Is die Kalaam kosmologiese argument geldig?

Beste Udo

In wat volg gee ek iemand anders se kritiek weer op die Kalaam Kosmologiese Argument. Wat sou jou antwoord daarop wees?

“Hierdie argument kom al ‘n hele lang tyd, en het sy oorsprong in ‘n geheel ander tydperk, een waar daar geen uitsluitsel was oor of die heelal ‘n begin gehad het of nie, ens.. Dit het nuwe stoom gekry en baie meer populêr geraak onder teïstiese denkers met die ontdekking dat die heelal uitsit. Ek gaan net vir gemak die ding weer hier neer sit.

Premise 1: Everything which begins to exists, has a cause.

Premise 2: The universe began to exist.

Conclusion: The universe has a cause.

Die ontdekking van die uitsetting van die heelal het die 1e premise nuwe geloofwaardigheid gegee, en dit is waar die argument sy nuwe stoom gekry het. Hierdie stoom het egter nie lank gehou nie, siende die uitsetting van die heelal nie ‘n begin impliseer nie.

Kom ek begin by wat die Big Bang teorie sê, oftewel wat die nie sê nie. Die BBT praat oor wat in die heelal gebeur tot ‘n baie lang tyd in die verlede in. Dit sê absoluut niks oor of die heelal ontstaan het, of hoe dit ontstaan het nie. In kort praat die teorie oor wat met die heelal gebeur het, nie waar dit vandaan kom nie. Daar is wel hipoteses wat hierdie stap probeer neem, maar nog nie een kom ‘n voorspelling lewer wat suksesvol getoets is nie. Dus is dit onakkuraat om te sê dat die BBT ‘n ontstaan tot die heelal impliseer, en dus verkeerd om die 1e premise as waar te beskou. Dus val die argument plat.

Ek gaan dit egter nie net daar los nie, ek gaan bietjie dieper ingaan op wat presies gebeur wanneer mens begin praat oor die heelal wat begin bestaan. In baie gevalle wanneer mens oor hierdie soort kwessie dink trap mens in die gat om implisiet die heelal binne ‘n groter bestaan te oorweeg. ‘n Goeie voorbeeld is die vraag: “Wat was voor die BB?”  Hierdie vraag neem implisiet aan dat tyd verder in die verlede in strek as die begin van die heelal, wat blatant vals is. Einstein se algemene relatiwiteit het mooi gewys dat tyd, net soos ruimte, ‘n fisiese dimensie is van ons heelal, en kan rek en vervorm net soos die ander 3 dimensies. In die BBT “bestaan” die 4 dimensies net na 10e-43s na die skynbare singularity, meenend by daardie hoë temperature en drukke is enige uitsprake oor vroeër tye totaal onsinnig. Dit impliseer egter glad nie ‘n ontstaan uit niks nie.

Die sprong vanaf daardie grens na die konsep van dat dit die heelal se ontstaan is, is ‘n voorbeeld van ‘n konsep wat buite sy sinvolle toepassing toegepas word (net soos “voor die heelal”). Hier word ons waarneming dat enigiets kom uit iets anders (wyn kom van druiwe af kom van voedingstowwe af kom van…) kom binne ons heelal toegepas op die heelal om te sê dat die heelal ook van êrens af moet kom omdat dit iets is. Die heelal is egter nie “iets” nie, dis “alles”, per definisie. Verder, natuurlik, is niks ook nie iets nie, dus maak ‘n stelling soos “iets uit niks” nie sin nie.

Op die topic van niks. Niemand het al ooit “niks” waargeneem nie. Dit is ‘n ekstrapolasie vanuit die konsep van geen wat geen waarneming agter dit het nie.

Sjoe, ek tik nou so deurmekaar dat ek self my trek verloor het 🙂 Ok, om terug te kom op die topic: Die BBT impliseer nie dat die heelal ‘n begin gehad het nie, en is dus nie ‘n teïstiese teorie as stawing vir die Kalam nie. Verder is daar geen bewys dat die heelal wel ‘n begin tot sy ontstaan gehad het nie, en val die Kalam plat.”

Groete

Winkelmsidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek sou aanbeveel dat jy na die volgende lesing van William Lane Craig kyk om ʼn goeie begrip te kry van die kwessies hier te sprake.

Vervolgens my kommentaar op bogenoemde kritiek.

“Hierdie argument kom al ‘n hele lang tyd, en het sy oorsprong in ‘n geheel ander tydperk, een waar daar geen uitsluitsel was oor of die heelal ‘n begin gehad het of nie, ens.. Dit het nuwe stoom gekry en baie meer populêr geraak onder teïstiese denkers met die ontdekking dat die heelal uitsit. Ek gaan net vir gemak die ding weer hier neer sit.”

Die Kalaam kosmologiese argument is inderdaad al ten minste 12 of 13 eeue met ons. Hierdie argument is ook al verdedig in tye waarin dit geglo is dat die heelal eintlik ‘n ewige bestaan het. Die tweede stelling in die Kalaam argument (die heelal het ‘n begin gehad) is egter op filosofiese gronde verdedig (wat vandag steeds verdedigbaar is), deur wiskundige en logiese beredenering oor die onmoontlikheid van die bestaan van ‘n geaktualiseerde oneindigheid. Die implikasie is onder andere dat dit onmoontlik is dat die duur van die heelal vir ewig in die verlede kon strek (m.a.w. ‘n oneindige regressie van momente in die verlede). So die blote feit dat hierdie argument al lank met ons is, beteken glad nie dat dit daarom enigsins vals of verdag is nie.

“Premise 1: Everything which begins to exists, has a cause.

Premise 2: The universe began to exist.

Conclusion: The universe has a cause.

 Die ontdekking van die uitsetting van die heelal het die 1e premise nuwe geloofwaardigheid gegee, en dit is waar die argument sy nuwe stoom gekry het. Hierdie stoom het egter nie lank gehou nie, siende die uitsetting van die heelal nie ‘n begin impliseer nie.”

In die laaste eeu of wat het verskeie kosmologiese teorieë en waarnemings die tweede stelling (let wel, nie die “1e premise” soos verkeerdelik aangedui word nie) van die kalaam kosmologiese argument skynbaar ook op wetenskaplike gronde versterk. Veral twee stukke wetenskaplike getuienis het hiertoe bygedra: die tweede wet van termodinamika (d.i. die entropie van die heelal neem toe) en die uitsetting van heelal wat by ‘n oerknal begin het (die sg. Big Bang theory wat o.a. op waarnemings soos die rooi-verskuiwing van lig (red-shift) en die ontdekking van agtergrond mikrogolf bestraling berus).

“Kom ek begin by wat die Big Bang teorie sê, oftewel wat die nie sê nie. Die BBT praat oor wat in die heelal gebeur tot ‘n baie lang tyd in die verlede in. Dit sê absoluut niks oor of die heelal ontstaan het, of hoe dit ontstaan het nie. In kort praat die teorie oor wat met die heelal gebeur het, nie waar dit vandaan kom nie. Daar is wel hipoteses wat hierdie stap probeer neem, maar nog nie een kom ‘n voorspelling lewer wat suksesvol getoets is nie. Dus is dit onakkuraat om te sê dat die BBT ‘n ontstaan tot die heelal impliseer, en dus verkeerd om die 1e premise as waar te beskou. Dus val die argument plat.

Ek gaan dit egter nie net daar los nie, ek gaan bietjie dieper ingaan op wat presies gebeur wanneer mens begin praat oor die heelal wat begin bestaan. In baie gevalle wanneer mens oor hierdie soort kwessie dink trap mens in die gat om implisiet die heelal binne ‘n groter bestaan te oorweeg. ‘n Goeie voorbeeld is die vraag: “Wat was voor die BB?”  Hierdie vraag neem implisiet aan dat tyd verder in die verlede in strek as die begin van die heelal, wat blatant vals is. Einstein se algemene relatiwiteit het mooi gewys dat tyd, net soos ruimte, ‘n fisiese dimensie is van ons heelal, en kan rek en vervorm net soos die ander 3 dimensies. In die BBT “bestaan” die 4 dimensies net na 10e-43s na die skynbare singularity, meenend by daardie hoë temperature en drukke is enige uitsprake oor vroeër tye totaal onsinnig. Dit impliseer egter glad nie ‘n ontstaan uit niks nie.”

Die oerknal strek inderdaad net sover terug as planck-tyd omdat Einstein se relatiwiteitsteorie nie sin maak van subatomiese verhoudings en dimensies nie. Daar is dus ‘n tyd vóór die oerknal waar die wette van kwantumfisika en inflasieteorie ‘n beter verduideliking gee vir die aanvanklike uitsetting van die heelal (daar is dus ‘n inflasieperiode voor die oerknal). Verder is dit ook korrek om te sê dat geen kosmologiese teorie of hipotese regtig iets sê oor hoe die heelal ontstaan het of waar dit vandaan kom nie. Máár, dis nie akkuraat om eenvoudig te sê dat die heelal daarom nie ‘n begin gehad het nie. Enige kosmoloog sal bekend wees met die werk van Arvin Borde, Alexander Vilenkin en Alan Guth (Guth is een van die pioniers op die gebied van inflasieteorie) wat bewys het dat enige uitdyende heelal nie vir ewig kon bestaan het nie, maar ‘n tydruimtelike begin moes gehad het (en ja, die begin van tyd, ruimte en energie impliseer die ontstaan van iets uit niks).

Luister egter gerus self na wat Guth (sien video) en Vilenken (sien video) oor die begin van die heelal te sê het. Jy kan gerus ook William Lane Craig (waarskynlik die wêreld se beste verdediger van die Kalaam argument) se kommentaar oor kontemporêre kosmologie en die begin van die heelal lees. (Weereens, hierdie saak het betrekking op die tweede stelling en nie die eerste stelling soos verkeerdelik aangedui word nie). Die spesifieke stelling dat die heelal ‘n begin gehad het en die Kalaam kosmologiese argument se geldigheid in die algemeen, is in teenstelling met wat baie skeptici dink, dus nog glad nie verkeerd bewys nie. Jy kan natuurlik van Vilenken en Guth verskil, maar dis duidelik dat twee van die wêreld se beste kosmoloë dink dat die heelal wel ‘n begin gehad het.

Wat is die implikasie daarvan om te sê dat die heelal begin het om te bestaan? Die begin van die heelal impliseer die begin van tyd, ruimte en energie en daarom is dit inderdaad korrek om te sê dat daar geen verwysing na iets “voor” tyd kan wees nie, want daar is niks “voor” tyd nie. So hoewel daar niks kan wees wat die begin van die heelal in tyd kon voorafgaan nie, moes daar wel iets wees wat die begin van die heelal logies voorafgegaan het. As iets begin, dan moet daar tog ‘n oorsaak wees vir waarom dit begin het – ‘n intuïtiewe en logiese beginsel. Die implikasie is dus dat as die heelal ‘n begin gehad het (en dit lyk op wetenskaplike sowel as filosofiese gronde dat dit meer waarskynlik is om te dink dat die heelal ‘n begin gehad het, as dat dit nie ‘n begin gehad het nie), dan is die oorsaak van die heelal per definisie iets wat buite tyd, ruimte en die fisiese moet bestaan. Die vraag na wat “voor” die heelal bestaan het, kan dus nie ‘n vraag wees na die oorsaak daarvan in tyd nie (want daar is eenvoudig nie so ‘n tyd nie), maar na die logiese oorsaak en daarom moet dit noodwendig verwys na ‘n oorsaak wat beginloos, tydloos, nie-fisies, oorsaakloos en ruimteloos sal wees.

“Die sprong vanaf daardie grens na die konsep van dat dit die heelal se ontstaan is is ‘n voorbeeld van ‘n konsep wat buite sy sinvolle toepassing toegepas word (net soos “voor die heelal”). Hier word ons waarneming dat enigiets kom uit iets anders (wyn kom van druiwe af kom van voedingstowwe af kom van…) kom binne ons heelal toegepas op die heelal om te sê dat die heelal ook van êrens af moet kom omdat dit iets is. Die heelal is egter nie “iets” nie, dis “alles”, per definisie. Verder, natuurlik, is niks ook nie iets nie, dus maak ‘n stelling soos “iets uit niks” nie sin nie.”

Die vraag na wat die oorsaak vir die begin van die heelal is, is ‘n logiese vraag as die heelal inderdaad ‘n begin gehad het. Is die heelal egter die tipe entiteit wat nie ‘n oorsaak nodig het nie (hoe onwaarskynlik dit ookal is volgens die huidige beskikbare getuienis)? Wel, niemand is verbind tot die stelling dat alles wat bestaan ‘n oorsaak moet hê nie (slegs dinge wat begin om te ontstaan, het, logies gesproke, ‘n oorsaak nodig). Wat ‘n mens wel kan sê is dat alles wat bestaan ‘n verduideliking het vir waarom dit bestaan, of dit nou binne-in die heelal bestaan, of dit oor die heelal self gaan en of dit oor iets gaan wat geen tydruimtelike eienskappe het nie. Daar is twee moontlikhede vir waarom iets bestaan: 1) dit bestaan omdat dit nie anders kan as om te bestaan nie en bestaan daarom noodwendig (sommige wiskundiges dink byvoorbeeld dat getalle en ander wiskundige en abstrakte entiteite op hierdie manier bestaan), of 2) dit bestaan omdat iets anders die oorsaak daarvan is (dinge soos mense, planete en sonnestelsels is voorbeelde hiervan).

Die vraag is nou wat die verduideliking is vir waarom die heelal bestaan. Bestaan die heelal noodwendig, m.a.w. dis in die aard van ‘n heelal om te bestaan eerder as om nie te bestaan nie, of het die heelal ‘n oorsaak vir waarom dit bestaan. Kom ons ondersoek die idee dat die heelal noodwendig moet bestaan.

Waarom sou dit redelik wees om te glo dat die heelal noodwendig sou bestaan? Dink aan enige deel van die heelal (soos ‘n sonnestelsel, planeet, mens, stofdeeltjie, atoom, elektron, kwark) en vra jouself of daar enigiets is aan die eienskappe van hierdie dinge wat maak dat dit noodwendig moet bestaan (m.a.w. dat dit nie anders kan as om te bestaan nie en dat daar geen sprake is dat dit op ‘n bepaalde tyd nie bestaan het nie). Die feit is dat niemand dink dat elke of enige deeltjie van die heelal noodwendig moet bestaan nie. Maar as geen van die individuele deeltjies van dit wat die heelal uitmaak op hierdie manier bestaan nie, waarom is dit redelik om te glo dat die heelal as geheel noodwendig moet bestaan. (Terloops, daar is wel ‘n drogredenasie wat sê dat as elke deel van ‘n groter geheel bepaalde eienskappe het, dan het die geheel ook daardie eienskappe. Hoewel hierdie redenasie soms vals is, is dit nie in elke geval vals nie en daarom moet elke aanspraak en die eienskappe waarna verwys word, op meriete beoordeel word. Bv. die redenasie: “elke individuele deeltjie van ‘n motorfiets is lig (ek kan dit met een hand optel), en daarom is ‘n motorfiets as geheel lig (en kan dit met een hand optel)” is vals, maar “elke individuele deeltjie van my motorfiets is rooi geverf, daarom is my motorfiets in geheel ‘n rooi motorfiets,” is waar.)

Die argument is dus dat as die heelal nie noodwendig hoef te bestaan nie (m.a.w. as daar geen eienskappe in of van die heelal is wat maak dat dit nie nie kon bestaan nie), dan maak dit sin om te sê dat die verduideliking vir die bestaan van die heelal in ‘n oorsaak buite die heelal self lê.

“Op die topic van niks. Niemand het al ooit “niks” waargeneem nie. Dit is ‘n ekstrapolasie vanuit die konsep van geen wat geen waarneming agter dit het nie.”

Die manier waarop teïste die woord ‘niks’ gebruik is om te dui op die afwesigheid van alle tyd, ruimte en energie. Met hierdie verstaan van ‘niks’ is daar konsepsueel geen probleem nie en die feit dat ‘niks’ nie waarneembaar is nie, is bloot deel van wat bedoel word met konsep van ‘niks’ en nie enige soort argument teen die samehangendheid van die konsep nie. Natuurlik gebruik teïste nie die woord “niks” om na ‘n metafisiese realiteit te verwys nie, want die feit dat ons bestaan en die logika dat “metafisiese niks” nie die oorsaak of verduideliking kan wees vir enigiets nie, wys daarop dat daar ‘n metafisies iets moes wees indien ons fisiese realiteit ‘n begin gehad het. Dit beteken dus dat dit heeltemal sin maak om te sê dat iets (fisiese realiteit) uit niks (die afwesigheid van fisiese realiteit) kan kom mits daar ‘n (metafisiese) oorsaak is vir waarom iets uit niks sou kom.

“Sjoe, ek tik nou so deurmekaar dat ek self my trek verloor het 🙂 Ok, om terug te kom op die topic: Die BBT impliseer nie dat die heelal ‘n begin gehad het nie, en is dus nie ‘n teïstiese teorie as stawing vir die Kalam nie. Verder is daar geen bewys dat die heelal wel ‘n begin tot sy ontstaan gehad het nie, en val die Kalam plat.”

Daar is waarskynlik geen kosmoloog wat die standaard model van die Big Bang, gebaseer op Einstein se relatiwiteitsteorie, gebruik om oor die aanvanklike uitsetting van die heelal te praat nie. Dit beteken egter nie dat daardie uitsetting van die heelal wat ‘n aanvanklike inflasieperiode insluit voor die hitteontploffing van die oerknal (en dus ‘n gewysigde oerknalteorie) nie dui op die begin van die heelal nie. Natuurlik is daar baie teorieë hieroor (soos Hawking en Mlodinow se gravitasie-model vir die ontstaan van die heelal, en tientalle ander kwantummodelle), maar die gedagte dat die heelal nie ‘n begin gehad het nie, is tans nie naastenby bewys as die mees redelike of waarskynlike verklaring van die wiskundige data of empiriese waarneming nie. Inteendeel. Die Kalaam kosmologiese argument is daarom nie summier en onverdedigbaar vals soos skeptici dit graag wil laat klink nie.

Beste groete

Udo

2 Comments

  1. Hi Udo, ek het die vakansie boeke gelees en videos gekyk van Frank Turek. Een van sy premises is dat sekulere en christen wtenskaplikes dit vandag eens is dat die skepping wel ‘n ontstaan gehad het.
    Jou antwoord asb?

  2. Ja, sover ek kan vasstel is die meeste (natuurlik met uitsonderings) van die wêreld se voorste kosmoloë en fisici dit eens dat die heelal ʼn begin gehad het – maak nie saak wat hulle godsdienstige oortuiging sou wees nie. Maar daar is natuurlik uiteenlopende sienings oor wat die oorsaak van daardie begin sou wees.

    Ek sien van die skakels in my plasing wat juis hieroor gaan, het intussen verouderd geraak. Ek het dit intussen reggemaak – so kyk asseblief na die skakels in die volgende paragraaf soos dit hierbo voorkom:

    “Luister egter gerus self na wat Guth (sien video) en Vilenken (sien video) oor die begin van die heelal te sê het. Jy kan gerus ook William Lane Craig (waarskynlik die wêreld se beste verdediger van die Kalaam argument) se kommentaar oor kontemporêre kosmologie en die begin van die heelal lees.”

    Sien ook die volgende: http://www.hawking.org.uk/the-beginning-of-time.html

Leave a Reply to Gerrit Viljoen Cancel reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.