Maak die sondeval sin?

Hallo Udo

‘n Vraag waarvoor ek deesdae ‘n antwoord soek, handel oor die sg. sondeval .

In Genesis word die mens geskape en hy was “goed”. Vir my beteken dit dat hy sonder sonde was en het hy saam met God rondgeloop en gekommunikeer. Maar  toe “val” die mens vanweë die sonde wat hy doen. Waar kom hierdie sonde nou skielik vandaan? Alles was immers “goed” geskape d.w.s. sonder dat sonde ʼn bedreiging was of in die skepping fungeer het of selfs sonder dat die mens daarvan bewus was dat hy sonde kon doen. Eers nadat hy oortree het, het hy van sy naaktheid bewus geword, d.w.s. nadat hy “geval” het, is sy verhouding met God beduiwel en word hy daarvoor gestraf. 

Die eerste vraag is of Adam werklik die eerste mens was. Soos ek dit altyd verstaan het, is die duiwel en sy trawante uit die hemel verban vanweë ongeoorloofde gedrag. As daar engele in die hemel was, moes hulle immers ʼn menslike oorsprong gehad het, want dis tog waar ons glo engele vandaan kom. Hieruit lei ek af dat daar voor Adam ander mense moes gewees het. Verder is dit dan ook ʼn gegewe dat sonde ook in die hemel moes funksioneer het, en dit deur engele wat vroeër op die aarde rondgeloop het — dit was nie ‘n nuwe uitvindsel wat Adam uitgewerk het nie – dit was weliswaar reeds in die skepping ingebou. Hulle sou tog sekerlik nie in die hemel  geleer het om sonde te doen nie. Dit is moeilik om te aanvaar dat God tussen al hierdie “sondesituasies” ʼn wêreld sou skep wat sondeloos is, maar dan as nagedagte tog maar sonde as ʼn aardse “kommoditeit” te skep wat dit vir Adam moontlik maak om te sondig sonder dat hy selfs ʼn eie inset het. Daarmee bedoel ek dat hy sondeloos geskape is, nie geweet het hy kan sondig nie en volgens Genesis ook nie gerat was om as sondige wese te funksioneer nie. Tog het hy toegegee aan iets wat nie in sy wêreld bestaan het nie. Die slang het hom verlei om sonde te doen. As sonde dan nie reeds as gegewe in die skepping aanwesig was nie, waar het die slang dit dan vandaan gekry, want hy was “ouer” as Adam – het reeds van sonde geweet en dit beoefen voordat Adam daarvan bewus was.

Realisties gesien was die mens van die skepping seker maar ʼn ewebeeld van die mens wat ons is en tussen wie ons elke dag rondbeweeg. Dit is tog geen geheim dat daar nie ʼn enkele mens bestaan wat sondeloos funksioneer nie. Geen mens is teen sondige gedrag opgewasse nie. As God dan sonde toegelaat het, dan is dit mos duidelik dat Adam vanselfsprekend nie staande kon bly nie en dat die sg. sondeval nie regtig sin maak nie. Adam het nie per abuis geval nie – hy het geen ander uitweg gehad nie.

Volgens sommige geleerdes moet mens Genesis nie letterlik opneem nie, maar in die konteks van die tyd waarin dit geskryf is, verstaan. As dit so is, watter dele van die Bybel is dan deur God ingegee en watter moet nie as die Woord van God gesien word nie. Vir my is dit ʼn probleem. As die Bybel die waarheid is, moet die hele Bybel betroubaar wees, want synde die Woord van God moet alles wat daarin aan ons voorgehou word, die waarheid en betroubaar wees. As alles nie geglo kan word nie, wat moet dan geglo word?

Graag verneem ek jou siening oor die aangeleentheid.

Groetnis

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Baie dankie vir jou skrywe. Ek is altyd opgewonde wanneer ek iemand ontmoet wat denkend met die Christelike geloof wil omgaan. Kritiese vrae (wat natuurlik iets anders is as skeptiese vrae) is my ‘n teken van ‘n begeerte om beter te wil verstaan en hoe anders begin ‘n mens iets werklik verstaan as deur goeie deurdringende vrae daaroor te vra! So kom ons kyk waar ons uitkom.

Die Christelike leer oor die sondeval is natuurlik onlosmaaklik verbind aan die Christelike leer oor die mens se verlossing en as sulks is dit dus ‘n baie belangrike saak. Ongelukkig is dit ook ‘n aangeleentheid waaroor baie misverstand bestaan en wat menige skeptiese persone skynbaar sommer uit die staanspoor ontstel. Voor ek egter saam met jou hieroor nadink wil ek iets sê oor my eie vertrekpunte, juis ook omdat jy aan die einde van jou brief, ‘n ander belangrike saak benadruk, naamlik die aard van die Bybel.

Eerstens, ek glo dat die Bybel die Woord van God is. As sulks glo ek dus dat die Bybel die medium is waardeur God ‘n spesifieke boodskap aan die mens wil kommunikeer wat waar, betroubaar en universeel is, wat dus vir alle mense geld in watter era, kultuur of geografie hulle hulself ook al mag bevind.

Tweedens, ek glo dat die Bybel deur mense geskryf is wat deel was van ‘n baie spesifieke kultuur en vanuit unieke persoonlike omstandighede, wat vir baie spesifieke redes geskryf het en ‘n baie spesifieke teikengehoor in gedagte gehad het. Die skrywers van die Bybel het dus nie geskryf met gedagte aan byvoorbeeld vandag se 21 eeuse mens of enige ander mens ver verwyderd van hul antieke leefwêreld nie. Ek glo dus dat God se inspirasie van wat die skrywers uiteindelik neergepen het, nie iets was waartydens daardie skrywers se eie denke, kultuur en omstandighede summier opgeskort is om bloot ʼn ander-wêreldse diktaat daar te stel soos wat in Islam met die Koran die geval is nie.

Hier is egter die punt waarby ek wil uitkom. Om te verstaan wat enige skrywer van enige gedeelte in die Bybel daarmee bedoel het (en wat die boodskap vorm wat God geïnspireer het en wat universele toepassing het), is konteks onontbeerlik. Daarom moet ‘n mens altyd vrae soos die volgende vra: Wie was die skrywer? Wat was die kulturele gebruike en gelowe waaraan hy deel gehad het? Wat was die skrywer se persoonlike omstandighede? Vir wie het hy geskryf? Waarom het hy vir sy gehoor geskryf? Van watter unieke literêre stylfigure, eie aan ‘n bepaalde kultuur, maak die skrywer gebruik wanneer hy skryf?

Dis vrae soos laasgenoemde wat die konteks vorm waarbinne ons die woorde en bedoeling van ‘n skrywer moet probeer verstaan en wat uiteindelik ook die boodskap bepaal wat deur God geïnspireer is. Die vraag oor hoe ons dan moet weet wanneer ons die Bybel letterlik kan opneem of nie, is eintlik nie die regte soort vraag as ‘n mens wil weet hom om enige teks te verstaan nie. Die vraag is eerder oor wat al die relevante faktore is wat sou bepaal wat die bedoeling was van wat ‘n spesifieke skrywer in byvoorbeeld ‘n Antieke Midde-Oosterse kultuur geskryf het (daarby ook in aggenome dat ek byvoorbeeld ‘n 21 eeuse, Westerse, Afrikaanssprekende man is wat ander gebruike en voorveronderstellings het). Enigiemand kan die Bybel lees en uitsprake daaroor maak, maar goeie eksegese wat met erns en verantwoordelikheid na God se boodskap en leiding soek, is iets wat nie sonder inspanning, geduld en toewyding gepaard gaan nie (en ‘n sensitiwiteit vir die Gees se inspraak, wat opsigself baie sterk gekoppel is aan iemand se verhouding met die Here). Ongelukkig sien nie almal die waarde van sulke eienskappe en strewe nie – dalk omdat dit dikwels nie hul eie agendas en begeertes pas nie.

Goed, daar is nog baie wat ‘n mens oor die hermeneutiek kan sê en wat dit beteken om die Bybel reg te interpreteer. Ek volstaan egter eers hiermee sodat ons oor die sondeval kan gesels.

Jy vra ‘n belangrike vraag en dit leef in die gemoed van baie mense: Waar kom die sonde vandaan? As God die mens dan goed geskape het, hoe is dit moontlik dat so ‘n goeie skepsel van ‘n goeie God, volgens die Genesis-verhaal, in sonde kon val? En belangriker nog, hoe kon God die sonde hoegenaamd toelaat? As God Almagtig en boonop ook Heilig is, waarom die sonde nie uit die staanspoor verhinder nie, waarom toelaat dat sonde in enige wêreld wortel skiet om soveel pyn en verwoesting te veroorsaak?

Kom ons begin deur te vra wat dit beteken om te sê dat iemand “in sonde val”. Eerstens beteken dit daar ‘n onderskeid te tref is tussen optrede wat moreel reg en moreel verkeerd is, en tweedens beteken dit dat iemand die morele keuse uitgeoefen het om verkeerd op te tree. In kort, om in sonde te val is om die keuse vir verkeerde morele optrede te maak. In die Genesis-verhaal het Adam en Eva dus gekies om aan God ongehoorsaam te wees. Die vraag is egter: Was Adam en Eva dan nie ‘goed’ geskape nie; waarom het hulle dan gekies om ongehoorsaam te wees, waarom het hulle moreel verkeerd opgetree?

Hier is nou die belangrike punt om te verstaan. Die goed van die mens soos God ons geskape het, lê in die feit dat ons na Sy beeld geskape is. Een van die eienskappe van die mens wat na God se beeld geskape is, is om te kan liefhê. Die feit dat ‘n skepsel in ‘n liefdesverhouding met sy Skepper kan staan, is ‘n wonderlike en unieke gawe. Ons aanvaar hierdie gawe as vanselfsprekend, maar dis egter gegrond in ‘n belangrike voorveronderstelling: liefde is slegs liefde as dit ongedwonge en vryelik aangebied word, as ‘n mens ‘n keuse kan uitoefen om ‘n ander lief te hê.

Die implikasie hiervan behoort nou duidelik te word. As die mens wat God geskape het, werklik vry sou wees om Hom te kon liefhê, dan moes die mens ook werklik vry wees om daardie liefde te kon weerhou. Dat die mens ‘goed’ geskape is beteken dus nie dat die mens nooit sou kon kies om aan God ongehoorsaam wees nie (m.a.w. nie in sonde sou of kon val nie). Nee, die ‘goed’ is daarin te vinde dat die mens ‘n tipe wese is wat God werklik kan liefhê, maar om werklik in liefde aan God gehoorsaam te wees, beteken dat dit ook moes moontlik wees om God nie liefde te hê nie.

Adam en Eva se keuse om aan God ongehoorsaam te wees, is die oorsprong van sonde (en die tragiese gevolg is dat alle mense vervolgens ‘n ingebore neiging het om sonde te doen). Sonde is en was dus nog altyd ‘n keuse, en dus nie maar net iets waaraan die mens weerloos uitgelewer is of was nie; selfs met Satan se rol en invloed in die Genesis-verhaal om die mens teen God te laat draai, was dit nog altyd die mens se eie keuse wat hom tot ‘n val gebring het.

Die potensiaal om sonde te kan doen is te vinde in die mens se Godgegewe vermoë om morele keuses te maak, hoewel die aktualisering van die sonde slegs by die mens self gevind kan word. Die vermoë om morele keuses te maak, is egter ‘n wonderlike en goeie gawe van God; dit maak alles wat goed is moontlik, selfs al maak dit onvermydelik daarom ook die slegte moontlik. Dit wat die meeste waarde aan ons lewens gee is onlosmaaklik gekoppel aan die vermoë om tussen die goed en die sleg, tussen reg en verkeerd, te kan kies. Sonder hierdie tipe vrye wil om morele keuses te kan uitoefen, sou ons bloot robotte wees en nie wesens wat gevra kon word om God met ons hele hart, siel en verstand lief te hê nie (sien Matteus 22:37).

Kon God dus ‘n wêreld skep waarin daar wesens bestaan wat hom altyd en vryelik sou liefhê? Dis ‘n logiese moontlikheid dat so ‘n wêreld sou kon bestaan, maar nie iets wat selfs God kon waarborg nie – nie as Hy wou hê dat sulke wesens werklik vry sou wees om Hom lief te hê nie. Die feit dat ons in ‘n wêreld vol sonde leef, beteken dat daar goed is in hierdie wêreld waar mense soos ons morele keuses kan maak, wat nie sou moontlik wees in ‘n wêreld sonder mense wat morele keuse kan maak nie (in so ‘n wêreld kan ons dan eintlik nie eers van mense praat nie, want die mens is per definisie ‘n morele wese). Die punt is dus dat dit nie God is wat bloot maar die sonde toelaat nie – dis die mens wat sondige keuses maak, en sodoende misbruik maak van iets goeds wat God ons gegee het, naamlik ons morele kapasiteit.

Maar wat dan van die engele? Hoe moet ons oor hulle dink? Volgens alle aanduiding uit die Bybel het engele nie, soos jy noem, ‘n menslike oorsprong nie. Volgens die Christelike leer is engele inderdaad vóór die mens geskape, maar is as wesens met ‘n eie unieke natuur deur God geskape (m.a.w., ek en jy het ‘n mense-natuur, my kat Columbus het ‘n katnatuur, terwyl Gabriël [Lukas 1:19] en Migael [Judas 1:9] met ‘n engele-natuur geskape is). Engele is ook nie aardse wesens met fisiese liggame nie (Lukas 24:39), maar bestaan as geestelike wesens (Hebreërs 1:14) in ‘n onsienlike dimensie (sien bv. Kolossense 1:16). Tog is daar wel voorbeelde in die Bybel van waar God die mens die vermoë gegee het om hulle te kan sien (Numeri 22:31, 2 Konings 6:17, Lukas 2:13) en selfs verwysing na waar engele menslike vorm aanneem om aan mense te verskyn (Matteus 28:5, Hebreërs 13:2). Ook engele het morele kapasiteit en ook sommige engele, waaronder Satan, het hulle morele kapasiteit misbruik en in sonde geval (demone word verstaan as hierdie gevalle engele, sien 2 Petrus 2:4 en Judas 1:6). Engele se vermoë tot morele keuse is dus nie gekoppel aan ‘n aardse, fisiese bestaan nie.

Ek gaan vir eers hier halt roep. Ek dink hier is heelwat gesê waaroor jy dalk verder met my in gesprek wil tree vir verdere of meer verduideliking, en daarom nooi ek jou hartlik uit om so te doen.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.