Is natuurteologie enigiets werd?

Hallo Udo

In my opleeswerk het ek nog nie ‘n argument teëgekom m.b.t. die Godsbewyse vanuit die natuur of moraliteit of so, wat wys dat hierdie God die God van Christenskap moet wees nie.

Die skrywers maak altyd ‘n geloofsprong, iets in die lyn van “dit wat ek hier sien word beste deur Christenskap beantwoord”.

Kan iemand asseblief vir my leeswerk aanbeveel wat hierdie ‘gap’ oorbrug. Is dit iets wat deur wetenskap/filosofie bewys kan word, of is dit iets wat in geloof aanvaar moet word?

Dit voel vir baie keer of wat Kuyper oor die apologetiek gesê het, waar is: naamlik dat dit ‘n nuttelose oefening is, want die wat glo het nie bewyse nodig nie; en die wat nie glo nie, nie na bewyse luister nie.

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Soos jy sal weet is daar ‘n verskil is tussen God se spesifieke openbaring van Homself en Sy algemene openbaring van homself. Een gedeelte in die Bybel wat na die algemene openbaring van God verwys is Romeine 1:20:

“For since the creation of the world God’s invisible qualities—his eternal power and divine nature—have been clearly seen, being understood from what has been made, so that people are without excuse.” (NIV)

Paulus sê dat ons nog altyd, vandat God geskep het, God se onsigbare kwaliteite naamlik Sy ewige krag en sy Goddelike natuur, duidelik kon sien uit dit wat Hy geskep het. Daar is verskillende menings oor presies wat dit vir ons beteken om hierdie kwaliteite te kan ‘sien’. Maar hier is die belangrike punt om te besef. As ons van God se eienskappe kan ‘sien’ uit dit wat Hy gemaak het (‘die skepping’), dan kan dit tog nie ‘n ander God wees as wat in die Bybel aan ons voorgestel word nie.

Terselfdertyd is dit ook duidelik dat Paulus nie bedoel het dat ons alles van God kan weet deur te sien wat Hy geskep het nie. Ons kan byvoorbeeld nie daaruit weet dat daar ‘n Drie-enige God is of dat die Vader Sy Seun gestuur het om vir mense se sonde te sterf nie. Baie dinge wat ons van God en sy bedoelinge weet, weet ons slegs omdat God dit spesifiek so in Sy geskrewe Woord laat neerslag vind het.

Die vraag is dus of die eienskappe van God wat ons deur natuurteologie (die bestudering van God se algemene openbaring van homself) uiteen kan sit (deur die formulering van argumente volgens God se algemene openbaring), ooreenstem met eienkappe wat God vanself homself in Sy Woord openbaar (deur die eksegese van God se spesifieke openbaring). In sover as wat daar so ‘n ooreenstemming is, praat ons tog van dieselfde God. As dit gaan oor wat ons van God kan weet, dan is die gaping tussen wat ons van God uit sy algemene openbaring kan weet en dit wat ons uit sy spesifieke openbaring weet, nie ‘n geloofsprong nie, maar eerder ʼn verskil in die graad van kennis oor God (m.a.w. ons weet veel meer van God deur ons Sy Woord te bestudeer).

Let dus daarop dat geen argument of selfs kombinasie van argumente vanuit die natuurteologie bedoel is om enige soort omvattende beskrywing te bied van wie God is nie. So byvoorbeeld kan Moslems en Jode ook daarop aanspraak maak dat hulle God se ewige krag en Goddelike natuur in die skepping kan sien. Beteken dit dat ons vir hierdie rede nie met die Christelike God te doen het nie? Nee, Paulus probeer dan juis aandui dat niemand hulle kan verontskuldig deur te sê dat hulle nie op ‘n manier van God geweet het nie. Dit beteken egter nie dat almal alles van God kan weet wat Hy wil hê hulle moet weet deur sy algemene openbaring van homself nie. Daar is soveel meer wat God wil hê ons moet weet en waarvan ons slegs kan weet deur erns te maak met God se spesifieke openbaring – soos oor die wonderlike nuus van die Evangelie omdat God homself op ‘n baie spesifieke manier geopenbaar het.

Ek verskil ook totaal en al met die sentiment dat die apologetiek ‘n nuttelose oefening sou wees. Natuurlik moet die aard en funksie van die apologetiek reg verstaan word. Ek dink daarom dat ‘n term soos ‘Godsbewyse’ en wat dit vir sommige mense impliseer, ‘n totale karikatuur maak van ‘n korrekte toepassing en verstaan van die apologetiek.

Die apologetiek is beslis nie ‘n instrument om enigiemand te dwing om die Christelike waarheidsaansprake te aanvaar nie (ons geestelike probleem is hoofsaaklik in die wil gesetel en nie in die intellek nie). Nog minder is dit ‘n instrument waardeur selfs ‘n oortuigde intellek, ‘n Christen word. Om ‘n Christen te wees gaan oor ‘n verhouding met God en om in ‘n verhouding met God te tree, gaan oor vertroue. Om iemand anders te vertrou is ALTYD ‘n geloofsprong en ons Christelike lewe begin wanneer ons God vertrou (‘n stap van geloof) dat Jesus se soenoffer ons verhouding met Hom herstel het en ons voortaan nuwe lewens daaruit kan leef.

Hier is egter die waarde van die apologetiek. Om iemand te kan vertrou is dit vir baie mense soms eers nodig (en wysheid) om bevredigende antwoorde te kry op hul vrae oor daardie persoon: Wie is hierdie persoon? Bestaan hy regtig? Kan ek regtig iets van hom weet? En hoe weet ek dat ek iets van hom kan weet? Het hy werklik dit of dat gedoen of gesê? En as hy hier dit gesê het en daar dat, is dit dan nie ‘n teenstrydigheid nie? Kan ek hom regtig vertrou?

Hier is die punt. Waarom is dit verdag as iemand hierdie tipe vrae oor God vra, terwyl ons in ons alledaagse lewens gereeld van hierdie tipe vrae gebruik maak wanneer daar van ons gevra word om ons vertroue in iets of iemand te stel?

Al hierdie tipe vrae kan eerlike vrae wees, en as dit is, dan verdien dit eerlike antwoorde. Nie alle skeptiese persone het klaar teen God besluit nie, al gebruik sommige hul vrae soms bloot as rookskerms. Inteendeel, elke persoon wat tot geloof kom is bewys daarvan dat wat hulle eers geglo het, nie meer is wat hulle nou glo nie. Vir sommige mag hierdie proses om tot geloof te kom juis ook insluit dat sommige van hul vrae beantwoord is deur Christene wat regtig verstaan wat dit beteken om ‘n antwoord te gee aan hulle wat vra oor die hoop wat in ons leef (1 Petrus 3:15).

Beste groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.