Hoe help ek my skeptiese kind?

Geagte Udo

Ek het ‘n immer-dwalende seun van pas dertig wat elke nuwe ding wat hy op die Internet lees, aangryp asof dit evangelie is. Sy groot probleem dink ek egter, is dat hy soek na ‘n verhouding met Christus, maar dat hy met sy rede daar wil uitkom. Hy is (on)gelukkig nie met bolangse antwoorde tevrede nie. Hoe help ek hom? 

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek hoor jou bekommernis oor jou seun se twyfel en skeptisisme. En ek dink dat jy reg is – daar is baie mense wat soek na ‘n verhouding met Christus, maar omdat so ‘n verhouding ten diepste oor vertroue gaan, is baie mense huiwerig. Kan God régtig vertrou word?

Ek dink dis die vraag waarmee baie mense worstel, beide emosioneel en intellektueel. Dit is natuurlik ook so dat baie mense hulle twyfel as verskoning gebruik en God sodoende op ‘n afstand hou, maar baie ander mense se twyfelvrae is opregte pogings om sin te maak van dit wat oor God, of spesifiek dan die Christelike God soos Hy in Jesus gestalte gekry het, aan hulle vertel word. Ek weet nie in watter kategorie jou seun val nie, maar ek dink dis altyd goed om iemand die voordeel van die twyfel te gee (dat hulle soekend is) tot en met hulle die teendeel gewys het.

Dit klink of daar ‘n klomp dinge van die Christelike leer is wat jou seun verwerp omdat dit nie vir hom sin maak nie. My raad aan jou sou wees om, in jou gesprek met jou seun, te fokus op spesifiek wat hy verwerp en hoekom hy dit verwerp – eerder as om die alternatiewe idees waarna hy gryp te probeer diskrediteer. Sodoende kan ‘n mens erns maak met sy (wan)persepsies van wat die Christelike geloof leer en hom dan probeer help om by antwoorde uit te kom wat sin maak.

Ek is al lank genoeg ‘n denkende Christen om te weet dat die Christelike geloof ‘n redelike geloof is, m.a.w. dat daar van niemand verwag word om ‘n klomp irrasionele dinge te glo nie. Natuurlik is redelikheid nog nie ‘n waarborg dat iemand ‘n persoonlike verhouding met God wil hê nie, maar ten minste hoef ‘onredelikheid’ nie ‘n struikelblok daartoe te wees nie.

Beste groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.