Moslem-kritiek teen die Christelike geloof

Goeie dag

Ek is die afgelope sewe jaar woon en werk in ‘n Moslem geloofsland in die Midde Ooste. Ek was telkens gedurende die periode met Islam gelowiges in gesprek oor die geloof. Ek was ook ‘n objek van beïnvloeding met die doel om die geloof aan te neem. Nodeloos om te sê en met baie genade, het ek dit nie gedoen nie.

As deel van die beïnvloedingsproses, het ‘n kollega vir my ‘n boekie getiteld “The True Message of Jesus Christ” deur Dr Abu Ameenah Bilal Philips gegee om te lees. Ek het dit gedeeltes daaruit gelees en dit het bepaalde vrae by my laat opdoem wat ek graag aan u wil voorlê. (Genadiglik laat hierdie land nie-Moslem gelowiges toe om hul eie geloof te beoefen)

Philips voer ‘n paar sterk argumente aan waarin hy aantoon dat die Bybel (spesifiek die King James weergawe) uitsprake maak wat in konflik met mekaar staan. So bv. beweer hy dat volgens Markus 16:1-2, het Maria Magdalena saam met Maria, Jesus se moeder en ook Salome, op die eerste dag van die week na Jesus se graf gegaan teen sonsopkoms. Dan beweer Philips dat, volgens Johannes 20:1 het Maria Magdalena na Jesus se graf gegaan terwyl dit nog donker was. 

Hierdie is slegs een van aantal weersprekende teks gedeeltes wat Philips in die boek aandui en wat Philips dus gebruik om twyfel te wil skep oor die betroubaarheid van die Bybel.

My reaksie hierop is as volg. In die geval van die vroue se besoek aan die graf, watter verskil sal dit maak aan my saligheid as ek glo die vroue teen sonsopkoms of in die nag, die graf besoek het? Met ander woorde, so ʼn weerspreking gaan tog nie my saligheid beïnvloed nie. Daar is tog baie en omvattende getuienis dat my geloof soos ek dit glo, voldoende is vir my saligheid.

Verder: Philips beweer dat Jesus oor die Profeet Mohammed geprofeteer het. Ook dat Jesus sou gesê dat die Profeet Mohammed die laaste Profeet sou wees wat die aarde sou bewandel. Is dit waar?

In ‘n ander gedeelte van Philips se boek beweer hy dat die Onse Vader gebed nie die woorde van Jesus is nie. Hy skryf dat slegs die woord “Vader” uit Jesus se woordeskat gekom het.

Uit die aard van die saak, probeer Philips die oortuiging van die “nie-Goddelikheid” van Jesus opnuut bevestig. Dit is wel bekend dat dit juis ‘n punt van fundamentele verskil tussen Christen en Moslem geloofsoortuiging is. Hoe hanteer ek die argument teenoor my Moslem gelowiges?

Omdat ek nie voldoende onderrig is om die argumente van Moslem gelowiges en Philips te weerlê of teen argumente aan te voer nie, handhaaf ek die volgende uitgangspunt: “God says it, the Bible confirms it, and that settles it.”

Ek het verseker ook al gewonder of hierdie filosofie nie ‘n maklike uitweg is nie omdat ek nie genoeg kennis van die Bybel het nie. Ek het dus al gewonder of ek in ‘n debat betrokke moet raak al dan nie.

Ek is daarvan bewus dat al hoe meer Suid-Afrikaners ‘n werksheenkome in die Midde Ooste vind. Ek wil dus voorstel dat AntWoord dit dalk oorweeg om mense behoorlik in te lig oor die geloofskwessies ter sprake aangesien dit ‘n baie belangrike deel van elke mens se lewe is.

Ek verneem graag weer van AntWoord.

Groete en baie seën op AntWoord se werk.

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Dankie vir jou volgehoue ondersteuning van AntWoord – ons waardeer dit.

Ek is dankbaar dat jy vasstaan onder die subtiele of minder subtiele beïnvloeding! En natuurlik is jy heeltemal reg: die doel met polemiese literatuur is inderdaad om twyfel te bring. Daar is nie in opsigself daarmee iets fout nie, want as iets die waarheid is dan behoort dit die toets van kritiese ondersoek te deurstaan. Die probleem is net dat die gemiddelde persoon dikwels nie die toegang of die tyd het om sulke twisskrywes behoorlik te evalueer nie.

Terloops, ek dink dit is goeie praktyk (en regverdig) om wanneer jy gevra word om iets te lees deur ʼn Moslem-skrywer, daardie persoon dieselfde guns te vra met ʼn aanbevole boek deur ʼn Christen-skrywer. Dit hoef nie ʼn boek te wees wat krities omgaan met Islam of die Koran nie, dit kan ʼn boek wees wat die tipiese kwessies aanspreek waarmee Moslems worstel: dinge soos die betroubaarheid van die Nuwe Testament, die konsep van die Drie-eenheid of Jesus se Inkarnasie, of die Christelike verstaan van verlossing. Die doel is nie om die Moslem summier te oortuig dat dit wáár is nie, maar eerder om die Moslem eers te help verstaan wát Christene wérklik glo. Baie Moslems hou hulle besig met allerlei karikature van die Christelike geloof (en dis natuurlik net so waar van ons verstaan van Islam en die Koran, en ongelukkig dikwels selfs van ons eie geloof!) dat dit kan sinvol wees om te begin deur sulke karikature op ʼn nie-verdedigende manier aan te spreek (sien bv. my kommentaar op hierdie gesprek).

Jy noem ʼn paar kwessies wat Philips aanraak om die geloofwaardigheid van die Bybel te probeer ondermyn.

Eerstens ʼn paar opmerkings oor die tyd van die vroue se aankoms by die graf.

Jy is heeltemal reg dat die vraag oor die presiese details van wanneer die vroue by die graf aangekom het, nie summier die kern-gebeure ondermyn nie. Inteendeel, ʼn mens sou juis verwag dat verskillende mense effens verskillende details sal gee rondom ʼn bepaalde gebeurtenis (ʼn mens noem dit ooggetuie-vooroordeel of eye-witness bias). Sien bv. die volgende artikel waarin ek hierdie punt probeer maak het: Is die Evangelies histories betroubaar?

As uitbreiding op die vorige punt. Die verskille hier is nie eers naastenby ʼn aanduiding van teenstrydigheid nie. Dis baie duidelik uit al drie tekste dat die tyd van die vroue se aankoms by die graf te doen het met die proses van “dagbreek”. Soos met die konsep “skemer” veronderstel dit per definisie ʼn sekere mate van speling, dat mense se ervaring verskillend gaan wees: óf hulle dit as lig of donker ervaar het, wáár hulle dit so ervaar het en hóé hulle later daarna sou verwys.

Daar is ander pogings tot harmonisering (sien hier en hier), maar weens laasgenoemde punt is ek nie seker of dit eers nodig is nie.

Ek dink skeptici het dikwels ʼn hele spul aannames oor hoe ʼn geskrif (of ʼn versameling geskrifte) moet lyk wat deur God geïnspireer is. Baie van die sogenaamde “foute” in die Bybel is meestal foute vir iemand wat dink hy weet presies hoe die Bybel moes gelyk het as dit deur God geïnspireer sou gewees het. Die vermetelheid van so ʼn siening is skreiend. Boonop is die idee van die Bybel se inspirasie nie eers naastenby dieselfde as hoe die Koran deur die engel Gabriel aan Mohammed gedikteer sou gewees het nie.

Dan jou vraag oor of Jesus oor die Profeet Mohammed geprofeteer het? Hierdie idee het te doen met die verdraaiing van die woord “parakletos” en ander eksegetiese stommiteite in vier gedeeltes van die Johannes-evangelie. John Gilchrist, met wie ons dikwels nou saamwerk en wat ʼn leeftyd se ervaring het met uitreik na Moslems, hanteer hierdie kwessie op die volgende plekke:

In verwysing na die Onse Vader praat Philips oor “a group of theologians from the major Protestant sects, along with noted Roman Catholic Biblical scholars in the United States” (p.9). Wie was hierdie geleerdes? Hulle is almal deel van ʼn groep was as “The Jesus Seminar” bekend staan en verteenwoordig nie eers naastenby die konsensus van Bybelwetenskaplikes nie. Hul bevindinge is in ʼn boek gepubliseer met die naam The Five Gospels: What Did Jesus Really Say? Om meer uit te vind oor wat hulle sê en waarom hulle dit sê en hoekomhulle nie besonder ernstig opgeneem word nie, kan jy gerus na die volgende drie artikels kyk:

Jy vra oor hoe jy iets soos die nie-Goddelikheid van Jesus met ʼn Moslem sou hanteer. Wel, daar is eintlik nie ʼn maklike antwoord hierop nie, want om te leer om effektief met Moslems te kommunikeer, gaan tyd en moeite verg. As daar een plek is wat ek kan aanbeveel waar jy moontlik kan begin, dan is dit op die volgende webblad: http://answering-islam.org/Christians/index.html (Kyk veral na die skakels onder die opskrif Training and Seminar Materials waar jy waardevolle inligting sal kry vir ʼn wye reeks kwessies in gesprekke met Moslems.)

Laastens. Om die Bybel te aanvaar as die Woord van God en nie daaroor twyfel te hê nie, is sekerlik moontlik. Baie Christene word skynbaar nie gekwel oor al die kritiese vrae wat ander mense vra nie. Maar hier is die probleem. Die Christelike lewe gaan nie maar net oor ons eie persoonlike sekerheid nie, dit gaan ook oor ʼn uitreik na ander met die Goeie Nuus! En tog is dit heeltemal verstaanbaar dat mense nie sommer die eerste en beste aanspraak op “goeie nuus” vir soetkoek gaan opeet nie. Soms het mense regtig eerlike vrae en geldige worstelinge, of wanpersepsies en vooropgestelde idees wat dit soms vir hulle moeilik maak om werklik te hoor en verstaan wat ons sê. Dit is hier waar ʼn naïewe tipe geloof (geloof sonder kennis) nie vir sulke mense van enige hulp kan wees nie.

Ten spyte van wat baie mense dink is geloof en kennis nie opponerende begrippe nie. Maar om ʼn hart te hê vir ander en om kennis te bekom is om geduld en volharding aan die dag te lê en stelselmatig met die kwessies te worstel waarmee die mense óm jou worstel. Natuurlik is dit ʼn lang en moeitevolle proses. Maar waarom sal ʼn bestudering van die Bybel en die kennis wat ʼn mens sodoende opdoen, makliker wees as ʼn studie van enigiets anders? Of wie het gesê dat dit gaan maklik wees om met mense oor hul diepste vrese en hoop te gesels? En dit sou my vraag wees aan enige Christen wat in die Midde Ooste gaan werk: Is jy voorbereid vir die uitdagings en geleenthede wat dit jou bied wanneer dit kom by belangrike sake soos wie God is en hoe hy homself geopenbaar het? Daar is genoeg bronne om ingelig te raak, maar dit gebeur natuurlik nie vanself nie.

Laat weet gerus as jy verdere vrae het.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*