Is die Evangelies histories betroubaar?

Udo. Ons debat op julle webblad (Maar julle, wie sê julle is Ek?) het geëindig waar ons verskil het oor die historiese geldigheid van die vier evangelies. Ek (en duisende ander nie-Christene en “liberale” teoloë), aanvaar nié die idee dat die evangelies histories korrek is nie, juis a.g.v. die logiese inkonsekwentheid daarvan om aan die een kant te beweer dat die evangelies goddelik geïnspireerd is en aan die ander kant te erken dat hulle wel teenstrydighede bevat. Kyk gerus weer na hierdie debat (https://www.youtube.com/watch?v=VR-lWvBs4Ys) tussen Abel Pienaar en Mike Licona.

(Jaco Steyn)

 

Hallo Jaco

Daar is baie dinge in ons gesprek waaroor ons verskil. Jy het gekies om een daarvan uit te sonder. Kom ons gesels gerus verder daaroor. En asseblief, sien hierdie as ʼn opregte poging tot sinvolle gesprek, m.a.w. kom ons bly eerder weg van leë retoriek en ongegronde aannames oor die ander persoon se motiewe.

Volgens wat jy hierbo verduidelik kan jou beswaar soos volg uiteengesit word:

  1. As die Evangelies Goddelik geïnspireer is, dan kan dit nie teenstrydighede bevat nie.
  2. Die Evangelies bevat teenstrydighede.
  3. Daarom is die Evangelies nie histories korrek nie.

Hopelik kan jy sien dat jou gevolgtrekking (3) nie logies volg uit die eerste twee stellings nie. Die korrekte gevolgtrekking sou die volgende wees:

(3’) Daarom is die Evangelies nie Goddelik geïnspireer nie.

Maar selfs al is die Evangelies nie Goddelik geïnspireer nie, sê dit as sulks niks oor die historiese akkuraatheid van die Evangelies nie. As ons ter wille van die argument aanvaar dat die Evangelies nie Goddelike geïnspireer is nie (m.a.w. God was geensins betrokke by wat die Evangelieskrywers uiteindelik neergeskryf het nie), dan kan die Evangelies steeds histories betroubaar wees. Trouens, dis moontlik dat die Evangelies histories betroubaar is selfs al is een of albei van die volgende twee stellings waar:

  1. Die Evangelies bied verskillende weergawes van dieselfde gebeurtenisse.
  2. Die Evangelies verwys na dieselfde gebeurtenisse, maar daar is onversoenbare teenstrydighede in die details rondom daardie gebeurtenisse.

Kom ons gesels eerstens oor die implikasies van A. Die punt hier is dat verskille tussen die Evangelies, nie noodwendig ʼn aanduiding van teenstrydigheid is nie. In byna enige verslag oor ʼn bepaalde gebeurtenis, gaan mense verskillende weergawes aanbied van wat hulle ervaar het. Elke persoon kyk vanuit ʼn unieke en subjektiewe perspektief na ʼn gebeurtenis en sommige van die verskille kan hieraan toegeskryf word. Om te illustreer wat ek bedoel, beskou die volgende breedvoerige denkoefening:

Drie mense is ooggetuies by ʼn ongelukstoneel en lê ná die tyd ʼn kort polisieverklaring af.

  • Persoon X se verslag: “Dit was nog dag toe die bestuurder van ʼn swart motor beheer daaroor verloor het en toe met ʼn blou motor gebots het. Daar was ʼn man in die blou motor en twee vrouens in die swart motor. Die ongeluk het in die hoofstraat by die poskantoor gebeur.”
  • Persoon Y se verslag: “ʼn Ford Feista het omstreeks 18:30 in ʼn Toyota Corolla vasgejaag. Die bestuurder van die Ford was dronk en aggressief, maar ongedeerd. Die bestuurder van Corolla was bewusteloos na die ongeluk. Die ongeluk het op die hoek van Mainstraat en Eerstelaan gebeur.”
  • Persoon Z se verslag: “ʼn Swart Toyota Corolla en ʼn wit Ford Fiesta het op die hoek van Main en Coller gebots. ‘n Kleuter in die Corolla is opslag dood, maar die twee vroue het oorleef. Die man in die Ford was baie ontsteld en hartseer. Dit was donker toe die ongeluk gebeur het.”

Hierdie drie verslae bevat teenstrydighede wat skynbaar nie met mekaar versoen kan word nie:

  • Hoeveel persone was in die ongeluk betrokke? Twee, drie of vier?
  • Wat was die kleur van die Ford Fiesta – blou of wit?
  • Wie was vir die ongeluk verantwoordelik?
  • Was die bestuurder van die Ford “dronk en aggressief” of “ontsteld en hartseer”?
  • Waar het die ongeluk gebeur? Op die hoek van Main en Coller, of Main en Eerstelaan.
  • Was dit dag (lig) of nag (donker) toe die ongeluk gebeur het?

Dis egter wanneer ʼn mens ingelig is oor die omstandighede rondom die ongeluk asook insae het in wie die persone is wat oor die ongeluk verslag gedoen het, dat die teenstrydighede verdwyn:

  • Daar was vier mense in die ongeluk betrokke. Een man in ʼn Ford Fiesta en drie in ʼn Toyota Corolla, ʼn kleuter en twee vroue. Persoon X en Y het die ongeluk redelik duidelik op ʼn afstand sien gebeur, maar nie die wraktoneel van naderby betree nie en daarom nie presies kon sien wie almal in die voertuie was nie (hulle kon wel beide die bestuurders eien as ʼn man en ʼn vrou). Persoon Z het slegs die slag agter haar gehoor, maar dadelik omgedraai en gehardloop om te gaan help. Sy het die kleuter wat tydens die ongeluk op die vloer geval en noodlottig beseer is en daar vasgekeer was, eers ʼn ruk later gesien terwyl sy die twee bewustelose vroue probeer help het.
  • Die Ford was blou, maar was in die proses om nuut geverf te word. Persoon Z het net die een kant van die voertuig gesien (‘n ongeverfde wit aansig) soos sy in die skemer nader gehardloop het om te gaan help. As verpleegster het sy al haar aandag by die beseerde insittendes gehad en daarom nie weer opgelet na die kleur van die voertuig nie.
  • Persoon X, wat op die uitkyk was vir ʼn Taxi, het opgelet dat ‘n swart motor (die Toyota) skielik beheer verloor het. (Die bestuurder was dodelik allergies vir die by wat sy skielik in haar blikke koeldrank ontdek het en sy het desperaat probeer om nie gesteek te word nie en toe beheer oor haar voertuig verloor.) Persoon Y het net die oomblik gesien toe die Ford in die Toyota vasjaag. Die ongeluk is dus deur die bestuurder van die Toyota veroorsaak.
  • Persoon Y kom uit ʼn huis waar sy Pa gedurig drink en dan aggressief is, en het daarom toe die bestuurder ná die ongeluk uit die Ford geklim het, dadelik opgelet dat die bestuurder effens dronk was. Hy het die bestuurder se ontsteltenis oor die ongeluk daarom dadelik as aggressiwiteit vertolk. Persoon Z, wat as verpleegster iets van trauma weet, het die ontsteltenis as skok vertolk en kon ook omdat sy enige beseerdes probeer help het, die trane en vrees in die bestuurder se oë sien.
  • Die ongeluk het op die hoek van Main en Coller sowel as Main en Eerstelaan gebeur: die straat na links uit Main is Coller en die straat na regs is Eerstelaan.
  • Vir persoon X was dit nog dag omdat hy, terwyl hy besig was om vir ʼn Taxi te wag, kon onthou dat hy gehoop het dat nie donker word voor die Taxi opdaag nie. Vir Persoon Z was dat al donker want sy het vir bystanders vir ʼn flits gevra omdat sy niks kon sien terwyl sy na die twee vrouens in die Corolla begin omsien het nie.

Hier is die punt: dit is presies hierdie selfde tipe faktore wat ʼn rol sou speel in waarom die details rondom bepaalde gebeure of verhale wat in die Evangelies voorkom, en wat deur verskillende mense vertel is, sou verskil. (Sien ook Why We Should Expect Witnesses to Disagree en Inerrancy? What Do the Differences in the Gospels Really Prove?) In baie gevalle is daar egter eenvoudig nie genoeg agtergrondgegewens wat ons kan help om met sekerheid te sê presies hoe die verskille geharmoniseer kan word nie, selfs al kan ons pogings daartoe aanwend. Dis egter eenvoudig onnodig onsimpatiek en bevooroordeeld om vóóraf te besluit dat geen harmonisering moontlik is nie of dat hierdie verskille noodwendig op onversoenbare teenstrydigheid dui. Daarom dat iets soos die verskille in Johannes 20:1, Matteus 28:1 en Markus 16:1-2 nie summier op teenstrydighede dui nie (en ek het reeds verwysings gegee na hoe moontlike harmonisering sou kon lyk).

Maar wat van B? Wat as die Evangelies na dieselfde gebeurtenisse verwys, maar daar is inderdaad onversoenbare teenstrydighede in die details rondom daardie gebeurtenisse?

Die eerste opmerking om te maak is dat selfs al is daar sulke teenstrydighede in die details oor ʼn gebeurtenis, dui dit nie, veral vanuit ʼn juristiese sowel as geskiedkundige oogpunt, summier daarop dat die gebeurtenis opsigself nie gebeur het nie. Neem die drie verklarings oor die motorongeluk as voorbeeld. Die polisiebeampte wat by hierdie drie persone die verklarings afgeneem het, sou heel waarskynlik geen van die agtergrondkennis gehad het om die teenstrydighede te harmoniseer nie. Sou dit daarom redelik wees as hy tot die gevolgtrekking kom dat omdat die getuies so drasties verskil oor die details van die ongeluk, en selfs al was daar werklik onversoenbare teenstrydige in wat hulle vertel het, dat die motorongeluk as sulks daarom nie gebeur het nie? Natuurlik nie. (Sien bv. Is Inerrancy the Linchpin of Evangelicalism?)

Die tweede punt om te maak is dat die Evangelieskrywers nie aan die standaarde vir moderne geskiedskrywing se behoefte na presisie en tegniese akkuraatheid gemeet kan word nie. Die Evangelieskrywers het gebruik gemaak van stylfiguurlike konstruksies, d.i. maniere van skryf, wat eie was aan die tyd waarin dit voorkom. Die feit dat die Evangelieskrywers dikwels nie in verwysing na spesifieke bronne of mense van direkte aanhalings gebruik gemaak het nie, of dat hulle vry gevoel het om details so te rangskik om bepaalde momente of waarhede te beklemtoon, is dalk vreemd vir ons moderne sensitiwiteit, maar dis nie opsigself ʼn aanduiding van valsheid nie. (Sien Michael Licona se navorsing en verduidelikings hiervan in die volgende video’s: Gospel Differences & Compositional Textbooks en Why are there differences in the Gospels? Ancient biography, Plutarch & the Gospels)

Ter opsomming: ʼn Historiese ondersoek neem verskeie uiteenlopende kriteria in ag om historisiteit te bepaal (ek het reeds na verskeie artikels verwys wat hieroor uitbrei, maar sien ook volledige besprekings in boeke soos The Historical Reliability of the Gospels (Craig Blomberg), Jesus and the Eyewitnesses: The Gospels as Eyewitness Testimony (Richard Baukham) en The Jesus Legend: A Case for the Historical Reliability of the Synoptic Jesus Tradition (Paul Eddy and Gregory Boyd). Die aanwesigheid van teenstrydighede (vermeend of werklik) speel beslis nie opsigself ʼn bepalende rol in so ʼn ondersoek nie. Terloops, dit is presies op hierdie punt oor die aard van historiese navorsing dat Abel Pienaar groot naïwiteit openbaar as hy in sy debat met Michael Licona meen dat geskiedkundiges nie die Bybel as ʼn versameling historiese dokumente kan hanteer sonder om dit ook as Woord van God te aanvaar nie (sien my kort evaluasie van die debat hier).

Maar wat van inspirasie? Kon God die Evangelies so geïnspireer het dat die Evangelieskrywers elk met hul eie perspektiewe en maniere van skryf tog ʼn betroubare beskrywing sou bied van die persoon en lewe van Jesus en sodat die Goddelike boodskap van “Goeie Nuus” daarvolgens verstaan kon word? (Laasgenoemde sou tog die doel wees van sulke inspirasie.) Kon hy dit dus ook so bewerkstellig het dat latere lesers, deur gebruik te maak van verantwoordelike geskiedvorsing, tot die redelike gevolgtrekking sou kon kom dat inspirasie nie gekoppel is aan die vereistes van moderne historiografie nie? Uit wat reeds uitgelig is, sien ek geen rede waarom dit nie die geval sou kon wees nie.

(Hier is paar Christelike perspektiewe wat met inspirasie verband hou: Don’t Make the Bible What it is Not, en The Inerrancy of Scripture en My Definite Stance on Inerrancy en Getting Inerrancy Wrong)

Natuurlik is daar baie mense, insluitend liberale teoloë, met ingeligte opinies wat verskil oor die historisiteit van die Evangelies. Soos met enige opinie moet dit egter geweeg word as ʼn mens wil bepaal watter siening dra meer gewig. Veels te min mense (Christene ingesluit) doen die moeite om die redes vir die betroubaarheid van die Evangelies vir hulleself te ondersoek. My doel hier was om net op ʼn paar redes te wys vir waarom ek nie dink dat die gedagte aan “teenstrydighede” in die Evangelies opsigself en summier op die historiese onbetroubaarheid daarvan dui nie. Ook nie dat dit opsigself die idee van Goddelike inspirasie in twyfel trek nie.

Groete

Udo

Sien gerus ook die volgende:

 

 

2 Comments

  1. Na afloop van die “Did Jesus rise from the dead?” debat met Mike Licona waarin hy maalvleis maak van Mike se lagwekkende redenasies, verwys die gewese Evangeliese Christen Dan Barker, as volg na die historiese betroubaarheid van die vier evangelies:

    “The resurrection contradictions do throw serious doubt on the credibility of these reports. In a court of law that’s exactly what you would do to a testimony. You would cross-examine. You would see if a testimony had contradictions within it.”

    Hy verwys dan na 17 wesenlike teenstrydighede in die evangelies.

    Hy gaan dan voort met:

    “Under cross-examination these witnesses would be seriously compromised in their reliability. If they’re wrong about this, if they’re so sloppy on this supposedly most important document to the world, then what else can we throw at them?”

    • Jaco, dis asof jy kommentaar lewer op ʼn artikel sonder om daarvan kennis te neem. Ek som dit vir jou op: 1) verskille in verskillende weergawes van dieselfde gebeurtenis is nie noodwendig ʼn aanduiding van teenstrydigheid nie; 2) selfs al ís daar teenstrydighede is dit nog steeds nie summier ʼn aanduiding dat bepaalde gebeurtenisse nie plaasgevind het nie.

      Dis ook jammer dat jy nie belangstel om na enige verwysings te kyk wat ek in my artikels aandui nie. As jy het, dan sou jy gesien het waarna daar in kriminele ondersoeke gelet word wat aanduidings vir onbetroubare getuies sou wees (sien bv. http://coldcasechristianity.com/2015/why-we-should-expect-witnesses-to-disagree/)

      Dan Jaco, ek weet jy is baie lief daarvoor om die woord “lagwekkend” te gebruik. Jy wil of kan blykbaar nie verstaan dat ʼn mens nie iemand se siening diskrediteer deur dit te beledig nie. Dit sê baie meer oor jou eie aanmatigheid, as wat dit enigiets oor die sg. “lagwekkende” redenasie sê (en Licona is nie ʼn nar soos jy dit graag wil laat klink nie). Wil jy daarom nie maar eerder asseblief wegbly van hierdie goedkoop en ondeurdagte gewoonte in jou kommentaarlewering nie?

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.