Nie alles wat opgedis word, is vir afsluk nie

Kritiek is nie altyd maklik om af te sluk nie, sê die unitariër Jaco Van Zyl. Ja, behalwe dat ‘n mens nie alles hóéf te sluk nie. Baie dinge het geen substansie nie, dis sonder voedingswaarde en maak net vet!

Aan die einde van my vorige reaksie het ek genoem dat ek nie belangstel in gesprek met Jaco van Zyl nie en die redes daarvoor gegee. En tog voel ek weer genoop om, ongeag of dit as ‘n voortgaande gesprek sou kwalifiseer, op Van Zyl se voortslepende mistastings te reageer.

Om jou oor godsdienstige sake uit te laat is om te weet dat jy allerlei kritiek te wagte kan wees. Iemand wat gereeld met kritiek te doen het, kan nie anders as om ‘n dik vel te groei nie. Dit help nie om emosioneel te raak oor kritiek nie. Kritiek is geldig of dit is nie, en ‘n saak word nie met emosie besleg nie. Van Zyl is daarom heeltemal reg om te dink dat dit darem snaaks sou wees as iemand wat al so lank by, soos hy dit noem, “Konserwatiewe Christien-apologetiek (sic)” betrokke is, in so ‘n slaggat sal trap.

Van Zyl fouteer deur te dink dat ek “gekoesterde goedsdiens-leerstellings (sic)” “ten alle koste” probeer verdedig en dit so met emosionele drif doen. Hy dink skynbaar my aanstoot lê in die feit dat iemand dit sou durf waag om my diepgewortelde oortuigings uit te daag. Hy dink dat ek my geïrriteerdheid met meer takt moes beteuel asof ek ‘n emosie-belaaide reaksie vir ‘n intellektuele reaksie verwar het, en dat ek daarom skuldig is aan ‘n tipe carte blanche in hoe ek met godsdienstige sake sowel as met diegene wat met my verskil, omgaan.

Teen hierdie tyd het ek al genoeë geneem met hoe die grond onder Van Zyl se voete brand en dat hy daarom geneig is tot ylingse aannames. Dit verbaas my egter dat Van Zyl nie die oorsprong van my geïrriteerdheid reg kon identifiseer nie. Het hy homself, as iemand met opleiding in die sielkunde, vir een oomblik afgevra wat agter hierdie emosionele komponent van my reaksie sit? Want as hy het, dan sou hy dit nie simplisties toegeskryf het aan my begeerte om sy kritiek maar net “[terug te betaal] met heftiger driftigheid” nie. Dan sou hy ook nie so haastig gewees het om te dink dat ek hom maar net probeer beledig het nie.

Dat en hoe my irritasie in my reaksie deurslag gevind het, is met baie spesifieke opset gedoen (maar ek het emosie nêrens as ‘n tipe argument gebruik nie). Ek wou pertinent wys hoe ergerlik ek Van Zyl se modus operandi vind.

Van Zyl mag aanvoer dat hy niks persoonlik bedoel het nie, dat ek bloot liggeraak is. Hier is die probleem: wanneer jy gebruik maak van ‘n gedistansieerde en publieke derde persoons-kritiek, soos wat Van Zyl klaarblyklik as ‘n heel gepaste styl beskou, dan raak dit onvermydelik en baie gou persoonlik sodra diegene wat jy kritiseer agterkom dat jy dit nie nodig geag het om enige moeite te doen om jouself eers te vergewis van wat hulle werklik glo of bedoel nie.

Met groot selfversekerdheid besluit Van Zyl om sommer ‘n klomp goed op sy blog kwyt te raak wat glad nie my sienings of bedoelings weerspieël nie. Wie vind so ‘n benadering nie uiters disrespekvol en meerderwaardig nie? En wie sal nie hieroor hoogs geïrriteerd raak nie? Ek bevestig weer: dis nie die feit dat iemand kritiek lewer wat aanstoot behoort te gee nie, dis hoe iemand sy kritiek aanbied wat aanstoot kan gee.

Tot sy krediet is Van Zyl bereid om darem op twee plekke te erken hoe sy oorhaastige aannames hom in die steek gelaat het. Let egter op die gekwalifiseerde, maar irrelevante stertjie wat hy nodig vind om in beide gevalle aan te las:

  • “Ek aanvaar Karsten se korreksie van my aanname, naamlik dat hy ‘n Calvinis is. In beide Karsten se soteriologie en voorsienigheidsbeskouing is hy nie-Calvinisties, sê hy. (Interessant genoeg sal ‘n Calvinis dan juis eerder reken dat hy/sy ortodoks is, en nie Karsten nie.)” Kommentaar: Van Zyl gebruik die woord ortodoks as ‘n algemene verwysing na ‘korrekte leer’ (sien dictionary.com se 4de betekenis), terwyl ek daarmee gedui het op historiese Christelike ortodoksie, d.i. korrekte leer volgens die ekumeniese belydenisse van die vroeë kerk rakende die Goddelikheid van Jesus (sien dictionary.com se 5de betekenis en waarby die 4de betekenis outomaties ingesluit sou wees). Dit was tog die konteks van my oorspronklike artikel, Jesus was ‘n gewone mens. Ongeag bepaalde teologiese verskille in die hordes Christelike denominasies en vertakkings, kan almal hiervolgens as Christelik en ortodoks beskou word juis in die mate waarin hulle in ‘n aanvaarding van hierdie belydenisse deel.
  • “Karsten meen dat my aksentuering van wil ongeoorloof is in my aanhaling dat “Esterhuyse Jesus se menslikheid wil beklemtoon en enige Goddelikheid wil ontken.” Al is dit my mening dat alternatiewe hulpwerkwoorde gebruik kon word om Karsten se neutraler bedoeling oor te dra, sal ek hom nietemin die voordeel van die twyfel gee.” Kommentaar: Daar was geen fout met my taalgebruik nie, Van Zyl se mening ten spyt. Boonop het ‘n outeur altyd die voordeel van die twyfel; jy as skrywer weet tog beter wat jyself bedoel as wat jou lesers sou doen (radikale dekonstruktivisme ten spyt). Daarom rus die onus op die leser om seker te maak dat hy die skrywer reg verstaan, vóórdat hy hom van allerlei dinge beskuldig. Natuurlik fouteer ons almal soms op hierdie gebied, maar soms het ons werklik nie goeie rede vir waarom ons iemand misverstaan het nie.

Van Zyl is hoogs agterdogtig oor hoe ek sy “hele pedigree probeer uitlê” het en probeer dan my motivering daarvoor mooi netjies verduidelik. Dit moet “ongetwyfeld” (!) wees “om ‘n sekere karakterbeeld van [Van Zyl] te skep in ‘n poging om die inhoud van [sy] skrywes op ‘n manier te diskrediteer en daarmee saam vergeldingstevredenheid oor homself te bring.” Oor hierdie stukkie analisering rol ek nou maar net my oë, want ek is verby die punt om geïrriteerd te raak oor sulke nonsens. Maar ek byt tog maar my tong om nie weer enige opmerkings oor gedagtelesery te maak nie (en dit ís so ‘n mooi voorbeeld), mits dit weer as ‘n “direkte karakter-aanval” (!) vertolk word. Laat ek tog die volgende sê vir wat dit werd is.

Nêrens in enige agtergrondbesonderhede oor Van Zyl het ek hom in ‘n slegte lig probeer stel nie. Inteendeel, ek het juis spesifiek die moeite gedoen om te probeer uitvind wie Jaco van Zyl is om sover moontlik te probeer verstaan waar hy vandaan kom en hoe hy oor bepaalde dinge dink. (Het hy my maar dieselfde guns bewys!) Ek het wel op ‘n stadium genoem dat ek in my ondersoek nie by sy styl van argumentering en benadering aanklank vind nie (en daarom nie belangstel in enige gesprek met hom nie), maar dit veronderstel nie en word ook nêrens geïmpliseer, dat sy argumente dáárom bloot ongeldig of onder verdenking is nie. Die feit dat Van Zyl op hierdie punt verskuilde motiewe by my raaksien, sou bloot iets oor Van Zyl se eie onsekerhede kon sê. Maar dit daar gelaat. Laat ek nie in sy kop probeer klim soos hy skynbaar geoorloof voel om kort-kort in myne te probeer klim nie.

Van Zyl dink dat ek my misgis om onkonsekwentheid aan sy kant uit te wys wanneer hy homself ‘n onortodokse Christen noem. Hy sê dat “[w]at Karsten blykbaar nie besef nie is dat so ‘n self-identifisering nie nodig sou gewees het sonder die historiese en hedendaagse verbetering op die naam Christen nie.”

Van Zyl se antwoord laat my dink aan ou Koos wat, nadat hy in die hof skuldig bevind is aan diefstal, deur die landdros gevra word hoe dit voel om ‘n dief genoem te word. Waarop Koos heel verontwaardig antwoord: “U Edelagbare, besef u nie dat u my nooit ‘n dief sou kon noem as dit nie was vir al die mense wat so baie goed gehad het om te steel nie!”

Nee, ek besef baie goed waarom Van Zyl homself as onortodoks beskryf. Maar laat ek sy inkonsekwentheid duideliker uitspel:

  • Wanneer Van Zyl homself elders as ‘n Progressiewe Christen beskryf, dan moet ons goedsmoeds aanvaar dat hy dit nie as ‘n hedendaagse verbetering op die naam Christen beskou nie.
  • Wanneer hy argumenteer oor hoe onhoudbaar ortodoksie is, dat dit per definisie tot ongewenste morele optrede en posisies lei en gelei het, dan moet ons aanneem dat sy kruisvaart teen ortodoksie niks met die aanhelp van polarisering te doen het nie.
  • Wanneer hy sê dat hy die “valse snoesigheid” van die woord ortodoksie wil “uitdaag”, dan hoef ons seker nie te wonder oor die moontlike implikasie van so ‘n “uitdaging” as ons in ‘n vervloë tye geleef het waar die rolle dalk omgekeerd was nie. Dan sou daar tog sékerlik nie mense gewees het wat in die naam van, wat dán ook al as ortodoks beskou was, verketter en verbrand sou gewees het nie.

Ek vind Van Zyl se beswaar hier uiters naïef. Van Zyl kla dat hy weens sy oortuigings aan die anderkant van die skeidslyn geplaas word en dus “uit” is. Hy vind so ‘n stand van sake onaanvaarbaar en onverdraagsaam, en in verweer probeer hy twee dinge doen: eerstens probeer hy die hele gedagte van “in” en “uit” onder verdenking plaas, en tweedens probeer hy suggereer dat hierdie gedagte in die praktyk, soos dit by ortodoksie uitdrukking vind, noodwendig negatiewe implikasies het. Ek beskou kortliks elkeen van hierdie pogings tot ondermyning:

  1. Waarom is dit ‘n doodsonde om mense as “in” en ander as “uit” te beskou? Is dit nie ‘n funksie van enige aanspraak, ook godsdienstige aansprake, dat diegene wat ‘n bepaalde aanspraak aanvaar “in” sou wees en diegene wat dit nie aanvaar nie, “uit” is nie? As ek beweer dat 2 + 2 gelyk is aan 4 en iemand anders glo dis 5, dan kan ons tog nie albei “in” wees m.b.t. tot wat die waarheid werklik is nie. Hoe is dit onverdraagsaam om, as ek oortuig is van die antwoord, of dit nou 4 of 5 is, te verklaar dat enige ander antwoorde per definisie “uit” is? Die feit dat ek oortuig is dat ek reg is, máák my nie outomaties reg nie, maar dit maak my ook nie outomaties onverdraagsaam in optrede en gesindheid tot diegene van wie ek verskil nie.
  2. Voortvloeiend uit laasgenoemde punt: Daar is geen dispuut dat ortodokse Christene, soos dit ‘n neiging is by individue of selfs by ‘n hele groep mense van enige groepering rondom ‘n bepaalde saak, regdeur die geskiedenis onverdraagsaam opgetree het nie. Ook is alle voorbeelde daarvan verdoemenswaardig. Sulke onverdraagsame optrede is egter geen funksie of inherente implikasie van ortodokse Christelike leer nie. (Ek het hierdie punt reeds in my vorige reaksie probeer maak.) Vir iemand om te sê dat ander se sienings buite die Christelike ortodoksie val, is nie ‘n veroordeling nie, maar ‘n bevestiging van die grense wat bepaalde geloofsoortuigings definieer. Wanneer iemand nie met die inhoud van die Christelike ortodokse leer saamstem nie (en enigiemand het die reg om so te doen), hoe sinvol is dit om wanneer jy dit eksplisiet verwerp, dan te kla dat jou sienings “by verstek aan die anderkant van die skydslyn (sic)” geplaas word?

Van Zyl het skynbaar groot moeite om te verstaan dat ek die konsep van ortodoksie gebruik om aan te dui dat ek my vereenselwig met die belydenisse van die vroeë kerk (die ekumeniese geloofsbelydenisse). Ek het reeds hierdie punt aangespreek. Maar hy wonder verder oor hoe ek daardie belydenisse kan aanvaar ongeag die waarheidswaarde daarvan.

Van Zyl verkeer onder ‘n totale wanindruk – en ‘n mens wonder onwillekeurig hoe dit kan wees dat Van Zyl nie weet wat die funksie en aard van ‘n geloofsbelydenis is nie. ‘n Geloofsbelydenis is ‘n opsommende en ja, geïnterpreteerde verklaring oor die belangrikste aspekte van wat ‘n mens glo – en ook, per implikasie, wat jy glo die waarheid is (hoewel dit nie die daad van glo is wat ‘n proposisie se waarheidsgehalte bepaal nie). Die ekumeniese belydenisse is dus ‘n kort verklaring en interpretasie van hoe die vroeë gekerk geglo het oor wat die Bybel leer aangaande ‘n klomp kernsake volgens hul lees van die Bybel.

Natuurlik is die vraag baie belangrik, en iets waaroor enige denkende Christen met ‘n historiese bewussyn besorg is, oor óf hierdie geloofsbelydenisse as interpretasie sin maak van die Jesus soos daar teen die Nuwe Testamentiese agtergrond oor hom verslag gedoen word. ‘n Bevestiging dat dit wel die geval is (ortodoksie), het egter niks te doen met ‘n naïewe en blinde aanvaarding van enige geloofsbelydenis, of ‘n “goedgelowige verwelkoming van ortodoksie”, soos Van Zyl my siening graag wil tipeer, asof dit niks met die Bybel óf die waarheid te doen sou hê nie. Dat Van Zyl, wat van beter hoort te weet, dit hoegenaamd eers suggereer, is naïef of moedswillig.

Oor misterie: Van Zyl dink skynbaar steeds dat ek my primêr op misterie beroep wanneer dit kom by nadenke oor God se natuur. Misterie in ‘n godsdienstige konteks sou verwys na dit wat buite die normale kategorieë van menslike ervaring val. Dit beteken egter nie dat ons maar onbeantwoorde vrae onbeantwoord moet laat of te gou tot die slotsom hoef te kom dat dit onbeantwoordbaar is nie. Dit klink vir my na ‘n baie eng, dogmatiese siening wat beide onfilosofies en onwetenskaplik is. Natuurlik kan en mag ons konseptueel nadink oor hoe dinge moontlik sou wees of kon werk. En natuurlik moet ‘n mens dan waak teen die versoeking om hoe iets moontlik kan wees summier gelyk te stel aan hoe iets werklik is. Maar terselfdertyd sou iets wat ‘n moontlikheid is, en nie onsamehangend of irrasioneel is nie, ook werklik kan wees.

Wanneer die data van die Bybelse teks ons egter rede gee om, byvoorbeeld, te dink dat Jesus in die Goddelike natuur deel, dan is dit heeltemal aanvaarbaar om ‘n samehangende model/teorie daar te stel wat probeer sin maak van sodanige data. ‘n Sistematisering van die data is beslis ‘n interpretasie van die data uit die Bybelse teks en as sodanig is dit nie onfeilbaar nie. Maar as ons sistematiese teologie ‘n model oplewer met groot verklaringswaarde en omvang, en as dit konseptueel robuus is, dan is daar genoeg rede om dit as ‘n goeie verduideliking (dus as ‘n Bybelsgetroue leerstelling) te aanvaar vir hoe ons oor bepaalde sake kan en selfs behoort te dink.

So ‘n sistematisering is deel van die proses van nadenke oor byna al die eienskappe van God. Mág ons nadink om vrae te beantwoord oor hoe dit moontlik is dat God alwetend kan wees, of ewig, of persoonsmatig, of soewerein in ‘n wêreld met vrye wesens, of almagtig in wêreld vol lyding en kwaad? Ja, natuurlik mag ons, al word enige denke oor God ook met misterie gekonfronteer. Dit behels beslis ‘n bepaalde feilbare interpretasie van al die gesistematiseerde en relevante Bybelse gegewens; dit behels verder ook ‘n sorgvuldige (maar steeds feilbare) konseptuele analise wat dan lei tot ‘n bepaalde model wat die beste probeer sin maak van daardie gegewens.

Natuurlik maak nie alle antwoorde vir almal ewe veel sin nie (soos Van Zyl oor die Drie-eenheid en die Inkarnasie voel) en daarom die debat. Maar laat ons nie simplisties omgaan met hoe hierdie proses werk (dis nie maar net naïewe spekulasie nie) en hoekom ortodokse teoloë hul standpunte handhaaf nie.

Oor Athanasius: Die letterlike verwekking van seuns deur ‘n vader word deur Athanasius gebruik as ‘n analogie (vergelykbaarheid is nie dieselfde as direkte korrelasie nie) in hoe, soos Van Zyl tereg opmerk, God sy Seun verwek deur sy eie (ewige) substansie of stoffasie oor te dra. Maar dis beslis nie daarom ‘n implisiete erkenning dat daar een of ander biologiese verhouding tussen God en sy Seun sou wees nie. Dit is so (en dis die belangrike punt wat Van Zyl ignoreer) omdat Athanasius, juis en veral, enige sulke gedagtes so spesifiek teenspreek, soos ek uit die De Decretis self probeer aandui het. Van Zyl dink ek is bloot oningelig oor Athanasius se metafisiese onderbou, maar dis skynbaar vir Van Zyl moeilik om te erken dat hy ‘n vierkantige voorwerp in ‘n ronde gat wil forseer.

Van Zyl sê dat as “Esterhuyse sy posisie sterker voorgestel het deur dit bloot ‘biologiese verhouding’ te noem, kan [Van Zyl] hom nie verdedig nie”. My argument is dat hierdie ‘biologiese verhouding’ baie beslis die karikatuur is wat Esterhuyse skep en dat sy gebruik van die woord ‘byna’ hom nie daarvan red nie. Kom ek verduidelik my redes meer eksplisiet en dan kan die leser self besluit of Van Zyl se verdediging hoegenaamd meriete dra.

Ek haal weer die relevante paragraaf van Esterhuyse aan (genommer vir gemaklike verwysing) en evalueer dit dan volgens drie aspekte:

[1] Om Jesus in ’n geboortelike en byna biologiese verhouding as God se Seun te interpreteer is die grootste onsin wat ek in my lewe teengekom het. [2] As jy dit egter sien as metafories omdat Hy vir jou ’n rolspeler in jou lewe is dan sê ek ja. [3] Maar dit is waardeloos om diskussies te voer oor Jesus se biologiese verbintenis met God. [4] Mense wat debatte voer oor Jesus se fisieke, liggaamlike opstanding, hemelvaart ensovoorts dink nog in tydruimtelike terme. [5] Ek dink aan metaforiese terme en in terme van simbole en metafore. [6] Dit is hoe die Bybel ook dink.”

  1. Konteks: Van Zyl dink dat as Esterhuyse met sin [1] ‘n karikatuur geskep het, dan moet dieselfde van Athanasius gesê word. Ek het reeds aangetoon waarom Athanasius nie hieraan skuldig is nie. Dit lyk egter of Van Zyl hardkoppig weier om die vanselfsprekende antwoord op die vraag oor wat die “grootste onsin” is waarna Esterhuyse verwys, te erken. Esterhuyse gebruik beide die woord “geboortelike” en die frase “byna biologiese” om op die onsinnigheid te dui van Jesus as God se Seun. Dis baie duidelik dat hy daarmee aandui dat dit nie sin maak om oor Jesus in liggaamlike, fisiese en/of biologiese terme (soos met ‘n geboorteproses) as God se Seun te praat nie. Dat dit presies hierdie punt is wat Esterhuyse wil maak, word ‘n paar sinne verder in [3] en [4] baie pertinent bevestig. In [3] gaan hy selfs so ver as om ondubbelsinnig en ongekwalifiseerd te praat van “Jesus se biologiese verbintenis met God”.
  2. Eksegeties: Maar wat dan van Esterhuyse se skynbaar gekwalifiseerde gebruik van die woord “byna” in sin [1]? Vir Van Zyl is hierdie die hermeneutiese sleutel wat daarop dui dat Esterhuyse, selfs ten spyte van die konteks van die hele paragraaf soos ek dit in die vorige punt uiteengesit het, nie regtig ‘n karikatuuragtige “biologiese verhouding” impliseer nie. Maar Van Zyl begaan ‘n eksegetiese faux pas, par excellence. ‘n Mens laat nie dit wat onduidelik is bepalend wees vir dit wat (oorweldigend!) duidelik is nie. Alle indikasie dui daarop dat Esterhuyse se gebruik van die woord “byna” eintlik nie sin maak nie; elke liewe sin in die res van die paragraaf dui daarop. Ek dink egter nie Esterhuyse het homself weerspreek nie (soos “byna dood” teenoor “dood” ‘n voorbeeld sou wees), maar eenvoudig sy taal op ‘n onduidelike manier gebruik.
  3. Onduidelike taalgebruik: Veronderstel ek hoor dat iemand vertel hoe hy van sy beursie beroof is toe dit “byna donker” was. Veronderstel dieselfde persoon verwys ‘n kort rukkie later weer na die insident en sê, “Hulle het my beursie gegryp toe dit donker geword het”. Hoe los ons hierdie skynbare teenstrydigheid op? Ons doen eenvoudig verdere navraag oor die spesifieke omstandighede waaronder die roof plaasgevind het (konteksbepaling). Wat egter onredelik sou wees, is om summier aan te neem dat omdat iemand die woord “byna” gebruik het, dit daarom beslis nie donker kon gewees het soos die persoon later geïmpliseer het nie (die konteks sal dus bepaal wat iemand met “byna” kon bedoel het).

Oor Ignatius: Die aanhaling deur Borg was eenvoudig bedoel om te wys hoe vroeg die kerkvaders van Jesus as God begin praat het. Natuurlik is dit relevant om te probeer verstaan wat Ignatius, byvoorbeeld, daarmee bedoel het. Maar dit is baie tekenend om te sien hoe Van Zyl (en Borg) hul bes probeer om vertwyfeling te saai oor wat die vroeë kerkvaders eintlik bedoel het en of ons vandag ooit kan sin maak daarvan. Miskien help dit daarom om ‘n wyer prentjie te skets van Ignatius se siening oor Jesus soos hy dit self op verskeie ander plekke uitgestippel het (en miskien ons kronologiese snobisme so effe in toom hou):

  • Letter to the Ephesians: “God was revealing himself as a man” (Ign. Eph. 19:3)
  • Letter to the Ephesians: “born yet unbegotten, God incarnate” (Ign. Eph. 17:2)
  • Letter to the Ephesians: “the Son of God, who was begotten before time began” (Ign. Eph. 18)
  • Letter to the Smyrneans: “that on the human side he was actually sprung from David’s line, Son of God according to God’s will and power” (Ign. Smyrn. 1:1)
  • Letter to the Romans: “Our God Jesus Christ, indeed, has revealed himself more clearly by returning to the Father” (Ign. Rom. 3:3)
  • Letter to the Romans: “The Son of God who became afterwards of the seed of David and Abraham.” (Ign. Rom. 7)
  • Letter to the Magnesians: “to one Jesus Christ, who came forth from the one Father, while still remaining one with him, and returned to him” (Ign. Magn. 7:2)
  • Letter to Polycarp: “Look for Christ, the Son of God; who was before all time, yet appeared in time; who was invisible by nature, yet visible in the flesh; who was impalpable and could not be touched, as being without a body, but for our sakes became such, might be touched and handled in the body; who was impassable as God, but became passable for our sakes as man; and who in every way suffered for our sakes.”
  • Letter to the Trallians: “truly begotten of God and the Virgin, but not after the same manner [net soos Athanasius is Igantius ook gesteld op die verwarring wat hier kan ontstaan – dalk soos om te praat van ‘n biologiese verbintenis!]…He truly assumed a body; for ‘the Word was made flesh.’”; “And God the Word was truly born of the Virgin, having clothed himself with a body of like passions with our own.”

Ignatius se opmerkings klink nogal anachronisties – in die verkeerde rigting. Dit klink of hy eerder ‘n konsultant was by die vergaderings van Nicea, Konstantinopel of Chalcedon wat eers twee tot drie eeue later sou plaasvind. Maar Ignatius skryf alreeds baie vroeg in die tweede eeu, slegs enkele dekades ná die Nuwe Testamentiese dokumente die rondte begin doen het. Die punt is nie dat Ignatius se sienings oor Jesus outomaties reg is nie en Van Zyl gaan ongetwyfeld verwys na die invloede wat Ignatius so verblind het om, selfs net ‘n paar dekades na die neerpen van die Nuwe Testament, alreeds die Bybelse teks so te kon verdraai om by sy bepaalde siening van Jesus uit te kom. En tog, dit maak steeds enige aanklag effens absurd dat Jesus se Goddelike identiteit meestal sommer so teruggelees word op die Nuwe Testamentiese teks vanuit vierde en vyfde eeuse ortodokse Christologie. Van Zyl dink dat ek ‘n strooipop skep, maar ek vind dit uiters vreemd, nie net te spyte van nie, maar juis as gevolg van al die aanhalings wat hy gee van Werner, Jenkins, Vermes, Brown, Rubenstein en veral Michael Peppard. Soos hierdie gedeelte van Van Zyl se aanhaling van Peppard illustreer:

“[B]iblical scholars have too often conducted their research within the later framework of fourth-century Christian thought. The elite philosophical debates of the Nicene era have so dominated scholarly discourse about divine sonship that it has been difficult to examine “son of God” language in its first-century context.”

Waar los hierdie beskuldiging ons wanneer ons by Ignatius en sommige van die ander baie vroeë kerkvaders se uitlatings kom? Natuurlik is Van Zyl, en almal met ‘n hekel aan die Drie-eenheid en Inkarnasie, reg met hul antwoorde, maar die punt is dat dit beslis vooroordeel weerspieël om die vroeë kerkvaders se lees van die Bybelse teks totaal ondergeskik te stel aan kulturele en ander drukfaktore in hul verstaan van wie Jesus was.

Dit bring my by Van Zyl se verwysing na ortodokse akademici. Hy het die lastige gewoonte om wanneer hy ookal na hierdie akademici verwys, nie na te laat om dit ook te laat saamval met bepaalde hoedanigheidswoorde nie, sodat niemand skynbaar enige illusie sou hê oor die totaal mislukte aard van hierdie akademici se werk nie:

  • “Tom Wright se verwarrende identifisering”
  • “Ben Witherington se oorywerige voorstel”
  • “Joachim Jeremias se oorgretige verhandeling”
  • “Richard Bauckham met sy fundamenteel gebrekkige Christologie”
  • “Tom Wright met sy wurgknope van verwarring”
  • “France se sirkulêre argumente”

Wat Van Zyl skynbaar nie besef nie is dat hierdie manier van nonchalante verwysing (selfs al reflekteer dit bloot die opinies van ander professionele akademici), nie regtig dui op intellektuele gewigtigheid nie, dit lyk bloot na hovaardige neerpraat. Nie dat Van Zyl hom as ‘n professionele akademikus voorgee nie, maar dit maak sy trant net soveel meer onvanpas.

Ten slotte. Jaco van Zyl is ooglopend intelligent en belese, maar hy openbaar ongelukkig terselfdertyd ‘n baie trotse disposisie. Die probleem is dat arrogante intelligensie weersin wek (al is ‘n mens salig onbewus daarvan) op ‘n manier wat domastrantheid te deursigtig is om te doen. Dis nie wedersyds uitsluitend om beide inskiklik én weldenkend te wees nie. Maar solank as wat iemand nalaat om hierdie twee idees suksesvol te integreer in hoe daar mét of ván mense gepraat word, sal hul modus operandi met ongeïnteresseerde agterdog bejeën word.

Van Zyl kan my dalk in sy volgende blog-inskrywing weer uitlok om te reageer vir nog ‘n aflewering in hierdie pseudo-gesprek, maar ek gaan my bes doen om die versoeking te weerstaan.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*