Is geloof in God blind?

Beste Udo

Ek maak graag die volgende opmerking. Om ‘n Christen te wees is om geloof te hê. Geloof het nie bewyse nodig nie, en dis al wat nodig is om te weet dat God bestaan. As ons God kon sien of bewyse vir sy bestaan gehad het, dan sou ons nie geloof nodig gehad het nie. Maar ons kan God nie sien nie en daarom sê Hebreërs 11:1 dat geloof is om seker te wees van die dinge wat ons nie kan sien nie. God is in elk geval te groot om met ‘n menslike verstand te probeer verstaan.

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Jy is heeltemal reg. Om ‘n Christen te wees is inderdaad om geloof te hê. Maar wat presies beteken dit om “geloof te hê”? Ek dink daar bestaan baie verwarring by beide Christene en skeptici oor die konsep van geloof. Daar is veral twee maniere waarop die woord geloof gebruik word en wat van mekaar onderskei moet word:

  1. ‘Om geloof te hê dat’ is die verstandshandeling om ‘n bepaalde oortuiging (belief) oor ‘n spesifieke saak te hê (to believe that).

‘n Oortuiging (belief) kan beskryf word as die verstandelike aanvaarding dat ‘n spesifieke stelling ooreenstem met wat werklik die geval is. Byvoorbeeld, iemand mag die oortuiging hê dat die kat op die mat slaap. Dit beteken om te aanvaar dat die stelling ‘Die kat slaap op die mat’ ooreenstem met wat werklik so is. Alle stellings het ‘n bepaalde waarheidsgehalte, bv. die stelling ‘Die kat slaap op die mat’ is waar of vals. Wanneer iemand dus aanvaar dat ‘n bepaalde stelling waar is, dan kan gesê word dat hulle glo (having a belief) dat die stelling ooreenstem met werklik so is. Dit is egter nie sulke aanvaarding of geloof opsigself wat enige stelling se waarheidsgehalte bepaal nie. Dit is slegs wanneer ‘n stelling werklik ooreenstem met wat die geval is, en ek redes het vir waarom ek oortuig is dat dit die geval is, dat ‘n spesifieke oortuiging (belief) waar sou kon wees. ‘n Bepaalde oortuiging kan dus vals wees en om te dink dat dit waar is, verander niks aan die valsheid daarvan nie. Die mate waarin die kognitiewe aanvaarding van ‘n stelling met ‘n positiewe waarheidsgehalte verbind kan word, is die mate waarin ons oortuigings as kennis beskryf kan word.

  1. ‘Om geloof te hê in’ is die wilshandeling as vertroue in die objek van geloof (to believe in, to have faith in).

As ek oortuig is dat ‘n stoel my gewig kan dra (‘n verstandshandeling), dan is my besluit en aksie om op die stoel te gaan sit (‘n wilshandeling), ‘n daad van vertroue omdat ek oortuig is dat die stoel stewig is. Dit is eerstens die aard van die stoel (die stewigheid daarvan) en tweedens my oortuiging daaroor (ek aanvaar die stelling ‘Die stoel is stewig’ stem ooreen met wat werklik so is) wat as rede dien vir waarom ek my vertroue daarin sou plaas deur daarop te gaan sit. Dit is egter nie my vertroue opsigself (my wilshandeling) wat maak dat die stoel my gewig sal dra nie. Met ander woorde, ek kan ‘n baie sterk vertroue hê dat ‘n spesifieke stoel my gewig kan dra, maar as dit nie werklik stewig is nie, dan sal geen hoeveelheid vertroue (geloof) my keer om op my stuitjie te val as ek daarop gaan sit nie. Die verband tussen my “vertroue in ‘n objek” en die “objek van my vertroue”, is daarom nie dat my vertroue die aard van die stoel bepaal nie, maar dit is die aard van die stoel wat my vertroue daarin bepaal. Daarom is dit so dat die wilshandeling ‘om te glo in’ noodwendig voorafgegaan word deur die verstandshandeling ‘om te glo dat’.

Noudat ons hierdie twee aspekte van die konsep geloof onderskei het, kyk ons weer na jou opmerkings. Jy sê:

“Geloof het nie bewyse nodig nie, en dis al wat nodig is om te weet dat God bestaan.”

Hierdie gebruik van die woord ‘geloof’ verwys ten beste na ‘n opinie oor iets. Dis soos om te sê, “Ek het nie enige bewyse nie, maar ek dink dat God bestaan.” Die probleem is dat ‘n opinie wat geen gronde het nie, bloot vals kan wees. In teenstelling hiermee, dui die verstandshandeling ‘om te glo dat God bestaan’ daarop dat die stelling, ‘God bestaan’, ooreenstem met wat werklik so is. Soos alreeds genoem, bepaal iemand se aanvaarding dat iets werklik so is, nie die waarheidsgehalte van enige stelling nie. Wat bepaal die waarheidsgehalte van die stelling “Die tandmuis bestaan”? Sou dit wees omdat iemand ‘geloof het’ dat die tandmuis bestaan? Of gaan dit eerder daaroor of die stelling “Die tandmuis bestaan” sou ooreenstem met wat werk die geval is? Die vraag oor hoe die stelling ‘God bestaan’ verbind is aan wat werklik so is, word dus nie beantwoord deur bloot te sê dat iemand moet aanvaar dat die stelling waar is nie. Om ‘n stelling te aanvaar sonder besorgheid vir die waarheidsgehalte daarvan, word blinde geloof genoem, blind vir die onderskeid tussen waarheid en valsheid.

Die vraag is dus of ‘n mens die waarheidsgehalte van ‘n stelling soos ‘God bestaan’ kan bepaal. Dit bring ons by jou volgende opmerking. Jy skryf:

“As ons God kon sien of bewyse vir sy bestaan gehad het, dan sou ons nie geloof nodig gehad het nie.”

Die ekwivalent van jou stelling kan soos volg gestel word: ‘As ons iets nie kan sien nie of as daar geen bewyse is dat iets bestaan nie, dan het ons geloof nodig dat dit bestaan.’ Hier is my vraag: as daar geen rede is om te glo dat dit wat ons nie kan sien nie, werklik bestaan nie, wat is die objek van geloof dan? As daar geen bewyse is dat iets werklik bestaan nie, in watter opsig bestaan dit dan?

Die probleem is weereens met die gebruik van die woord ‘geloof’ hier. Om geloof te hê het nog nooit beteken om ‘n stelling te aanvaar waarvoor daar geen rede is om te aanvaar dat dit ooreenstem met wat werklik die geval is nie. As daar egter geen rede is om te aanvaar dat iets werklik bestaan nie, dan is daar ook geen rede om te aanvaar dat daar iets is wat ooreenstem met wat werklik so is nie.

Die waarheidsgehalte van ‘n stelling dat God bestaan, kan op verskeie maniere ondersoek word soos o.a. deur die toepassing van die rede, die getuienis van tradisie/outoriteit, die realiteit van Goddelike openbaring en deur persoonlike ervaring en intuïsie. Om redes te hê om oortuig te wees (geloof te hê) dat God bestaan, hoef egter nie rasioneel dwingend vir almal te wees om as genoegsame regverdiging te dien dat so ‘n oortuiging ooreenstem met wat werklik so is is nie. Byvoorbeeld, ek kan oortuig wees dat God bestaan deur die innerlike getuienis van die Heilige Gees. Die feit dat my subjektiewe ervaring van God se teenwoordigheid in my lewe, nie as ‘n objektiewe bewys van God se bestaan vir iemand anders dien nie, beteken tog nie dat ek persoonlik, as gevolg van my ervaring van God, nie ‘n goeie rede het om te glo dat God bestaan nie.

‘n Ander voorbeeld is Christene se geloof in die opstanding van Jesus. Kan ons bewys dat die opstanding werklik plaasgevind het? As daar met “bewys” bedoel word of ons eksperimenteel kan demonstreer dat dooie mense weer lewendig kan word, dan is die antwoord ‘nee’. Maar dis nie die vraag nie. Die vraag is of daar goeie objektiewe historiese getuienis is om te glo dat ‘n spesifieke persoon nadat hy gekruisig is, drie dae later uit die dood opestaan het. As iemand verder wonder of dit moontlik is vir so ‘n persoon om uit die dood op te staan, dan is die vraag ook na die filosofiese redes om te glo dat dit moontlik is. Vir baie mense is dit verrassend om te hoor dat daar beslis sulke goeie redes is! Geloof in die liggaamlike, fisiese opstanding van Jesus is nie maar net ‘n voorbeeld van dinge wat Christene in blinde geloof aanvaar nie. Weereens, die histories getuienis vir die opstanding van Jesus sowel as die filosofiese gronde vir waarom dit moontlik sou wees, is nie noodwendig dwingend sodat almal wat met sulke getuienis gekonfronteer word, dit noodwendig gaan aanvaar nie. Maar dit sê minder oor die aard van die getuienis as redelike gronde vir ‘n oortuiging dat die opstanding wel plaasgevind het, as wat dit iets sê oor die vermoë van mense om sulke getuienis weg te praat (want beide rasionele en nie-rasionele faktore beïnvloed mense se aanvaarding of verwerping van dinge).

Jy skryf verder:

“Maar ons kan God nie sien nie en daarom sê Hebreërs 11:1 dat geloof is om seker te wees van die dinge wat ons nie kan sien nie.”

Voordat ons kyk na die skrifgedeelte waarna jy verwys, wil ek graag kommentaar lewer oor die onsienlike aard van God se natuur. Die feit dat God ‘n immateriële wese is en daarom nie empiries waarneembaar nie, beteken nie dat Hy daarom nie werklik bestaan nie en nog minder dat ons bloot maar blindelings sal moet glo dat Hy bestaan. Daar is byvoorbeeld baie dinge wat ons nie empiries kan waarneem nie, maar wat ons glo bestaan omdat ons die effek daarvan kan waarneem. Dink maar aan entiteite soos o.a. elektrone, radiogolwe en magnetiese velde. Selfs die mens het ‘n immateriële dimensie (‘n persoon is nie identies aan sy/haar fisiese liggaam nie) wat nie direk empiries waarneembaar is nie. Wat ek van ‘n ander persoon waarneem is nie daardie persoon se immateriële self nie, maar eintlik bloot die manier waarop iemand se immateriële self die fisiese liggaam waaraan hulle verbind is, manipuleer vir bepaalde doeleindes (bv. om te kommunikeer, om te beweeg, ens.) So ook God kan herken word vir wie Hy is (Hy bestaan en het bepaalde eienskappe) uit wat Hy geskep het. Ons kan dus die effek van God se aksies waarneem en daardeur konseptueel iets verstaan van wie God is (sien bv. Romeine 1:20). Op hierdie punt is dit miskien nodig om eers te verwys na jou laaste opmerking:

“God is in elk geval te groot om met ‘n menslike verstand te probeer verstaan.”

Ja, God is inderdaad groter as wat ons ooit ten volle met ons menslike verstand kan verstaan. Tog weet ons baie dinge van God, deur sy algemene openbaring sowel as sy spesifieke openbaring van homself. Om egter te sê dat ons menslike verstand wel iets van God se natuur kan begryp is tog nie dieselfde as om te sê dat ons alles van God weet of selfs alles van ‘n spesifieke aspek van God verstaan nie. Die feit is dat om te sê, soos baie mense doen, dat die menslike verstand niks van God kan weet nie omdat God die Gans Andere is, klink dalk baie vroom, maar is nie besonder betekenisvol nie. Om aanspraak te maak dat ons niks van God kan begryp nie, veronderstel noodwendig dat ons iets van God verstaan, naamlik dat ons niks van Hom kan begryp nie. Maar waar kom hierdie kennis oor God dan vandaan waarvolgens ons met groot sekerheid kan sê dat ons niks van Hom kan weet nie? Alle pogings om God in onbeskryfbare terme te beskryf is onvermydelik opsigself ‘n beskrywing van God.

Wat nou van die definisie van geloof in Hebreërs 11:1? Die breër konteks van hierdie gedeelte wys duidelik dat die woord ‘geloof’ gebruik word as verwysend na die wilshandeling om geloof in God te hê. Dit is dus wanneer ons ons vertroue in God plaas dat ons seker kan wees van die dinge wat ons nie kan sien nie, maar wat God, omdat hy vertrouenswaardig is, sal laat gebeur. Die objek van ons vertroue is God self; dit is wanneer ons op hom vertrou dat ons ‘n vaste hoop het, dat ons sal sien wat nog in die toekoms lê. Hebreërs 11 lys dan talle voorbeelde van hoe mense se geloof in God op verskeie maniere gemanifesteer het. Hierdie definisie van geloof verwys dus glad nie na die idee van “blinde geloof” nie; dit gaan in essensie daaroor dat ons God moet vertrou.

In gevolgtrekking dink ek dat jou opmerkings oor die aard van geloof ten beste baie vaag, maar eerder misplaas is. Ek weet dit is wat baie Christene glo, maar ek dink nie dis ‘n besonder deurdagte standpunt nie. Ons kan net sê dat ons werklik iets glo as ons glo dat wat ons glo werklik waar nie. Om egter te glo dat iets waar is, maak dit nie vir daardie rede alleen waar nie. Dit is slegs wanneer ons besorg is oor hoe ons oortuigings ooreenstem met wat werklik so is, dat ons geregverdig is om te glo dat iets so is. En dis eers wanneer ons glo dat iets op hierdie manier so is, dat ons met verantwoordelikheid ons volle vertroue in die objek van ons geloof kan plaas.

Groete

Udo

Sien ook:

Ander baie insiggewende skakels:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.