Geweld in die Ou Testament

Hallo Udo

Jesus se Nuwe Testamentiese etos, naamlik ‘jy moet jou naaste liefhê soos jouself’ is skynbaar ‘n revolusionêre ommeswaai van dit wat Jahweh, die God van die Ou Testament, voorgestaan het. Dink Genesis, Eksodus, Levitikus, Kananiete, Dawid se vele oorloë, God se veragting van Esau, verskeie voorbeelde van vervloeking en uitwissing van afvalliges (en van die Jode se vyande) onder Goddelike sanksie. Ook die minderwaardige (gebruiks) rol van die vrou in die Ou Testament is nie juis ‘n toonbeeld van naasteliefde, respek en verdraagsaamheid nie.

Hoe vereenselwig ons hierdie aspekte van God se karakter?

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Vir baie mense staan Jahweh van die Ou Testament in sterk kontras met Jesus van die Nuwe Testament (soos ook destyds reeds vir die vroeë tweede eeuse biskop Marcion). Die gevolg is dat Jesus dikwels as ‘n korrektief gesien word op die Godbeskouing van sy tyd, “’n revolusionêre ommeswaai” soos jy dit noem. Vir Marcion was die kontras egter so onversoenbaar dat hy gemeen het dat daar eintlik twee Goddelike entiteite is, naamlik die Ou Testamentiese God, Jahweh (‘n mindere en tiranniese skeppergod) en God, die Vader, wat sy Seun Jesus as redder na die wêreld gestuur het.

Hierdie kontrasterende en selfs dualistiese verstaan van wie God is, is ongelukkig meestal te wyte aan ‘n oppervlakkige omgaan met die Bybel. Daar is veral drie aspekte wat ek hier vinnig wil noem wat ‘n mens in gedagte moet hou wanneer hierdie tipe beskuldigings ter sprake kom: 1) konteks,  2) die karakter van God en 3) God se unieke verhouding met Israel.

Konteks: Ek het simpatie met mense wat allerlei gedeeltes uit die Bybel aanhaal om te wys hoe wreed, tirannies en immoreel die Ou Testamentiese God is. As dit my hermeneutiese uitgangspunt was om so met ‘n teks om te gaan (aanhalings uit hul konteks te haal), dan sou ek ook tot dieselfde gevolgtrekking gekom het. Maar dis ‘n baie onverantwoordelike manier om enige tipe evaluasie te doen. Dis soos om vir ‘n stout kind wat nou net gestraf is en sy ouers in die hitte van die oomblik daarvoor erg kwalik neem, te vra om al die insidente op te noem waar sy ouers hom onregverdig behandel het – en dan daardie eensydige en emosionele getuienis as rede aan te voer vir waarom sy ouers van mishandeling en liefdeloosheid aangekla moet word. Die moeite en harde werk om die Bybelse verhale in konteks te verstaan (hermeneutiek en eksegese) is natuurlik nie baie hoog op die agenda van die meeste mense wat vyandig krities daaroor staan nie. Dikwels het mense reeds besluit wat hulle wil glo lánk voordat hulle enigsins ‘n noukeurige ondersoek oorweeg. Die volgende twee punte is meer spesifieke voorbeeld van kontekstuele faktore wat hier ʼn rol speel.

Die karakter van God: Beide die Ou en Nuwe Testament lê klem op twee aspekte van God se karakter naamlik sy heiligheid en sy liefde. Heiligheid het te make met God se morele karakter; God is absoluut goed is, sy karakter is ʼn objektiewe morele standaard. Net so is God se liefde deel van sy karakter; om absoluut goed te wees, is om ook liefdevol te wees. Baie mense dink egter dat hierdie twee konsepte, liefde en heiligheid, onversoenbaar is, maar dis ʼn misverstand. God se heiligheid impliseer nie liefdelose onverdraagsaamheid wat enige mens by die eerste tekens van immorele neigings wil uitwis nie (as dit die geval was dan sou hy die mens in die eerste plek nie geskep het nie). God se liefde daarteenoor beteken ook nie dat God se morele standaard bloot opgeskort word asof ‘n mens nie vir sy optrede verantwoordelik gehou word nie.

God is beide heilig en ʼn God van liefde. Dit sien ons in beide die Ou en Nuwe Testament. Ons sien dit in die Seun van God se verkondiging van vergifnis, medelye en liefde, sowel sy waarskuwings oor die gevolge en oordeel op sonde, sy sin vir regverdigheid met sy weersin in die skynheiligheid van godsdienstige mense en uitbuiting van die armes en in sy klem op die heiligheid van God. Iemand wat nie die heiligheid en liefde van God se karakter in Jesus se optrede en uitsprake opmerk nie, het nog nie werklik die Nuwe Testament gelees nie. Op dieselfde wyse het iemand nog nie die Ou Testament gelees wat nie ook in die verhale van Jahweh se straf en oordeel, kan wys op sy liefde en sorg nie.

God se unieke verhouding met Israel: In die Ou Testament het God ‘n unieke verbond met Israel gesluit. Hy het ‘n baie spesifieke plan met Israel gehad en het ook verwag dat Israel in ‘n baie spesifieke verbondsverhouding met hom sal leef (daarom al die Mosaïese wette waaraan Israel onderworpe was). Die volk Israel was aanvanklik ‘n teokrasie (onder God se regering, eerder as menslike leierskap) en die baie streng voorskrifte wat God vir Israel as verbondsvolk gehad het asook die oordeel wat God oor baie ander mensegroepe gebring het (of dit deur Israel tot uitvoering gebring het), is direk gekoppel aan God se unieke verhouding met sy volk. In ons lees van baie verhale in die Ou Testament moet ons hierdie verhouding tussen God en Israel in ag neem; daar was baie spesifieke omstandighede en baie spesifieke doelstellings in bepaalde gebeure wat plaasgevind het.

Ter opsomming. Die geweld in die Ou Testament as gevolg van Goddelike sanksie is vir ons moderne sensitiwiteite ʼn groot struikelblok. En tog kan ons wel iets verstaan van waarom bepaalde gebeure in antieke geskiedenis plaasgevind het as ons moeite doen om die konteks beter te verstaan. Dan vorm ons ʼn beter begrip vir die spesifieke redes waarom God se geregtigheid, heiligheid en oordeel op bepaalde maniere so sterk uitdrukking vind in Ou Testamentiese geskiedenis. Niks hiervan dui egter daarop dat die God van die Ou Testament nie ook ‘n liefdevolle God is nie. God is in elk geval nie op dieselfde manier moreel aanspreeklik as ‘n mens nie. ‘n God wat alwys, al-goed, alwetend en almagtig is, sou op sekere maniere kon optree wat nie volgens ons beperkte menslike insig, goedheid of vermoë, moreel geëvalueer kan word nie. In sy alwetendheid is God byvoorbeeld bewus van die uitkoms van sameloop van omstandighede sodat sy optrede implikasies het waartoe geen mens kognitief toegang het nie. Terselfdertyd is God onder geen morele verpligting om enige mens se lewe te onderhou waarvoor hy in die eerste plek vir die bestaan van verantwoordelik is nie (hiervolgens, byvoorbeeld, kan God nie van ‘moord’ beskuldig word op dieselfde manier as hoe ʼn mens daaraan sou skuldig wees nie). God is egter terselfdertyd werklik al-goed en daarom kies God nie maar net met soewereine arbitrêrheid wat ‘goed’ is en wat ‘sleg’ is, asof wat goed is in hierdie wêreld, dalk sleg kon gewees het in ‘n ander wêreld wat God kon skep nie.

Al hierdie kontekstuele faktore maak die voorbeelde van geweld in die Ou Testament nie noodwendig minder ontstellend vir ons luuks-lewende moderne mense nie. Maar weereens wys dit dat ons nie wat in die Bybel staan, sommerso ongekwalifiseerd en konteksloos moet probeer interpreteer soos wat skeptici graag doen nie.

Ek verwys graag na die volgende artikels (en nie almal het presies dieselfde siening nie) oor hierdie onderwerp wat jy gerus die moeite kan doen om daarna te kyk om hierdie saak verder te ondersoek:

Daar is ook twee oudio-files waarna jy kan luister op AntWoord se webblad:

Vir boeklengte besprekings van hierdie sake, beveel ek die volgende aan:

Terloops, ek verskil ten sterkste met jou verwysing na die “minderwaardige (gebruiks) rol” van die vrou in die Ou Testament. As jy daarmee bedoel dat vroue in die Ou Testamentiese tyd in die breër konteks van kontemporêre antieke kulture dikwels as minderwaardig beskou is, dan sal ek saamstem. Ek sien egter nie dat die skrywers van die Bybel (Ou óf Nuwe Testament), al was hulle ʼn produk van hulle tyd, so ‘n minderwaardige of gebruiksrol spesifiek voorgestaan óf goedgekeur het nie. (Sien hier en hier en hier.)

Beste groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.