Waar kom die Tien Gebooie vandaan?

Udo,

Kan jy my dalk verwys na enige leesstof wat handel oor die “Egyption book of the death” – ‘n konsep waarvan ek redelik pas verneem het van my seun.  Ek weet NET dit:  Daar is blykbaar deur die eeue heen al BAIE soortgelyke verhale soos dié van die Christelike geloof.  Vele tydperke is ingelui deur die geboorte van een of ander verlosser-figuur deur ‘n maagd, die persoon het ook redelik arm grootgeword, baie wysheid gehad, wonderwerke gedoen, aanspraak daarop gemaak dat hy God of ‘n godheid is, deur sy mense verwerp is, gely het, vermoor is en weer na 3 dae ‘opgestaan’ het.  Dus, die Jode se profete en die messias-voorspellings ens. ens. is eintlik maar ‘n nabootsing of aftasting van eeue-oue legendes – en DIT, sê my seun, is FEITE en hy kan nie glo ‘n geleerde persoon met ‘n gesonde verstand (ek) vee feite van die tafel af net omdat sy in ‘n geloofsgemaksone is nie. 

Ek het onderneem om ook daaroor te lees en myself te vergewis van daardie feite.  Maar ek wil nie net sy bronne lees nie.  As daar verantwoordelike leesstof hieroor bestaan en jy is bewus daarvan of kan vir my uitvind waar ek dit kan kry, sak ek baie bly wees.

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Die Egyptian Book of the Dead is ʼn antieke Egiptiese godsdienstige teks met spesifieke verwysing na die lewe na die dood – ʼn soort praktiese gids vir die onlangs afgestorwene, soos een skrywer dit beskryf. Lees die volgende toeganklike artikel (en sover ek kan aflei, godsdienstig neutraal): The Book of the Dead | A Practical Guide for the Recently Deceased

In laasgenoemde artikel is daar ook verwysing na die ooreenkomste tussen die Tien Gebooie en die sogenaamde “negative confessions” in die Ani-papirus wat deel uitmaak van die Book of the Dead wat skynbaar eeue voor die Torah geskryf is.  Die vraag is dan of Moses nie maar net die Tien Gebooie by die Egiptiese godsdienstige kultuur (waarin hy self opgevoed is) geleen het om dit deel te maak van ʼn nuwe godsdienstige denkrigting nie. Daar is verskeie menings oor presies hoe hierdie ooreenkomste verstaan moet word, maar dis nie naastenby duidelik hoe sulke ooreenskomste as sulks, ondermynend hoef te wees vir die idee dat die Tien Gebooie werklik Goddelike sanksie het nie. Die volgende kort artikel maak in hierdie verband ʼn paar geldige punte: Aren’t The Ten Commandments Based On The Egyptian Book Of The Dead?

Wat ook verdere ondersoek verdien is die idee dat die verhale van die Egiptiese gode soos Osiris en Horus en ander waarna in die Book of the Dead verwys word, die mitologiese raamwerk bied waarby ander latere godsdienstige verhale, soos o.a. die lewe en sterwe van Jesus, bloot elemente geleen het. Die punt sou dan wees dat die sogenaamde ooreenkomste tussen hierdie verhale daarop dui dat daar geen historiese onderbou aan hierdie verhale is nie. Al hierdie verhale verteenwoordig mitologie, dus ten beste geestelike lessies waarby slegs die ingewydes sal baat vind.

Die probleem is dat hierdie idee van die sogenaamde ooreenkomste weereens baie misleidend is. Die duiwel is in die details, want as ʼn mens net ʼn bietjie dieper delf as die populistiese verdagmakery waarmee skeptici hulle besig hou, dan kom ʼn mens gou agter dat die idee van ʼn Christus-mite opsigself ʼn mite is. Nadere ondersoek wys daarop dat die sogenaamde ooreenkomste en parallelle eintlik niks van die aard is nie. Omdat ek gereeld met hierdie idee van die sogenaamde ooreenkomste tussen Jesus en ander mitiese godefigure te doen kry, het ek alreeds iets daaroor op ons webwerf saamgestel. Kyk dus gerus na die lys van verwysings in hierdie plasing van my: Jesus: one of many myths?

Winkelsmidt, dis goed om te sien dat jy jou seun se skeptisisme vierkantig in die oë kyk en moeite wil doen om dit te ondersoek. Dis soveel makliker om, soos dikwels hier die geval is, maar net hande in die lug te gooi en te sê dat iemand anders se ongeloof jou koud laat. Maar die feit dat jy bereid is om ondersoek in te stel na die rede vir jou seun se skeptisisme spreek boekdele. Natuurlik wys dit dat jy ʼn ma is wat haar seun liefhet, maar dit wys ook dat die waarheid nie maar net lê by wat aan ʼn mens oorgelewer word nie, maar verseker ook by dit wat ʼn mens goeie rede het om te glo werklik so is. Ek glo dat hierdie gesindheid van jou nie by jou seun verbygaan nie.

Baie groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.