Is gesprek met skeptici regtig sinvol?

Beste Udo

Ek waardeer die moeite wat baie gelowiges doen met die verdediging van die Christen geloof. Net ‘n paar gedagtes van my kant af: Dit is verbasend hoeveel mense (veral die jonger klomp) hulle teologie by voorkeur wil leer by ongelowige “Bybel-kenners” en ander akademici, eerder as by iemand wat ‘n verhouding het met ‘n liefdevolle God en Vader. Ek wonder soms of diesulkes miskien die raad van ‘n loodgieter verkies bo die van ‘n tandarts wanneer hulle tandpyn het.

Dan is daar ook nog die literaliste in die Christengemeenskap wat die vuur aanblaas met misplaaste ‘getrouheid’ rakende die Woord en die onfeilbaarheid daarvan – dan voel ek ernstig jammer dat soveel mense die volle (potensiële) impak van die Bybel mis in hul soeke na begrip.

Veral die sinnelose debatte oor die historisiteit van Jesus en die God/Gees/Mens samestelling van die Drie-Eenheid. Bart Ehrman en ander “Bybelkenners” se argumente is deurlopend gebou op oppervlakkige sieninge soos ” … ons weet mos dat seks tussen ‘n man en ‘n vrou al manier is wat ‘n kind verwek kan word – dit is wetenskap wat dit vir ons geleer het, dus is geloof in ‘n onsienbare ‘iets’ blote versinsels van mense wat krukke nodig het om deur die lewe te kan gaan”, en baie sulke (vervelige) sieninge.

Hoekom is eenvoudige begrippe soos ‘geskiedenis moet konsekwent verstaan word in die konteks van die sosiale, kulturele en ekonomiese toestande wat geheers het toe verskillende dele van die Bybel geskryf was’, en ‘die Woord is wel geïnspireerde skrifte, maar dit was steeds deur mense geskryf (God het nie gedikteer terwyl iemand iets neerskryf nie) en mense het gepraat in die idioom van die tyd waarin hulle geleef het’.

Genesis is nie ‘n wetenskaplike of historiese verhandeling rakende hoe alles ontstaan het nie. Dit is verbasend hoeveel waarde uit die Genesis-verhaal verloor word as die leser eenvoudig heersende literêre verskynsels (soos allegorie – wat onbetwisbaar deel was van die volksmond in daardie tyd) ignoreer en alles letterlik wil verstaan.

Vir my is die “debat” oor geloof onbelangrik, want net soos God alles geskape het (niks ontstaan eenvoudig, sonder ‘n duidelike oorsaak nie), het Hy ook ‘gesorg’ dat Maria swanger geraak het, sonder die tussenkoms van ‘n man/vrou interaksie. Johannes leer vir ons dat “Hy was van die begin af daar …”. God, Jesus en die Heilige Gees is dieselfde ‘Eenheid’ – daarsonder is geen geloof/verwagting vir ‘n hiernamaals sinvol nie. Op die regte tyd, gegewe die ontwikkeling van die mens en sy vermoë om te verstaan op ‘n chronologiese skaal, het die volledige ‘verhaal’ van versoening en genade ontvou. Dit is tegelyk eenvoudig genoeg vir ‘n kindjie om te begryp, maar ook kompleks (nie ‘gekompliseerd’ nie) genoeg om ernstige gesprekke tussen gelowiges en ongelowiges (self tussen hardkoppige en liefdevolle teoloë) te ontketen.

Apologetiek het ‘n duidelike en sinvolle plek in die huidige (en die geskiedkundige verlede) omdat soveel “Christene” hul ‘geloof verloor’ omdat die proffie (aan wie se lippe hulle hang, en wie se kennis die rede is hoekom hulle bereid is om soveel studieskuld op te gaar vir hulle akademiese kwalifikasie) ‘n ander siening het – tè gereeld omdat ‘daar baie geld te make is in die verkleinering van geloof in God’ – vra maar vir ouens soos Dawkins en Dennett en Ehrman en vele ander ‘voormalige wedergebore Christene’ wat ‘tot beter insig gekom het met diepere studies’. Ehrman en William Craig was tydgenote op universiteit – die een het ontdek dat Christenskap die enigste sinvolle wêreldbeskouing is, terwyl die ander een deur bestudering van die ‘feite’ besef het dat dit nie waar is nie. Dawkins get sy ‘geloof verloor’ toe sy laerskool-onderwyserres gesê het dat die kleurverskeidenhied in die natuur bestaan ‘omdat God dit mooi wou maak vir ons as mense’ – want ‘wetenskap het vir hom geleer van kleur wat die gevolg is van golflengtes wat verskil.

Dan volg die debatte oor die Skepping; en oor maagdelike geboorte; en oor erfsonde; en oor die menslike toestand (“human condition”) en vele ander dinge – ad nauseam.

Die erns van die saak het te doen met die aftakeling van (veral) jongmense se geloof wanneer hulle universiteit toe gaan. Dan wonder ek of opleiers weet dat hulle swaarder en strenger gemeet sal word wanneer Jesus weer kom.

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Baie dankie vir jou terugvoer, ek waardeer dit. Ek stem grootliks saam met wat jy sê. Tog het ek uit ervaring al gesien dat daar baie waarde daarin is om ander mense en hul oppervlakkigheid met geduld en verdraagsaamheid te hanteer. Ek probeer vervolgens verduidelik wat ek bedoel.

Wanneer verskillende mense in aanraking kom met bykans enige idee of stel idees, dan kan daar wyd uiteenlopende reaksie te wagte wees. ‘n Bepaalde reaksie hang af van iemand se vermoë en/of bereidwilligheid om daardie idees op meriete te evalueer. ‘n Klomp faktore speel ‘n rol in hierdie vermoë en bereidwilligheid om idees suksesvol te evalueer – en nie almal het met rasionaliteit en kennis te doen nie.

Sommige mense staan byvoorbeeld heeltemal ongeërg oor die aansprake van die Christelike geloof weens verskeie onderliggende emosionele en sosiale faktore. Iemand kon dalk onderworpe of blootgestel gewees het aan allerlei emosionele of liggaamlike mishandeling in ‘n konteks wat met godsdienstigheid verband hou. Of dalk is iemand so onafhanklik selfstandig en materieel suksesvol dat enige ideologie wat lyk of dit hul selfbehoud of lewenswyse bedreig, eenvoudig geïgnoreer word. Vir sulke mense wat vir hierdie en ander redes totaal afgestomp geraak het vir enige vorm van godsdienstigheid, is dit eenvoudig nie eers ‘n opsie om die Christelike geloof ernstig op te neem nie (en hoe om hierdie mense te probeer bereik is ‘n ander gesprek).

Dan is daar mense wat nie maar net apaties staan nie, maar weerstand bied (met verskillende grade van intensiteit) teen die aansprake van die Christelike geloof. Sommige van hierdie mense mag gemotiveer word deur presies dieselfde emosionele en sosiale faktore wat ek pas genoem het. Trouens, ek dink die oorgrote meerderheid van mense se besware en skeptisisme het ‘n sterk nie-rasionele onderbou (let wel, nie dieselfde as ‘irrasioneel’ nie). Natuurlik verdien hierdie nie-rasionele faktore wat ‘n rol speel in mense se weerstand spesifieke aandag – en in baie gevalle simpatieke aandag.

Wat my egter opval is dat die oorgrote meerderheid van alle verwoorde besware teen die waarheid/redelikheid van Christelike aansprake hoofsaaklik in twee groepe verdeel kan word, naamlik 1) besware wat nie rekening hou met die relevante agtergrondkennis wat ‘n rol speel in die meriete van ‘n bepaalde aanspraak nie, en 2) besware wat ‘n wanvoorstelling bied van ‘n spesifieke Christelike aanspraak.

Dit is hierdie waarneming oor die aard van die besware wat skeptici dikwels opper, wat my as Christen motiveer om in gesprek te bly met diegene wat vrae vra en beswaar aanteken. M.a.w. ek sien dit as ‘n basiese verantwoordelikheid om wanvoorstellings te korrigeer en om die nodige inligting te verskaf wat moontlik kan bydra tot ‘n voller konteks waarbinne bepaalde aansprake kredietwaardigheid sou hê. In kort, méér of béter inligting is die teenvoeter vir gebrekkige of onakkurate inligting.

Hierdie laaste opmerking moet egter nie misverstaan word nie. Ek probeer nie sê dat mense tot ander insigte kom as hulle bloot maar met beter of meer inligting gekonfronteer word nie. Nee, maar as ek verwag dat iemand dalk wel tot ander oortuigings oor iets sou kon kom, dan is dit tog sekerlik nie omdat ek dink dat dit onbelangrik is om misverstande of wanvoorstellings uit te wys of reg te stel nie!

Ek is ook nie onder die illusie dat mense sommer geredelik tot ander insigte kom nie. Paradigmaskuiwe is meer soos die proses om ‘n skip van rigting te verander as om  met ‘n fiets ‘n ander koers in te slaan. Maar enige kopskuif begin êrens, selfs al word die relevante inligting aanvanklik nie aanvaar nie.

Baie van my eie kopskuiwe tot meer volwasse denke en geloof is die resultaat van die bereidheid om met mense wat anders dink en glo in gesprek te wees. Ek dink dit wys verantwoordelikheid en respek om bereid te wees om oor dit wat jy as Christen glo met ander te kan gesels (in teenstelling met ‘n benadering wat ander se idees verkleineer en onbelangrik ag). Natuurlik is daar ook grense, want ‘n mens kom baie gou agter wanneer jou gespreksgenoot hom met ‘n agenda besig hou wat niks met verantwoordelikheid en respek te doen het nie (waarvan daar talle goeie voorbeelde op AntWoord se webwerf is) en waar voortgesette gesprek bloot teenproduktief raak.

Ek is egter altyd bereid om mense die voordeel van die twyfel te gee en om die meeste vrae of besware te beantwoord met die aanname dat iemand dalk tog in staat is om, wanneer hulle die geleentheid gegun word, met integriteit en ‘n selfkritiese benadering oor bepaalde sake na te dink. Tot en met hulle die teendeel bewys, kan dit nie skade doen om altyd maar weer saam met ander ondersoek in te stel na waarom en hoe die Christelike geloof sin maak nie.

Marius, ek het ‘n vermoede dat jy met die meeste van bogenoemde sal saamstem, maar ek hoor graag van jou as jy kommentaar wil lewer.

Groete

Udo

 

Udo,

Baie dankie, veral vir die volledige kommentaar. Terwyl ek gelees het, het ek ook daaraan gedink dat ons Verlosser presies volgens jou siening van korrekte oorredingsmetodes opgetree het teenoor ongelowiges en twyfelaars – dit is duidelik dat jou apologetiek geskoei is op die lees van die voorbeeld wat Jesus self vir ons gestel het toe Hy nog fisies tussen mense gewoon het. Dan dwaal my gedagtes na die ‘Reiniging van die Tempel’ en ek sien in my geestesoog hoe Hy selfs kwaad kan word oor die dinge wat mense doen. Onder sulke denke rasionaliseer ek gereeld deur te redeneer dat ‘selfs Paulus waarsku dat dit OK is om kwaad te word … jy moet net oppas dat jy nie dan sondig nie’. Natuurlik, wat ek as mens met ‘n opstandige geaardheid (ek rasionalisser alweer!) geneig is om gerieflikheidshalwe te ‘vergeet’ is dat Jesus se kennis oor wat in ander se harte omgaan diep, absoluut en volledig is, terwyl my insigte slegs oppervlakkig is – die spreekwoord sê mos; “moenie maak soos ek maak nie, maak soos ek sê jy moet maak”. As die ‘ek’ in die spreekwoord vervang sou word met ‘Jesus’ sou die eerste deel vals wees, maar die tweede deel sou absoluut waar wees!

Dit is veral wanneer ek luister en kyk na (bv.) debatte soos die Craig vs. Lawrence Krauss (Australië, 2013) een, en vele ander debatte/gesprekke met vurige ateïste, dat ek amper wil saamstem met David Berlinski (nie ‘n ‘veilige’ voorbeeld om na te streef nie!) dat ‘n mens maar gerus dieselfde swak gedrag van sulke ouens kan beantwoord met ewe-swak klipgooiery en beledigings. Jy sien (ek rasionaliseer weereens!), die ouens wat ‘aangeskakel’ word deur Krauss, Dawkins, wyle Christopher Hitchens en vele ander invloedryke akademici, verstaan daardie ‘taal’ baie goed. Dit is amper vir my ‘n uitgemaakte saak dat diesulkes nie wel-deurdagte woordkeuses en ‘sagte handskoene’ verstaan nie – hul wêreldbeskouing het nie ruimte daarvoor nie.

Die internet is deurdrenk met swak gedrag en wanvoorstellings van werklikhede, want dit is gereeld die meer-verbale deel van die samelewing se uitinge wat baie mense op ‘n dwaalspoor plaas. Dit is konsekwent die pragtige teen-redenasies van teoloë soos jy, Lennox, Zacharias, Craig en ‘n swetterjoel mense op webwerwe soos Bethinking, CSNTM, Discovery Institute en vele ander, wat eenvoudig (oënskynlik) geïgnoreer word. Dit is dan wanneer ek wonder of daar nie dalk meriete is in Berlinski se standpunt nie. Ek moet erken dat ek soms lus voel om “Malchus se oor af te kap”, maar dan onthou ek ook dat Jesus sy oor dadelik genees het. Het Jesus dalk vir Petrus ‘berispe’ deur hierdie wonderwerk, sonder dat Hy dit nodig geag het om verbaal teenoor Petrus op te tree? Gelukkig is ons Meester se siening ‘die laaste woord’ oor hierdie onderwerp. Ek hoop en bid dat Sy insig ook my denke en optrede sal temper en suiwer waar ek my passie vir die bevordering van God se genade-boodskap wil uitbasuin vanaf alle bergtoppe!

Weereens, baie dankie vir jou insiggewende argumente teen my (onbedoelde) hardkoppigheid.

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ons is natuurlik almal mense en dis menslik om kwaad te word, maar ek dink Paulus se punt is dat ons gedrag (sondige optrede) nie deur ons emosies bepaal behoort te word nie. En soos jy tereg suggereer oor Jesus se righteous anger by die tempelreiniging, het sy emosie ‘n oorsprong in suiwer motiewe en was die gevolg ‘n baie berekende optrede.

Ek het ook al na baie van William Lane Craig se debatte gekyk en dis interessant dat ek hom nog nooit kwaad sien word het of beledigend sien optree het nie (hoewel sy teenstanders dalk hieroor sal verskil, sien hier) en hy het al baie rede gehad! Ek dink die rede waarom Craig nie tot sy opponente se vlak daal nie, is tweeledig:

1) Wanneer iemand met reaktiewe emosie of belediging reageer eerder as met rasionaliteit, dan is dit daar vir almal om te sien vir wat dit werklik is: emosionele retoriek en nie ‘n argument nie. ‘n Goeie voorbeeld van sulke emosionele oorreaksie is Sakkie Spangenberg se emosionele tirade (in sy tweede spreekbeurt) in die debat met Craig in 2010 by Tuks.

2) Craig weet dat in die formele debatsituasie dit nie eintlik daaroor gaan om jou opponent van opinie te verander nie. Craig weet dat die grootste invloed wat hy het, by die gehoor sal wees (en by al die duisende wat na die opname sou kyk), by diegene wat bereid is om oopkop te dink (en by wie die Gees werksaam is). Dit is hier waar ‘n respekvolle gesindheid en bedagsame woorde bydra tot die aantreklikheid van die Christelike geloof, terwyl die teenoorgestelde dalk eerder ‘n struikelblok mag wees vir mense om te hoor wat hy werklik sê.

So in enige gesprek (en ek is meestal gemoeid in skriftelike korrespondensie) is ek nie net bewus van my gespreksgenoot nie, maar ook van diegene wat as’t ware vlieë teen die muur gaan wees wanneer hul sulke korrespondensie lees en by wie die inhoud van die gesprek net so ‘n belangrike rol mag speel in hul eie besinning as die toon van die gesprek.

Nou ja, bloot maar nog ‘n paar addisionele gedagtes.

Lekker om met jou te praat!

Groetnis

Udo

 

Lees gerus ook die volgende:

Dialoog, schmialoog?

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.