God se Woord en Bybelvertalings

Hallo Andre

Ek neem vrymoedigheid om te reageer op jou artikel, Bybel = Bybel?. My doel is om aan te toon waar ek dink jy nie die feite akkuraat aan jou lesers weergee nie, en waarom jou gevolgtrekking oor die verdagte aard van moderne Bybelvertalings, daarom hoegenaamd nie die feite weerspieël nie.

Eerstens moet ek noem dat ek ook ʼn volgeling van Jesus is, dat ek ook, soos jy, glo in verlossing wat slegs deur Hom moontlik gemaak is en dat dit ʼn boodskap is wat almal moet hoor. Tweedens glo ek dat ons as Christene verantwoordelik met ons geloof moet omgaan, dat ons moet dink en nádink oor wat ons glo, dus ook oor hóékom ons dit glo. Dit is veral in die lig van laasgenoemde dat ek hierdie skrywe aan jou rig. As sulks het dit dus niks te doen met een of ander begeesterde betoog vir ʼn bepaalde weergawe van die Bybel nie – geen vertaling is perfek nie.

Soos jy, glo ek ook in die geïnspireerde Woord van God waar ons die waarheid vind oor hoe God begeer dat mense deur geloof en dankbaarheid sal reageer op die verlossing wat Hy moontlik gemaak het deur Christus se sterwe ter vergewing van sonde. Dit is omdat ons hierdie boodskap in die blaaie van die Bybel vind (ja, maak nie saak watter vertaling jy gebruik nie) dat enige persoon wat hierdie waarheid hul eie gemaak het (m.a.w. Christene), daaroor sal passievol wees.

Wanneer ʼn mens egter bewus raak van die proses en omstandighede waaronder die inhoud van die Bybel neergepen is en hoe dit deur die eeue oorgedra is, dan word ʼn mens, vir goeie rede, met die volgende vraag gekonfronteer: Hoe weet ons dat wat vandag in ons Bybels staan, ooreenstem met wat honderde jare gelede oorspronklik deur die skrywers daarvan neergeskryf is?[1]

Die vraag word veral relevant as ons in ag neem, soos jy weet, dat geen van die oorspronklike manuskripte waarin die inhoud van die Bybel vir die heel eerste keer neerslag gevind het, vandag meer bestaan nie. Ons het selfs nie eers meer die eerste afskrifte van die oorspronklike nie. Ten beste het ons dalk die afskrifte van die afskrifte van die afskrifte van die oorspronklike manuskripte. Die feit is verder, soos jy ook deeglik bewus is, dat nie een van hierdie afskrifte heeltemal met enige ander een ooreenstem nie.

So, ek dink jy sal volkome saamstem dat die vraag dus werklik belangrik is: Hoe weet ons wat presies in die oorspronklike manuskripte van die Bybel gestaan het?[2]

Dit is hier waar die navorsingsveld van tekskritiek ter sprake kom.[3] Deur die metodes en beginsels van tekskritiek word daar bepaal wat die mees waarskynlike bewoording van oorspronklike antieke dokumente sou wees. Ons het byvoorbeeld so ʼn magdom afskrifte van die teks van die Nuwe Testament,[4] dat ons deur tekskritiese navorsing baie meer sekerheid kan hê oor die oorspronklike bewoording daarvan as oor enige ander antieke en belangrike historiese dokument.

Wanneer ʼn mens groter begrip kry vir die aard van tekskritiese navorsing en al die faktore wat daarin ʼn rol speel, dan besef ʼn mens hoe waardevol die insigte is wat daaruit voortkom en hoe dit gebruik word in die vertaling van Bybels in die afgelope vyftig jaar of so. Dan besef ʼn mens dat waarskuwings, soos jy in jou artikel gee, oor die sogenaamde onbetroubaarheid, onakkuraatheid en gevare van moderne Bybelvertalings, geen gewig dra nie.

ʼn Paar voorafgaande opmerkings. Dit lyk of die meeste van jou inligting uit ‘n enkele bron [5] kom, hoewel jy dit nêrens eksplisiet so noem nie, maar dit slegs aan die einde van jou artikel as ‘n verwysing lys. Sover ek egter kan agterkom, is of was die outeur van die artikel (David A. Plaisted) nie ʼn tekskritiese navorser nie. Hy lys ook nie sy bronne of verwys nie na enige kundiges in die veld nie (tensy dit gevind kan word by die enkele webskakel aan die einde van sy artikel, maar wat skynbaar nie meer aktief is nie).

Iets wat ek in hierdie reaksie van my probeer doen het, is om redelik deeglik te wees in my bronverwysings (in die vorm van eindnotas), sodat jy die kwessies behoorlik vir jouself verder kan ondersoek. Trouens, ek dink die mees waardevolle aspek van hierdie skrywe is die inligting in die eindnota-verwysings. Ek het probeer om nie hoofsaaklik na akademiese bronne te verwys nie, maar meestal na toeganklike bronne in die vorm van artikels, oudio-opnames en selfs video’s, sommige deur kundiges en ander deur amateur-tekskritici wat talle aspekte van tekskritiek m.b.t. tot die Bybel bespreek. Een van die voorste tekskritiese navorsers op wie se werk ek wel spesifiek fokus, is Daniel B. Wallace (jy kan gerus moeite doen om kennis te neem van sy insigte).[6]

Populêre en Onpopulêre Boeke?

Om die kwessies hier ter sprake in die regte perspektief te plaas wil ek begin deur te wys dat die punt wat jy probeer maak met jou voorbeelde van die “populêre” en “onpopulêre” boeke, logies gesproke foutief is en verder dat dit as ʼn poging tot analogie, vanuit ʼn tekskritiese oogpunt, irrelevant is.

  • Jou eerste denkoefening skets ʼn situasie waarin twee skrywers twee verskillende boeke oor dieselfde onderwerp publiseer en dat ʼn mens dan kan bepaal watter een daarvan populêr is deur te kyk na die hoeveelheid kopieë wat daarvan gedruk en verkoop is. Die rede vir sulke populariteit, so neem jy eenvoudig aan, is omdat daardie boek betroubare inligting weergee en die ander nie. Maar hierdie scenario is glad nie analogies met tekskritiese navorsingsresultate oor die teks van die Bybel nie! Die eerste probleem is dat daar tog net één oorspronklike teks van die Bybel was waarvan al die afskrifte afkomstig is. Daar is geen sprake van “twee skrywers” wat dus iets soos twee verskillende boeke oor die dieselfde onderwerp sou geskryf het nie. Tweedens kan ʼn mens nie uit iets soos ‘populariteit’ afleidings maak oor die akkuraatheid van inligting nie. ʼn Boek of persoon kan populêr wees vir verskeie redes, maar dit beteken nie dat die inligting in daardie boek of die uitsprake van daardie persoon, daarom summier korrek is nie. Populariteit is nie ʼn maatstaf vir waarheid nie. Die buitestaander wat dus wil bepaal watter inligting, byvoorbeeld, in twee verskillende boeke oor dieselfde onderwerp, akkuraat is, kan nie anders as om juis die moeite te doen om die boeke te lees en te bestudeer om die inligting daarin te ondersoek nie. So ‘n persoon laat hom nie mislei deur populariteit nie.
  • Jou tweede denkoefening begaan presies dieselfde fout. Populariteit bepaal nie waarheid nie. ʼn Boek wat verweer is deur baie gebruik, sê dalk dat dit baie gelees is; dit sê nie iets oor of die inligting daarin korrek is of nie. Weereens, daar is baie redes waarom mense een boek bo ʼn ander verkies wat niks met die akkuraatheid van die inligting daarin te doen het nie. Dis daarom nie noodwendig ʼn aanduiding dat die mense wat een boek bo ʼn ander verkies, meer oor die onderwerp weet as mense wat die ander boek lees nie.
  • Dan oor jou derde denkoefening. Manuskripte wat op ‘n spesifieke tyd in die geskiedenis deur ʼn bepaalde groep mense gelees is (wat dalk meer met beskikbaarheid te doen het as met populariteit), is nie as sulks ʼn aanduiding van wat die bewoording van die oorspronklike Bybelse teks sou wees nie. Dit is volgens sekere herkenbare patrone in die kopieer-foute wat in manuskripte voorkom, wat dit vir navorsers moontlik maak om manuskripte in sekere tekstipes te rangskik wat ooreenstem met bepaalde geografiese areas waarin sulke afskrifte gebruik en/of gemaak is. Dis juis ʼn bepaalde geografiese area en bepaalde faktore in daardie area wat daartoe bydra dat bepaalde manuskripte meer of minder gebruik en gekopieer sou word as manuskripte in ander areas (later meer hieroor).

Die punt is dus dat om terme soos ‘populêr’ en onpopulêr’ te gebruik, eintlik heeltemal waardeloos is as analogiese verduideliking vir hoe tekskritiek werk en wat die gevolgtrekkings is waartoe navorsers kom.

Die Feite Rondom die Brontekste

Goed, kom ons gesels nou oor die feite rondom die grondtekste (d.i. die verskillende hand-gekopieerde Griekse manuskripte tot ons beskikking) waarop Bybelvertalings m.b.t. tot die Nuwe Testament berus.[7] Jou basiese verdeling is korrek, d.i. daar is die Textus Receptus aan die een kant, ʼn teks saamgestel uit ongeveer 0.001% van alle beskikbare Griekse manuskripte wat vandag bestaan en nie een daarvan ouer as die 12de eeu nie. Aan die ander kant is daar die Kritiese Teks [8] (soos tans weerspieël in die United Bible Society, 5de uitgawe en die Nestle-Aland, 28ste uitgawe) wat grootliks saamgestel is uit ongeveer 5% van alle Griekse manuskripte en waarvan die mees volledige verteenwoordigings van die Bybel naamlik, Kodeks Sinaïtikus en Kodeks Vatikanus, uit die middel van die 4de eeu dateer. Die Kritiese Teks bestaan egter ook uit ander manuskripte soos papirus-fragmente van so vroeg as die 2de eeu. Dit is dus eenvoudig verkeerd om te suggereer (en dalk het jy jouself hier bloot oorhaastig uitgedruk) dat die hedendaagse Kritiese Teks nét uit die Kodeks Sinaïtikus en Kodeks Vatikanus bestaan.

Kom ons kyk nou na die statistiek wat jy gee, want dit weerspieël dikwels nie die feite akkuraat of met die nodige nuansering nie en daarom is dit misleidend.

1. Daar is sowat 5309 Griekse manuskripte wat vandag nog bestaan wat die hele of gedeelte van die Nuwe Testament bevat.

Die hoeveelheid Nuwe Testamentiese manuskripte wissel voortdurend soos nuwe manuskripte jaarliks ontdek word of formeel gekatalogiseer word. Die getal NT manuskripte is in 2013 aangedui as 5838.[9]

2. In totaal is daar omtrent 6000 manuskripte vandag nog wat die Ou en Nuwe Testament manuskripte insluit.

Ja, daar is aansienlik minder Hebreeuse Ou Testamentiese manuskripte.[10]

3. 95% van die manuskripte vandag in bestaan, kom ooreen en staan bekend as Textus Receptus of dan ook ‘Majority Texts’.

Ja, 95% van die Griekse manuskripte wat vandag bestaan, behoort tot die Meerderheidsteks, maar dit sê as sulks nog nie veel oor die bewoording van die oorspronklike nie (sien punt 4). Verder is die Meerderheidsteks beslis nie dieselfde as die Textus Receptus nie.[11]

  • Wat is die Meerderheidsteks?[12] Streng gesproke is dit eenvoudig die meerderheid van die bestaande Griekse manuskripte wat almal bepaalde ooreenkomste toon. Navorsers klassifiseer Griekse manuskripte volgens tekstipes (of teksfamilies)[13] om aan te dui waar die tekstipe waarskynlik meestal gebruik is. Die Meerderheidsteks is behorende tot die Bisantynse tekstipe, maar dis belangrik om te verstaan dat as hierdie meerderheid van manuskripte geweeg word (interne en eksterne evaluasie) eerder as bloot net getel word (d.i. kwantiteit), dan is die Bisantynse tekstipe slegs maar één tekstipe naas ander belangrike tekstipes, wat gebruik word om die oorspronklike bewoording van die Nuwe Testament te bepaal.[14]
  • Wat is die Textus Receptus?[15] Die Textus Receptus verwys na ʼn paar gedrukte tekste uit die 16de en 17de eeu wat basies deur ongeveer ʼn halfdosyn (uit 5838) Griekse manuskripte onderlê word waarvan nie een voor die 12de eeu dateer nie.[16] Die Textus Receptus is dus nie ʼn tekstipe nie, hoewel die manuskripte waaruit dit saamgestel is wel tot dieselfde tekstipe (Bisantyns) as die Meerderheidsteks behoort. Daar is egter meer as 1800 variante verskille tussen die Textus Receptus en ʼn Meerderheidsteks soos Hodges en Farstad se Majority Text.[17]

4. Die ‘Majority Texts’ word al oor die afgelope +-1900 jaar as Bybel gebruik.

Hierdie aanspraak is eenvoudig misleidend as ʼn mens die volgende feite in ag neem:[18]

  • Die Bisantynse tekstipe het eers so laat as die 9de eeu die meerderheid van Griekse manuskripte opgelewer; dit het ook nie voor die 4de eeu as tekstipe bestaan nie. Daniel Wallace: “Among extant Greek manuscripts, what is today the majority text did not become a majority until the ninth century. In fact, as far as the extant witnesses reveal, the majority text did not exist in the first four centuries. Not only this, but for the letters of Paul, not even one majority text manuscript exists from before the ninth century. To embrace the majority text for the Pauline Epistles, then, requires an 800-year leap of faith.”[19]
  • Baie navorsers dui aan dat die Bisantynse teks meestal ʼn samestelling van ander tekstradisies verteenwoordig, soos die Alexandrynse, Westerse en Caesariaanse tekstipes (hoewel baie individuele Bisantynse tekslesings tog blyk om ʼn onafhanklike oorsprong te hê[20]). Indien dit die geval is, dan maak dit nie sin om te dink dat die oorspronklike Griekse manuskripte presies met die Meerderheidsteks sou ooreenstem nie.
  • Terwyl die Bisantynse tekstipe in die 4de en 5de eeue in die Ooste (die Bisantynse kerk in en rondom Konstantinopel) gebruik is, het die Latynse Vulgaat die amptelike teks van die kerk in die Weste (die Westerse Romeinse Ryk, Noord-Afrika, Rome, ens.) geword. Dit verklaar waarom die kopiëring van Griekse manuskripte in die Griekssprekende Bisantynse kerk teen die 9de eeu vir die meerderheid van Griekse manuskripte verantwoordelik was. Die rede was omdat die spreektaal in die Weste, sedert die 4de eeu, Latyns was en daarom het die kopiëring van Griekse manuskripte daar plek gemaak vir die vertaling daarvan na Latyns. Die Vulgaat is egter nie ʼn Bisantynse tekstipe nie, maar ʼn mengsel van verskeie tipes, maar is ten minste net so lank in die Westerse kerk, tot en met die eerste gedrukte weergawe van die Bybel, gebruik.
  • Veelbeduidend is dat die vroeë Oud-Latynse vertalings [21] lank voor Jerome se Vulgaat, nie ʼn Bisantynse tekstipe verteenwoordig nie, maar ook ʼn mengsel van verskeie tekstipes. Daniel Wallace stel dit so: “Many of the versions were translated from Greek at an early date. Most scholars believe that the New Testament was translated into Latin in the second century D.—two centuries before Jerome produced the Vulgate. Almost one hundred extant Latin manuscripts represent this Old Latin translation—and they all attest to the Western texttype. In other words the Greek manuscripts they translated were not Byzantine.”[22]

5. Meeste van die 5% van die oorblywende manuskripte (‘Minority Texts’) se oorsprong kan terug getrek word na Alexandria, Egipte, na die 2de of 3de eeu na Christus.

Dis reg, die vroegste maar kleinste hoeveelheid Griekse manuskripte het in die droë klimaatsomstandighede van Egipte behoue gebly en waar die ontdekking daarvan waarskynlik teruggespoor kan word. Maar dit beteken nie dat hulle almal daar ontstaan of gekopieer is nie. Inteendeel sommige van hierdie manuskripte se oorsprong kan teruggespoor word (deur dit o.a. met die vroeë vertalings daarvan te vergelyk) na verskeie areas elders in die Mediterreense omgewing waar die Nuwe Testamentiese manuskripte oorspronklik neergepen is. Dis verder ook juis die vroeë datering van hierdie manuskripte wat so waardevol is vir tekskritiese navorsing wat wil bepaal wat die oorspronklike bewoording van enige teks is. Hoewel nie die enigste of selfs ʼn absolute oorweging nie (daar is beide eksterne en interne oorwegings), is dit in die algemeen so dat hoe nader ‘n afskrif dateer aan die skryf van die oorspronklike, hoe groter is die kans dat dit die oorspronklike bewoording sal reflekteer (omdat daar minder tyd verloop het vir kopieerfoute en veranderinge om plaas te vind). Hoekom daar so ʼn klein hoeveelheid vroeë manuskripte behoue gebly het, het baie te doen met die verganklike aard van papirus wat as papier vir die vroegste manuskripte gedien het. Nog ʼn faktor wat ʼn rol sou gespeel het is die vervolging van Christene, en daarom ook die vernietiging van hul heilige geskrifte, tot en met die einde van die derde eeu.

6. Net tussen Codex Sinaiticus en Codex Vaticanus is daar meer as 3000 verskille in die vier Evangelies alleen!

Jou aanduiding van hierdie verskille is glad nie die verdoemende getuienis wat jy graag by jou lesers die indruk wil wek nie. Geen twee Griekse manuskripte van die amper 6000 wat bestaan is presies identies nie en om te noem hoeveel verskille daar tussen twee manuskripte of tekstipes is, is vanuit ʼn tekskritiese oogpunt aksiomaties. Trouens, in tekskritiek is dit juis die aard en hoeveelheid verskille wat help om die oorspronklike bewoording te bepaal.[23] Soos reeds genoem is daar meer as 1800 verskille tussen die Textus Receptus en die Meerderheidsteks.[24] Is een of albei van hierdie groepe onderliggende manuskripte daarom summier onder verdenking? Nee, want die hele punt van die wetenskaplike veld van tekskritiese navorsing is om sin te maak van die verskille en daarmee so na as moontlik aan die oorspronklike bewoording te kom.[25]

7. Codex Vaticanus is in 1481 ontdek en is die eiendom van die Rooms Katolieke Kerk, en Codex Sinaiticus is eers in 1844 ontdek.

Waar en wanneer ʼn manuskrip ontdek is en aan wie dit behoort, is vanuit ʼn tekskritiese oogpunt nie bepalend vir waar en wanneer daardie manuskrip in die eerste plek ontstaan het of hoe naby dit aan die oorspronklike sou wees nie. (Hierdie punt van jou vertolk ek daarom as subtiele verdagmakery.)

8. Codex Vaticanus bestaan uit ‘n gedeeltelike Ou Testament en ‘n gedeeltelike Nuwe Testament, en die manuskrip is verantwoordelik vir meer as 36 000 veranderinge in nuwe Bybels!

Ja, en dis tog die hele punt van die Kritiese Teks (waarvan die Kodeks Vatikanus natuurlik slegs ʼn deel is): dit verteenwoordig ʼn ander bronteks en daarom lees moderne Bybelvertalings anders as ouer vertalings wat op die Textus Receptus gegrond is (maar, die implikasies van hierdie verskille moet in die regte perspektief geplaas word – dit beteken nie dat ons daarom met twee totaal verskillende weergawes van die Woord van God te doen het nie; sien die aanhaling van Daniel Wallace onder die volgende subopskrif). Ek wonder egter of lesers jou subtiele voorveronderstelling hier opmerk. Jy probeer met hierdie statistiek die indruk skep dat as die nuwe Bybels so baie van die Textus Receptus verskil, dan kan dit mos gans onmoontlik betroubaar wees. Jy het dus klaar besluit dat die Textus Receptus, wat op slegs ʼn fraksie van alle Griekse manuskripte berus waarvan nie een voor die 12de eeu dateer nie, nader is aan die oorspronklike Griekse teks. Wetenskaplike tekskritiese navorsers (baie van hulle is toegewyde Christene) verskil egter van jou. (Dis dalk goed om kennis te neem van die feite en bepaalde probleme rondom die Textus Receptus.[26]) Die punt van hierdie navorsing is nie dat ons nie van Bybels wat op die Textus Receptus gegrond is, gebruik kan maak nie. Nee, dis bloot dat hierdie vertalings van die Bybel nie verhef moet word tot ʼn onaantasbare status wat blind of immuun is vir historiese en wetenskaplike getuienis oor die gehalte van die teks nie (geen Bybelvertaling mag so verhef word nie[27]). Om dit wél te doen is eenvoudig ʼn anti-intellektuele benadering wat niemand ʼn guns doen nie – nie teenoor die gelowige wat denkend met sy geloof wil omgaan nie; ook nie teenoor ‘n skeptiese wêreld wat reeds agterdogtig staan jeens die idee dat enige antieke teks deur soveel eeue behoue kon bly nie.[28]

Die Aard van Bybelvertalings

Die aard van sommige vertalings en selfs tekstipes, in vergelyking met ander, moenie verdag gemaak word soos ongelukkig die geval is by sekere voorstanders van ʼn bepaalde vertalingstradisie nie (weereens, geen Bybelvertaling is perfek nie). Iemand wat bewus is van wat die gevolgtrekkings en implikasies van tekskritiek werklik is, sal daarom met Daniel Wallace kan saamstem:

“In reality, to argue for the purity of the Byzantine stream, as opposed to the pollution introduced by the Alexandrian manuscripts, is to blow out of proportion what the differences between these two texts really are—both in quantity and quality. For over 250 years, New Testament scholars have argued that no textual variant affects any doctrine. Carson has gone so far as to state that “nothing we believe to be doctrinally true, and nothing we are commanded to do, is in any way jeopardized by the variants. This is true for any textual tradition. The interpretation of individual passages may well be called in question; but never is a doctrine affected.” The remarkable thing is that this applies both to the standard critical texts of the Greek New Testament and to Hodges’s and Farstad’s Majority Text; doctrine is not affected by the variants between them.

If the quality of the text (i.e., its doctrinal purity) is not at stake, then what about the quantity? How different is the Majority Text from the United Bible Societies’ Greek New Testament or the Nestle-Aland text? Do they agree only 30 percent of the time? Do they agree perhaps as much as 50 percent of the time? This can be measured, in a general sort of way. There are approximately 300,000 textual variants among New Testament manuscripts. The Majority Text differs from the Textus Receptus in almost 2,000 places. So the agreement is better than 99 percent. But the Majority Text differs from the modern critical text in only about 6,500 places. In other words the two texts agree almost 98 percent of the time. Not only that, but the vast majority of these differences are so minor that they neither show up in translation nor affect exegesis. Consequently the majority text and modern critical texts are very much alike, in both quality and quantity.”[29]

Daar is dus absoluut geen plek vir hierdie stellings van jou nie:

  • “Nuwe Bybels gaan werklik uit hul pad uit om Jesus uit die Ou Testament te verwyder. Die Nuwe Testament loop ook lelik deur. Hele verse word uitgelaat, die woorde ‘Jesus’ en ‘Christus’ word in talle plekke verwyder, verwysings na Hom word in klein letters geskrywe, woorde soos dissipels word met gelowiges vertaal, die woord heiliges word met gelowiges of gemeente vertaal. Die impak is dat ‘n nuwe evangelie gebou word en die goddelikheid van Jesus Christus word sistematies verwyder.”
  • “Sien die nuwe Bybel vertalings gebaseer op die Codex Sinaiticus en Codex Vaticanus vir wat dit is – ‘n blatante aanval op die evangelie van Jesus Christus”.

Ek is jammer, maar sulke stellings is niks anders as onkundige en hiper-alarmistiese verdagmaking nie! [30] Dit doen ʼn volslae onreg aan die proses en gevolgtrekkings van tekskritiese navorsing.

Maar kom ons kyk na die voorbeelde van gedeeltes in die Bybel waarvolgens jy (soos die persoon van wie jy dit grootliks, sonder verwysing, gekopieer het[31]) hierdie onverskillige uitsprake skynbaar motiveer:

  • Ps 22:16. Al die moderne vertalings, soos die ASV, ESV, HSCB, NASB en NIV (maar nie die NETB nie, wat ʼn ander OT bronteks gebruik het) gebruik die woord “pierced” in die vertaling van die Hebreeuse “karah”: So, jou opmerking, “soos nuwe Bybels sê” is ʼn onnodige en onvanpaste veralgemening. Dit lyk egter of die vertalers van die NAV (1983) ʼn baie letterlike vertaling van die Hebreeuse woord “karah” wou weergee, wat neerkom op “of evildoers has encompassed dig my hands and my feet” (sien hier). Daarom die woord “deurgrawe” in Afrikaans. Is hierdie ʼn doelbewuste pogings om profesie te ondermyn? Of was dit dalk, al stem ons nie met die uiteindelike woordkeuse saam nie, ʼn poging om die Hebreeus so direk as moontlik weer te gee?
  • Jes 7:14. Oor vertalingsmeriete hier kan jy die volgende lees: Die Maagdelike Geboorte
  • Dan 3:25. Vir ʼn volledige bespreking van die meriete van ʼn bepaalde vertaling hier, lees “The Son of God,” or “A son of the gods”.
  • Dan 7:13. Hier gee ek jou gelyk dat die NAV ʼn swak Afrikaanse vertaling is van die Aramees (al die ander moderne vertalings, soos die ASV, ESV, HSCB, NASB, NETB en NIV, vertaal met “[S]on of man”). Op sigwaarde is dit egter nog geen aanduiding dat die vertalers van die NAV met “menslike wese” een of ander duiwelse agenda gehad het om Christus of sy uniekheid te ontken nie.
  • Sag 12:10. Ook hier is die NAV se woordkeuse van “doodgesteek” nie voor die hand liggend nie. Tog vertaal ander moderne vertalings soos die ASV, ESV, HSCB, NASB, NETB en NIV ook met “pierced”.

Terloops, jy verwys na ‘n webblad[32] wat nog ʼn klomp verse uitlig as bewys vir korrupte nuwe vertalings. Die ironie is dat volgens hierdie ouens moet jy maar al die ander vertalings wat jy lys en wat ook die Textus Receptus as bronteks gebruik, selfs die NKJV, in die asblik smyt en jou slegs en alleenlik skaar by die KJV: daar is net één WARE Bybel en dis die KJV in Engels. Hmm… (Die Textus Receptus is so nou verbind aan die KJV dat dit goed is om kennis te neem van die probleme en besprekings rondom die KJV.[33])

So, tot watter gevolgtrekking moet ʼn mens kom oor hierdie gedeeltes: dat moderne vertalings ondubbelsinnig en doelbewus probeer om die Woord van God en die boodskap van die Evangelie te ondermyn en mense na die verderf te lei?[34] Nee, hoegenaamd nie en om anders te suggereer is oneerlik en/of moedswillig. Natuurlik is daar bepaalde kritiek te lewer op sommige vertalings (sien hier vir lys van amper 40 Engelse vertalings en ʼn kort bespreking van elkeen), veral ook met die NAV (1983). Tog behoort dit duidelik te wees dat Bybelvertaling nie so ʼn eenvoudige en vanselfsprekende proses is as wat lekepersone verkeerdelik mag dink nie. Dis daarom baie beter om eerder weg te bly van haastige veralgemenings en ongegronde gevolgtrekkings oor die motiewe van vertalers of die korrupte aard van moderne vertalings.[35]

Die geskiedenis van Bybelvertaling sowel as tekskritiese insigte wys dat geen Bybelvertaling perfek is nie.[36] Dit beteken egter nie dat ons nie toegang het tot die geïnspireerde Woord van God nie; dit beteken bloot dat dit nie net in een spesifieke vertaling te vinde is nie.[37]

Groete

Udo Karsten

www.antwoord.org.za

 

Eindnotas:

  1. Om ʼn goeie indruk te kry van sommige van die aspekte wat ʼn rol speel in hierdie vraag, sien hierdie lesings van Daniel Wallace: Is What We Have Now What They Wrote Then? Part 1, Part 2. Ook die volgende video’s is insiggewend: The Reliability of the New Testament Part 1, Part 2 (Textual Corruption), Part 3 (Oral Tradition), Part 4 (Authorship & Dating). Dan, om hierdie saak ʼn bietjie dieper te ondersoek kan die volgende debatte van waarde wees: [TERUG]
  1. Sien byvoorbeeld Reasons Why Textual Criticism is Essential for God’s People [TERUG]
  1. Sien die volgende kort verduideliking van wat tekskritiek is: Textual criticism – what is it? Sien ook hierdie kort YouTube video: How Does Textual Criticism Work? Nog artikels wat kan dien as ʼn inleiding tot die dissipline van Tekskritiek:
  1. Hier is ‘n gedeeltelike lys van bestaande Griekse manuskripte: Table of NT Greek Manuscripts [TERUG]
  1. Bible Versions [TERUG]
  1. Hier is twee geskrewe onderhoude met Daniel Wallace: Interview 1, Interview 2 [TERUG]
  1. Hier is twee artikels in Afrikaans wat na die grondtekste verwys: 1) Die bronteks van die Bybel, 2) Die grondteks van die Afrikaanse Nuwe Testament [TERUG]
  1. Sien hierdie kort verduideliking: What is the Critical Text? [TERUG]
  1. Latest Greek New Testament minuscules (Daniel Wallace) [TERUG]
  1. Sien Old Testament [TERUG]
  1. Lees die volgende oor die verskil tussen die MT en TR: 1) “Traditional Text” Positions: Byzantine-Priority, 2) What about the Majority Text? [TERUG]
  1. Sien hierdie kort verduideliking: What is the Majority Text? [TERUG]
  1. Text Types And Textual Kinship [TERUG]
  1. Sien Michael Holmes in The Blackwell Companion to the New Testament, 2010, p82. [TERUG]
  1. Hier is ʼn kort verduideliking: What is the Textus Receptus? [TERUG]
  1. Omdat die Textus Receptus so nou verbind is aan die Engelse KJV, sien die volgende artikel van Daniel Wallace: Why I Do Not Think the King James Bible Is the Best Translation Available Today. Sien ook die volgende deur Ds Herman Grobler (geneem uit die kommetaar-gedeelte van ‘n blog waar hy in gesprek was met iemand): Jy sê: “…as die moderne ‘onfeilbare teks’, genoem die UBS/NA teks nie die vertrekpunt is vir enige tekskritiek nie…” Mens moet die verskil tussen die TR en die UBS-teks verstaan. Die TR is gebaseer op Erasmus se 1516 gedrukte Griekse teks: “Erasmus used manuscripts No.1: Gospels (XII), No.1: Revelation (XII), No.2: Gospels, Acts, and Epistles of Paul (XII), No.4: Acts and Epistles of Paul (XV), No.7: Epistles of Paul (XI) and No.817: Gospels (XV).” Dit beteken dat Erasmus slegs drie manuskripte op die Evangelies in ag geneem het, drie op die Briewe en net een op Openbaring. Erasmus gee geen motivering vir sy keuse van bewoording nie. Hy self het honderde veranderinge in sy eie teks aangebring, weereens sonder vermelding van enige rede daarvoor, behalwe vir sy eie twyfel wat hy uitgespreek het oor sy invoeging van die uitbreiding op 1Joh.5:7-8. Vanaf 1633 met Elzevier se tweede druk van Erasmus se teks staan dit bekend as die Textus Teceptus. Hoewel hierdie teks met meer as 2000 kere van die Standaard Teks van die Grieks Ortodokse Kerk afwyk, word dit so oorgedra as ‘n “fait accomplu”. Finish en klaar! Die UBS-teks maak ‘n voorstel vir ‘n teks. Dan gee hulle ‘n evaluering van hoe grondig hulle hul voorstel beskou. Dan gee die manuskrip-bewyse vir hul keuse. Daarby gee hulle al die variasies op die teks met elk se manuskripbewyse. Die vertaler maak sy eie besluit. Die verskil is dat by die TR jy een finale teks het waarvan jy geen begronding het van hoe of waarom dit so saamgestel is nie, behalwe vir die een waaroor twyfel uitgespreek is. By die UBS-teks het jy die magdom van Griekse manuskripte, asook die derduisende manuskripte van antieke vertalings deur die eeue, asook die aanhalings van die ou Kerkvaders, almal georden voor jou uitgesprei! Daar is geen vergelyking nie! Die TR was doodeenvoudig blindelings vir eeue gevolg omdat dit gerieflik in gedrukte vorm beskikbaar was, of soos Totius-hulle ‘n ander motief gehad het waaroor hulle dit gebruik het. Jy praat van “…die hedendaagse bybel genootskap geleerdes (los van die kerk?)…” Ek dank God vir ‘n span werklik “geleerdes” uit verskeie denominasies, eerder as net één katolieke kenner van Latyn wa ‘n Griekse teks haastig saamgestel het om so na moontlik aan die Vulgaat te wees!” [TERUG]
  1. The Majority Text and the Original Text: Are They Identical? (Daniel Wallace) [TERUG]
  1. The Majority Text [TERUG]
  1. The Majority Text and the Original Text: Are They Identical? (Daniel Wallace) [TERUG]
  1. Sien die volgende: 1) The Byzantine Priority Hypothesis, 2) The Development of the New Testament Text [TERUG]
  1. Sien die volgende: 1) Versions of the New Testament, 2) Vetus Latina 3) The Truth About the Waldensian Bible and the Old Latin Version [TERUG]
  1. The Majority Text and the Original Text: Are They Identical? (Daniel Wallace) [TERUG]
  1. Sien byvoorbeeld The Critical Use of Faulty Manuscripts [TERUG]
  1. Sien Some Second Thoughts on the Majority Text (Daniel Wallace) [TERUG]
  1. Sien Differences between the Vatican and Sinaitic manuscripts [TERUG]
  1. Sien die volgende artikels oor die feite en probleme rondom die Textus Receptus:
  1. Sien Why So Many Versions? (Daniel Wallace) [TERUG]
  1. Sien hierdie YouTube video’s vir ʼn bespreking van tekskritiese sake deur ʼn paneel van kundiges met verskillende en opponerende standpunte. [TERUG]
  1. The Majority Text and the Original Text: Are They Identical? (Daniel Wallace) [TERUG]
  1. Lees gerus die volgende: Is Your Modern Translation Corrupt? Hier en hier en hier is nog voorbeelde van artikels in Afrikaans wat volgens alle aanduiding op onkundige en suspisie-wekkende wyse argumenteer. [TERUG]
  1. Sien hier. [TERUG]
  1. Quick Comparison of Bible Versions [TERUG]
  1. Besprekings rondom die KJV:
  1. Sien die volgende artikels: 1) The Conspiracy Behind the New Bible Translations (Daniel Wallace), 2) Why Respond to Gail Riplinger? [TERUG]
  1. Sien die volgende reeks artikels vir ‘n oorsig oor verskeie aspekte van Tekskritiek:
  1. Hier is ʼn skakel na ʼn baie goeie oudio-reeks deur Daniel Wallace oor die geskiedenis van Engelse Bybels. [TERUG]
  1. Sien die volgende twee artikels: 1) Inspiration, Preservation, and New Testament Textual Criticism (Daniel Wallace), 2) Inspiration, Inerrancy, Preservation [TERUG]

Internet databasisse vir verdere ondersoek:

Aanbevole boeke:

2 Comments

  1. Beste Andre en Udo,
    Hierdie is ‘n ongelooflik belangrike saak wat julle aanraak. Vir ‘n ernstige Christen is die Woord, soos deur die Heilige Gees geïnspireer, van uiterste belang; niks bygevoeg en niks weggelaat nie. Dit is waarom het ek ‘n intensiewe studie na die feite agter die verskile gemaak. In my boek hanteer ek meer as 100 verskille tussen die 1933/53 teenoor die 1983 en later vertalings. Elke verskil het ‘n logiese verklaring. Maar wees gerus, daar is net een verskil wat ‘n Christelike beginsel raak. Dit is Openbaring 22:14 waar die 1933/53 – vertaling verkeerdelik agv ‘n leesfout in die Griekse unsiale skrif “gebooie doen” as voorwaarde vir toegang tot die Nuwe Jerusalem en die boom van die lewe stel. Die Nuwe Testament en spesifiek die res van Openbaring stel dit duidelik dat ons nie gered word op grond van ons nakom van die gebooie nie. Ons word gered uit genade deur die versoenende werk van Jesus aan die kruis. Dit word in Openbaring duidelik gemaak o.a deur die aanduiding in 7:14 dat die gereddes “hulle klere gewas het in die bloed van die Lam.” Die 1983 en ander nuwe vertalings gebruik die korrekte ouer manuskripte wat sê: “geseënd is die wat hulle klere was…” Dit is die korrekte voorwaarde vir ons toegang tot die Nuwe Jerusalem en die Boom van die Lewe. Gaan gerus my ondersoek na hierdie en ander verskille na op my blog by http://www.bybelverskille.wordpress.com, of koop my boek aan. Dis tans ongelukkig net direk by myself beskikbaar.
    Laat ons nie twyfel oor die Woord van God soos in ons vertalings weergee nie. Die ware feite stel ek objektief beskikbaar.
    Seën,
    Herman. (Stuur ‘n SMS na: 072 5670559)

  2. Ja – kyk net hoe populêr was Dan Brown se “Da Vinci Code”, wat gebaseer is pseudo-kerkgeskiedenis om sy Gnostiese agenda subtiel deur te laat skemer.

Leave a Reply to Herman of bibledifferences.net Cancel reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.