Wat glo Christene?

Hallo Udo

My seuntjie het ‘n projek oor “Godsdienste in SA,” maar die internet gee nie baie inligting in Afrikaans nie. Is dit moontlik dat iemand my kan help?

Hier is die vrae wat hy moet na vors oor die Christelike geloof:

  • Wat hulle ten opsigte van die skepping glo
  • Wat hulle ten opsigte van die dood glo
  • Hoe hulle belangrike dae vier
  • Hoe hulle aanbid
  • Hoe hulle ander behandel
  • Belangrike plekke en geboue
  • Spesiale kos wat hulle eet of klere wat hulle dra
  • Interessante inligting oor die godsdiens

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Die volgende antwoorde op jou vrae is deels my eie persoonlike verstaan en ervaring van wat dit beteken om myself ‘n Christen in Suid-Afrika te noem. Natuurlik is die Christelike geloof, net soos enige ander Godsdiens, nie honderd persent eenvormig nie en ander Christene mag dalk ander beklemtonings maak.

Skepping:  Die Christelike geloof stel dat daar ‘n God is wat as Skepper alles wat bestaan geskep het. Sommige glo dat die skeppingsverhaal in Genesis 1 van die Bybel verstaan moet word as dat God die heelal en die aarde letterlik in 6 dae geskep het en dat die heelal daarom slegs ‘n paar duisend jaar oud is. Die meerderheid siening is egter dat die skeppingsverhaal nie wetenskaplike feite probeer weergee nie, maar teologiese punte maak (en dus metafories verstaan moet word). Volgens hierdie siening is God wel die Skepper van alles wat bestaan, maar dat wetenskaplike navorsing ‘n betroubare manier is om te wys hoe God die heelal gemaak het om te funksioneer.

Die dood: Die Christelike geloof stel dat die dood nie die einde is van die mens se bestaan nie. Dit beteken egter ook nie dat ons bestem is om as liggaamlose siele soos spoke vir ewig rond te sweef nie. Net soos die Bybel vertel dat Jesus uit die dood opgestaan het en ‘n nuwe verheerlikte liggaam van God ontvang het, so gaan mense ook nuwe verheerlikte liggame kry (1 Korintiërs 15:35-58) êrens na hulle dood en gaan God die aarde herskep as ‘n nuwe tuiste vir mense (Jesaja 65:17 & 66:22, 2 Petrus 3:13, Openbaring 21:1). Volgens die Christelike geloof beteken dit egter nie dat almal op die herskepte nuwe aarde gaan leef nie, omdat nie alle mense belangstel in die God wat op ‘n baie spesifieke manier op so ‘n nuwe aarde saam met mense teenwoordig sal wees nie.

Belangrike dae: Christene kom op Sondae bymekaar as gedenking van Jesus se opstanding, as ‘n dag van rus, en as ‘n dag om saam met ander gelowiges te aanbid. Christene vier ook die kruising en opstanding van Jesus (Paasfees); dit word onderskeidelik op ‘n Vrydag en daaropvolgende Sondag gevier, op ‘n datum tussen 22 Maart en 25 April (die presiese datum verskil elke jaar). Sommige Christene vier ook Kersfees op 25 Desember in herdenking aan die geboorte van Jesus, hoewel ander dit nie doen nie in protes teen vandag se gekommersialiseerde aard daarvan.

Aanbidding: Christene aanbid God saam met mekaar veral op Sondae wanneer hulle saam lofliedere sing tot eer en verheerliking van God. Deel van hierdie gesamentlike aanbidding is ook om te luister na wat God in die Bybel aan mense geopenbaar het en gesamentlike gebed. Christene aanbid ook as individue in privaatheid deur Bybelstudie en gebed deel te maak van hul gereelde roetine.

Behandeling van ander: In die Nuwe Testament van die Bybel het Jesus die volgende opgesom as die heel belangrikste twee dinge wat van Christene verwag word: om God lief te hê met jou hele wese en jou naaste soos jouself (Matteus 22:37-40). Christene word gekenmerk deur hul liefde vir ander en om Jesus se voorbeeld soos dit in die Nuwe Testament gesien word, na te volg. Sommige mense volg Jesus nie hierin na nie en is daarom skynheilig en ongehoorsaam (en baie mense se grootste aanklag teen Christene), maar as volgelinge van Jesus Christus (die betekenis van die woord ‘Christene’), is ons nie daar om mense te veroordeel of die indruk te skep dat ons beter is as enigiemand anders nie, maar behoort ons mense te dien en hul nood te help verlig waar ons ookal kan.

Plekke en Geboue: Christene is nie geheg aan plekke of geboue nie. Die gedagte is dat elke Christen ‘n tempel van God is, dat God deur sy Gees in elke Christen woon. Christene kom dalk in kerkgeboue bymekaar om die God daar saam te aanbid, maar streng gesproke verwys die woord ‘kerk’ (‘ekklesia’ in die Grieks van die Nuwe Testament) nie na ‘n gebou of ‘n plek nie, maar eerder na mense wat as ‘n groep gelowiges bymekaar kom omdat hulle kinders van God is. Die “kerk” verwys dus na enige groep Christene wat bymekaar kom, of dit nou in ‘n gebou is of enige ander plek.

Spesiale kos en kleredrag: Daar is geen voorskriftelikheid wat die eet van bepaalde kossoorte of dra van klere aanbetref nie. Omdat die Christen sy liggaam as ‘n tempel van God beskou, is dit wel belangrik om so goed as moontlik na sy of haar liggaam om te sien deur gesond en gebalanseerd te eet en genoeg oefening en rus te kry. Wat kleredrag aanbetref is die Christen vir dieselfde rede gesteld op ‘n versorgde voorkoms, maar ‘n oordrewe klem op die uiterlike dui dikwels op ongesonde en onvolwasse perspektief. Die slaggate om te vermy sou wees om te dink dat hoe en wat jy aantrek jou meer waardig as ander maak (ons is in gelyke mate waardig voor God), of om te dink dat om jou liggaam op ‘n manier bepaalde manier te klee jy daardeur die aandag en respek van ander mense sal verdien (as Christen is jou selfbeeld nie afhanklik van wat ander mense van jou dink nie, maar oor wat God van jou dink).

Ander interessante inligting: Die Christelike geloof is nie ‘n godsdiens wat van mense vra om bloot blindelings daarin te glo sonder dat daar goeie rede is om die aansprake daarvan te aanvaar nie. Die bestaan en aard van God, die betroubaarheid van die Bybel, die identiteit van Jesus en baie ander dinge is dinge waaroor mense aangemoedig word om vrae te vra en dit te ondersoek om te sien of dit ooreenstem met hoe die werklikheid werklik is. Natuurlik is nie alle Christene se standpunte ewe ingelig en deurdag nie, maar die Christelike geloof is nie inherent ‘n absurde wêreldbeskouing wat nie rekening hou met gesonde verstand en verantwoordelike sienings nie. Inteendeel, dit bied ‘n beskouing van die wêreld wat mense op intellektuele, emosionele, sosiale en fisiese vlak sal bevredig en uitdaag om in te groei.

Kyk gerus ook na die volgende meer breedvoerige artikel: Hoe verskil die wêreld se godsdienste?

Groete

Udo