Skynheiligheid en kognitiewe dissonansie

Udo,

Daar is groot gaping, besef ek in toenemende mate, tussen Christene se gedrag op Sondae en hulle optrede teenoor mekaar en ander mense gedurende die week. Die diskrepansies wat ek al hier waargeneem het, het my laat dink oor die waarde van geloof en lidmaat wees van ‘n kerk. As geloof so min, of geen, invloed het op hoe ons ons daaglikse lewe bedryf nie, watter nut het dit dan?

Verder, in my soeke na antwoorde op hierdie en ander vrae het ek wyer begin lees as die Bybel en apologetiese werke. Ek het ook nagelees omtrent die geskiedenis en herkoms van die Gereformeerde belydenisskrifte, die ontstaan van die Bybel en die vroeë kerkgeskiedenis. Die kennis wat ek hieruit opgedoen het, het daartoe gelei dat ek nie meer die Bybel as die onveranderlike, geïnspireerde en onfeilbare Woord van God kan aanvaar sonder om met myself oneerlik te wees nie. Kognitiewe dissonansie is ‘n onhoudbare toestand indien mens eerlik wil lewe. Die dissonansie tussen Christene se lewe en leer is nie net duidelik in hoe Christene teenoor mekaar optree nie. Selfs diegene wat opreg lewe kan dit nie bekostig om ten volle volgens die opdrag van JC te leef nie.

Eintlik is prediking bloot ‘n herhaling van geykte dogmatiese interpretasies van die Bybel en spreek nie praktiese aspekte van die werklikheid aan nie. Daar is geen poging om riglyne te gee oor aktuele sake uit die werklike lewe nie. Voorbeelde sluit in: 1) homoseksualiteit 2) rassisme 3) armoedeverligting 4) ekonomiese ongelykheid 5) wetenskaplike ontdekkings wat twyfel werp op voorheen aanvaarde kennis.

WInkelsmidt

 

Beste Winkelmsidt

Skynheiligheid, of die gaping tussen wat iemand sê hy glo en wat ‘n mens sou verwag iemand sal doen volgens wat hy sê hy glo, is ‘n realiteit by byna enige groepering van mense (nie net gelowige mense nie). Dis byna altyd die geval dat nie almal werklik verstaan of werklik toegewyd is aan die etos of visie waaroor ‘n groep mense saam byeenkom nie. En dan moet ‘n mens ook rekening hou met menslike tekortkominge, want ek kan werklik toegewyd wees aan iets, maar nie altyd my eie standaarde handhaaf nie. Die feit dat ek soms misluk beteken egter nie dat ek daarom nie werklik in iets glo nie of dat daardie iets nie die moeite werd is om te glo nie – dit beteken bloot dat ek ‘n mens is wat soms misluk! Dink maar aan die gemiddelde mens se intensie om gesond te leef. Dink die meeste mense werklik dat dit goed is om gereeld te oefen? Ja! Oefen die meeste mense gereeld? Nee! Beteken dit dat oefening daarom eintlik sleg is? Beteken dit dat die meeste mense nie werklik toegewyd is aan die ideaal om gereeld te oefen nie? Nee, hulle is dalk inkonsekwent (waarvoor daar verskeie redes mag wees), maar dit beteken nie noodwendig dat hulle nie probeer nie.

My doel is glad nie om skynheiligheid in die Christelike kerk op enige plek of by enige persoon te verdedig nie. Inteendeel, ons moet skynheiligheid aanspreek waar ons dit ook al vind. Maar hier is die punt. Die standaard, die essensie van die Christelike etos en visie lê nie by enige denominasie of mens nie. Mense en institusies gaan altyd teleurstel. Die vraag is in die eerste plek oor wat die Christelike etos en visie werklik is en tweedens oor hoe dit nagestreef kan word. Die sleutel vir die leef van die Christelike lewe lê by die nuwe lewe wat deur ‘n verhouding met Jesus en die inwoning van die Heilige Gees moontlik gemaak word. Jesus is die standaard vir navolging en die Heilige Gees stel ons in staat. Wie Jesus is en wat Hy gesê het is die gronde vir die Christelike etos en visie. Nie almal in die kerk verstaan dit of wil dit selfs verstaan nie. Ook is nie almal wat dit verstaan toegewyd nie. En niemand wat toegewyd is, is perfek nie. Daarom is die kerk veronderstel om ‘Christus-volgelinge’ te wees en nie die volgelinge van iets of iemand anders nie.

Enigiets waarby mense betrokke is, is onderworpe aan die tekortkominge en vooroordele van mense, want mense is feilbaar. Ons kan egter nie ‘n idee veroordeel volgens die misbruik daarvan of volgens die tekortkominge van diegene wat daarin glo nie. Die proses waaronder die Bybel ontstaan het dra die kentekens van feilbare mense, omdat God feilbare mense gebruik het om sy boodskap te kommunikeer. Maar hierdie morsige proses (ja, die Bybel het nie uit die hemel in ons skote geval nie) beteken glad nie dat God daarom nie sy intensies kon uitvoer en ‘n boodskap kon openbaar wat ons as mense as Sy Woord kan identifiseer nie. Dis omdat ons dikwels aan God wil voorskryf hoe ons sou kommunikeer as ons Hy was, dat ons allerlei probleme sien, en dikwels sonder dat ons die arrogansie van ons aanspraak besef.

Die ervaring van kognitiewe dissonansie het baie met die proses van groei te doen. Hoe meer nuwe kennis ‘n mens bekom, hoe meer word die grense van jou bestaande kennis uitgedaag. Die probleem is dat sommige mense by die eerste tekens van sulke kognitiewe dissonansie, die baba saam met die badwater uitgooi en dink dat wat hulle nog altyd geglo het vals moet wees. Die probleem is soms dat baie mense bloot nie genoeg tyd spandeer het om regtig met die kompleksiteit van die onderwerp te worstel en regtig die implikasies van hul ondersoek te probeer verstaan nie.

Terloops, daar is verskeie ander faktore, addisioneel tot die rasionele, wat ‘n rol speel by die oorsprong en toename in kognitiewe dissonansie. Nie-rasionele faktore soos positiewe of negatiewe emosionele belewenisse, die versterking of aftakeling van bepaalde interpersoonlike verbintenisse, en omstandighede wat frustrasie of bevrediging van mense se diepste begeertes meebring, is alles dinge wat ons in ‘n sekere rigting kan beïnvloed. Ek het baie simpatie met mense se intellektuele en skeptiese vrae, maar ek is nie naïef om te dink dat almal deur ‘n suiwer soeke na intellektuele bevrediging gedryf word nie (daar is ook morele en sosiale faktore wat dikwels ʼn groter rol speel as wat mense mag erken).

Dis jammer dat nie meer lidmate in hul gemeentes met meer entoesiasme aangemoedig word om wyer as die Bybel te lees en te dink nie. Dit kan die gemiddelde lidmaat baie help om aspekte van sy of haar geloofsoortuigings beter te verstaan en weg te kom van ‘n kop-in-die-sand mentaliteit. Natuurlik gaan ‘n mens ook met opponerende opinies en skeptici gekonfronteer word, maar dis te verwagte in enige studieveld. Die intellektuele tradisie van die Christendom wys egter dat Christene nie hoef weg te deins van sulke konfrontasie of opposisie nie. Wat wel beklemtoon moet word is dat ‘n dieper ondersoek nie moeiteloos en sonder volharding van enige kompleksiteit gaan sin maak nie. Miskien sien te min mense hiervoor kans en miskien is dit ook nie vir almal prakties moontlik nie.

Ek het ook baie simpatie met iemand se ervaring dat “prediking ‘n herhaling van geykte dogmatiese interpretasies van die Bybel is en nie praktiese aspekte van die werklikheid aanspreek nie”. Ek dink die gemiddelde predikant of pastoor kan dalk sulke kritiek ernstig opneem. ‘n Christelike spiritualiteit of piëteit wat nie ons daaglikse praktiese lewens raak nie of wat nie riglyne bied vir die ingewikkelde kwessies en vrae wat vanuit ons sekulêre omgewings en die breër pluralistiese samelewing aan ons gestel word nie, sal vinnig irrelevant en uitgedien raak.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.