Groot doop of klein doop?

Hallo Udo

Watter doop is die regte een: die groot doop of die klein doop?

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Hierdie vraag is nogal iets waaroor Christene met mekaar verskil en ek dink dis goed om te probeer verstaan waar die verskille lê. My doel is nie om ʼn spesifieke siening oor die doop te onderskryf nie, maar eerder om ʼn paar misverstande uit te lig.

Kom ons begin deur eers ʼn paar terme te definieer.

Die meeste gevalle waar doop ter sprake is in die Nuwe Testament, veral in Handelinge, verwys spesifiek na volwassenes wat gedoop word en daarvandaan die term ‘groot doop’. Die term ‘groot doop’ verwys na ‘n bekeringsdoop, m.a.w. dit verwys na mense wat tot geloof in Christus gekom het. Die doop is dan ‘n teken van hul geloof: net soos water ʼn mens skoon was, so was die bloed van Christus iemand skoon van sonde (m.a.w. ons sonde word vergewe deur Jesus se sterwe aan die kruis). In die Bybelse tyd is mense dikwels by oop water gedoop en heeltemal daarin onderdompel. Die simboliek hiervan is treffend. Die dompeling onder water is simbolies van die ou mens wat sterf en begrawe word, maar dan kom daar ʼn nuwe mens uit die water op, net soos Jesus uit sy graf en uit die dood opgestaan het (sien Romeine 6:3-11).

Die term “groot doop” verwys egter nie net na ‘n doop uitsluitlik vir volwassenes nie, want selfs ook baie jong kinders kan Christus as hul Verlosser aanvaar. Wanneer mense egter praat van “die kinderdoop” of “klein doop” dan verwys hulle eintlik spesifiek na die doop van babas. Dit is natuurlik hier waar die probleem vir baie Christene lê, want hoe kan ʼn mens babas doop wat nog nie vir hulleself kan dink of besluit nie, en daarom nie die Here as hulle Verlosser kan aanvaar nie.

Vervolgens wil ek probeer verduidelik waarom, naas die bekeringsdoop, ook die doop van babas in ʼn groot deel van die Gereformeerde tradisie beoefen word (die kinderdoop word natuurlik ook in die Katolieke tradisie beoefen, maar die implikasie en betekenis daarvan word geheel en al anders verstaan – maar dis ʼn gesprek vir ʼn ander keer). Soos ek reeds genoem het is my doel nie om die siening van die doop soos baie Christene in die Gereformeerde tradisie dit verstaan as die “korrekte siening” te verdedig nie, maar bloot om ʼn paar wanpersepsies daaroor aan te spreek.

In die Gereformeerde tradisie word daar dikwels gepraat van verbondsteologie waarin daar ’n baie sterk verband getrek tussen die belofte vervat in God se verbond met Abraham en sy nageslag deur die verbondsteken van die besnydenis, en die koms van Christus as vervulling maar ook as voorsetting van daardie belofte. God se belofte aan Abraham was dat Hy vir Abraham en sy nageslag ’n God sou wees en dat al die nasies deur hom geseën sou word (Gen 17:7; 18:8,19). Hy sou deur Abraham se nageslag verseker dat al die nasies die geleentheid kry om deur geloof in Christus se werk aan die kruis, vergewing van sondes te ontvang en kinders van God te word (sien Gal 3:8-14 en Rom 4:13-16). Volgens hierdie siening is die besnydenis met die opstanding van Christus nie soseer afgeskaf nie, maar is eerder ’n vervulling van God se belofte aan Abraham. Met die opstanding van Christus word God se verbond met die mens egter voortgesit deur ’n nuwe verbondsteken, die doop. Die doop word dan die nuwe teken van God se belofte aan almal wat glo dat Christus vir hulle sonde gesterf het, dat hulle sonde vergewe is en dat hulle die Heilige Gees sal ontvang om hulle kinders van God maak.

Die belangrike punt om te verstaan met hierdie siening is dat net soos die besnydenis ’n teken was van God se inisiatief om die volk Israel Sy spesiale volk te maak en hulle te seën, net so word ook die doop ’n teken van God se inisiatief om vir die mens te doen wat hy nooit self sou kon doen nie: niemand kan die straf vir sy eie sonde dra nie en daarom neem God die inisiatief en stuur sy Seun om hierdie straf in ons plek te dra.

Toe ’n Joodse seuntjie op agt dae besny is, was dit dus ’n teken dat hy ’n verbondskind in God se volk was. As die doop volgens hierdie siening inderdaad ʼn nuwe verbondsteken van God se onveranderende genade en belofte is, hoekom sou kinders, soos in die geval van die besnydenis, dan by so ’n verbond uitgesluit wees? Wanneer Petrus dus in Handeling 2:38 vir die Jode sê dat hulle hul moet bekeer en hulle laat doop, dan is hy, volgens verbondsteologie, terselfdertyd besig om te verduidelik dat God se verbond met die mens nou deur ’n nuwe teken bevestig en voortgesit word.

Dit is uit ’n menigte ander tekste egter baie duidelik dat dit nie die handeling van die doop is wat iemand red nie (ook nie die handeling van die besnydenis in die Ou Testament nie), maar dat dit slegs die geloof is in dit waarvan die doop ʼn teken is, naamlik vergewing van sonde deur Jesus se dood aan die kruis, wat redding moontlik maak. Die belofte dat iemand wat glo, die Heilige Gees sal ontvang, word in vers 29 dus ook op die Jode se kinders (wat sekerlik babas en ander kinders sou insluit) van toepassing gemaak en selfs dan nog verder op hulle wat nie Jode is nie. Natuurlik moet die kind wat deur Christen-ouers laat doop is, sélf tot geloof kom. M.a.w. die verbondsdoop/kinderdoop gee niemand outomaties toegang tot redding nie, net soos wat die besnydenis van ’n Israelitiese seuntjie nie outomaties beteken het dat hy later noodwendig die God van Israel sou aanbid nie.

Die kinderdoop word dus gesien as ’n verbondsdoop waarby die kind van gelowige ouers deur die teken van die doop, soos in die geval van die teken van die besnydenis, by die familie van God ingereken word. Wanneer so ’n kind oud genoeg is om die betekenis van sy/haar doop beteken te verstaan, dan kan hy/sy bloot daarop reageer deur persoonlik en dankbaar te kenne te gee dat die onverdiende genade waarna die doop wys, nou ook op hom/haar van toepassing is. (Die idee met katkisasie is om kinders van gelowige ouers tot so ʼn verstaan te lei en die sogenaamde “aanneming” voor die gemeente is veronderstel om as teken te dien van so ʼn kind se persoonlike geloof en aanvaarding van God se genade.)

Die voorbeelde van bekeringsdoop in die Nuwe Testament, sou volgens verbondsteologie almal grootliks voorbeelde wees van waar veral volwasse individue blootgestel is aan die nuwe verbondsteken. Volgens hierdie verstaan van die verbond maak dit dus nie sin dat die doop so ver verwyderd sal wees van die Joodse verbondskultuur waarin die besnydenis toegepas is nie en dat kinders in alle gevalle van die doop skielik heeltemal daarvan uitgesluit sou wees nie. Hiervolgens staan die kinderdoop ook nie in teenstelling met die bekeringsdoop nie. Dit is in ’n sekere sin twee heeltemal verskillende soorte dope: die een gemik op babas wat ingelyf word om te deel in die familie van Christus en waar God se belofte oor hulle uitgespreek word; en die ander op volwassenes of ouer kinders wat tot bekering gekom het wat dalk nooit deel was van ‘n gesin waar Christus aanbid is nie. In beide gevalle dui die doop egter op presies dieselfde waarheid.

Tim Stafford verduidelik die kinderdoop soos volg:

Everyone understands and supports believers’ baptism; it is what we see practiced in the New Testament and it records well with the twentieth-century emphasis on individual, intellectual decision. It also fits well with the emphasis on “personal relationship”, for it parallels the avowals of love we make to friends and lovers. But infant baptism doesn’t fit so neatly. In fact, at first glance it does not fit at all. Babies can’t make up their minds to love Christ nor can they vow their fidelity to Christ. The fact is, they don’t even know what is being done to them, and later on, when they understand what was done to them, some want nothing to do with it. This is not a leap of recognition, since no cognition is involved.

Do we enter any committed and loving relationship this way – unconscious? As a matter of fact, we do. The longest love affair – or love quarrel – any of us has is with parents. It begins through a cataclysmic event, perhaps the most awful thing that has ever happened to us: we are born. Our mothers risk their lives to bring us through it they never forget it, and they don’t let us forget it either – we remember our birthday throughout life, even after our parents are gone. The event is remembered even though we do not remember it nor had anything to do with it. It matters because it began a new life: our life within our family.

Through childhood, I took my relationship to my parents totally for granted. I never worked at the relationship. But as an adult I have increasingly realised how much my parents formed me and form me still. I realise now what was true all along: my parents are the most important force in my life. I see others who, having poor relations with their parents, are psychologically in pieces. The relationship we enter into so unconsciously, that we take for granted, works very powerfully on us.

Did I have any choice in loving my parents? I did, but under all natural conditions the choice was a foregone conclusion. They loved me. They were part of me. Everyone expected me to grow up to love them as an adult, to volunteer consciously to continue (and grow in) the relationship that I entered as an unconscious, squirming infant. It was a choice but not an equal choice.

I hear parents say they want to let their children decide about religion for themselves. The truth is they cannot give such a choice; their children already have it. I could have chosen to reject my parents’ faith in just the same way that I could have rejected their love. The choice was mine. I also could have chosen to ruin my life. I could have estranged myself from my parents, though I would not have ceased being their son because of it. I would merely have lost all the benefits of being their son: their care, their nurture, their guidance, their company. So I would also have lost the benefits of Christ if I had chosen not to have them. But why should I?

A baby born in a truly Christian home will have a choice but not an equal choice. He will either embrace all the benefits of Christ, which he lived in from the beginning, or he will choose to leave them. It is a choice, but since Jesus is matchlessly good, we expect a positive decision. If our Christian families deserve the name of Christ, most of our children will grow to love the Lord. (Proverbs 22:6). And along the way, of course, children will pray to Jesus, he will protect them, and they will participate in the body of Christ. In effect they will be “in Christ”, enjoying the benefits of life in him as much as they are able.

Daar is baie meer te sê oor die verskeie aspekte van die doop as wat hier genoem is. Wat ek dink belangrik is om te besef is dat vir baie Christene, veral in die Gereformeerde tradisie, dit nie so eenvoudig is om te sê dat omdat die Bybel nie eksplisiet verwys na klein kinders of babas wat gedoop is nie, dit daarom nie gebeur het of ‘n onbybelse gedagte is nie. Hulle sal wil aantoon dat ’n verantwoordelike omgang met die Bybel altyd die groter konteks in ag neem (in hierdie geval is ‘n verstaan van die Ou Testamentiese besnydenis deel van hierdie konteks – sien Kolossense 2:11-12) en dit is vanuit hierdie perspektief dat daar baie Christene is wat die belangrikheid van die kinderdoop beklemtoon. (Prof. Adrio König is byvoorbeeld ʼn gereformeerde teoloog wat al baie oor die doop geskryf het.)

Terselfdertyd is daar ook baie ander Christene wat die doop nie sien as ʼn nuwe verbondsteken nie. Vir hulle het God se verbond met Israel waarvan die besnydenis ʼn teken was, geheel en al tot vervulling en tot ʼn einde gekom met Jesus se sterwe aan die kruis en opstanding uit die dood. Hiervolgens het God deur Jesus baie spesifiek kom wys dat Sy genade vir almal, Jood en heiden, beskikbaar is en dat die doop ʼn teken is van hoe enigiemand kan deel word van God se familie deur geloof in Christus, maar dat dit baie spesifiek ʼn geloofshandeling is deur die individu self.

Dit is dus duidelik dat die antwoord op die vraag na watter doop die régte een is, nie so eenvoudig is as wat baie mense dikwels dink nie. Persoonlik dink ek dat Christene oor die doop van mekaar mag verskil en dat ons mekaar nie daaroor hoef te verketter of verdag te maak nie. Die belangrike punt is egter dat geen Christen, maak nie saak watter siening van die doop jy aanhang nie, kan sê dat enigiemand bloot deur die handeling van die doop opsigself gered word nie. In beide sienings is die doop dus bloot ʼn teken van ʼn waarheid wat elke persoon op ʼn stadium vir hom of haarself in geloof kan en moet toeëien.

Groete

Udo

Sien gerus die volgende video waar bepaalde kwessies rondom die doop bespreek word: Naked Bible – Baptism (Dr. Michael Heiser)

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.