Wat van al die geweld in die Ou Testament

deur André van Zyl

Een van die mees treffende besware wat vandag teen die Christelike geloof ingebring word, het oor die afgelope jare sterker na vore begin kom.  In die verlede het meeste mense aanvaar dat hulle skuldig (sondig) voor God is en dat Hy die een is wat die reg het om hulle te oordeel.  God se besluite en dade is aanvaar sonder om té krities daaroor te wees.  As mense dus die geweld in die Bybel raakgesien het, het dit hulle met vrees en/of ontsag vervul, maar bykans niemand sou dit waag om God se reg om die geweld te pleeg óf te beveel, te bevraagteken nie.  Hy is God, en Hy kan seker doen wat Hy wil!

Gedurende die afgelope eeu het dinge egter baie verander.  Die mensdom het twee wêreldoorloë beleef en die moderne era het in baie opsigte plek gemaak vir ‘n postmoderne tydsgees.  Dit is vandag nie meer, soos in die verlede, moreel aanvaarbaar vir een land om ‘n ander in te val of aan te val nie. Die hoogste moontlike morele waarde is “verdraagsaamheid” (in die postmoderne sin van die woord).  In vandag se ryker dele van die samelewing en in die sogenaamde Westerse beskawing het ‘n morele beswaar teen bykans enige oorlog en geweld ontstaan.  Dit is vanuit hierdie morele en emosionele klimaat dat mense na die geweld in die Ou Testament kyk en dat hulle dan voel dat dit moreel onaanvaarbaar is en dat “hulle” nie sou gedoen het wat “God gedoen het” nie.  Dit laat vrae in mense se gemoedere ontstaan soos: “Is God regtig goed?”, “Is ek nie dalk moreel beter as God nie?”, “Kan die God van die Bybel werklik vertrou en liefgehê word?” en vele meer.

Richard Dawkins, een van die mees vokale ateïste in die Britse samelewing, som hierdie siening met welsprekendheid op:

“The God of the Old Testament is arguably the most unpleasant character in all fiction: jealous and proud of it; a petty, unjust, unforgiving control-freak; a vindictive, bloodthirsty ethnic cleanser; a misogynistic, homophobic, racist, infanticidal, genocidal, filicidal, pestilential, megalomaniacal, sadomasochistic, capriciously malevolent bully.”[1]

Alhoewel meeste mense nie al die woorde in sy indrukwekkende sin verstaan nie, dink ek die boodskap kom duidelik oor. Volgens professor Dawkins is God ‘n BAIE slegte persoon (alhoewel hy dink dat God eintlik ‘n fiktiewe karakter is).  Baie moderne Christene het ‘n soortgelyke reaksie op die geweld in die Ou Testament.  Hulle sal dit nie so sterk soos Dawkins stel nie, maar in praktyk vermy hulle dit om groot dele van die Ou Testament te lees en laat baie van die gedeeltes hulle met ‘n vae of akute vrees vir God, of laat hulle ten minste wantrouig teenoor Hom.  Baie Christene maak dan in hul eie koppe die onderskeid tussen “die God van die Ou Testament” en “die God van die Nuwe Testament” (Jesus) en leef vir alle praktiese doeleindes asof daar twee verskillende gode bestaan.  Die ortodokse Christelike posisie is egter heel anders.

Die doel van hierdie hoofstuk is om alle lesers van die Ou Testament aan te moedig om hul voorveronderstellings dalk weer te heroorweeg.

Die Probleem

Voordat daar na enige antwoorde gekyk kan word is dit belangrik om te erken dat die probleem van geweld in die Ou Testament en die impak daarvan, werklik is en aangespreek moet word.  Die Ou Testament is gevul met verhale van geweld en tekste soos Deuteronomium 7:1-2; Deuteronomium 13:6-9; Joshua 6:16-17 (Jerigo); Joshua 8 (Ai); Joshua 10 (die vyf Amoritiese konings) kan as voorbeelde dien.  Die volgende twee voorbeelde word ter illustrasie aangehaal van problematiese tekste:

“Die Here jou God sal jou bring in die land waarheen jy oppad is en wat jy in besit sal neem.  Hy sal baie nasies voor jou uitdryf:  Hetiete… Wanneer die Here jou God hierdie sewe nasies wat groter en sterker is as jy in jou mag oorgee en jy hulle verslaan, Moet jy hulle om die lewe bring as banoffer aan die Here jou God.  Jy mag hulle nie jammer kry en in ‘n verbond met hulle sluit nie.” [2]

“Dit kan gebeur dat jou broer, jou ma se seun, of jou seun of jou dogter of jou eie vrou of jou boesemvriend jou in die geheim wil verlei en vir jou sê: ‘kom ons gaan dien ander gode.’ Dit kan gode wees wat jy en jou voorvaders nie geken het nie gode van die volke in jou omgewing, gode wat naby is of ver… Dan mag jy nie voor hom swig en na hom luister nie.  Jy mag hom nie jammer kry nie.  Moet hom nie verskoon of wegsteek nie.  Jy moet hom sonder meer doodmaak.  Jy moet daarmee begin en dan moet die volk jou daarmee bystaan.”[3]

Wie kan gedeeltes soos hierdie lees en nie met vrees en wantroue gevul wees nie? Daar is dan geen genade nie en die Here heers met ‘n yster hand.

‘n Vraag voor die vraag

Voor ons sal poog om die vraag oor geweld in die Ou Testament te herevalueer, is dit belangrik om eers ‘n onderliggende vraag te oordink.  Is geweld opsigself reg of verkeerd?  Kan iets as verkeerd beoordeel word nét omdat dit met geweld gepaard gaan?  Hier is twee scenario’s wat die leser kan gebruik om hierdie vraag te evalueer:

Scenario 1: Jy stap ‘n vertrek binne en sien hoe ‘n groot fris man ‘n klein seuntjie op ‘n tafel vaspen en ‘n ander man naderstap met iets wat lyk soos ‘n mes, terwyl die kind spartel en gil van vrees.

Is dit wat hier met die kind gebeur ‘n goeie of slegte daad?

Scenario 2.  Jy kom by ‘n “pub” ingestap vir aandete en sien hoe een man bo op ‘n ander sit terwyl hy met ‘n skerp voorwerp in die ander se keel steek.

Is dit wat hier gebeur ‘n goeie of slegte daad?

Die meeste mense sal in die midde van beide hierdie situasies onmiddellik op ‘n emosionele vlak reageer en dink dat die optredes van die persone wat hier beskryf word, definitief verkeerd is. Dit mag selfs baie moontlik ‘n korrekte afleiding wees. Dit is egter nie so maklik om regverdig te oordeel sonder ‘n meer volledige konteks nie. Daar mag ander faktore wees as die geweld opsigself, wat in beide bogenoemde scenario’s sou kon bepaal of die optredes van die persone betrokke reg of verkeerd is. Net omdat ek nie hou van wat ek met die eerste oog opslag sien nie, maak dit nie verkeerd nie. Die eerste scenario kan wees van twee toordokters wat ‘n kind aanval en die tweede scenario ‘n situasie waarin twee mans in ‘n kroeggeveg betrokke is. Hier is die geweld beslis verkeerd en enige gevoel van onreg en ontsteltenis geregverdig.  Daar is egter ook ander moontlikhede. In die eerste geval kan dit ‘n pa wees wat sy 3 jarige seuntjie vaspen en doodstil hou sodat ‘n dokter ‘n delikate ondersoek in ‘n seer oor kan doen. In die tweede situasie mag ‘n dokter besig wees om ‘n trachiostomie uit te voer op iemand wat besig is om te verstik.

In al bogenoemde gevalle is daar geweld betrokke en tog is die oordeel wat mens oor elke situasie sou vel, radikaal verskillend.  Dit wys duidelik die gevaar daaraan verbonde om enige geweld te beoordeel sonder al die nodige inligting.  Niemand hou van geweld sonder baie goeie rede nie, maar ‘n oppervlakkige en oorhaastige beoordeling van enige geweld is naïef  en kan tot geheel en al die verkeerde gevolgtrekkings lei.  Geweld opsigself is dus nie reg of verkeerd nie, dit is moreel neutraal. Dit is selfs nie die tipe of hoeveelheid geweld wat bepaal hoe ‘n spesifieke insident moreel beoordeel moet word nie.  In my ervaring maak die meeste mense wat hierdie beswaar gebruik (insluitende professor Dawkins) die fout om slegs op grond van ‘n oppervlakkige beskouing van die feite, ‘n emosionele oordeel te vel.

Wat bepaal dan of enige spesifieke insident van geweld reg of verkeerd is?  In die howe word daar gereeld lewensveranderende besluite geneem oor verskeie insidente van geweld en daar word dikwels tot ‘n verskeidenheid verskillende gevolgtrekkings gekom.  Soms is die geweldenaar onskuldig van enige misdaad.  Soms is die bevinding vir nie-strafbare manslag, ander kere weer strafbare manslag en soms selfs moord.  In al hierdie gevalle is iemand doodgemaak – en tog is daar heeltemal verskillende gevolgtrekkings.  Waarom? Soos in enige hof, behoort ons enige geweld te beoordeel na gelang van aspekte soos:

  • Die geskiedkundige oploop na die insident wat beskryf word
  • Die onmiddellike konteks van die insident
  • Die karakter, optrede, regte, pligte en verantwoordelikhede van die geweldenaar
  • Die karakter, optrede, regte, pligte en verantwoordelikhede van die een teen wie die geweld gepleeg word
  • Die uiteindelike gevolge van die geweld wat gepleeg word

Elke geval van geweld moet dus eers deeglik ondersoek word voordat dit beoordeel kan word.  Die inligting wat ons uit die bogenoemde faktore verkry bepaal uiteindelik die morele aard van enige spesifieke insident van geweld.  As ons dus ‘n regverdige en sinvolle oordeel oor die geweld in die Ou Testament wil vel, dan moet ons eers dieper en in meer detail daarna gaan kyk.

Die geskiedkundige oploop na en konteks van die insident(e) wat beskryf word

Die eerste belangrike aspek wat oorweeg moet word as ‘n mens geweld in die verlede probeer beoordeel, is die kultuur-historiese konteks waarbinne die geweld plaasgevind het.  Die era waarin die Ou Testament afspeel was baie anders as die tyd waarin ons vandag leef.  Ons kan dus nie enige gedrag wat binne daardie tyd gebeur het, sommer net maklik vanuit ons eie tydsgees beoordeel nie.  Die era van die Ou Testament was ‘n baie meer gewelddadige tyd as vandag, oorloë en geweld was deel van die normale verloop van sake. Die nasies waarvan daar sprake is in die Ou Testament, was bykans altyd ook ‘n baie kleiner groep mense as waaraan ons vandag dink en hulle het dikwels in een klein stadjie gewoon.  Voorbeelde van volksmoord, soos ons onlangs in plekke soos Rwanda gesien het, is dus nie werklik ter sprake by insidente van geweld in die Ou Testament nie.  Volgens die Bybel was die volkere in Kanaän ook ryp vir oordeel (later meer hieroor) en Israel was slegs ‘n instrument in God se hand en het nie op ‘n selfsugtige manier hul eie belange probeer bevorder nie.  Verder is dit belangrik om te besef (sonder om dit goed te keur of om daarvan te hou) dat die waarde van vrouens en kinders in daardie tyd nie naastenby so hoog geag was as vandag nie.

Die inval van Kanaän gebeur ook in ‘n spesifieke tydgleuf wat deel is van God se progressiewe openbaring van Homself aan Israel nadat hy met Abraham kontak gemaak het.  God was besig om ‘n pad met Israel te stap en om ‘n groter plan met en deur hulle tot uitvoer te bring.[4] Ons moet die geweld waarvan ons hier lees, dus in die konteks sien van die mate waartoe God Homself op hierdie punt aan die mens geopenbaar het.  In die “grand-narrative” of Groot Storie wat die Bybel vertel van die geskiedenis van die mensdom, is dit ook belangrik om in gedagte te hou wat God aan die mens verskuldig is. Die Bybel leer dat ALLE mense voor God skuldig is en dat ALLE mense die dood en die hel verdien.  Anders gestel sou ‘n mens kon sê dat as elkeen sy verdiende loon kry, dan sou alle mense doodgemaak en vir ewig van God geskei moes wees.  Dus kan ons nie regtig vra of die Kanaäniete onregverdig behandel word nie, maar die vraag is waarom die Israeliete nie kry wat hulle verdien nie. Volgens die verduideliking wat die Bybel gee, is God die regter en alle mense is die beskuldigdes.  Alle mense het teen God gerebelleer (sonde) en is skuldig aan hoogverraad.  God was nog altyd dodelik ernstig oor sonde.  Dit is die oordeel wat Hy uitspreek oor Adam en Eva, dit is die oordeel wat Hy uitspreek oor Kanaän, dit is die oordeel wat Hy uitspreek oor Israel en uiteindelik is dit die oordeel wat Hy ook uitspreek oor Jesus (wat alle ander mense se sonde dra).

Die karakter, regte en verantwoordelikhede van die slagoffers van die geweld

Op die heel breedste vlak is die Kanaäniete deel van die menslike ras en vanuit daardie perspektief reeds aanspreeklik en verdienend van die dood.  Die meeste van ons word egter nie tevrede gestel deur hierdie antwoord nie. In Genesis 15:6 beloof God aan Abraham die land van die Kanaäniete, maar Hy sê dat hulle nog nie sleg genoeg geword het om uitwissing te verdien nie.  Hierna gaan woon Israel vir ongeveer 400 in Egipte en keer dan saam met Moses terug na die land wat toe “ryp vir God se oordeel” geword het.  Ons het nie geweldig baie detail oor die Kanaäniete nie, maar een van die aanduiders van die diepte van hulle morele verval was hul aanbidding van die vuurgod Molek.  Tydens hulle aanbiddingseremonies is lewendige babatjies in die beeld van Molek se hande geplaas en dan lewendig verbrand as deel van die “aanbidding”.  Die Kanaäniete was ‘n versameling wrede en moorddadige volke wat so diep verval het dat hulle God se oordeel verdien het.

Die karakter, regte en verantwoordelikhede van die een wat die geweld pleeg

Alhoewel Israel die mense was wat die geweld gepleeg het, doen hulle dit in opdrag van God en in daardie sin is Hy die een wat die geweld pleeg.  Israel is slegs ‘n instrument in God se hand.  Die Bybel beeld God uit as die Skepper van alle lewende en nie-lewende dinge.  Hy is die gewer en onderhouer van lewe en alle mense is in essensie byspelers in God se storie (HIStory).  God se eienskappe sluit almag, regverdigheid, liefde en ewigheid in en al hierdie eienskappe manifesteer gelyktydig in Hom.  As mense moet ons dikwels regverdigheid teenoor liefde afspeel en ons doen dit deur een van die twee effe te laat gaan.  God is egter altyd gelyktydig volkome liefdevol en volkome regverdig.  As mense kan ons nie insien hoe dit moontlik kan wees nie – net soos ‘n peuter nie kan insien waarom sy ma hom verbied om sy vingers in die oulike gaatjies van ‘n kragpunt in te druk nie.  Hy kan dit nie insien nie omdat sy eie verstaansvermoë te beperk is, en nie omdat dit nie (op ‘n hoër vlak) verduidelikbaar is nie.

God se hart is dat alle mense hulle sal bekeer en gered word, en nie dat mense gestraf moet word en moet sterf nie.  In verse soos Esegiël 33:11 sien ons God se hart :” Sê vir hulle: So seker as Ek leef, sê die Here my God, Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie, Ek wil hê hy moet van sy optrede afsien en lewe.  Bekeer julle van julle bose optrede!  Waarom wil julle sterf, Israel”. Hierdie duidelike en passievolle liefde van God word veral in ‘n moderne konteks verkeerd verstaan.  Die woorde liefde beteken vandag vir baie mense om vir die ander party te gee wat hulle ook al wil hê en net wat vir hulle lekker sal wees.  C.S. Lewis het gesê dat sulke mense ‘n “oupa in die hemel” voorstel inplaas van ‘n “Pa” omdat hulle idee van liefde impliseer dat God mense sal laat doen net wat ons graag wil.  Dit strook egter nie met die Bybelse betekenis van liefde nie. God het die mens lief soos ‘n goeie pa sy jong kind liefhet.  Dit is ‘n liefde wat die beste vir jou wil hê, maar definitief nie noodwendig vir jou gee wat jy dink jy wil hê nie.

Hierdie goeie Vader in die Hemel oordeel oor sonde en sy oordeel is regverdig en finaal.  Ons sien dit reg deur die Ou Testament, met die vloed, Jesus se prediking oor die hel en finaal in Jesus se kruisdood.  God oordeel dit wat verkeerd is en dit is ‘n baie goeie ding dat Hy dit doen.  Dit is belangrik om hier in gedagte te hou dat God nie op dieselfde manier as ons as mense in verhouding tot moraliteit staan nie. God mag dinge doen wat mense nie mag doen nie en omdat Hy goed is, is alles wat reg en goed is in sy karakter gewortel.  Ons ken hierdie “dubbele standaarde” in ons alledaagse lewens.  Ouers mag na agt in die aand wakker bly, al moet kinders gaan slaap, soos baie ander goed wat ouers mag doen wat kinders nie mag nie.  So ook het ‘n land se regering die reg om baie goed te doen wat gewone burgers nie mag doen nie.  Die regte van mense verskil altyd slegs in grade, maar God se regte is absoluut.

‘n Laaste tipe getuienis wat oor die karakter van God ingebring kan word, is die karaktergetuies oor God in die tyd waartydens die geweld wat hier ter sprake is, gepleeg is.  Wat het die mense wat toe geleef het van God se optrede en karakter gedink?  Eerstens moet ons dit duidelik stel dat hierdie mense baie duidelik geweet het wat regverdigheid en reg beteken het. In tekste soos Genesis 18 en Habakuk 1 sien ons hoe hulle ‘n beroep doen op God se regverdigheid en liefde.  Hulle het geweet God sou altyd reg laat geskied en regverdig optree.  Hierdie mense sien en beleef baie van die geweld in die Ou Testament en tog vind hulle dit moontlik om God passievol lief te hê en te vertrou.[5]  Dit is ‘n baie goeie aanduiding dat die geweld in die Ou Testament dalk anders verstaan moet word as wat dit op die eerste oog opslag lyk.

Die uiteindelike gevolg van die geweld

Die geweld in Kanaän is deel van God se groot plan om deur Israel nuut te begin met die mensdom, sodat die hele wêreld kan weet Hy is God en Hom kan ken.  Uiteindelik word die Redder van die hele wêreld in Israel en in die land wat Kanaän was, gebore en word verlossing vir die hele wêreld beskikbaar.  Die uiteindelike gevolge van hierdie geweld is dus oorweldigend positief.

Gevolgtrekking

As ons dus ‘n meer drie-dimensionele siening van die geweld in die Ou Testament kry deur die konteks in meer detail te ondersoek, dan is dit glad nie meer so maklik om God as ‘n groot boelie af te maak nie.  Die geweld bly steeds skrikwekkend en enige moderne mens sal daardeur ontstel word.  Die konteks van die geweld, die slagoffer, die geweldpleger en die uiteindelike gevolge van die geweld maak dit ten minste geloofwaardig dat God steeds liefdevol is te midde van Sy regverdige oordeel.  Sy karakter kan verdedig word en Hy kan vertrou word, al hou ons nie op ‘n emosionele vlak van alles wat Hy gedoen het nie.

Alle mense sal vir hulleself moet besluit.  Wat is jou gevolgtrekking oor die God wat die opdrag gegee het vir die geweld waarvan ons in die Ou Testament lees?  Natuurlik sou ‘n “oupa in die hemel” gemakliker gewees het as ‘n Pa, maar dit sou nie vir die mensdom beter gewees het nie. Ons het ‘n Pa nodig om ons te help en om dit wat verkeerd is in hierdie wêreld reg te maak.  Dit beteken nie dat ons altyd van Hom gaan hou nie, inteendeel ons is bykans gewaarborg om soms nie van Hom te hou nie, maar Hy is die enigste een wat ons kan red en wat kan regmaak wat stukkend is.

Is jy bereid om God, God te laat wees of wil jy hom na jou eie beeld probeer herskep?  Jou voorkeure oor Hom en denke oor Hom verander nie wie Hy is nie.  Wat is jou verhouding met hierdie God wat die Regter van die heelal is en wat regverdig oordeel?  Is jy gereed om voor Sy oordeelstoel te verskyn?  Daar is nie werklik so iets soos “goeie” mense (wat by God meriete kan hê nie) en ons het almal God se genade (onverdiende goedheid) BAIE meer nodig as Sy regverdigheid. God is nie vêr nie, Hy het in Jesus naby gekom; God wil nie hê jy moet probeer om deur jou goeie gedrag “goed genoeg” vir Hom te wees nie.  Jy kan nie.  Jesus se verdienste is al wat goed genoeg is om gered te word.  Laat toe dat die ongemak wat God se oordeel in die Ou Testament by jou veroorsaak, jou uit jou droomwêreld wakkermaak.  Eendag sal daar ‘n regverdige en finale oordeel deur die liefdevolle God van die heelal gevel word.  Waar staan jy teenoor Hom?  Of meer spesifiek, wat maak jy met Sy Seun?

[1]Dawkins Richard, The God Delusion (Boston, Massachusetts: Houghton Mifflin Harcourt, 2006), p. 51

[2] Deuteronomium 7:1-2

[3] Deuteronomium 13:6-9

[4] Uiteindelik leer tekste soos Hebreërs 1: 1-3 en Matteus 19:8 ons dat God se finale openbaring in Jesus sigbaar en kenbaar geword het.

[5] Eksodus 33:15; Job 13:15; 2 Samuel 24:14; Jona 4:1-3

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*