besig te wees.

Dis egter duidelik dat jy dink dat Christelike moraliteit onder verdenking is, maar jy sal asseblief maar meer spesifieke moet verduidelik waar en hoe dit na jou mening te kort skiet. Terloops, die rede waarom Dawid ‘n man na God se hart was, is omdat God Dawid se hart geken het (en per implikasie ook Saul s’n) al het Dawid erge foute gehad. Die kern van die Christelike boodskap was nog nooit dat God goedkeurend kyk na mense wat darem nie heeltemal so sleg optree soos ander nie. Alle mense het foute en tree op strydig met God se morele standaarde, sommige se foute is natuurlik meer publiek en skreiend as ander s’n. Maar God is besorg oor die gesindheid van die hart, ‘n hart wat sy eie tekortkominge voor Hom met opregtheid en berou kan erken. Iemand sou dus ‘n uiters voorbeeldige lewe kon lei, maar ‘n hart kon hê wat min besorg is oor dit wat vir God belangrik is.

Die vraag oor die vrou se rol as diaken, ouderling of predikant het natuurlik niks met moraliteit te doen nie, maar is ‘n funksionele aangeleentheid binne die kerk. Ek hoef nie met enige kerk se siening van die vrou se rol in kerklike strukturering saam te stem om te weet dat sodanige siening geensins iets sê van die vrou se waarde as mens of oor die bekwaamheid waarmee so ‘n vrou ‘n spesifieke rol sou kon vervul nie. Miskien is daar onnadenkende Christene wat sulke uitsprake maak of al gemaak het, maar dis beslis strydig met ‘n Christelike etiek.

Ek het waardering vir iets soos die Handves vir Menseregte juis omdat ek glo dat menseregte gegrond is in die feit dat God alle mense met gelyke waarde toebedeel het. Maar as God nie bestaan nie, dan is iets soos menseregte wel ‘n sosiale kontrak, maar is mense se besluit om by so ‘n sosiale kontrak in te koop, na my mening grootliks arbitrêr. Vanuit ‘n humanistiese perspektief sou ek dus wou weet onder watter morele verpligting ek as individu, of selfs ‘n hele samelewing, staan om so ‘n sosiale kontrak te eer. Waarom kan ‘n samelewing nie sy eie waardesisteem opstel wat bv. die Jode bepaalde regte ontsê nie (soos Nazi-Duitsland gedoen het)? Wat maak van die Handves van Menseregte ‘n moreel bindende kontrak vir almal? Hoe kan mense besluit dat almal op so kontrak moet ooreenkom? Waarom, byvoorbeeld, is dit werklik ‘n immorele daad as die Sangoma mense doodmaak vir muti? Ek mag dalk nie hou van wat die Sangoma doen nie, maar waarom is dit verkeerd? Is dit verkeerd omdat my samelewing besluit het dis verkeerd en ‘n Handves van Menseregte opgestel het? Goed, maar waarom het my samelewing besluit dis verkeerd? Omdat dit my medemens skade doen? En waarom is dit verkeerd om my medemens skade te doen? Iemand mag dalk nie daarvan hou dat ek hom skade doen nie (net soos wat ek nie daarvan hou as iemand my skade doen nie), maar wat maak die daad van iemand skade doen, immoreel? Is die leeumannetjie wat sy eie welpies doodbyt immoreel in sy optrede? En selfs al tree hierdie leeumannetjie bloot op volgens een of andere duistere instink (en is dit daarom amoreel), waarom is dit skielik immoreel as ek my kinders sou doodmaak net omdat ek as mens kan nadink oor my dade?

Is daar werklik ‘n objektiewe onderskeid tussen reg en verkeerd as daar nie ‘n standaard van reg en verkeerd is wat onafhanklik bestaan van waaroor mense volgens sosiale konvensie kan ooreenkom nie? Is dit nie redelik om die objektiewe aard van reg en verkeerd in die bestaan van ‘n wese soos God te grond nie? Let wel dat ek NIE aanvoer dat iemand in God moet glo om tussen reg en verkeerd te kan onderskei nie – ek sê bloot dat as God nie bestaan nie, dan kan daar nie werklik ‘n objektiewe onderskeid tussen reg en verkeerd getref word nie, en is iets soos die Handves van Menseregte ‘n arbitrêre sosiale kontrak.

4.  Teïsme, Ateïsme, Agnostisisme.

Ek sou graag die volgende by jou wou weet: Hoe weet jy dat niemand kan weet dat daar ‘n God is nie? Hoe WEET ‘n mens so iets? Waar kom jou kennis vandaan dat niemand weet of kan weet of God bestaan nie? En wat bedoel jy dat niemand God se bestaan kan bewys nie? As jy bedoel nie empiries (deur wetenskaplike werkswyse) kan bewys nie, dan stem ek met jou saam. God is nie ‘n empiriese entiteit waaroor ‘n mens met ‘n eksperiment kan navorsing doen nie. Maar die belangriker punt is egter dat nie alle kennis deur wetenskaplike bewyslewering bekom word nie en nie alle kennis berus op wiskundige presiesheid nie. Ek weet byvoorbeeld dat dit verkeerd sou wees om jou kinders te martel (ek het absolute sekerheid oor hierdie morele kennis), maar dis nie kennis wat ek bekom het deur een of ander empiriese eksperiment uit te voer nie. Ek weet ook wat ek en drie vriende laasjaar op my verjaarsdag gedoen het, maar hoewel ek en my vriende se weergawes nie presies gaan ooreenkom nie, beteken dit nie dat ek daarom nie kennis het van wat laasjaar op my verjaarsdag alles gebeur het nie (terloops, dis ook nie kennis wat iemand anders kan bekom deur ‘n eksperiment uit te voer nie).

Die vraag na waar alles vandaan kom is grootliks ‘n filosofiese vraag – waarin die wetenskap ‘n beperkte bydra lewer. Maar dis juis in die soeke na antwoorde op filosofiese vrae dat mense gevolgtrekkings maak oor die bestaan van God. Daar is verskeie filosofiese argumente vir die bestaan van God (die bekendste hiervan is seker ‘n groep argumente wat bekend staan as die kosmologiese argument wat juis vra na wat die beste verduideliking is vir die ontstaan en bestaan van die heelal), so dis eenvoudig net nie waar dat daar geen aanduidings is (bekombare kennis) vir God se bestaan nie. Natuurlik sal daar altyd debatte wees oor die geldigheid van hierdie argumente vir die bestaan van God, maar verskille in opinie beteken nie dat die argument vals is of verkeerd bewys is nie. Alle opinies moet maar op meriete beoordeel word (ja, selfs al is daar 7 miljard opinies) en ek is glad nie so skepties soos jy dat ons nie tussen ware en valse aansprake oor God kan onderskei nie.

Daar is twee vorme van agnostisisme. ‘n Sterker en swakker vorm. Die swakker vorm is ‘n verklaring deur iemand dat hy of sy nie weet of God bestaan nie. Die sterker vorm is ‘n aanspraak dat niemand kan weet of God bestaan nie. Die swakker vorm van agnostisisme is ‘n baie nederiger posisie om in te neem, want dit laat die moontlikheid oop dat iemand wel kennis oor God se bestaan al dan nie, kan bekom. Die sterker vorm van agnostisisme is egter eintlik ‘n baie arrogante en dogmatiese posisie wat summier vooraf bepaal dat enige kennis oor God onmoontlik of ontoeganklik is (weereens, hoe weet ‘n mens dit?). Na my mening is die sterk agnostiese posisie juis intellektueel onhoudbaar. Ek het baie meer respek vir die ateïstiese posisie in soverre dit redes probeer gee vir waarom God in werklikheid nie bestaan nie.

5.  Die aarde is geskep as ‘n ideale plek vir lewe.

Gegewe dat planeet aarde die enigste planeet is waarvan ons tans weet waarop  lewe bestaan en dan nog boonop in so ‘n uitbundige mate floreer, is nogal ‘n aanduiding dat daar iets te sê is daarvoor dat dit ‘n ideale plek is vir lewe!

Maar ek erken met jou punt dat daar baie ellende en swaarkry en vernietiging op aarde is. Vanuit die Christelike perspektief is daar beslis iets fout met die wêreld, maar Christene glo ook dat God dit nie oorspronklik so beplan het nie. Vanuit die Christelike perspektief moet die mens egter self verantwoordelikheid aanvaar vir hierdie ellende, want ons gebroke wêreld (die gebroke verhoudings tussen mense en gebroke verhouding met die omgewing waarin woon en al die implikasies wat ons as gevolg daarvan beleef) is die direkte gevolg van die mens se gebroke verhouding met God. So ja, ons lewe in ‘n gebroke wêreld (maar nie een sonder hoop nie), maar die rede daarvoor lê by die mens en nie omdat God gekies het om so ‘n wêreld te skep nie.

Ek besef dat jy klaar aangedui dat jy hierdie verduideliking as verwerplike dogma beskou. Maar ons kan gerus verder hieroor gesels as jy wil, daar is baie detail wat ‘n mens in perspektief kon probeer plaas.

6.  Evolusie

As Christen voel ek geensins bedreig deur die evolusieteorie nie. Ek het beslis die moed van oortuiging om te sê dat ek vir verskeie redes NIE glo dat die skywer van Bybelse skeppingsverhaal bedoel het dat dit gelees moes word as ‘n wetenskaplike verstaan vir die oorsprong van die heelal en lewe op aarde nie, maar dat die doel daarmee suiwer teologies van aard was.

Ek aanvaar die huidige wetenskaplike konsensus dat die heelal oor miljarde jare ontvou het tot waar dit vandag is. Oor watter dele van biologiese evolusie deur onafhanklike herhaling, kontrole en kruiskontrole bevestig is, gaan ek myself ook nie uitspreek nie. Dit is ‘n wetenskaplike aangeleentheid waarin ek baie belangstel, maar waaroor ek tot al genoeg nagelees het om te glo dat net die tyd sal leer hoe goed die natuurlike seleksie van met menige klein kans-mutasie die ontwikkeling van al meer komplekse organismes verduidelik. My belangstelling hierin is egter suiwer van ‘n wetenskaplike aard en het niks met my godsdienstige oortuigings te doen nie.

Groete

Udo

 

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.