Kan ons nog ons Bybel(s) vertrou?

Hallo Udo

Ons sê die Bybel soos hy vandag daar uitsien, is die WARE Woord van God, geïnspireer deur die Heilige Gees.  Maar daar is baie verskillende weergawes van die Bybel. Nou watter een is nou die regte een?

‘n Klomp ooms het oor die eeue heen op verskillende tye in die geskiedenis bymekaargekom en besluit wat moet in en wat moet uit – en toe daaroor gestem.  Dis mos vreeslik maklik om te sê iets is waar omdat….of ‘n skrywer is deur die Heilige Gees gelei.

Terloops, wat sou jou antwoord wees oor die byvoegings (in die antieke manuskripte van die Nuwe Testament) tot die laaste 12 verse van Markus? Daardie verse verskyn nie in die oudste bestaande tekste van Markus nie. As sulke tekste sommer net later bygevoeg is, hoe weet ons wat die Woord van God is en wat nie?

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Daar is baie vertalings van die Bybel (die volle Bybel in meer as 500 verskillende tale en etlike honderde daarvan in Engels alleen). ‘n Vertaling is streng gesproke ‘n weergawe, maar alle goeie vertalings maak gebruik van dieselfde spektrum bron-dokumente. Natuurlik het ons nie meer die oorspronklike dokumente van die Bybel soos dit die heel eerste keer neergeskryf is nie. Maar die magdom manuskripkopieë wat ons wel het van die oorspronklike teks wat relatiewe kort ná die oorspronklike dateer, maak dit deur teks-kritiese navorsingsmetodes moontlik om met oorweldigende akkuraatheid te bepaal, selfs al verskil hierdie kopieë ook van mekaar, wat in die oorspronklike teks gestaan het. Hier is ‘n paar toeganklike artikels oor hierdie saak:

Wat verskillende vertalings aanbetref: In die vertalingswetenskap is daar ‘n paar basiese maar verskillende vertrekpunte oor wat ‘n goeie vertalingsmetodiek is. Elkeen van hierdie vertalingsmetodologieë het hul sterkpunte en daarom bestaan daar nie iets soos ‘n ‘perfekte’ of ‘ware’ vertaling van God se Woord nie. Beteken dit dat ons daarom nie kan uitkom by die ware boodskap en spesifieke intensie van God se Woord soos dit deur die Heilige Gees geïnspireer is nie? Nee, glad nie, sulke hiper-skeptisisme is ‘n postmoderne drogrede en vermydend van aard. Dit beteken maar net, soos ons alreeds gesien het, dat ‘n mens meer moeite moet doen met die lees van die Bybel en jou interpretasie daarvan as wat met die eerste oogopslag nodig mag blyk. (‘n Praktiese implikasie is om nie net van net een vertaling in jou lees of bestudering van die Bybel gebruik te maak nie. Ons Afrikaanse Christene is dikwels skuldig hieraan, veral diegene wat glo dat as die 1953-vertaling goed genoeg was Paulus, dan is dit goed genoeg vir ons 😉

Kyk gerus na die volgende:

Oor hoe daar besluit is oor wat moet in of uit die Bybel: Die vroeë kerk het wel periodiek bymekaar gekom, maar baie mense is geneig om ‘n karikatuur te skets van die redes vir waarom daardie vergaderings beroep is en wat daar besluit is (dis dieselfde tipe karikatuur wat by die fiksieskrywer, Dan Brown se The Da Vinci Code van so ‘n paar jaar gelede, te vinde is). Hierdie redes het ook te doen met waarom sekere dokumente beskou is as skrywes wat deur die Heilige Gees geïnspireer is. Sien die volgende om ‘n idee te kry van wat hier ter sprake is:

Rakende jou vraag oor die verse aan die einde van Markus. Bybelvertalers is lank reeds bewus van die feit dat die korter (16:8b) en langer (9-20) eindes van Markus nie deel is van die mees betroubare manuskripte van Markus nie (nog voorbeelde is Johannes 7:53-8:11 en 1 Johannes 5:7-8). In van die minder betroubare manuskripte staan dit wel en daarom sal die meeste Bybels dit ook so in hul voetnotas aandui. Hier is dus geen poging om iets weg te steek nie; hierdie dele word vir tekskritiese redes ingesluit en aangedui. (Sien gerus hierdie artikel wat iets meer verduidelik oor die bronteks van die Bybel.)

Miskien is dit goed om op hierdie punt iets meer spesifiek te sê oor tekskritiek. Die wetenskap van tekskritiek het oor die algemeen te doen met die studie van kopieë van enige dokument waarvan die oorspronklike onbekend is of nie meer bestaan nie, met die doel om die oorspronklike bewoording af te lei. Tekskritiek word ook in die Nuwe Testament gebruik omdat ons nie meer die oorspronklike manuskripte het nie en omdat geen twee kopieë daarvan heeltemal ooreenstem nie. Die verskille wat daar wel is kan in die volgende kategorieë opgesom word: 1) spelvariasies en ander onbeduidende foute [ongeveer 70% van alle variasies], 2) onbeduidende variasies wat nie vertaling beïnvloed nie of wat te doen het met sinonieme [ongeveer 20% van alle variasies], 3) variasies wat die betekenis van die teks sou beïnvloed, maar wat nie aanvaar word as deel van die oorspronklike teks nie [ongeveer 10% van alle variasies], en 4) variasies wat die betekenis van die teks beïnvloed wat afgelei probeer word maar wat nie besonder belangrik is nie [ongeveer 1% van alle variasies].

Tekskritiek het dus te doen met die proses om deur al hierdie variasies te sif om te probeer bepaal wat die oorspronklike bewoording was. Die feit dat ons so ‘n geweldige hoeveelheid kopieë het van dele regdeur die Nuwe Testament, soos jy tereg noem, maak dit moontlik om met groot akkuraatheid te bepaal wat in die oorspronklike geskryf is. Die Amerikaanse tekskritikus, Daniel Wallace en medeskrywers sê hieroor die volgende in hul boek Reinventing Jesus: How Contemporary Skeptics Miss The Real Jesus And Mislead Popular Culture:

“The wealth of material that is available for determining the wording of the original New Testament is staggering: more than fifty-seven hundred Greek New Testament manuscripts, as many as twenty thousand versions, and more than one million quotations by patristic writers. In comparison with the average ancient Greek author, the New Testament copies are well over a thousand times more plentiful. If the average-sized manuscript were two and one-­half inches thick, all the copies of the works of an average Greek author would stack up four feet high, while the copies of the New Testament would stack up to over a mile high! This is indeed an embarrassment of riches.”

Hierdie rykdom aan kopieë m.b.t. die Nuwe Testament en die resultate van die wetenskap van tekskritiek bring Wallace en kie tot die volgende gevolgtrekking:

“First, there is virtually no need for conjecture about the original wording. That is, the wording of the original text is almost always to be found in the extant (remaining) copies. Second, any uncertainty over the word­ing of the original New Testament does not have an impact on major teachings of the New Testament…There is simply no room for uncertainty about what the New Tes­tament originally taught. Whether one chooses to believe it is a dif­ferent matter… Our concern here is simply to show that the fundamental teachings of the New Testament are undisturbed by viable textual variants.”

Sir Frederick Kenyon, voormalige direkteur van die Britse Museum en een van die grootste kenners in sy veld, skryf in Our Bible and the Ancient Manuscripts:

“The number of manuscripts of the New Testament, or early translations from it in the oldest writers of the Church, is so large that it is practically certain that the true reading of every doubtful passage is preserved in some one or other of these ancient authorities. This can be said of no other ancient book in the world.”

In een van sy ander boeke, The Bible and Archaeology, sê Kenyon:

“The interval then between the dates of original composition and the earliest extant evidence becomes so small as to be in fact negligible, and the last foundation for any doubt that the Scriptures have come down to us substantially as they were written has now been removed. Both the authenticity and the general integrity of the books of the New Testament may be regarded as finally established.”

William Lane Craig merk op:

“It’s true that the NT is the best attested book in ancient history, both in terms of the number of mss. and the nearness of those mss. to the date of the original. What that goes to prove is that the text of the NT that we have today is almost exactly the same as the text as it was originally written…The text of the NT is thus about 99% established.”

Die sogenaamde foute in die Nuwe Testament is net probleme vir diegene wat nie bewus is van die implikasies of die aard van daardie foute nie. As ons regtig so ‘n groot sekerheid kan hê oor die integriteit van die Nuwe Testamentiese teks soos ons dit vandag het, soos hierbo genoem, dan doen dit geensins afbreek aan die feit dat die oorspronklike woorde deur God geïnspireer is en dat ons vandag steeds kan weet wat daardie woorde was nie. Soos ook reeds genoem is die gedeeltes waaroor daar wel twyfel bestaan, van so ‘n geringe impak op Christelike leer dat dit nie vir iemand ‘n noemenswaardige krisis hoef te wees nie. (Lees gerus die volgende baie insiggewende artikel van Daniel Wallace oor hierdie kwessie: A Bibliology Grounded in Christology)

Hier is weer ‘n paar kort video’s waarin kundiges hierdie aspekte toelig:

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.