Doen my musieksmaak my skade?

Beste Udo,

Ek is ongelooflik lief vir musiek.  Dit is ‘n baie groot passie van my.  Ek sing opera, maar luister na enige musiek waarop ek kan “droom”.

Onder andere is ek baie lief vir die “new age” musiek.  Dit is baie opbouend en rustig om na te luister, en gee mens die vermoë om te dagdroom oor wat jy nog wil bereik ens.

Dit is met ander woorde baie emosionele tipe musiek.  Ek het bietjie gaan oplees oor die New Age beweging, en dit is presies wat hierdie musiek beoog om te doen.  Om die mens amper na ‘n bonatuurlike “geestelike” vlak te neem.  Dit is populêre musiek in meditasie, wat groot aandag in die beweging geniet.  Basies kom dit daarop neer dat die mens in hierdie beweging  op sy eie goedheid fokus.

Dit is nie my bedoeling om so na hierdie musiek te luister nie.  Dit is vir my mooi en strelend.  Maar nie ‘n geloofservaring nie, hoewel as ek na ‘n natuur toneel kyk en hierdie musiek speel, laat dit my amper nog nader aan die Here voel.

Wat is jou mening?  Behoort ek as Christen hierna te luister?

Baie dankie vir jou tyd.

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Dankie vir jou vraag, ek probeer graag saam met daaroor dink.

Jou liefde vir musiek is wonderlik en om daarby saam boonop musikale talent te hê, is ‘n gawe.

Ek is dit met jou eens oor die gevare van die filosofie inherent aan die New Age beweging. Bepaalde idees het bepaalde gevolge, en as Christene wil ons daarom versigtig wees waarmee ons assosieer, juis omdat dit invloed of implikasies in ons lewens kan hê. Die vraag hier ter sprake is of ‘n bepaalde musiekstyl implikasies kan hê wat ons nadelig kan beïnvloed.

Persoonlik is ek nie oortuig dat enige musiekstyl opsigself as inherent goed of sleg geklassifiseer kan word nie. Ek dink dit gaan veel eerder oor hoe musiek gebruik word, m.a.w. in watter konteks en vir watter doeleindes. Iemand kan byvoorbeeld bepaalde idees aan ‘n bepaalde musikale komposisie koppel, selfs al is dit bloot instrumentaal, maar wat tog nie uit die musiek self afgelei kan word nie. Gewoonlik vind sulke idees egter meer eksplisiet uitdrukking in die lirieke van ‘n bepaalde komposisie. En ja, die struktuur van ‘n komposisie kan opsigself emosie wek, maar ‘n emosie opsigself is nie inherent sleg of sondig nie.

Die punt wat ek probeer maak is dat enige musikale struktuur of styl opsigself moreel/geestelik neutraal is. Terselfdertyd word bepaalde style egter dikwels met bepaalde idees of selfs mense geassosieer. Dit maak van musiek ‘n baie subjektiewe aangeleentheid – wat vir een mens opbouend is, kan vir ‘n ander destruktief wees juis weens bepaalde assosiasies.

‘n Baie eenvoudige maatstaf vir enige Christen is om hom of haarself af te vra hoe ‘n bepaalde aktiwiteit (wat nie voor die hand liggend destruktief of immoreel is nie) sy of haar verhouding met die Here beïnvloed. Vir sommige persone het ‘n bepaalde musiekstyl assosiasies wat hulle dalk negatief beïnvloed  of wat hulle in bepaalde versoeking mag lei (miskien juis ook omdat dit bepaalde emosies opwek). Sulke persone gaan baie versigtiger moet wees waarna hulle luister, maar dit beteken nie dat iemand anders dieselfde stryd daarmee het nie (sien bv. 1 Kor. 8).

Wat jou spesifieke vraag dus aanbetref: mag jy as Christen na New Age musiek luister? Wel, uit wat jy geskryf het klink dit asof jy deeglik bewus is van hoe hierdie tipe musiek deur New Age aanhangers gebruik word om hul filosofie te probeer bevorder. Maar dis duidelik dat jy nie daarby inkoop as jy daarna luister nie en dis ook nie iets wat jou verhouding met die Here skade doen nie. Dit het skynbaar eerder die teenoorgestelde effek en stimuleer terselfdertyd jou kreatiwiteit. As dit die geval is en jou gewete kla jou nie aan nie, dan het jy hierin bepaalde vryheid.

Let wel, dat jou vryheid nie ander se vryheid is nie. Die probleem is dat jy nie weet hoe ander mense (Christene of nie-Christene) wat saam met jou of in jou teenwoordigheid daarna luister daardeur beïnvloed word nie. Daarom is dit tog nodig om diskresie aan die dag te lê en sensitief te wees vir mense se reaksie op dit waarna jy luister. Ek probeer nie sê jy hoef enigiets weg te steek nie, maar dat jy bloot bewus moet wees dat iets wat vir jou ‘n vryheid in Christus is, dalk vir iemand anders ‘n struikelblok kan wees (sien weer 1 Kor. 8).

Ek het vir jou ‘n paar kort artikels opgespoor wat ek dink ‘n redelik gebalanseerde benadering oor hierdie saak verteenwoordig en waarby jy dalk kan baat vind in jou denke oor hierdie saak.

How “New Age” is New Age Music?

Kyk gerus ook na die volgende reeks kort artikels, almal van dieselfde webwerf:

Wel, ek hoop dit help jou so effens.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.