Hoe is Jesus verbatim aangehaal as hy alleen was?

Hallo Udo

Ek het ʼn vraag. Die evangelies is eers ‘n hele aantal jare na Jesus se dood geskryf. Ek het nie vrae oor die gebeure nie; ek glo daar is genoeg getuienis daarvoor. Maar die direkte woorde van Jesus soos opgeteken in die evangelies is problematies. Gebeurtenisse kan onthou word, en sekere uitsprake dalk ook, maar hoe kon die skrywers Jesus se woorde verbatim weergee soos byvoorbeeld in Getsemane toe hy weggegaan het om alleen te gaan bid?  En dis belangrik, veral as ons kyk na Johannes 10 en ook die bergrede – dis tog baie belangrike detail wat in Jesus se woorde vervat is en waarop baie van Christelike lering geskoei is?

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

ʼn Belangrike punt om te besef wanneer ons nadink oor hoe die woorde van Jesus in die evangelies neerslag gevind het is dat die gebeure rondom Jesus se lewe en wat hy gesê het, in ʼn mondelingse kultuur onthou en oorvertel is voordat dit later neergeskryf is. Die implikasie hiervan is dat ten minste sommige van Jesus se woorde nie verbatim aangehaal word nie, maar eerder dat die kern van wat Jesus gesê en bedoel het, weergegee word. Maar terselfdertyd is dit dan, juis weens die aard van ʼn mondelingse kultuur, dat hierdie dinge met bepaalde presisie onthou was voordat dit in geskrewe vorm gegiet is. Ek het enkele aanhalings van kundiges in hierdie verband waarna jy gerus kan loer in die volgende uittreksels van ʼn groter gesprek wat ek met iemand gehad het:

Maak enige hiervan inbreuk op die idee van die gesag van die Skrif of aan Goddelike inspirasie? Wel, dis nie ooglopend duidelik waarom dit sou nie.

Jy vra egter spesifiek na hoe ons weet wat Jesus sou gesê het in die oomblikke wat hy alleen was. Wel, Jesus kon dit bloot op ʼn latere stadium aan sy dissipels vertel het, dalk omdat hy oor iets gevra is of omdat hy dit uit sy eie gesê het. Die skrywers van die Evangelies (veral Markus en Lukas wat ons weet nie twee van die twaalf dissipels was nie) het dan op hul beurt hierdie inligting by die dissipels en ander gekry en dit op ʼn bepaalde manier in hulle verhale gebruik.

Veronderstel egter die volgende scenario (volgens die sinoptiese Evangelies) rakende die gebed wat Jesus in Getsemane gebid het:

Jesus en sy dissipels kom in Getsemane aan en hy vra drie van hulle om saam met hom te gaan bid. Dan vra hy hierdie drie dissipels om saam met hom te waak en bid, terwyl hy ‘n entjie verder (‘n klipgooi verder, volgens een Evangelie-skrywer se weergawe) op sy eie gaan bid. Dan begin Jesus bid –  ‘n gebed van ongeveer drie sinne lank. ʼn Ruk later gaan Jesus na die drie dissipels terug, kry hulle aan die slaap en vra hulle dan: “Kon julle nie eers een uur saam met my wakker bly nie?”

Uit hierdie scenario is dit redelik om die volgende af te lei: Dis nie dat Jesus se gebed van drie sinne ‘n uur lank geduur het nie, maar hierdie drie sinne is skynbaar die belangrikste van wat ten minste een van die drie dissipels op ‘n afstand (ʼn klipgooi ver) kon hoor toe Jesus hardop begin bid het. Die dissipels het egter aan die slaap geraak en elke keer as Jesus hulle kom wakker maak en dan weer gaan bid het, kon hulle hoor dat hy min of meer dieselfde gebed begin bid het voordat hulle weer aan die slaap geraak het.

Is dit ‘n redelike verduideliking van wat gebeur het en waarom een van daardie drie dissipels daardie spesifieke drie sinne van Jesus se gebed kon onthou? ʼn Ander moontlikheid is miskien so eenvoudig as dat Jesus bloot self aan sy dissipels vertel het wat hy so in alle erns op daardie tragiese aand gebid het. Daar was genoeg tyd tussen sy opstanding en hemelvaart, dat hy saam met sy dissipels sou kon reflekteer oor bepaalde gebeurtenisse van daardie afgelope paar weke.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.