Hoekom sien ons nooit fisiese wonderwerke nie?

Hallo Udo

Ek het ‘n vraag rondom wonderwerke.  Ek glo met my hele hart God is ‘n God van wonderwerke en dat Hy al in my eie lewe wonderwerke gedoen het.  Ek praat nie van tasbare wonderwerke nie (bv. ek was verlam en kon weer loop, ens.) Ek praat van spirituele wonderwerke – herstel van verhoudings, onverklaarbare samelope van omstandighede, ‘n skielike uitkoms wanneer ek in ‘n doodloopstraat was, ens.

Ek het egter vrae rondom fisiese (tasbare) wonderwerke.  Baie mense het al getuig dat hulle wonderbaarlik genees is van kanker – bv. tot so ‘n mate dat die gewas nog een dag daar was en die volgende dag met die ondersoek is vasgestel die gewas is WEG. ‘n Mens lees van baie sulke gevalle.  Ses maande later is die kanker weer terug.  Dus:  geen wonderwerk? Daar is ook wonderwerke wat oor tyd plaasvind, dit weet ek uit eie ervaring, maar dit kan toegeskryf word aan mediese behandeling en medikasie. Maar hoekom hoor en sien ons nooit ooit FISIESE, TASBARE wonderwerke nie?  Bv. ‘n blinde waarvoor gebid word en hy/sy kan weer sien?  Of ‘n dowe wat na ‘n gebed weer kan hoor?  Skeptici kan mos maklik vir my sê dis wishful thinking omdat ons altyd net van ‘onsigbare’ wonderwerke getuig?  As ons sou sê dis God se manier of besluit om net onsigbare wonderwerke te verrig in ons moderne tydgleuf, kan ateïste en agnostici net weer kopskud: NOG ‘n bewys van christene se mistasting en inkonsekwentheid?

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Jy vra ʼn baie relevante vraag. Die moontlikheid en die aard van wonderwerke is, soos jy noem, iets waaroor veral skeptici dikwels baie vrae vra. In hierdie verband, as inleiding, kan jy gerus na hierdie artikel van my kyk: Twyfel oor of wonderwerke gebeur

Jy het egter ʼn spesifieke vraag: Hoekom hoor en sien ons nooit ooit FISIESE, TASBARE wonderwerke nie? M.a.w. as sulke wonderwerke gebeur, waar is die getuienis daarvoor?

Op hierdie punt moet ʼn mens dalk eers duidelikheid hê oor die volgende: Wat is die kriteria waaraan sulke getuienis moet voldoen voordat iemand sulke getuienis as geloofwaardig kan aanvaar. Byvoorbeeld, is eerstehandse, persoonlike ervaring die enigste betroubare getuienis, of is tweedehandse of selfs “derdehandse” getuienis voldoende? As dit egter die geval is dat slegs persoonlike ervaring tel, dan kan ons niemand anders ooit glo wat sê hulle het ʼn wonderwerk beleef as ons nie daardie ervaring in persoon waargeneem het of self ʼn soortgelyke ervaring gehad het nie. En tog is dit intuïtief duidelik dat iemand se persoonlike ervaring wel gronde kan bied vir geloofwaardigheid selfs al is daar geen ander ooggetuienis nie (ʼn juristiese beginsel).

My punt is bloot dat dit feit dat een spesifieke persoon nog nooit ʼn bepaalde wonderwerk beleef het nie (fisies of onsigbaar), nie enige aanduiding is van wat ander mense se ervarings is of behoort te wees nie.

Maar die vraag is steeds, is daar enige geloofwaardige getuienis vir fisiese, tasbare wonderwerke?

Wel, ʼn baie interessante en resente behandeling van die onderwerp van wonderwerke is Craig Keener se twee volume werk, Miracles –  ʼn werk van 1050 bladsye (met ‘n bibliografie van 165 bladsye). In hierdie boek is daar ʼn hoofstuk van 90 bladsye met die titel, Blindness, Inability to Walk, Death, and Nature: Some Dramatic Reports. (Kyk gerus daarna op Amazon, veral ook die inhoudsopgawe.) Dis ʼn fassinerende boek, maar wat ook al ʼn mens se eie gevolgtrekkings is op die einde van die dag, dis ʼn demonstrasie van allerlei getuienisse van mense se ervarings van fisiese wonderwerke wat nie maar net voor die voet weggepraat kan word nie.

Ek twyfel egter of selfs die bes genotuleerde verslae oor fisiese wonderwerke baie skeptici sal tevrede stel. Ek vermoed dat sulke skeptici van die begin af bevooroordeeld is teen die moontlikheid van wonderwerke sodat enige getuienis daarvoor by voorbaat verwerp word. Hoe reageer ʼn mens op sulke skeptisisme? Wel, deur na die wortels daarvan te kyk: as die Wonderwerker nie bestaan nie, dan bestaan daar ook nie wonderwerke nie, maar waarom is die skeptikus so seker dat die Wonderwerker inderdaad nie bestaan nie? Die skeptikus is ons ʼn goeie verduideliking verskuldig.

Winkelsmidt, ek weet nie of hierdie jou enigsins help nie. Vra maar gerus as ek verder oor iets moet uitbrei.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.