Wat is die verskil tussen Intelligente Ontwerp en Teïstiese Evolusie?

Hallo Udo

Kan jy asseblief vir my die verskil verduidelik tussen die idee van Intelligente Ontwerp en Teïstiese Evolusie?

Groete

WInkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek probeer graag verduidelik hoe ek die verskil sien.

Voorstaanders van Intelligente Ontwerp (IO) voer aan dat wetenskaplike navorsing ontdekkings maak van o.a. biologiese strukture wat as voorbeelde dien van “gespesifiseerde kompleksiteit” (die voorbeeld van skulpe op die strand wat ʼn boodskap uitspel). Dit beteken dat daardie strukture eienskappe openbaar wat slegs die produk van intelligensie kan wees, en nie van natuurlike prosesse of wette nie.

Voorstaanders van Teïstiese Evolusie (TE, ook soms Evolusionêre Skepping) voer aan dat die wetenskaplike navorsing daarop wys dat die meeste, indien nie al die voorbeelde van gespesifiseerde kompleksiteit, wél deur natuurlike prosesse verduidelik word. Selfs al is daar gevalle waar die prosesse nie tans verstaan word nie, is word die wetenskaplike werkswyse juis gekenmerk deur ʼn stadige, moeisame, maar volhardende strewe om sin te maak van hoe die fisiese wêreld werk.

Die basiese verskil tussen hierdie twee benaderings in God se verhouding tot die wêreld wat hy geskep het sou dus die volgende wees:

  • IO sê dat God op bepaalde momente, veral in die ontstaan van lewe en die ontwikkeling van verskillende lewensvorme op aarde, ingegryp het om bepaalde aksies uit te voer omdat die tipe wêreld wat Hy geskep het, dit noodsaak om op ʼn bepaalde manier te funksioneer.
  • TE sê dat God die heelal op so ʼn manier geskep het dat dit volgens die inherente kapasiteit waarmee Hy dit toebedeel is, kan funksioneer en ontwikkel, en waar allerlei fisiese prosesse ʼn rol speel in die ontstaan van bepaalde strukture asook die funksionering van daardie strukture.

Die vraag is nou: hoe weet ons watter een van hierdie twee verduidelikings korrek is? Beide IO en TE meen dat dit juis die wetenskaplike getuienis is wat kan lig werp op ‘n antwoord en hulle verduidelik dit so:

  • IO: Dis juis wetenskaplike navorsing wat voorbeelde ontdek het van strukture in die natuur wat nie deur natuurlike prosesse verduidelik kan word nie. God se ingryping kan dus afgelei word uit spesifieke gevalle van gespesifiseerde kompleksiteit (ʼn aanduiding van een of ander intelligente ontwerper) in die natuur.
  • TE: Wetenskaplike navorsing wys dat baie van IO se voorbeelde tog deur natuurlike prosesse verduidelik kan word. En selfs al word bepaalde strukture nie tans deur natuurlike prosesse verduidelik nie, is dit egter nie ʼn aanduiding dat dit nie ʼn natuurlike verduideliking het of kan hê nie. Die aanspraak is dat dit inherent is aan die wetenskaplike werkswyse om oor tyd vordering te maak met tergende raaisels oor hoe die fisiese wêreld werk. God se almag, wysheid en betrokkenheid kan dus gesien word in hoe Hy ʼn wêreld geskep het wat op ʼn bepaalde manier funksioneer sonder dat hy voordurend by fisiese prosesse hoef in te meng.

Waar lê IO se probleme met TE?

IO is van mening dat TE ʼn arbitrêre beperking plaas op wat ʼn Almagtige en Alwyse God in die fisiese wêreld sou gedoen het of nie gedoen het nie (God is immers ʼn God van wonderwerke wat kan kies om wonderwerke te doen). Dit lyk dus sof TE reeds vóóraf besluit is oor wat God gedoen het en nie gedoen het nie. IO is daarom van mening dat daar ontdekkings van sekere aspekte van die biologiese wêreld gemaak kan word wat in beginsel nooit deur natuurlike prosesse verklaar kan word nie bloot omdat natuurlike prosesse nie daarvoor verantwoordelik was nie.

Waar lê TE se probleme met IO?

TE is van mening dat IO heeltemal oorhaastig is in die gevolgtrekkings waartoe dit kom oor die aard van biologiese strukture in die fisiese wêreld. TE dink dat IO skuldig is aan ʼn God-van-die-gapings, waar God se ingryping as verduideliking dien vir dit wat nie tans ‘n wetenskaplike verduideliking het nie. TE dink dis ʼn groot probleem juis omdat TE meen dat navorsing reeds verduidelikings het i.t.v. natuurlike prosesse vir sommige van IO se voorbeelde van gespesifiseerde kompleksiteit. TE dink daarom dit is wetenskaplik onverantwoordelik om aspekte van ʼn ondersoek na hoe die fisiese wêreld werk, summier aan God se buitengewone ingryping toe skryf wanneer die wetenskap voor bepaalde uitdagings te staan kom.

Christene wat teïstiese evolusioniste is ontken egter nie die moontlikheid van wonderwerke of God se bonatuurlike ingryping nie. ʼn Mens kan in elk geval nie ʼn ortodokse Christen wees en die moontlikheid van wonderwerke ontken nie, soos bv. die wonderwerke rondom die historiese Jesus nie. TE is daarom nie verbind tot filosofiese naturalisme wat meen dat alle gebeurtenisse in die wêreld natuurlik verklaar móét, sál en kán word nie. TE is in beginsel oop vir die idee dat as ʼn wonderwerk plaasgevind het of as God ingegryp het in die fisiese prosesse van die natuurlike wêreld se verlede, dan kan ʼn mens deur ʼn bepaalde ondersoek (d.i. wetenskaplik forensies of histories) by ʼn punt kom waar daar inderdaad geen natuurlike verduideliking blyk te wees nie. Omdat die wetenskaplike werkswyse verbind is tot ʼn ondersoek na natuurlike prosesse, sal daar in só ʼn geval nie wetenskaplike uitsprake gemaak kan word oor wat die wetenskap nie kan verklaar nie. In so ʼn geval is daar dalk inderdaad ander verduidelikings, dalk filosofies of teologiese van aard, wat meer sin maak van die data. TE wys egter daarop dat die wetenskaplike werkswyse gereeld vordering maak soos wat ons kennis van die fisiese wêreld toeneem, en dat ʼn mens daarom baie versigtig moet wees om nie oorhaastig tot bepaalde gevolgtrekkings te kom oor watter dinge nie verduidelikings het i.t.v. van verstaanbare fisiese prosesse nie.

Waar dit problematies kan raak is wanneer wetenskaplikes na aanleiding van die formulering van bepaalde teorieë, filosofiese uitsprake begin maak. Dit is inherente aan wetenskapsbeoefening om betekenis te heg aan die wetenskaplike data wat ingesamel is. Die idee is dus om ‘n goed gemotiveerde teorie te ontwikkel wat daardie data en ook moontlike toekomstige data op die beste manier te verklaar. Die probleem is dat wetenskaplikes kan neig om aansprake te maak wat nie noodwendig werklik uit die data self afgelei kan word nie, en dus nie die wetenskaplike implikasie is van ʼn bepaalde teorie nie – dis dikwels bloot die uitvloeisel van iemand se filosofiese aannames (soos bv. dat evolusionêre prosesse sou impliseer dat God nie bestaan nie, of dat Hy nie verantwoordelik is vir wat ons in die skepping sien nie). Dis presies op hierdie punt dat ʼn mens moet kan leer om te onderskei tussen ʼn gemotiveerde wetenskaplike teorie en ʼn filosofiese uitspraak oor wat sodanige teorie sou impliseer. Maar dis ʼn ander gesprek.

Uiteindelik is daar twee vrae: 1) Kan God meganismes bewerkstellig sodat biologiese prosesse wat nodig is vir die diversifisering van lewe, totaal volgens natuurwette funksioneer? 2) Het God dit so gedoen? IO en TE het verskillende vertrekpunte oor die aard van die fisiese werklikheid wat God geskep het:

  • IO sal sê dat God, in hierdie heelal, nie volledig van natuurlike prosesse gebruik gemaak het om te skep nie omdat die eienskappe van hierdie fisiese wêreld waarin ons leef, volgens die wetenskaplike getuienis tot ons beskikking, ‘n beperking plaas op wat d.m.v. natuurlike prosesse kan gebeur. Dit impliseer niks oor God se Almag nie, dit is maar net hoe God gekies het om hierdie wêreld te skep.
  • TE sê dat God die fisiese wêreld juis met bepaalde eienskappe toebedeel het wat meganistiese evolusionêre prosesse moontlik maak (dit sou deel wees van die implikasies van iets soos ʼn kosmologiese ‘fine-tuning’), en dat die proses in sy geheel dus deur God so beplan (ontwerp) was. Die getuienis sal dus, in die mate waartoe die wetenskap vordering maak, uiteindelik algaande wys hoe die meganismes vir evolusie werk. Die aanspraak is dat baie van die voorbeelde wat IO as ontwerp in bepaalde biologiese strukture voorhou, weerlê is. Wetenskaplike ontdekkings hou nooit op nie, sodat fisiese prosesse wat tans nie verstaan word nie, nie summier buite die raamwerk van ‘n wetenskaplik verantwoordbare verduideliking geplaas moet word nie.

Wel, dis hoe ek die wesenlike verskil tussen IO en TE sou verduidelik. Ek dink daar is ʼn klomp ander faktore en nuanses wat hier ʼn rol speel, maar dit sou my kort antwoord wees.

Groete

Udo

Sien ook Wat is ‘n Christelike siening van evolusie?

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.