Wanneer is die wederkoms dan?

Udo,

Ek het GROOT probleem wat my rasend dryf. Ek het Christelik grootgeword, gekatkiseer, op kerkraad gedien, ens. Ek het my kinders gelowig en Christelik opgevoed, en regtig geglo. Nou op 63 jaar, nadat ek generasies en dekades BELEEF het en vir myself GESIEN het hoe al ons geslagte kom en gaan, begin ek onwillekeurig vir myself vrae van twyfel vra: waar is die wederkoms – dit kom dan nooit? Ek en my vrou was 40 jaar gelukkig getroud (albei net een huwelik waarin ek nou nog glo), en sy is nou al 3 jaar oorlede wat ek nog nie kan verwerk nie. My oupa grootjie het geglo en gewag vir die wederkoms, toe het my oupa geglo en gewag, toe het my pa geglo en gewag, en nou wag ek! Vir wat? Om ook maar net weer dood te gaan? My seun is al veertig, hy en my dogters begin nou ook al wag. Dit voel vir my dat ʼn mens gebore word om groot te word en dood te gaan en so hou die siklus maar net aan vir altyd…

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek is baie jammer om te hoor van jou vrou se afsterwe. Om vir 40 jaar gelukkig getroud te wees is baie kosbaar. Ek kan hoor dat jy haar baie mis.

Dit klink vir my dat jou vraag oor die wederkoms, baie te doen het met ʼn begeerte om weer jou vrou te sien. As gelowiges het ons inderdaad die vooruitsig om mekaar weer te sien anderkant die gordyn van die dood. En ja, die Bybel dui ook sterk op die hoop en verwagting dat Jesus terugkom om nuut te maak wat gebroke is (die nuwe aarde, sien bv. hier) in te lei.

Ek dink egter dis ʼn fout om Jesus se wederkoms te bevraagteken bloot omdat dit nie aan ons tydskedule voldoen nie. Die geskiedenis is immers vol voorbeelde van mense wat allerlei voorspellings hieroor gemaak het en telkens maar net weer teleurgesteld en ontnugterd gelaat is (om nie te praat van verleë voor ʼn skeptiese wêreld nie!). Eintlik is daar ʼn stukkie waarskuwing in die Bybel self wat al hierdie mense ongelukkig in die wind geslaan het: “Tog ken niemand die presiese datum en tyd wanneer hierdie dinge sal gebeur nie – ook nie die engele of selfs die Seun nie. Dit weet net die Vader.” (Matt 24:36 NLV).

Die vooruitsig na Jesus se wederkoms is iets wat ons as Christene wel kan en moet hê, maar dit behoort ons aktief te motiveer eerder as om ons passief te laat tob daaroor. Kom ek verduidelik met ʼn analogie.

Dis soos die president (CEO) van ʼn maatskappy wat op ʼn buitelandse besoek is om die uitbreiding en vergroting van sy maatskappy by beleggers te beding. Die werknemers weet dat hulle lewens radikaal gaan verander as die nuwe planne tot uitvoer gebring word. Die CEO het juis ter wille van die maatskappy se vooruitgang op sy sakereis vertrek. Intussen wag die werknemers op die CEO se terugkeer. En hoe doen hulle dit? Sit hulle op hulle hande en wag die tyd om? Of is hulle eerder aktief besig om alles gereed te kry vir die transformasie wat gaan plaasvind wanneer die president terugkeer?

Die verskil tussen hierdie analogie en die verwagting van Christus se wederkoms, is natuurlik dat die werknemers darem nie verwag om dood te gaan voordat die CEO terugkeer nie! Maar hier is die belangrike punt: dis juis omdat ons as Christene nie die dood sien as iets wat die verwagte en uiteindelike transformasie kan verhinder nie, dat ons nie daarvoor bang is of dit as ʼn struikelblok sien nie. Die hoop en vooruitsig bly dus dieselfde: ons sien uit na ʼn nuwe lewe saam met God (ʼn nuwe en beter maatskappy), of dit nou deur die portaal van die dood of deur die Wederkoms ingelei word. En intussen is ons aktief besig om vir hierdie nuwe lewe gereed te maak in die manier waarop ons die lewens van die mense rondom ons positief beïnvloed en hoe ons God daardeur dien, en uiteindelik dus in hoe só ʼn doel in die lewe, ook ons eie karakter bou en beïnvloed.

Jy skryf dat “ʼn mens gebore word om groot te word en dood te gaan”. Om dit op so ʼn manier te stel klink vir my na ‘n siniese perspektief wat glad nie rekening hou met die realiteit van God se wil en doel vir ons lewens nie. Dit maak tog ʼn hengse verskil om jou grootword/lewe en jou dood in die regte perspektief te plaas, een waarin God jou nie net ʼn bepaalde verantwoordelikheid gegee het nie, maar jou ook ʼn bepaalde vooruitsig gegee het. Wat ons met ons lewens doen, het waarde en betekenis juis omdat die dood nie die finale sê het in ons lewe is nie. Dink jy, as Christen, dan nie ook so nie?

Ek hoor graag van jou oor wat ek hier geskryf het.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*