Wat is die verhouding tussen kennis en ervaring?

Hallo Udo

Wat is die verhouding tussen kennis en ervaring in die Christelike lewe?

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Is kennis en ervaring twee wedersyds uitsluitende terme in ʼn Christen se lewe?

Ervaring is ‘n vorm van kennis (ervaringskennis), maar beslis nie die enigste vorm van kennis nie. Daar is ook verstandskennis en nie al sulke kennis word deur ervaring opgedoen nie. Beskou byvoorbeeld die volgende stelling: “Alle kennis word deur ervaring opgedoen.” ‘n Mens neem aan dat iemand wat so ‘n stelling maak bedoel dat hy wéét dat die stelling waar is en dat hy daarom kennis het. Die vraag is nou: watter ervaring het so ‘n persoon gehad om tot die kennis te kon kom dat “alle kennis deur ervaring opgedoen word”? Ek het vermoede dat enigiemand gou sal kan insien dat so ‘n stelling nie veel gewig dra nie!

Presies dieselfde selfweerlegging vind plaas wanneer iemand sê: “Slegs ervaring kan vertrou word.” Hoe ‘ervaar’ ‘n mens dat “slegs ervaring kan vertrou word”?

Wanneer dit kom by kennis van God sluit dit beslis nie verstandskennis uit nie (vgl. Hebreërs 11:6a); daar is baie dinge wat ons van God weet sonder om dit direk te ervaar (soos o.a. dat hy nog altyd bestaan, dat hy ‘n Drie-enige God is of dat hy alwetend is). Om God egter werklik te ken behels egter veel meer as net verstandskennis –  anders glo ons nie veel meer of anders as wat demone doen nie! (vgl. Jakobus 2:19) Om ‘n persoon te ken, soos om God te ken, is baie meer as om bloot sekere dinge van so ‘n persoon te weet. Om iemand te ken is om ervaringskennis van iemand te hê, iets wat in ‘n verhouding met so ‘n persoon gebeur. Met betrekking tot God beteken dit dat ek deur die loop van die lewe onder andere ervaring opdoen van God se getrouheid, hoe hy my gebede beantwoord, hoe hy my lei, of hoe hy my liefhet. Dit beteken terselfdertyd dat ek hom sal vertrou, sal bid, sy leiding sal soek en sal wys dat ek Hom liefhet.

Jakobus se klem op geloof sowel as dade (Jakobus 2:14-26) spreek juis tot die verskil tussen verstandskennis en ervaringskennis. Geloof sonder dade, is om iets net met jou verstand te glo, sonder dat dit regtig enige impak of uitwerking in jou lewe het. Sulke verstandskennis is ‘n weerspreking van ‘n belydenis wat sê dat God ‘n realiteit in jou lewe is. Geloof wat egter tot dade aanleiding gee, maak dit moontlik om ervaringskennis van God op te doen en is die bewys van ‘n lewende verhouding met Hom.

Ervaringskennis moet egter nie met gevoelens of sensasies verwar word nie. Ek mag by tye, omdat ek deur sonde beïnvloed word of bloot omdat ek beperkte insig en kennis het, dalk nie vóél asof God my liefhet nie (ek beleef negatiewe emosies), terwyl ek uit my ervaringskennis tog ook kan wéét dat God my liefhet. Sommige Christene is egter alewig op soek na ‘n spesifieke ervaring van God en daarmee bedoel hulle bepaalde sensasies van God wat onvermydelik gepaard gaan met allerlei ‘geestelike’ manifestasies. Ek is van die oortuiging dat die soeke na sulke sensasies of emosionele belewenisse ‘n karikatuur maak van die essensie van ‘n verhouding met God en het niks te doen met ervaringskennis nie. Dink byvoorbeeld aan ‘n huweliksverhouding. Die ervaringskennis wat ek van iemand opdoen in die huwelik, deur die jare se dinge saam doen en beleef, saam dink, en saam worstel, het tog nie gebeur omdat ek opsoek was na bepaalde gevoelens of sensasies nie, maar omdat ek my huweliksmaat lief het en haar hoogste belange op die hart dra. Daar is beslis tye van ekstase of gevoelens van euforie en geluk, maar dis meestal die byproduk van ervaringskennis eerder as wat dit die fokus van ‘n spesifieke soeke is.

Kennis is nie iets slegs nie; dit hou ons ook nie noodwendig van God af weg nie, hoewel dit kan. Om kennis van God te hê (ervaringskennis) is beter as enige ander kennis wat ‘n mens kan hê, want dis hoe God ons gemaak het. Die sonde van Adam en Eva was dat hulle die begeerte na die soort kennis wat God gehad het (Genesis 3:5), bo kennis van God self gestel het (nie dat dit regtig moontlik is om kennis soos God te hê nie, maar dis die storie wat Satan aan hulle verkoop het). Deel van die kennis van God is hom te vertrou en gehoorsaam te wees, maar deur van die boom van kennis van goed en kwaad te eet, het Adam en Eva God tweede gestel. (Sien hier vir ‘n kort artikel oor die boom van kennis van goed en kwaad.)

Beste groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*