Wat van al die teenstrydighede in die Bybel?

Udo,

Kan ons nog glo dat die Bybel regtig waar is? 

Daar is so ‘n magdom teenstrydighede en foute (nie net ‘skynbaar’ nie) in die Bybel. Ek dink aan byvoorbeeld van 2 Sam 21:19 wat sê dat Elhanan vir Goliat dood gemaak het en nie Dawid soos die storie in 1 Samuel 17 vertel nie.

Die punt is, as iemand my iets kom vertel en hy jok so ‘n bietjie of gebruik sy verbeelding om die storie ‘feitelik’ te maak vanuit sy perspektief en ek vind dit uit, dan gaan ek mos noodwendig ALLES wat hy sê in twyfel trek, dan nie? Dan gaan ek mos nie anders kan as om te wonder oor wat nou eintlik waar is en wat nie?

Nog ʼn voorbeeld. Is dit nie so dat 1 Johannes 5:7-8 in my Afrikaanse 1953-vertaling eintlik eers veel later deur iemand in die Bybel ingevoeg is nie en dat dit daarom nie werklik deel van die oorspronklike teks was nie? Nou as daar sulke tipe dinge gebeur het, dan kan ek mos nie met vertroue praat van die ‘onfeilbare’ Woord van God nie?

Ek is bewus van hoe die Bybel soos wat hy vandag daar uitsien tot stand gekom het (waarvan daar ‘n hele paar weergawes is). Ek verstaan 100% die idee van Gees-geïnspireerd.  Maar die feit is dat baie van die grondtekste of manuskripte, verse bevat wat nie in die moderne vertalings voorkom nie, en andersom.  As monnike die tekste oorgeskryf het (goed, ek weet dit was onder leiding van die Heilige Gees) kan ons die menslike faktor ignoreer soos waar addisionele sinne en woorde ingevoeg is ter wille van die verstaan daarvan?

Ek glo nog altyd dat die Woord absoluut waar is en ek glo elke woord. Wat dink jy?

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Verseker glo ek dat álles wat die Bybel ons wil leer, regtig wáár is. Maar terselfdertyd is dit ongelukkig maklik om naïef te wees wanneer dit kom by die aard van die Bybel as God se Woord. Ek verduidelik vervolgens wat ek hiermee bedoel.

Wanneer iemand na die sogenaamde “foute” of “magdom teenstrydighede” in die Bybel verwys, dan is daar dikwels soveel foute as wat daar mense is wat wil fout vind. Hoeveel van hierdie mense stel werklik belang in verantwoordelike eksegese en kontekstuele oorwegings? Dikwels is skeptici eenvoudig nie geïnteresseerd in enige vorm van harmonisering of ander verduidelikings wat beskikbaar is vir waarom daar bepaalde verskille en variasies in die teks nie. Sommige mense is baie vinnig om tot die gevolgtrekking te kom dat ʼn Bybelskrywer of selfs ʼn Bybelvertaler êrens doelbewus gejok het of verdagte motiewe gehad het en dit dan as verskoning gebruik vir waarom die ganse Bybel onbetroubaar is. (Sommige Christene verwerp eenvoudig sulke sogenaamde “verdagte” vertalings ten gunste van die “ware en getroue” vertaling.)

Verder het mense dikwels ook ‘n bepaalde persepsie van wat met die ‘Woord van God’ bedoel word wat geen ingeligte Christen handhaaf nie. Die Bybel is nie ‘n Goddelike diktaat wat uit die hemel geval het en toe in ‘n glaskas opgesluit is en soos ʼn museumstuk deur al die eeue behoue gebly het nie. Die boeke van die Bybel is almal deur ménse geskryf, omtrent 40 verskillende mense oor ‘n tydperk van amper 1500 jaar, elkeen vanuit ‘n baie spesifieke kultuur-historiese konteks, vir bepaalde doeleindes, met unieke skryfstyle en elk met hul eie ervaring van God. Om byvoorbeeld te dink dat die Bybel moet voldoen aan ons moderne standaarde vir geskiedskrywing en biografie of aan stylfigure of praktyke waaraan ons in vandag se 21 eeuse skriftelike kultuur gewoond is, is eenvoudig naïef.

Ons behoort die Bybel te lees vir wat dit werklik is en nie wat ons dink dit behóórt te wees nie. Om te bely dat die Bybel deur God geïnspireer is beteken nie dat ons nêrens onbeantwoorde vrae mag hê of nooit onduidelikheid mag hê oor sekere teksgedeeltes nie. Ons mag maar worstel met God se Woord, en dis dikwels juis as vrug van hierdie worsteling dat die Woord oopbreek en ons daardeur gevoed word. Maar hierdie worsteling is ‘n gelowige worsteling, nie ‘n verdagmakende vooroordeel wat die Bybel skuldig verklaar sonder om behoorlik na enige getuienis te luister nie.

Jy is heeltemal reg dat moderne tekskritiese navorsing daarop dui dat 1 Joh 5:7-8 met groot waarskynlikheid nie deel van die oorspronklike teks was nie (sien Wat van verdagte vertalers?). Die vraag is nou, soos jy opmerk, of ons dan nog met vertroue kan praat van die “onfeilbare” Woord van God as sulke weglatings of byvoegings of ander kopieerfoute in die Bybelse teks plaasgevind het.

Ek dink die kwessie van die Bybel se onfeilbaarheid is baie meer genuanseerd as wat baie Christene besef. Onfeilbaarheid beteken nie, soos ek reeds genoem het, dat die Bybel uit die hemel geval het asof deur die onsigbare hand van God self geskryf nie. God het die woorde van die Bybel geïnspireer, maar dit beteken nie dat God dit aan die skrywers gedikteer het soos wat Moslems glo die engel Gabriel vir Mohammed gedoen het nie. Die Bybel dra baie duidelik die kenmerke van iets wat werklik deur mense geskryf is, en boonop deur mense van hul eie tyd en met hul eie persoonlikhede en styl. Daarom dat dit soms lyk asof daar inderdaad teenstrydighede en feitelike inkorrekthede in die Bybel sou wees. Ek sê lyk, want dis juis omdat die Bybel beide ʼn menslike en ʼn Goddelike aard het, dat dit ons dwing om nie te vinnig van foute te praat asof sodanige foute God onverhoeds betrap het en dit sy doel met die Bybel ondermyn het nie. Kom ek probeer verduidelik wat ek bedoel.

Die plek om te begin is om te vra waarom God iets soos die Bybel geïnspireer het. Die Bybel wys iets van wie God is, dat Hy ons liefhet en wat Sy wil vir ons lewens is, hoe Hy ons verlos het van die mag van sonde en hoe ons in ʼn ware verhouding met ons Verlosser en Here kan leef. As dit die uiteindelike doel van inspirasie is en as die menslike aard van die Bybel terselfdertyd ʼn realiteit is, dan is daar ʼn paar belangrike sake om ingedagte te hou voordat ons van “foute” in die Bybel begin praat. Ek noem drie sulke dinge:

  • Wat is die genre waarin ‘n spesifieke gedeelte voorkom en hoe het die antieke skrywers tipies in daardie genre geskryf sodat hul onmiddellike gehoor die bedoeling sou verstaan? Een implikasie van hierdie vraag het byvoorbeeld te doen met verwysings na historiese details. Die vraag is of antieke skrywers dieselfde waarde geheg het aan dinge soos presisie en kronologie as wat vandag die standaard is vir moderne geskiedskrywing.
  • Wat is die doel waarvoor ʼn bepaalde gedeelte geskryf is? (Hierdie punt is verwant aan die kwessie van genre.) Dis byvoorbeeld eenvoudig naïef om te dink dat die Bybelse skrywers moderne uiteensettings van aspekte in die biologie of kosmologie (of enige ander moderne wetenskaplike veld) in gedagte gehad het. Hulle was mense van hul tyd en daarom gee die skrywers meestal fenomenologiese (soos dinge gesien is) en eksperiënsiële (soos dinge ervaar is) beskrywings weer om ʼn teologiese boodskap (wat ons van God en sy wil kan leer) oor te dra.
  • Is daar dalk agtergrondinligting wat in die teks ontbreek bloot omdat die skrywers nie daaroor besorg was nie, sodat skynbare teenstrydighede in spanning kan staan (of tentatief geharmoniseer kan word) sonder dat dit ʼn bepaalde boodskap of die werklikheid van ʼn bepaalde gebeurtenis hoef te ondermyn. (Sien my denkoefening: Is die Evangelies Histories Betroubaar? Terloops, die gedeeltes in die Bybel wat vir Christene seker die meeste gewig dra is die vier Evangelies, maar die Evangelies verskil ook onderling. Hier is ʼn paar perspektiewe (video-formaat) wat hierdie verskille aanspreek: Why are there differences in the gospels? (Mike Licona), Contradictions in the Bible’s accounts of Jesus (kort), Did the Gospel writers spin their accounts of Jesus?(kort))

Al hierdie dinge is faktore om in gedagte te hou wanneer ons die teks van die Bybel lees. Geen van hierdie faktore, wat aandui dat die Bybel deur mense met unieke persoonlikhede, perspektiewe en gebruike geskryf is, ondermyn egter die onfeilbare inspirasie van die Bybel en dus die spesifieke bedoeling van God se Woord nie. (Sien die volgende video wat meer uitbrei oor inspirasie en die aard van die Bybel.)

Wanneer mense allerlei foute in die Bybelse teks raaksien, dan lê die werklike probleem dikwels eerder by ‘n moderne 21 eeuse benadering tot ʼn antieke teks wat nie genoeg erns maak met wie die skrywers óf teikengehoor was of hoe hulle literêre praktyke gelyk het nie.

Maar wat van die oordrag van die Bybelse teks deur die eeue? Want hoe weet ons dat wat God geïnspireer het en oorspronklik deur mense neergeskryf is, is wat ons vandag in ons Bybels het? Trouens, ons weet reeds van talle variasies en veranderinge wat daar in die teks plaasgevind het en waarvan al die verskillende vertalings ʼn aanduiding is! Met ander woorde, aangesien geen van die oorspronklike geskrifte van die Bybel bewaar gebly het nie, hoe is die Bybel onfeilbaar as daar nie eenstemmigheid is oor wat die oorspronklike woorde was nie?

Die antwoord is dat ons inderdaad met groot sekerheid weet hoe die oorspronklike teks van die Bybel gelyk het. Dit is die wetenskaplike veld van tekskritiek (die bestudering van die duisende manuskrip-afskrifte van die oorspronklike woorde in die Bybel), waardeur daar met groot waarskynlikheid (meer as 99%) bepaal kan word hoe die oorspronklike teks gelyk het. Tekskritiese navorsing wys vir ons waar byvoegings en weglatings plaasgevind het en in meeste gevalle selfs hoekom en wanneer dit plaasgevind het. Vertalingsverskille, selfs al maak vertalers van dieselfde bronteks gebruik, kan meestal toegeskryf word aan vertalingsmetodologie en die spesifieke oogmerke van daardie metodologie. Hoewel vertalings dus dikwels mag verskil in hoe hulle iets sê, beteken dit nie dat die betekenis van wat hulle sê wesenlik gaan verskil nie.

Die implikasies hiervan vir die Bybel se onfeilbaarheid is dit: geen van die tekstuele variasies in die manuskripte-afskrifte wat ons het, beïnvloed die boodskap of bedoeling van die Bybel as God se Woord nie. Anders gestel: geen aspek van die Christelike leer word deur sulke veranderinge in die teks geraak nie. (Om meer oor tekskritiek te lees kan jy begin met die volgende artikel van my, maar waarin jy in die voetnotas verder en meer breedvoerig kan nalees oor die verskillende aspekte hier ter sprake: God se Woord en Bybelvertalings)

Dit bring my by jou vraag oor 2 Sam 21:19. Dis duidelik uit tekskritiese oorwegings dat die gedeelte in 2 Sam 21:19 ʼn kopieerfout verteenwoordig waarin die woorde “Lagmi, broer van” tydens kopiëring uitgelaat is (dit kan eintlik baie maklik gesien word deur dit met 1 Kronieke 20:5 te vergelyk).

Winkelsmidt, wat ek hoop jy egter kan begin raaksien, is dat ons die Bybel soos ons dit vandag het, nie moet vlak kyk nie. Ons het goeie rede om te kan glo in die inspirasie van die Bybel en dat dit dus werklik die Woord van God is, maar dan moet ons ook nie oningelig wees oor die spesifieke aard van die Bybel as God se Woord nie.

Ek het ʼn vermoede dat jy dalk ʼn bietjie oorweldig mag voel deur alles wat ek hier gesê het. Dis dikwels die geval as ʼn mens bewus word van kompleksiteit en dat alles nie heeltemal so eenvoudig is soos wat ʼn mens dalk gedink het nie. Ek wil jou daarom uitnooi om gerus opvolgvrae te vra en verder hieroor na te dink as jy dit nodig vind.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.