Wat van diegene wat nie die Evangelie hoor nie?

Hallo Udo

Ek wonder soms oor ons as gelowiges se integriteit: as net ons reg is en alle ander verkeerd, waarom op aarde bedank ons almal nie uit ons werk en gaan doen dringende sendingwerk onder al die verloregaandes nie?  Dis heerlik om oor die goed te redeneer, maar as ons regtig glo wat ons glo, moet ons mos seker die daad by die woord voeg en mense gaan waarsku?  Ek ervaar in al die gesprekke n leunstoelgemaklikheid…julle almal is verkeerd, pluralisme is verkeerd…dankie tog ek is gered…sorry vir julle ander klomp!  Dink julle die alwetende God het besef watter hopelose en ongehoorsame spul ons gaan wees t.o.v. Matt 28 se opdrag?  En Hy laat dit maar toe?

Ek is lief vir die Here, maar wil niemand meer bekeer nie. Ek dink sending is bietjie arrogant en voorveronderstel dat ‘n ander verkeerd/ongered/verlore is. Ten minste is sendelinge mense met integriteit wat iets doen om die sg. verlorenes te gaan red. Verreweg die meerderheid Christene – die wat deur Steve tot ergerlikheid gedwing word – gaan maar net rustig aan met hulle eie gerieflike najaag van geldjies/pensioen/medies/karretjie…en hou braaivleisgesprekke oor die arme dwalende Steve en ander onbekeerdes wat op pad hel toe is…en gaan smul dan lekker aan hulle tjoppie.  Die ontsaglike God wat als gemaak het, is m.i. lief vir alle mense. Maar dis maar my siening…

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Die meeste Christene het nog altyd geglo dat die kern van die Christelike boodskap is dat Jesus se kruisdood vergewing van sonde moontlik maak en daarmee saam ook ‘n ware verhouding met God. Verder het Christene van die vroegste tye af geglo dat hierdie boodskap baie goeie nuus is, want almal wat regtig eerlik is met hulleself, so word geglo, moet erken dat hulle God se liefde en vergifnis nodig het. Hierdie boodskap is natuurlik nie goeie nuus vir almal nie, want nie almal begeer na ‘n verhouding met God nie (hulle ontken eerder sy bestaan) en nie almal is werklik eerlik met hulleself om te wil glo dat hulle God se vergifnis of liefde nodig het nie (hulle het hulle eie idees oor wie of wat God eintlik is). Daarom glo nie almal dat Jesus se kruisdood as vergewing vir sonde en bewys van sy liefde vir ons, die basis is vir ‘n ware en lewensveranderende verhouding met God nie.

Die meeste Christene het verder ook nog altyd geglo dat alle mense hierdie goeie nuus moet hoor. En dit maak heeltemal sin om so te glo. As ‘n mens goeie nuus het wat dalk vir ander ook goeie nuus kan wees, dan wil ‘n mens tog graag sulke nuus versprei sodat almal uit die implikasies daarvan kan voordeel trek. Daar is dus een baie goeie rede waarom Christene graag ander mense evangeliseer (d.i. die “goeie nuus” aan ander wil vertel) en dit is bloot omdat hulle wil hê dat almal in die vreugde moet deel van wat die Christelike boodskap impliseer: dat dit moontlik is om in ‘n ware verhouding met God te tree.

Daar is dus ‘n misverstand om hier uit die weg te ruim. Christene is nie daarop uit om ander mense te bekeer nie, want dit is alleenlik God se werk. Christene word bloot geroep om die goeie nuus aan ander te vertel (en ja, op ʼn manier dat hulle dit ook sal hoor). Soms reageer mense deur die boodskap wat hulle hoor inderdaad as goeie nuus te aanvaar en so lei dit dan tot iemand se bekering: daardie persoon tree in ‘n verhouding met God deur die Gees se werking. In hierdie opsig het die Christen dus ‘n aandeel gehad om iemand tot bekering te lei, maar dis God wat in die persoon bekering of lewensverandering (nuwe geboorte) te weeg gebring het.

Dit bring ons by die volgende vraag. Wat van mense wat nooit die boodskap van goeie nuus hoor nie en dus nooit daarop kan reageer nie? Beteken dit dat hulle, bloot omdat hulle nie gehoor het nie, nie in ‘n ware verhouding met God kan tree nie en daarom, bloot omdat hulle nie gehoor het nie, oppad hel toe is? M.a.w. moet ek skuldig voel omdat daar mense in Indië is wat nog nie die goeie nuus gehoor het nie (en dit daarom nie kan aanvaar nie), maar wat dalk kon gehoor en geglo het as ek my werk bedank het om dit aan hulle te gaan vertel? En beteken dit dat sulke mense oppad hel toe is spesifiek weens my onwilligheid of ongehoorsaamheid?

Hier is nog ‘n misverstand. Niemand gaan verlore bloot omdat hulle nie die Christelike boodskap gehoor het nie, ook nie omdat as hulle wél iets gehoor het, hulle dan nie presies die regte dinge geglo het nie. Nee, ten diepste is mense verlore omdat hulle nie belangstel in die God wat ‘n verhouding met hulle begeer nie. Hierdie punt is die moeite werd om te beklemtoon: Niemand gaan hel toe bloot maar net omdat hulle nie sekere dinge oor God geglo het nie – m.a.w. waningelig of oningelig oor God was nie – maar omdat hulle ten diepste, as wilsgedrewe wesens, niks met die God wat werklik bestaan, te doen wou hê nie. Natuurlik is mense se beswaar dat hulle nie in ‘n God kan glo waarvan hulle niks kan weet nie, dat as God werklik bestaan, dan moet Hy homself meer eksplisiet openbaar, want anders kan Hy hulle nie vir hulle ongeloof verantwoordelik hou nie.

In antwoord hierop is daar twee opmerkings. Eerstens is God nie primêr daarin geïnteresseerd dat mense bloot net van Hom weet nie, maar dat hulle met Hom in verhouding tree. Om te weet dat God bestaan is geen waarborg dat iemand ook ‘n verhouding met die God wat bestaan, begeer nie. Daarom, tweedens, is daar geen rede waarom eksplisiete kennis óór die God wat bestaan, meer effektief sou wees as meer subtiele gewaarwordings en indirekte getuienis van God se bestaan in God se plan om mense tot ‘n verhouding met Hom te bring nie. Dit is redelik om te dink dat as daar ‘n wese soos God bestaan wat eienskappe besit soos almagtigheid, alwetendheid, alomteenwoordigheid en nie-liggaamlikheid, dat so ‘n wese dan gemaklik is om op verskeie subtiele, maar doelbewuste maniere, besig is om homself aan elke individuele mens te openbaar en dus voortdurend in hul lewens betrokke is. Hierdie openbarings hoef dus nie besonder ongewoon of wonderbaarlik van aard te wees nie, maar sou in die alledaagse gang van dinge te vinde kon wees op so ‘n manier dat iets van wie God is daaruit afgelei kon word. (Sien Rom. 1:18-20)

Die Christelike boodskap is dat God die inisiatief neem in mense se lewens omdat Hy wil hê dat mense Hom sal leer ken en in ‘n verhouding met hom sal tree (God is immers ‘n God van liefde). Soos wat God voortdurend die inisiatief neem, is die mens egter ook voortdurend besig om op subtiele maniere op God se openbaring van Homself te reageer. In effek is ons almal voortdurend besig, bewustelik of onbewustelik, om God se openbaring van Homself teen te staan of te verwelkom. So ‘n voortdurende verwerping of verwelkoming van God se openbaring van Homself, vorm uiteindelik die realiteit waarbinne iemand leef. Dis soos die vorming van ‘n mens se karakter: dis die duisende klein keuses wat ‘n mens oor ‘n lang tydperk maak en waarvan ‘n mens nie noodwendig eksplisiet bewus is nie, wat op die ou end bydra tot ‘n bepaalde beskrywing van wie iemand is. Net so word ‘n mens se uiteindelike posisie teenoor God (verwerping of aanvaarding) bepaal deur hoe ‘n mens reageer op duisende klein onopvallende openbarings-insidente oor ‘n lang tydperk, insidente waarvan ons nie noodwendig eksplisiet bewus was nie, maar wat God spesifiek in ons lewens georkestreer het. Die som van hierdie reaksies is wat op die ou end in ons harte as ‘n ontkenning of erkenning van God manifesteer.

Omdat God dus voortdurend met elke mens besig is en omdat mense voortdurend op bepaalde wyses op sy openbaring van homself in hul lewens reageer, weet hy presies wat in mense se harte aangaan, wat hul diepste motiverings en begeertes is. Ten einde laaste sal niemand die verskoning kan gebruik dat hulle bloot nie genoeg eksplisiete kennis van God gehad het en daarom nie in hom kon glo nie. Die waarheid is dat hulle wel op bepaalde wyses gereageer het in die omstandighede wat God juis bedoel het as geleenthede waarin mense iets van wie God is kon begryp of ervaar. Meer eksplisiete kennis van God sou dus niks verander het aan wat reeds in hulle harte geleef het nie.

Ter opsomming. Elke mens (ook die persoon in Indië wat nooit die Christelike boodskap hoor nie) staan in verhouding tot God en is voortdurend besig om positief of negatief op God se inisiatief en betrokkenheid in hul lewens te reageer. Daarom is elke mens alleen verantwoordelik vir hul verwerping van God; dit het niks te doen met of so ‘n persoon die Christelike boodskap eksplisiet gehoor het of nie. Daar is dus goeie rede om te dink dat as iemand God se algemene (en meer subtiele) openbaring van homself verwerp (in die ervaring en begrip van die alledaagse lewe), dat so ‘n persoon nóódwendig ook ‘n meer spesifieke openbaring (soos die “goeie nuus” wat Christene het om te vertel) van God sal verwerp.

Die meeste Christene glo ook dat God regverdig is en dat hy aan diegene wat positief reageer op sy algemene openbaring van homself, al meer van homself sal openbaar sodat so ‘n persoon uiteindelik ook deur geloof, in ‘n ware verhouding met God kan tree. Dit mag beteken dat God dit so kan bewerkstellig dat so ‘n persoon wat positief reageer op God se algemene openbaring van homself, uiteindelik tog ook die goeie nuus op ‘n manier sal hoor, dit sal aanvaar en met God in verhouding tree. Dit mag egter dalk ook beteken dat so ‘n persoon steeds nooit die eksplisiete boodskap van God hoor soos wat dit in die Nuwe Testament opgeteken is nie. Maar net soos die Ou Testamentiese gelowiges, selfs diegene wat nie deel was van God se volk Israel nie, mag die tipe geloof by so ‘n persoon aanwesig wees waardeur die werk van Christus aan die kruis ter vergewing van sondes, ook aan dáárdie toegereken word en dat daar ook van dáárdie persoon gesê kan word dat hulle ‘n verhouding met die Here gehad het.

Intussen bly dit elke Christen se verantwoordelikheid om gehoorsaam te wees aan God se roepstem om die goeie nuus van die evangelie aan ander te vertel (Matt 28:18-20), want hierdie goeie nuus is vir almal bedoel, self al hoor nie almal dit nie en selfs al verwerp sommige dit. En ja, vir sommige beteken sulke gehoorsaamheid aan God se roepstem dat hulle tog hulle werk moet bedank om in Indië te gaan sendingwerk doen. Maar vir ander beteken gehoorsaamheid om die goeie nuus op so ‘n manier te vertel dat ook hul skeptiese kollega in Sandton wat gereeld die spot dryf met Christene, dit kan hoor.

Jy is welkom om verder met my hieroor in gesprek te tree as jy wil.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.