Wat van verdagte vertalers?

Die volgende opmerking spreek van vele wanpersepsies wanneer dit kom by verantwoordelike denke oor Bybelvertaling.

 

Hallo Udo

Daar is en was nog altyd Bybelvertalers met verdagte motiewe; om dit te ontken is naïef en baie dom.

Een ding weet ek verseker: ek ken God persoonlik en as ʼn mens 1 Johannes 5:7-8 reg verstaan, dan is dit baie duidelik dat dit nooit tot die Bybel bygevoeg is nie, maar nog altyd in die Bybel hóórt. (In elk geval kan niemand sê dat hierdie verse nie in die Bybel hoort nie, want daar is geen oorspronklike geskrifte nie.) Jou probleem, in die ontkenning van die waarheid van 1 Johannes 5:7-8, is dat jy mense se idees navolg wat jy nog nooit ontmoet het nie. Jy vertrou hulle meer met jou verstand as jou hart – en jy weet wat die Bybel oor die verstand sê, né. Die 1933/1953-vertaling bevestig die werklike boodskap van hierdie verse, terwyl die 1983-vertaling dit ontken. En daarmee het jy skynbaar nie ‘n probleem nie…

Ek probeer jou nie oorwen na die een of ander kant nie. God is almagtig en Sy wil sal geskied, maar jy doen niemand ‘n guns met hierdie pad wat jy volg nie. Jy sal baie beter doen om mense net te vertel van die evangelie, dis die Heilige Gees wat sal oortuig. Die goed wat jy doen bring net twyfel en dis presies wat Satan wil hê. So hoekom doen jy dit? As daar liefde in jou is, dan sal jy mos nie hierdie goed so uitbasuin nie!

Winkelsmidt

 

So is die gevolgtrekking van Winkelsmidt met wie ek onlangs ‘n gesprek probeer voer het na aanleiding van my artikel, Wat van valse vertalings? Wat volg is ʼn paar opmerkings oor Winkelsmidt se argumente en konklusies omdat hierdie tipe denke ongelukkig onder te veel Christene te vinde is.

Soos baie Christene is Winkelsmidt taamlik oningelig oor tekskritiese metodologie (dit is, die wetenskaplike werkswyse wat die vraag na die oorspronklike teks m.b.t. veral antieke dokumente ondersoek). Eerstens is dit die geval dat wat ook al die persoonlike motiewe van sommige vertalers is, die gevolgtrekkings van moderne tekskritiese navorsing is onderhewig aan die proses van kollegiale toetsing soos dit met alle goeie wetenskaplike navorsing die geval is. Daarom is dit onwaarskynlik dat iemand (of selfs ʼn groep persone) bloot kan wegkom met een of ander persoonlike en aweregse agenda. Daar is opmerklike uitsonderings, soos die Jehova-getuies se Nuwe Wêreld-vertaling. Maar enige bybelwetenskaplike wat sy sout werd sal uitwys hoe teologiese vertrekpunte hierdie vertaling gemotiveer het en daarom is dit nie naastenby die betroubare resultaat van tekskritiese navorsing nie. Die probleem lê egter nie eintlik by verdagte vertalers nie. Die feit is dat Winkelsmidt wys dat dit maklik is om ander wat van jou verskil, van allerlei dinge te beskuldig sonder om regtig te verstaan wat hulle standpunte is en hoekom hulle dit handhaaf.

Tweedens maak Winkelsmidt ʼn belangrike punt, maar laat na om die volledige prentjie te skets. Geen van die oorspronklike manuskripte (die outografieë) wat die eerste keer deur die skrywers van die Nuwe Testament (of Ou Testament) neergepen is, bestaan meer nie. Ons het slegs afskrifte daarvan. Maar wat Winkelsmidt nie besef nie, is dat daar so baie afskrifte bestaan dat tekskritiese navorsers, deur dit alles met mekaar te vergelyk (om die proses baie eenvoudig voor te stel), in 98 persent van gevalle van die Nuwe Testamentiese teks, met die hoogste waarskynlikheid kan bepaal wat die oorspronklike bewoording was.

By ʼn gebrek aan die tegniese vermoë om die tekskritiese faktore ter sprake sorgvuldig te kan evalueer, probeer Winkelsmidt egter sy gevoel oor die saak te regverdig deur hom te beroep op sy persoonlike verhouding met God. Sodoende is dit dan omdat hy in ʼn verhouding met die Here staan dat hy wéét dat die Comma Johanneum (die betwiste woorde in 1 Joh 5:7-8 – later meer hieroor) deur God geïnspireer is en daarom beslis in die Bybel hoort. Die implikasie moet dus wees dat as jy die Here werklik ken, dan sal jy weet om sekere dinge eerder met jou hart te aanvaar as om die gevaar te loop om moontlik deur jou verstand mislei te word.

Hoe Winkelsmidt hierdie onhoudbare skeiding tussen hart en verstand Bybels begrond, weet nugter alleen. Praat die Bybel ooit op ʼn neerhalende manier van die verstand asof dit ʼn minderwaardige rol speel in ons liefde en toewyding aan God en sy Woord? Inteendeel, dis ʼn direkte weerspreking van Jesus se antwoord in Matteus 22:37 oor die vraag na die belangrikste gebod: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.”

Winkelsmidt het ʼn verdere baie vreemde idee, naamlik dat ʼn mens iemand anders eers persoonlik moet ken om sy insigte te kan evalueer of vertrou. Op ʼn manier is sy agterdog verstaanbaar, want hoe vertrou ʼn mens bepaalde inligting as jy onder die indruk verkeer dat iemand jou bloot van die wal af in die sloot wil help. Die probleem is egter dat Winkelsmidt eenvoudig die nodige agtergrondkennis ontbreek om die relevante inligting met ʼn mate van bevoegdheid te evalueer. Sy eerste reaksie is daarom om verwysings wat bedoel is om die saak vir homself te ondersoek, liefs teen te staan en homself sodoende te beskerm teen ʼn (Satansgeïnspireerde) aanslag op sy gevestigde oortuigings. Só ʼn reaksie verdien dalk simpatie, maar ʼn kop-in-die-sand mentaliteit hou ʼn mens onkundig en naïef.

Oor hierdie anti-intellektuele sentiment moet iets meer gesê word, omdat te veel Christene verkeerdelik hierby inkoop. Winkelsmidt se betoog is dat Christene teen twyfel beskerm moet word, want twyfel dra klaarblyklik op een of ander manier by tot Satan se planne. Hierdie gedagte is egter ʼn oorhaastige veralgemening en Bybels ongegrond. Om twyfel te ervaar is nie outomaties ʼn aanduiding van ongeloof, so asof die Satan se kloue reeds om jou toegevou het nie. Terloops, Satan versoek ons nie tot twyfel nie, maar tot ongeloof; twyfel en ongeloof is nie dieselfde ding nie. Nee, twyfel weerspieël ‘n normale reaksie van onsekerheid wanneer iemand met nuwe inligting gekonfronteer word, inligting wat hulle nog nie voorheen gehoor het nie. Twyfel is daardie moment wanneer iemand nie seker is of dit wat hulle voel hulle behoort te weet, ooreenstem met wat die feite werklik is nie. Die belangrike vraag is dus nie óf ʼn mens twyfel mag of gaan ervaar nie (jy mág en jy gáán, want vir enigiemand met ʼn begeerte om die wêreld rondom hulle te verstaan, is dit onvermydelik dat hulle met tye twyfel sal ervaar); die belangrike vraag is eerder na hoe ʼn mens op twyfel reageer wanneer jy dit ervaar.

Wat is dus die beste optrede wanneer iemand voor inligting te staan kom waaroor hulle onseker voel (m.a.w. wanneer twyfel ervaar word)? As ons Winkelsmidt se raad moet volg, dan moet sulke onsekerheid dadelik bely of besweer word, asof dit ʼn sonde of aanval van die duiwel sou wees. ʼn Tweede opsie is om onsekerheid en twyfel eerder te sien vir wat dit werklik is, naamlik ʼn geleentheid om tot groter begrip en dieper insig te kom. Die proses om nuwe inligting te ondersoek, te verstaan en te beoordeel het met Satan niks te doen nie. ʼn Soeke na wat waar is, is ʼn geheiligde soeke, want ons dien tog ʼn God van Waarheid. Kennelik is dit so dat hierdie proses om iets beter te verstaan veel meer moeite is as om bepaalde inligting bloot te onderdruk en te maak asof dit nie bestaan nie. Tog is dit nie moeilik om te sien dat slegs een van hierdie opsies regverdigbaar en verantwoordelik is nie.

Dit gaan oor die tipe geloof wat ons as Christene nastreef. Streef ons na ʼn volwasse en deurdagte geloof (1 Kor. 14:20) wat vrae en kritiek met vertroue tegemoet kan gaan? Of is ons tevrede met ʼn reaktiewe geloof wat kla oor al die bedreigings daarbuite, maar niks of min doen aan die onkunde en naïwiteit waarin ons vasgevang is nie?

Iemand wat erns maak met ʼn volwasse geloof en wat die dinamiek van twyfel reg verstaan, sal ook besef dat wanneer ons die boodskap van die evangelie aan mense bring, dat ook húlle twyfel en onsekerheid mag ervaar. Dis normaal dat hierdie mense ook dikwels eers nuwe inligting sal wil ondersoek en toets vir waarheid. Mense se vrae en twyfel spreek meestal van ‘n behoefte om te bepaal wat die feite werklik is. As ons as Christene dus nie die moeite doen, in afhanklikheid van die Heilige Gees, om sulke mense ook te help om sin te maak van die breër konteks van die evangelie nie, het ons dan werklik die evangelie gekommunikeer as hulle sukkel om dit te verstaan? Dit help nie ons vertel net die evangelie nie, want “vertel” veronderstel nie noodwendig “gehoor” nie. Natuurlik is dit die Heilige Gees se werk om te oortuig en natuurlik wil nie almal werklik hoor nie. Tog is daar baie dinge wat mag maak dat mense nie die evangelie werklik kan hoor nie (soos, byvoorbeeld in hierdie geval, vrae rondom die oorsprong en betroubaarheid van die Bybelse teks). Dis juis omdat God se liefde vir mense in ons is, dat ons hulle vrae ernstig opneem.

Winkelsmidt se opmerkings spruit meestal uit onkunde en sy ondeurdagte beskuldigings maak ʼn sinvolle gesprek onmoontlik. Die leser wat egter belangstel in hoekom ons vertroue kan hê in die Bybel as Woord van God, in die lig van die gevolgtrekkings van tekstuele kritiek soos in die geval met 1 Johannes 5:7-8, kan gerus verder lees.

 ________________________

Die Comma Johanneum verwys na die volgende beklemtoonde woorde in 1 Johannes 5:7-8 wat nie in die vroegste Griekse manuskripte tot ons beskikking voorkom nie: “Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig.” (AOV, 1953)

Die weglating van hierdie woorde in die Nuwe Afrikaanse Vertaling (1983) sowel as in die komende nuwe Afrikaanse Direkte Vertaling (BDV, 2016) is vir baie Christene ʼn ontsteltenis. Nie net is daar skynbaar sommer ʼn gedeelte uit die Bybel (die ewige Woord van God) weggeneem nie, maar sodoende word ook niks minder as die waarheid oor God se drie-enige natuur ontken nie. Die petisies wat opgetrek en beswaarskrifte wat gerig is asook die New Age samesweringsteorieë wat in hierdie verband bespreek word, weerspieël alles iets van die onderliggende onsekerheid wat hieroor beleef word.

Twyfel wat nie voldoende aandag kry nie maak gou plek vir agterdog. Tog wek die gevolglike aantygings meer hitte as lig wanneer dit kom by vertalers se verdagte motiewe en die ondermynende rol wat hulle sou speel in Satan se planne (luister gerus na Hennie Stander se aanbieding, Are Bible Translators Traitors? Why Debates on Bible Translations Generate More Heat Than Light). Die feit is dat alle moderne vertalings van brontekste gebruik maak waarvoor daar goeie wetenskaplike redes is dat dit die oorspronklike woorde van die Nuwe Testament op sekere plekke beter weergee as ander brontekste.

Daar is baie faktore wat ʼn rol speel in die bepaling van die oorspronklike bewoording van die Bybelse teks en die vertaling van daardie teks. Dit kan ons as Christene daarom net goed doen om meer bewustelik hiervan kennis te neem. Dit mag byvoorbeeld baie help om die nuanses in vertalingsbenaderings beter te verstaan (om na slegs een aspek te verwys). Dan sal ons gou besef wat die uitdagings is vir vertaling wanneer ons die woorde van ʼn antieke kultuurspesifieke teks op so ʼn manier wil oordra dat die boodskap daarvan deur mense in ‘n hedendaagse kultuur met sy eie kontekstuele uitdagings verstaan kan word. Die volgende artikels is ʼn goeie plek om te begin:

Vir ʼn goeie oorsig van die ontstaan van beide die Ou (1933/53) en Nuwe (1983) Afrikaanse vertalings, en daarom ook die basis van waaruit hierdie vertalings saamgestel is, kan die volgende toeganklike artikels gelees word:

Uit hierdie artikels behoort iets gesien kan word vir waarom moderne Bybelvertalings deur tekskritiese navorsing ʼn bepaalde bronteks bo ʼn ander verkies by sekere gedeeltes van die Bybel. Wat baie duidelik behoort te wees is dat die strewe in Bybelvertaling is om getrou te wees aan die oorspronklike teks, en per implikasie aan die Bybel as God se Woord. Daar is nie een of ander sameswering om God se Woord te ondermyn soos sommige kritici dit dikwels wil laat klink nie.

Terug na die Comma Johanneum.

Baie mense se bekommernis is dat die weglating van hierdie woorde in 1 Johannes 5:7-8 in nuwer vertalings, vertolk moet word as ʼn subtiele of doelbewuste aanval op die drie-eenheidsleer of die identiteit van Christus. Is die Goddelikheid van Christus en die drie-enige natuur van God dan nie juis dít wat deur alle ander godsdienste en kultusse pertinent ontken word nie?

Die eenvoudige antwoord hierop is dat indien die Comma Johanneum in die eerste plek nie in die Bybel hoort volgens die getuienis van tekskritiese oorwegings nie, dan kan die weglating of afwesigheid daarvan mos nie gesien word as ʼn aanval op Christelike teologie nie. Die feit is in elk geval dat die drie-eenheidsleer soos ons dit uit die Bybel verstaan, glad nie afhanklik is van die Comma Johanneum nie. Daar is genoeg skrifgetuienis in die hele res van die Bybel vir die drie-eenheidsleer en die Godheid van Christus, en hiervan is die vroeë kerkvaders se besinning en gevolgtrekkings uitstekende getuienis. Hulle het nêrens in hul skrywes na die Comma Johanneum verwys nie, selfs nie toe die debat oor die Godheid van Christus in die eerste paar eeue na Christus se opstanding, op sy felste was nie. In opsigself is dit natuurlik ʼn baie sterk aanduiding dat die vroegste manuskripte tot hul beskikking nie hierdie woorde bevat het nie.

Om te help om die kwessies hier ter sprake verder te ondersoek en duidelik te maak, verwys ek na die volgende artikel:

  • Drie-Eenheids teks. 1 Johannes 5:7-8 (Eintlik is die hele webwerf waarvan hierdie artikel deel is, bedoel om ʼn verskeidenheid van baie goeie en toeganklike inligting te bied waarby enigiemand wat belangstel in tekskritiese verduidelikings aangaande die Bybel die moeite kan doen om by stil te staan. Dit word ten sterkste aanbeveel.)

Dan is daar ‘n paar goeie artikels in Engels wat vir die leser wat ʼn bietjie dieper wil delf waardevol kan wees:

Laastens wil ek verwys na ʼn paar artikels wat as reaksie dien op die skerp kritiek oor die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling wat in 2016 (BDV) gaan verskyn. Die leser sal self uit die artikels aflei wat die kritiek is en kan ook self besluit hoeveel gewig dit dra. Dit behoort egter teen hierdie tyd duidelik te wees dat die vertalers van iets soos die BDV nie summier van verdagte motiewe beskuldig kan word nie.

Die eerste lys artikels is van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika self aangaande die BDV:

Dan is daar ook die volgende twee kort artikels wat aspekte rondom die BDV toelig:

Vir boeklengte besprekings van sommige van die sake wat hier genoem is, kan die volgende bronne geraadpleeg word:

Sien ook:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.