Hoe gedink oor die ‘Geloof versus Wetenskap’ debat?

Hi Udo,

Ek het jou raad nodig. Watter bronne en outeurs, na jou mening, verteenwoordig die twee pole van die Science vs Faith debat die beste?

Ek dink bv. aan:

  • Dawkins R, 2008, The God Delusion
  • Hawking S, Mlodinow L, 2012, The Grand Design
  • Lennox J, 2009, God’s Undertaker: Has Science Buried God?
  • Collins F, 2006, The Language of God: A Scientist Presents Evidence for Belief.
  • Giberson KW, Collins FS, 2011, The Language of Science and Faith: Straight Answers to Genuine Questions.
  • McGrath A, 2015, Big Question: Why We Can’t Stop Talking About Science, Faith and God.
  • McGrath A, 2009, Science and Religion: A New Introduction.
  • McGrath A, 2011 Surprised by Meaning: Science, Faith, and How We Make Sense of Things.

Dankie Udo. Jou kennis word opreg waardeer.

Mooi dag.
Winkelsmidt

 

Hallo Winkelmsidt

Die onderwerp van “Science & Religion” is een wat my baie interesseer, so ek probeer graag help.

Ter wille van konteks. Die een pool van hierdie vraagstuk is (A) dat die wetenskap en die godsdiens in konflik staan, en die ander pool stel dat (B) hulle versoenbaar is. Die eerste pool kan weer onderskei word in twee ekstreme pole. Aan die een kant is daar (A1) naturalisme (ʼn siening van die wêreld wat veronderstel dat wetenskaplike kennis die enigste betroubare kennis is – dit word “scientism” genoem) wat enige en alle godsdienstige of bonatuurlike aansprake verwerp, en aan die ander kant is daar (A2) wat ons maar godsdienstige fundamentalisme kan noem en waar wetenskaplike teorieë slegs aanvaar word in die mate waartoe dit met ʼn bepaalde godsdienstige siening (wat nie bevraagteken mag word nie) ooreenstem.

Ook is daar wat die versoenbaarheid tussen wetenskap en godsdiens aanbetref, nuanses, indien nie pole nie. Die een siening is (B1) dat die wetenskap en godsdiens twee kante van dieselfde muntstuk is, dat om die wêreld holisties te verstaan, is om dit op fisiese sowel as metafisiese vlak te ondersoek. Die implikasie is dat daar ʼn fisiese sowel as meta-fisiese werklikheid bestaan. Enige skynbare konflik sal dan te doen hê met ons feilbare verstaan/interpretasies van, of die fisiese, of die metafisiese wêreld, of albei, maar nie omdat fisiese en meta-fisiese antwoorde mekaar inherent kan weerspreek nie. Ons is immers feilbare mense met feilbare instrumente wat poog om die wêreld om ons te begryp. ʼn Ander siening is (B2) dat die wetenskap en godsdiens totaal verskillende vrae vra en mekaar daarom vir hierdie rede nie kan weerspreek nie (Gould se non-overlapping magisteria). Die idee is dat die godsdiens gemoeid is met vrae oor wat morele en eksistensiële betekenis aan die menslike bestaan kan gee omdat dit nie direk uit die natuur, of die fisiese werklikheid, afgelei kan word nie. Maar, anders as die vorige siening, beteken dit nie dat God of die bonatuurlike dimensie daarom werklik bestaan nie.

Die twee hoof pole (A) en (B) word hoofsaaklik gekenmerk deur diegene, aan die een kant, wat wys dat hulle verstaan dat die vraag na die verhouding tussen die wetenskap en godsdiens, deur verskeie filosofiese idees en aannames onderlê word (wêreldbeelde) – en diegene wat dit nie verstaan nie. Dis dalk ʼn bietjie tartend gestel, maar na my mening dikwels akkuraat van wetenskaplikes soos Richard Dawkins, Stephen Hawking en Lawrence Krause wanneer hulle die saak aanraak van die verhouding tussen wetenskap en godsdiens/filosofie. Hulle is natuurlik geregtig op hul opinie, maar byna geen filosoof wat in hierdie area spesialiseer neem hulle regtig ernstig op nie. Die probleem is dat veral hierdie drie wetenskaplikes totaal afwysend staan teenoor filosofiese insigte en metodiek, maar maak dan links en regs filosofiese uitsprake sonder om dit skynbaar agter te kom. Hulle is egter sulke sterk publieke figure dat hulle dikwels ‘n groot aanhang het by die gemiddelde man op straat wat dikwels nie die probleme met hul sienings identifiseer nie.

Daarom dat ek waardering het vir ouens soos Lennox, McGrath en Collins wat moeite doen op ʼn populistiese vlak om ʼn genuanseerde verduideliking en perspektief (meestal B1) te bied op die verhouding tussen wetenskap (d.i. ʼn bepaalde metodologie in die ondersoek na antwoorde op vrae oor die fisiese wêreld) en godsdiens (d.i. ‘n spesifieke stel antwoorde op meta-fisiese vrae). Hulle verteenwoordig, dink ek, ‘n verantwoordelike omgang met die wye omvang van kennis tot ons beskikking, juis omdat kennis veel wyer strek as net “wetenskaplike kennis” (scientism is eenvoudig onverdedigbaar en vals).

Ek dink dat jou lys die bekendste name in die hierdie area noem. Ek gaan die onvergeeflike sonde pleeg en jou na ‘n Wikipedia-artikel verwys, maar waar daar onder die opskrif Perspectives redelik goeie verwysings is na die hoof rolspelers in hierdie vraagstuk.

Dalk kan jy na sommige van John Polkinghorne se skrywes ook kyk. In die meeste boeke en artikels sal jy natuurlik ook die gerespekteerde name kry van ʼn ouer generasie soos Ian G. Barbour, Arthur R. Peacocke en Wolfhart Pannenberg wat oor hierdie onderwerp geskryf het.

Daar is natuurlik ʼn hele lys van ander ouens wat nie noodwendig hoë-profiel wetenskaplikes nie, maar wat aspekte van hierdie onderwerp baie gesofistikeerd hanteer. Kyk bv. na die lys van Notes on Contributors (teïste, ateïste sowel as agnostici) net na die inhoudsopgawe van die boek, The Blackwell Companion to Science and Christianity.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.