Die dood en die wil van God

Hallo Udo

Daar is ʼn teenstrydigheid tussen Christene se vrees vir die dood en die “wil van God”. Ek het nog net een persoon ontmoet wat erken het dat hy nie wil hemel toe gaan nie: dit is my 6-jarige nefie wat vertel het hoe wonderlik dit in die hemel gaan wees, en hoe hy uitsien om “by Jesus” te wees. Dit was tot hy besef het dat hy moet doodgaan om daar te kom. Net daar het hy van opinie verander, want sy mamma is darem baie beter as Jesus.

Volwassenes het sulke eerlikheid verloor. Volgens die Bybel behoort geen Christen te probeer om sy lewe te verleng nie, want ons enigste begeerte moet wees om by Jesus te wees. Waarom dan dat ons enige iets sal doen om aan die lewe te bly? Mediese wetenskap maak die lyne nog dowwer. Kondisies waaraan mense slegs 30 jaar gelede sou sterf, word nou relatief maklik behandel. Dink maar aan orgaan oorplantings ens. Waarom sou ‘n Christen angstig wag dat iemand anders sterf sodat hy ‘n nuwe nier kan kry? Het God dan nie die siekte oor hom gebring sodat hy kan sterf om by Jesus te wees nie?

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Vanuit die Christelike perspektief is die mens deur God geskape om ‘n fisiese/beliggaamde bestaan te voer en is ons aardse lewens opsigself uiters waardevol en ‘n gawe van God. Geen Christen sien daarom daarna uit om te sterf nie. Iemand se dood is altyd ‘n tragiese gebeurtenis en bring ‘n skeiding tussen liggaam en siel mee, ons menswees skeur letterlik in twee. Gegewe die Christelike leer oor die lewe na die dood, is ‘n ontliggaamde bestaan in een of ander sielsvorm, daarom ‘n onnatuurlike toestand. God het mense gemaak om as ‘n psigosomatiese eenheid te funksioneer.

Waarna elke Christen egter uitsien is God se herskepping, waar ons as fisiese wesens op ‘n nuwe fisiese aarde sal leef (ja, saam met Jesus), vry van die destruktiewe invloede van sonde. Dit is die Christelike post-apokaliptiese beskouing. Daar is dus niks inherent teenstrydig om die dood te probeer vermy en te vrees nie (as die noodwendige resultaat van sonde), en terselfdertyd ook met verwagting uit te sien na die herskepping.

Oor hoe om God se rol beter te verstaan in lyding en selfs in die dood van mense, sien die volgende: As God in beheer is, hoekom lyk die wêreld so?

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.