Is daar sukses in debatte?

Hallo Andre en Marianne

Dankie vir julle sinvolle aanbiedings by Kerksondermure die afgelope Sondae.

Julle doen baie moeite en julle materiaal beïndruk ‘n mens. Ek het baie geleer en waardeer julle spanpoging en wyse waarop julle dit doen.

Maar ek het ‘n eerlike vraag:

Ek beleef dat ek nog selde, indien ooit, self in die soort debatte kon vorder. Ek beleef mense wat hierdie soort vrae vra of stellings maak, is selde oop om oortuig te word tot ‘n ander geloofstandpunt as die wat hulle reeds ingeneem het.

Het julle enige ervaring van “suksesse” hiermee?

My oortuiging is dat ons roeping as gelowige eerder is om te getuig, as te oortuig.

As die Heilige Gees nie oortuig van sonde en geregtigheid nie, gaan my debatspunte nie hond haaraf maak nie. Wat is julle gedagtes hieroor?

Ek is tans in so ‘n paar Fb en epos debatte, maar voel ek mors my tyd in meeste gevalle. Ek voel veral mense wat die evangelie gehoor het, maar dit steeds verwerp, maak dat ek nie meer verantwoordelik hoef te voel om steeds met hulle aan te hou nie.

Groete,

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Andre en Marianne sal self ook op jou vraag reageer, maar ek gee graag ook my perspektief op jou vraag.

Jy is natuurlik heeltemal reg: dit is die Heilige Gees wat oortuig van sonde en wat wedergeboorte moontlik maak. En tog sou ek wou aanvoer dat die Heilige Gees se werk in iemand se lewe nie in kontras staan nie, maar in tandem kan plaasvind, met pogings om die redelikheid van die waarheidsaansprake van die Christelike geloof aan mense voor te hou. Trouens, deur die Heilige Gees se werk in iemand se lewe kan sulke pogings juis tot hul voordeel wees. Wanneer ons dit besef dan is ons pogings nie daarop gemik om ander te probeer oortuig nie, maar is ons inderdaad eerder besig om te getuig (oor die redelikheid van die waarheidsaansprake van die Christelike geloof).

Maar jy maak ʼn belangrike punt. Vir sommige mense maak dit inderdaad geen verskil of die Christelike aansprake waar is of nie. En hier sal ek jou inderdaad aanmoedig om diskresie aan die dag te lê en nie aan te hou karring aan mense wat duidelik wys dat hulle nie belangstel in konstruktiewe gesprek of redelikheid nie. Jy sal natuurlike elke geval op meriete moet beoordeel, maar hier is dalk ʼn paar riglyne:

Tog is die vraag: is daar nie ook mense wat wel eerlik worstel met vrae en twyfel vir wie dit ʼn werklike verskil gaan maak om in aanraking te kom met die redelikheid van Christelike waarheidsaansprake nie? Uit ervaring weet ek dat dit inderdaad so is (selfs al is net die hoeveelheid en tipe vrae wat ons by AntWoord kry ‘n aanduiding). Tog is dit baie moeilik om die onmiddellike of langtermyn impak van ons interaksie met mense te meet. Daarom is “sukses” ʼn baie relatiewe term en kan dit verskillende dinge beteken met betrekking tot verskillende mense en ten opsigte van spesifieke dinge waarmee hulle worstel.

Dan wil ek ook iets sê oor die plek van die evangelie in verhouding tot die apologetiek. Ek het dit voorheen soos volg verduidelik: Baie mense se vrae en twyfel spreek van ‘n behoefte om te bepaal wat die feite werklik is. As ons as Christene dus nie die moeite doen, in afhanklikheid van die Heilige Gees, om sulke mense ook te help om sin te maak van die breër konteks van die evangelie nie, het ons dan werklik die evangelie gekommunikeer as hulle sukkel om daarvan sin te maak? Dit help nie ons vertel net die evangelie nie, want “vertel” veronderstel nie noodwendig “gehoor” nie. Natuurlik is dit die Heilige Gees se werk om te oortuig van sonde en natuurlik wil nie almal werklik hoor nie. Tog is daar baie dinge wat mag maak dat mense nie die evangelie werklik kan hoor nie (soos, byvoorbeeld, vrae rondom die oorsprong en betroubaarheid van die Bybelse teks). Dis juis omdat God se liefde vir mense in ons is, dat ons hulle vrae ernstig opneem.

Hiermee ʼn paar van my eie gedagtes oor jou vraag. Maar ek is seker Andre en Marianne sal ook uit hul eie ervaring kan antwoord.

Groete

Udo

 

Beste Winkelsmidt

Baie dankie vir jou e-pos en vir jou eerlike vraag. Dit is lekker om weer van jou te hoor en ek sal graag hierdie gesprek met jou verder vat soos wat jy lus is. Ek waardeer jou positiewe kommentaar en ek moet sê dat dit vir ons almal ‘n absolute voorreg was om by KSM te kon deelneem.

Ek hou baie van Udo se insette hier bo en ek stem met alles saam wat hy sê, ek gaan self ‘n paar gedagtes neerskryf wat hier en daar gaan herhaal, maar dit sou my eerste reaksie wees op jou vraag.

Ons almal sien apologetiek as pre-evangelisasie (om direk te vertaal).  Dus gaan dit oor die evangelie en jy sal hoor ons het elke week probeer om ons praatjie na die evangelie toe te link.  Die beste beskrywing wat ek nog gehoor het is dat in baie mense se koppe Christenskap nie eens ‘n kans het om geloofwaardig waar te kan wees nie (dit is dus nie “plausible” nie).  Ons werk is dus om van die “plausibility structures” in plek te help sit sodat Christenskap weer vir mense ‘n geloofwaardige opsie kan word.  Ek sou sê dat dit presies is wat ons Paulus in byvoorbeeld Handelinge 17 sien doen.  Dit is ook waar dat apologetiek wat nie na Jesus to wys en lei nie, ‘n leë intellektuele aktiwiteit is.  Die kerk is egter in my opinie nie in ‘n fase waar ons oor-intellektueel is nie, maar eerder anti-intellektueel en soos ons die eerste aand sê dink BAIE Christene dat geloof beteken om iets te glo wat jy dink dalk nie waar is nie.  Dit is nie die Christelike geloof nie.

Ons tree ook hoofsaaklik met twee groepe mense in gesprek (wat op ‘n glyskaal teenoor mekaar lê).  Aan die een kant die geheel en al oortuigde Christene en aan die ander kant mense wat geheel en al ateïsties (of iets anders) is.  Ons rol met die twee groepe is verwant maar verskillend.  Ons het die afgelope drie weke aan Christene probeer wys dat ons geloof in waarheid gewortel is (natuurlik uiteindelik in die Waarheid).  Christene moet weet dat hulle mag en moet dink en dat daar baie goeie insette oor elke vraag uit die Christelike perspektief beskikbaar is.  Aan die ander kant kan mens met skeptici van verskillende soorte gesels.  Ek en Udo sal vir jou van baie verskillende soorte kan vertel, maar soos Udo in sy artikels uitwys is die belangrikste vraag of iemand wel besig is met en oop is vir ‘n geestelike reis.  Indien nie kan mens hulle nie skuif nie en is dit vir hulle ‘n soort van intellektuele speletjie.  Aan die ander kant het ek al heelwat mense ontmoet wat bereid is om na regte antwoorde en insette op regte vrae te luister en om dan selfs hulle opinies te verander (of ten minste te skuif).  Die klomp wat jy op die internet mee gesels is bykans die moeilikste groep om mee te praat.  Die internet is onpersoonlik en in my ervaring is internet ateïste onmoontlik om te skuif, omdat hulle nie bereid is om te skuif nie.

Soos met al die dele van die liggaam van Christus, is apologete, net een deeltjie en saam vorm ons die liggaam.  Ons dink elke gelowige moet kan evangeliseer en elkeen moet basiese vrae kan beantwoord, maar apologetiek en ‘n apologetiese benadering is verseker nie almal se roeping nie.  Dit is egter wel dieselfde Gees wat een toerus vir die een werk en iemand anders vir die ander.  Ons stem ook geheel en al saam dat die HG oortuig en bewerk bekering.  Niemand word in die Koninkryk in geargumenteer nie alhoewel sekeres nie sal inkom as hulle nie ten minste redelik oortuig is dat die Evangelie waar is nie.

Vrede en seën

André

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*