Help, my vriend is besig om sy geloof te verloor…

Hi Udo

Ek nou al so ‘n paar maande in gesprek met ʼn vriend wat by ʼn Christelike instansie werk, maar besig is om sy geloof te verloor omdat baie vrae het oor die Bybel, God, die skepping, wetenskap, ensovoorts. Ek voel egter nie ons vorder in ons gesprekke nie. Ek is eintlik meer gemaklik met emosionele krisisse in ‘n beradingskonteks as met gesprekke soos hierdie. Om eerlik te wees voel ek bietjie uit my diepte om met hom ‘n gesprek te voer.

Ons het onlangs nogal ‘n vurige gesprek gehad en dalk is dit ook hoekom ek voel ons kom nêrens nie. Dit voel of ons elkeen maar net aan twee kante van ‘n kloof staan en op mekaar skree, elkeen met sy eie vertrekpunte.

Ek is bietjie raadop en ek weet nie eintlik of ons gesprek enigsins meer sinvol is nie. Wat dink jy staan my te doen?

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek bewonder jou volgehoue betrokkenheid by jou vriend. Ek vermoed jou volharding het juis te doen met jou pastorale hart. En die Christendom het meer mense soos jy nodig wat werklik omgee en wat werklik ‘n pad saam met ander probeer stap.

In ‘n baie ware sin is jy inderdaad ook pastoraal by jou vriend betrokke. Om oor geestelike sake saam met iemand te worstel is beslis ‘n pastorale aangeleentheid, al is die fokus in hierdie geval meer op intellektuele worsteling as op die emosionele. Dis egter juis omdat geloofsake (dit wat verband hou met die groot vrae van die lewe) ‘n mens so persoonlik raak dat dit by die meeste denkende mense ‘n intense worsteling veroorsaak (met definitiewe emosionele ondertone) wanneer hul diepste oortuigings uitgedaag en bevraagteken word. Die antwoorde op hierdie ‘lewensvrae’ het ‘n verskeidenheid implikasies vir hoe iemand oor die lewe dink, hoe hulle die lewe ervaar en hoe iemand kies om te leef. Die antwoorde op hierdie lewensvrae het byvoorbeeld ‘n impak op jou vriend se sosiale verbintenisse, om nie eers te praat van die potensiële impak op sy lewensonderhoud as hy die dag publiek te kenne sou gee dat hy die Christelike geloof vaarwel roep nie.

Jou pastorale betrokkenheid is dus beslis een waarin jy as klankbord dien vir die geestelike worsteling waarmee jou vriend besig is. In werklikheid is julle dus nie aan weerskante van ‘n kloof waar julle op mekaar skree nie (hoewel ek verstaan dat dit is hoe die situasie vir jou voel). Soos in enige pastorale konteks mag dit beter wees om te fokus op die feit dat julle aan die dieselfde kant van die kloof staan en dat julle saam ‘n weg na die oorkant van die kloof (die kwessies waarmee hy worstel) probeer vind.

Soos jy ook ongetwyfeld weet is dit egter nie jou as berader se verantwoordelikheid om iemand op ‘n manier oor die probleemkloof te probeer dra nie. Elke persoon moet self verantwoordelikheid neem vir sy situasie/probleem. Die rol van die berader is om die maniere te help ontgin wat iemand moontlik in staat kan stel om bepaalde oplossings te implementeer, en hierin kan jy maar net jou bes doen (natuurlik in biddende afhanklikheid van die Heilige Gees). Mense wat bepaalde krisisse beleef  is egter gewoonlik so vasgevang in hul omstandighede of in ‘n bepaalde denkpatroon, dat hulle eenvoudig blind is vir opsies tot hul beskikking wat as moontlike oplossings kan dien vir waarmee hulle ook al worstel. Die berader is dus nie iemand met die magiese vermoë om ander se probleme vir hulle op te los nie. Nee, die primêre rol van die berader is om moontlike opsies saam met iemand te help ondersoek, foutiewe denke te help identifiseer en onderliggende/onderdrukte emosies na die oppervlak te help bring wat ‘n hindernis mag wees vir persoonlike groei. In hierdie proses word iemand egter gelei om uiteindelik self verantwoordelikheid te aanvaar om bepaalde veranderinge (in denke en gedrag) teweeg te bring.

Jou interaksie met jou vriend is natuurlik nie heeltemal vergelykbaar met ‘n tipiese beradingsproses nie, maar tog is daar raakpunte. Die belangrikste hiervan is dat jou vriend altyd sal weet dat jy nie sy vyand is nie, maar werklik die kwessies wat hy opper saam met hom wil ondersoek en by die kern daarvan wil uitkom. Dit beteken dat jy meer vrae sal vra as wat jy dink jy antwoorde moet gee: Hoekom dink jy so? Waar kom jy daaraan? Wat bedoel jy daarmee? Hoekom is dit vir jou belangrik? Hoekom is jy so seker daarvan? Wat is jou redes daarvoor? Die punt van hierdie tipe vrae is nie om iemand vas te vra nie, maar om werklik tot begrip van iemand se standpunt en die onderliggende, diepgesetelde aannames te kom. Iemand wat vaardig is in die gebruik van vrae word beleef as iemand wat belangstel in wat ander dink (omdat hulle luister na wat gesê word en nie heeltyd bloot wil antwoorde gee op wat gesê word nie) en dit bring dikwels ‘n groter openheid en ontvanklikheid mee in latere gesprek.

Dis ook belangrik om nie vasgevang te word in die detail van al die kwessies nie, maar om so nou en dan ‘n tree terug te gee en te vra waaroor dit eintlik hier gaan, te vra na wat die onderliggende groter kwessies is wat by iemand se besware en skeptisisme ‘n pertinente rol speel. Weereens, die idee is om algaande bewus te raak van iemand se voorveronderstellings en basiese aannames en terselfdertyd waar iemand dalk foutief redeneer en ongegronde aannames maak.

Dis egter moeilik vir ‘n buitestaander om vir iemand raad te gee oor hierdie tipe sensitiwiteit en hoe om dit te bestuur. Jy is in ‘n unieke persoonlike verhouding met jou vriend en jy het al ‘n vertrouensverhouding met hom opgebou oor ‘n lang tyd, en jy het waarskynlik al ‘n gevoel vir waar die onderliggende kwessies lê. Nietemin, hier is my algemene stukkie ongevraagde advies:

  • Eerstens sou ek sê dat jou vriend die versekering moet hê dat jy sy gespreksgenoot is en nie sy vyand nie (want partykeer as die emosies hoog loop, dan kan die verhouding skade ly). Hy moet weet dat wat ook al hy uiteindelik besluit, ‘n keuse is wat jy sal respekteer en dat jy hom steeds sal aanvaar vir wie hy is as persoon. Die sleutelaspek in hoe mense die sterkste beïnvloed word is in elk geval nie eerstens die kwaliteit van enige inligting nie, maar die kwaliteit van die verhouding met daardie persoon.
  • Tweedens vereis hierdie tipe gesprek moeite en tyd — daar is ongelukkig geen kortpad hier nie. So byvoorbeeld is “the problem of evil” ‘n saak wat nie in die lees van een artikel op die web uitgesorteer gaan word nie (nie vir jou nie en ook nie vir jou vriend nie). En dan trek jy ongelukkig nog aan die kortste ent, want om dinge te bevraagteken (soos jou vriend doen) is eenvoudig honderd maal makliker as om dinge te verantwoord (soos hy van jou verwag). Dit beteken dat as jou vriend werklik besorg is oor die antwoorde, dan kan hy nie maar net van jou verwag om dit alles te verskaf nie. Hy kan self die moeite moet doen om oor die onderwerp na te lees (en as hy nie bereid is om te lees nie, dan kan hy nie kla dat dinge nie sin maak nie). Ongelukkig (maar eintlik ‘n goeie ding) beteken dit dat jy presies dieselfde leeswerk gaan moet doen, indien nie meer nie. As ons verwag dat ander die Christelike geloof ernstig sal opneem, dan moet ons wys dat ons dit self ernstig opneem.
  • Derdens is dit belangrik om te besef dat ons ander nie oortuig deur bloot die nodige inligting oor ‘n bepaalde onderwerp te verskaf nie. Daar mag allerlei nie-kognitiewe faktore wees wat maak dat iemand die Christelike wêreldbeeld onaantreklik en daarom onaanvaarbaar vind. Hierdie faktore behels dinge soos vorige ervarings (emosionele faktore), onondersoekte persepsies of selfs net iemand se voorkeure (wat ons wil of nie wil nie). M.a.w. daar is geen waarborg dat wanneer iemand net met die regte stel feite gekonfronteer word, hulle tot ander insigte gaan kom nie. Daarom is die persoonlike verhouding wat jy het so belangrik, want dis slegs in so ‘n verhouding dat jy dalk enige nie-kognitiewe faktore wat hom beïnvloed, kan help identifiseer en aanspreek. Dis slegs in jou posisie as getroue gespreksgenoot dat jy mettertyd sal kan agterkom of jou vriend se weerstand of voorbehoude dalk nie soseer met inligting te doen het nie, maar eerder met ‘n diepgewortelde verset teen wie God is. En tog is dit die geval dat selfs die mees geharde sondaar God se genade kan ontvang, en daarom kan ons niemand ooit afskryf nie – al lyk dit soms of ons insette geen vrug dra nie.

Wel, daarmee my paar opmerkings, wat jy gerus moet ignoreer as jy dink ek praat uit my beurt!

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.