Kan ʼn Christen-Moslem huwelik werk?

Goeie dag,

Ek wil graag meer uitvind oor iets wat my pla. Ek het n Moslem vriendin wat graag met ʼn Christen man wil trou wat in die Drie-eenheid glo. Maar Moslems glo nie aan die Drie-eenheid nie. Is daar ‘n moontlikheid dat so huwelik kan werk? En as daar nie is nie verskaf asseblief ʼn rede.

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek dink jy sal saamstem dat die huwelik die mees intiemste verhouding is wat twee mense kan deel. Terselfdertyd is die belangrikste verhouding wat ‘n Christen kan hê sy of haar verhouding met die Christus. Gegewe hierdie twee feite sou ek graag aan ‘n Christen wat ‘n huwelik met enige nie-Christen oorweeg, ‘n paar vrae wou vrae.

Eerstens sou ek vir die Christen wou vra hoe belangrik sy verhouding met die Here vir hom is. Want as dit nie die belangrikste verhouding in sy lewe is nie, dan verstaan hy of sy waarskynlik nog nie wat dit beteken om ‘n Christen (‘n Christus-volgeling) te wees nie. Christenskap gaan in essensie oor ‘n verhouding met Jesus, ‘n verhouding waarin ons al meer in ons vertroue met hom groei en sy karakter en wil al meer in ons lewens openbaar. Christenskap gaan nie maar net oor ‘n teoretiese geloofsisteem of die instandhouding van ons kulturele gewoontes waarmee ons grootgeword het nie. Christenskap is nie soos om aan ‘n politieke party te behoort nie, maar eerder soos om in ‘n huwelik met iemand te wees.

Tweedens sou ek dan wou weet of die Christen weet wat die nie-Christen van hierdie belangrikste persoon in sy lewe dink. Weet die Christen in hierdie geval byvoorbeeld wat Islam oor Jesus leer? Besef hy dat Islam leer dat Jesus nie ‘n Goddelike natuur gehad het nie, dat hy nie gekruisig was nie en dat hy daarom ook nie vir die sonde van die mensdom gesterf het nie, en dat hy dus ook nie uit die dood opgestaan het nie? Besef hy dat Islam leer dat Christene die een onvergeeflike sonde pleeg deur in God se Drie-enige natuur te glo (shirk). Besef die Christen wat die implikasie hiervan is? Die implikasie is eerstens dat Christene en Moslems in so ʼn geval baie verskillende persepsies het oor die God wat hulle aanbid – God is ‘n Drie-enige God of Hy is nie.

Islam ontken dus al die belangrike aspekte van ‘n Christen se aanspraak van ‘n verhouding met Jesus. Volgens Islam was Jesus nie die Seun van God wat in die plek van die mens vir die mens se sonde gesterf het en wat deur sy opstanding uit die dood die hoop geword vir oorwinning oor die dood en toetrede tot ‘n nuwe lewe saam met Christus nie. Die hele idee van wedergeboorte waar ons deur die Heilige Gees se werking en deur geloof kinders van God word op grond van Jesus se versoeningsdood, word dus ontken en as ‘n leuen beskou.

Natuurlik is dit so dat baie mense vanuit hul verskillende geloofsoortuigings nog nooit werklik diep nagedink het oor wat hulle glo en hoekom hulle dit glo nie (dalk is dit die geval met beide jou Moslem-vriendin en haar Christen-kêrel). En vir twee verliefdes voel sulke dinge dalk minder belangrik – die gesegde is nie verniet dat die liefde blind is nie. Maar enige Christen wat werklik verstaan waaroor sy geloof gaan en wat werklik ‘n lewende verhouding met Christus het, sal dit nie eerstens naastenby oorweeg om met iemand te trou wat nie dieselfde lewende verhouding met die Here het nie. Hoe leef ‘n mens die res van jou lewe saam met iemand anders op die mees intiemste vlak waarop twee mense kan, wanneer ‘n ander persoon se geloofsoortuigings die mees basiese van jou eie oortuigings ontken, en wat sodoende die heel belangrikste verhouding in ‘n Christen se lewe in twyfel trek?

Winkelsmidt, ek besef jou vraag het meer te doen met wat jy vir jou Moslem-vriendin sou kon sê, en dat dit onvanpas sou wees om te probeer inmeng deur met haar kêrel oor hierdie dinge te praat (tensy jy hom goed ken). My raad is egter steeds om by jou Moslem-vriendin te probeer uitvind of sy al nagedink het oor die implikasies van wat ek hierbo genoem het en hoe sy daaroor voel. Die idee is nie om haar te laat voel dat haar veroordeel of selfs dat jy haar geloof aanval nie, maar haar te help om met oop oë te kyk na haar verhouding met iemand wat homself ‘n Christen noem. Dalk is haar Christen-kêrel bloot ‘n nominale Christen wat uit ‘n Christelike agtergrond kom, maar wat nie ‘n aktiewe volgeling van Christus is nie. Dit maak dinge moeiliker, want dan mag hy jou dalk kwalik neem as jy hierdie tipe gesprek met jou vriendin gaan hê. Maar selfs dán dink ek tog dis belangrik dat jou vriendin ten minste bewus behoort te wees van potensiële konflik wat dalk later in haar huwelik kan ontstaan weens verskillende geloofsoortuigings.

Laat weet gerus as ek verder met iets kan help.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.