Wat is die verskil tussen ons siel en ons gees?

Hi Udo

Daar is hierdie idee wat ek al opgetel het by sekere Christelike outeurs (Gene Edwards, onder andere, van wie ek baie hou, maar wat beslis ‘n paar vreemde idees ook het) en in sekere charismatiese kringe dat die mens bestaan uit liggaam, siel en gees. Ek gaan dit nou hier verduidelik so goed as wat ek dit kan onthou uit een van Gene Edwards se boeke (ek kan nie die boek se naam onthou nie, dit is moontlik The Highest Life, of so iets). Die siel word gesien as jou wil, jou emosies en jou denke (“mind”) en jou gees as iets heeltemal apart daarvan. Volgens hierdie beskouing is ‘n mens se gees effektiewelik dood as jy nie ‘n wedergebore Christen is nie, en word eers lewend gemaak as jy gered word. Die gees word dan beskou as die “goeie” en die siel en die liggaam as die “slegte” (mense verwys dan daarna as “die vlees”). Ons behoort dan “uit die gees” te leef en nie “uit die vlees” nie.

Nadat ek Gene Edwards gelees het was ek nogal baie beïndruk met hierdie siening. Later het ek daaroor begin wonder. Ek dink die gevaar lê daarin dat mense die wil, denke en emosie alles as vleeslik (en dus noodwendig sleg) beskou, en dit beteken enigiets wat ons “uit ons vlees” probeer doen word afgemaak as sleg. Dit maak mense bv. nogal negatief oor apologetiek, want die denke word beskou as deel van die “vlees” wat geval het en nie die “gees” waaruit ons moet lewe nie. Wat dit presies beteken om uit die gees te lewe is nogal notoriously  moeilik om te skryf – ek was vir ‘n jaar lank baie goeie vriende met iemand in Londen wat hierdie siening baie sterk aangehang het en hoe meer ek hom gevra het om te verduidelik wat dit dan nou eintlik beteken om uit die gees te leef, op ‘n praktiese vlak, hoe meer het hy net gesê jy kan nie dit met jou vlees probeer verstaan nie! Ek het Gene Edwards se verduidelikings daarvan ook baie vaag en effe frustrerend gevind.

Nou, uiteindelik, my vraag. Weet jy wat die oorsprong van hierdie drie-voudige tipe siening van die mens se samestelling is? Die hele onderskeid tussen vlees en gees as boos en goed herinner my natuurlik aan die Griekse filosofie, so ek vermoed daar is seker invloed van daar af, maar ek wonder sommer net waar kom hierdie liggaam, siel en gees idee vandaan, en hoe dit vergelyk met die Bybel se beskouing van die mens? Maak die Jode of die Bybel hierdie onderskeid tussen siel en gees? Of is dit ‘n kunsmatige verdeling?

Ek het hierdie week weer iemand hoor praat van die liggaam/siel/gees idee en dit gebruik as ‘n motivering hoekom diere nie kan hemel toe gaan nie, want hulle het nie ‘n gees nie (en dis uiteindelik net ons gees wat hemel toe gaan, volgens die siening), en toe wonder ek sommer net weer daaroor.

Sal graag wil hoor wat jy dink.

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Baie dankie vir jou vraag, die onderwerp van die verhouding tussen siel en ligaam is nogal iets wat my interesseer, veral omdat daar so baie wollerige denke daaroor is. Terselfdertyd is dit ‘n baie komplekse saak en die “Philosohy of Mind” of “Theory of Identity” is nie ‘n maklike studieveld nie.

Jou vraag is natuurlik meer spesifiek oor die aard van die mens se immateriële self (m.a.w. dis ‘n gegewe dat jy nie ‘n materialis is wat die bestaan daarvan ontken en sou aanvoer dat ‘n persoon identies is aan sy/haar liggaam/brein nie). Die vraag is of die mens se essensiële natuur digotomies (siel en liggaam) of trigotomies (gees, siel, liggaam) verstaan moet word.

Ek dink daar is baie Christene wat met ‘n eensydige oppervlaklees sal aantoon dat die Bybel ‘n antropologiese grondslag lê waarvolgens die mens drie-delig verstaan moet word (sien 1 Thess. 5:23; Heb. 4:12; 1 Kor. 14:14). Die invloed van o.a. Watchman Nee se populêre boeke (sien veral hoofstuk 1-3 van The Spiritual Man) het ook ‘n groot rol gespeel in die aanvaarding van hierdie siening by baie Christene en jy is ook reg oor die invloed van die antieke Griekse filosowe. Ek dink egter so ‘n interpretasie is problematies juis vanweë ander Bybelse getuienis.

Natuurlik is ‘n trigotomiese verstaan van die mens ‘n moontlike interpretasie (en is ek daarom nie te dogmaties daaroor nie), maar ek dink egter dat dit tot ander valse sienings kan aanleiding gee. Een daarvan is juis dit waarna jy so vlugtig verwys: dat ‘gees’ en ‘vlees’ twee teenoorgestelde kante van die mens verteenwoordig en dat die een goed is (van God) en die ander sleg is (vanuit die mens, sondig) (hier is ondertone van die Gnostisisme asook Griekse filosofie soos jy opgemerk het). Die implikasie is verder dikwels dat daar geredeneer word dat God ons intellek systap om direk by ons ‘gees’ inspraak te lewer, en dat ons daarom nie dinge vanuit die vlees moet probeer verstaan nie (sien hierdie goeie artikel: Trichotomists, Charismatics, and 1 Corinthians 14). Hiervolgens, dus, hoe meer ‘gees’telik ons dus is, hoe minder maak die ‘vlees’like werklik saak en per implikasie dat veral ons intellek en ons liggame met suspisie bejeën moet word.

So ‘n siening van die ‘geestelike’ wat in opposisie met die ‘vleeslike’ staan (en ek sê nie almal wat ‘n drie-delige verstaan van die mens aanhang, het so ‘n siening nie), is natuurlik totaal onbybels en verseker ook filosofies naïef. God het ons doelbewus geskape as wesens met intellek, emosie, wil en liggaam (en ‘n klomp ander vermoëns) en vir al hierdie aspekte van ons menswees om in harmonie te funksioneer. Natuurlik beïnvloed die sonde al hierdie aspekte en die wisselwerking tussen hulle, maar niks daarvan het inherent ‘sleg’ geword nie. Die deel waarmee ons direk met God in interaksie tree is natuurlik die immateriële aspek van ons menswees, ons siel (dit is ook hierin dat ons na die beeld van God geskape is). Hierdie siel is egter geestelik dood totdat dit deur God lewend gemaak word (wanneer ons ons vertroue in Hom plaas) want ons is ook gemaak om in harmonie met God te leef.

My definisie van ‘gees’ is dus dat dit op die toestand/oriëntasie van ons siel dui. M.a.w., deur God se werking kry al die aspekte van ons siel (veral ons intellek, emosie en wil) by wedergeboorte ‘n nuwe fokus, ‘n ingesteldheid wat al meer in lyn kom met God se wil, ‘n oriëntasie wat nou besorg is oor die dinge van God en God self. Ek sou dus wil aanvoer dat die terme ‘gees’ en ‘siel’ ontologies (die wesenlike aard daarvan) nie op die dieselfde vlak verstaan moet word nie, maar dat dit nie na twee verskillende immateriële dele verwys nie; die ‘siel’ verwys na die mens se immateriële essensie en ‘gees’ verwys na die toestand/status van daardie siel – m.a.w. dit is ‘n Geesgebore (weergebore) siel of ‘n geestelik dooie siel.

Baie mense gebruik natuurlik die terme ‘siel’ en ‘gees’ uitwisselbaar omdat hulle bloot in die algemeen verwys na die immateriële aspek van menswees en ek dink dat dit op baie plekke in die Bybel ook so gebruik word (sien Lukas 1:46-47; Johannes 12:27; 13:21).

(Terloops, hier is twee perspektiewe oor diere en die moontlikheid van diere-siele:)

Ek dink dus dat ons uit die Bybel ‘n digotomiese antropologie daar kan stel wat die eenheid van liggaam en siel bevestig, maar nie die een na die ander reduseer nie. Jy kan hierdie saak vir jouself verder ondersoek deur na die uitgesoekte artikels hieronder te verwys:

Hier is ‘n reeks van 4 kort artikels:

Dan is daar ‘n aanhaling van ‘n stuk wat deur Anthony Hoekema geskryf is, wat beide ‘n digotomiese en trigotomiese antropologie verwerp ten gunste van ‘n ‘psigosomatiese eenheid’. Hoekema glo dat dit die mees getrou is aan ‘n Bybelse antropologie. Hoewel ek saamstem met Hoekema se gedagte dat “man is not complete without the body” (m.a.w. ons is deur God geskape om as ‘n psigosomatiese eenheid te funksioneer), sou ek nie saamstem dat daar nie tog ook ‘n ontologiese onderskeid te tref is tussen siel en liggaam nie. Sien Trichotomy or Dichotomy?

Die volgende is ‘n baie interessante artikel, My controversial view of Conditional Monism met ‘n klomp praktiese scenario’s in die tweede helfte van die artikel waarop die skrywer nie poog om al die antwoorde te hê nie. Dieselfde skrywer Michael Patton bied ook ‘n oudio-reeks aan, Humanity and Sin wat ‘n Bybelse antropologie bespreek.

William Lane Craig in sy Defenders Class het ‘n oudio-reeks The Doctrine of Man wat insiggewend is, hoewel hy net kortliks verwys (vyfde en sewende potgooi) na waarom hy ‘n digotomiese verstaan aanvaar eerder as trigotomies. William Lane Craig en J.P. Moreland se Philosophical Foundations for a Christian Worldview bespreek die kwessie van drie-deligheid en twee-ledigheid meer breedvoerig.

Luister ook na Kenneth Samples se verduidelikings:

Sien ook hierdie baie goeie artikel van J.P. Moreland ter verdediging van die bestaan van die siel (nie noodwendig oor die siel/gees onderskeid nie): Do we have souls?

Baie groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.