My opinie, jou opinie, God se opinie?

Hi Udo

Julle sê dat ʼn mens by Dialoog jou opinie kan lig sonder om die “odd one out” te wees. Ek neem aan dit is maar omdat ons almal dieselfde vrae het.

Maar dit maak my wonder. Hoe kan almal opinies deel sonder dat daar onenigheid kom? Ek meen, min mense volg regtig God se opinie, maar dis tog die belangrikste opinie wat tel, nie waar nie? Hoe gemaak as iemand dus ‘n sterk, maar onbybelse opinie het. As alle opinies welkom is, relativeer dit nie maar net alle opinies nie? Hoe hanteer ʼn mens dit?

Ek wonder maar net.

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Dit is dikwels baie mense se ervaring in die kerk dat hulle versigtig moet wees om nie ‘n mening te lig of ‘n vraag te vra wat dalk mag lyk asof dit die Christelike leer in twyfel trek nie. Vir hierdie mense wat soms opreg met vrae of geloofskwessies worstel, voel dit dikwels dat daar iets met hulle fout moet wees, dat hulle inderdaad die “odd-one-out” is, want skynbaar beleef niemand anders in die kerk enige vrae of worsteling nie, altans die gevoel is dat niemand ooit ‘n woord rep wat ‘n mens so sou kon laat dink nie.

Dialoog en AntWoord probeer doelbewus ruimte skep vir mense om vrae te vra en hul menings te lig, sodat dit gesprek en verdere denke kan stimuleer en om sodoende weg te kom van die angstigheid en stilswye wat dikwels heers rondom komplekse geloofsake. Hierdie benadering is ‘n doelbewuste erkenning dat die meeste mense wat denkend is, ook denkend met hul geloof wil omgaan en dat hulle dit graag wil doen in ‘n konteks waar hierdie sake ook vir ander mense belangrik is.

Die vraag is nou, soos jy dit stel: As almal se mening welkom is, is die gevaar dan nie dat dit uiteindelik veral Gód se opinie van dinge, soos dit in sy Woord neerslag vind, sal relativeer nie?

Miskien help dit om te besef dat die leierskap van Dialoog en AntWoord erns maak met God se opinie oor elke aspek van die lewe; dit is inderdaad vir hulle die standaard waarteen alle ander opinies gemeet moet word. Terselfdertyd besef ons dat wanneer mense die geleentheid gegun word om hul opinies en vrae oor sake te lig, dit dikwels die begin van ‘n proses kan wees om ernstig met God se opinie in dialoog te tree. Met ander woorde, wanneer iemand sy opinie met vrymoedigheid kan lig, is dit dikwels die begin van ‘n proses tot beter begrip van die kwessies ter sprake en om God en sy Woord beter te verstaan. Dis juis omdat daar gesprek gestimuleer word, en ander perspektiewe en insig bygebring word, maar terselfdertyd teen die agtergrond van God se Woord, dat dit kan bydra tot die vorming van ‘n meer ingeligte en Bybelsgetroue opinie oor dinge.

Die feit dat iemand iets mag sê waarmee ek nie saamstem nie, hoef dus nie noodwendig tot onenigheid te lei nie. Verdraagsaamheid beteken tog per definisie om diegene te verdra waarmee ons soms nie saamstem nie. Koppel nou hierdie verdraagsaamheid aan die bereidwilligheid (by albei partye) om in gesprek te tree oor waaroor daar verskil word (dialoog te hê), dan is die kanse goed dat almal uiteindelik in die proses (en dis werklik ‘n proses en nie iets wat sommer in een gesprek gebeur nie) tot beter insigte kan kom. Dis nie ‘n waarborg dat mense altyd tot vergelyk gaan kom nie, maar dis baie beter as om uit die staanspoor te redeneer dat omdat ons met ander verskil, dit daarom nie moontlik is om eenstemmigheid of eenheid te bereik nie – dit sou irrasioneel en uiters oorhaastig wees! Terloops, om nie verdraagsaam te wees nie en nie bereid te wees om met ander in gesprek te tree nie, is die toonbeeld van fundamentalisme in menige politieke en godsdienstige sisteme – dis destruktief en ontvlugtend, en bereik niemand en niks nie.

Ek dink dus nie die feit dat wanneer mense aangemoedig word om hul opinies te lig dit iets is wat noodwendig alles sal relativeer of iets sal ondermyn nie, veral nie gegewe die feit dat die leierskap van Dialoog hierdie gesprekke met deernis en wysheid bestuur en terselfdertyd getrou wil bly aan God se Woord nie.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.