Kan ons enigiets van God weet?

Hallo Udo

Kan ons enigiets van God weet? Byvoorbeeld: Waar kom God vandaan? Waar is Hy tans? Aan die ‘skep’ elders buite NASA waarnemingstuie? Wat het Hy aangevang voor die “skepping”?

Vanweë die onbepaaldheid van God se natuur, skiet die mens ver tekort om God te verstaan. Sy alomteenwoordigheid, alleswetende aard, en almagtigheid is onbeskryflik. As ons kon, dan word Hy gereduseer tot ‘n verstaanbare aardse wese.

Hier is ‘n analogie: Vier geleerdes moet raai wat in ‘n geseëlde, hol kubus is. Elk sal iets doen. Een sal weeg, een sal skud, een sal magnetisme bepaal, ander sal klank-frekwensies analiseer, een sal metallurgies te werk gaan en ‘n ander sal wil bepaal of wat binne is, sferies of skaleen is en so meer. Kan almal “reg” of almal “verkeerd” wees of is gemeenskaplike afleidings eerder waarskynlik? M.a.w. almal tas rond, alle opinies is spekulasie totdat die kubus geopen word – en net so sal God Homself moet openbaar voordat met oortuiging iets definitief en met gesag gesê kan word.

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

“Waar kom God vandaan?” Waarom dink dat God die tipe wese is wat êrens vandaan kom? God is per definisie ‘n ongeskape wese wat nie vir sy bestaan van iets anders afhanklik is nie; hy is noodwendig selfbestaande. Terselfdertyd is die idee van God se ewige natuur (iets anders as sy noodwendige selfbestaan) konseptueel samehangend en rasioneel. As God as ongeskape en ewige wese bestaan, dan maak dit nie sin om te vra waar die Ongeskapene vandaan kom of wie of wat die Ongeskape Skepper geskep het nie. (Sien ook hier en hier).

 

“Waar is Hy tans? Aan die ‘skep’ elders buite NASA waarnemingstuie?” Twee ander eienskappe van God se natuur behels dat hy transendent en immanent is, wat beteken dat God oral teenwoordig en aktief is, maar nie in sy skepping vasgevang is nie (meer oor God se alomteenwoordigheid). Terselfdertyd het God ook ‘n immateriële natuur. Die implikasie hiervan is dat God nie een of ander gelokaliseerde entiteit is nie en ook nie deel aan ‘n tydruimtelike bestaan wat in terme van energie/materie gemeet kan word nie.

 

“Wat het Hy aangevang voor die ‘skepping?’” Dit laat my dink aan die kerkvader Augustinus wat grappenderwys vertel het van iemand wat gesê het dat God besig was om die hel voor te berei vir diegene wat waag om sulke vrae vra! Op ‘n ernstiger noot: die aard van God se natuur maak dit moeilik om hierdie tipe vraag te beantwoord. Eerstens is die vraag onduidelik as dit suggereer dat daar ‘n tyd vóór die skepping was waarin God iets sou gedoen het. Die skepping veronderstel die begin van tyd, so dit maak nie sin om te praat van vóór die skepping nie. Tweedens is die vraag onduidelik as dit suggereer dat God iets moes “aangevang” het op dieselfde manier waarop geskape, fisiese, beperkte en tydsgebonde wesens soos ons, iets sou doen. Maar ‘n mens vergelyk tog nie appels met pere nie. Dit is inherent deel van die menslike natuur om voortdurend iets te moet doen, om verandering te ondergaan. As daar nie verandering plaasvind nie, stagneer ‘n mens, en ‘n mens wat stagneer, gaan agteruit, en die uiteinde van agteruitgang is die dood. God, daarenteen, is inherent onveranderlik en selfbehoudend, daar is niks in God se natuur wat potensiaal het vir verbetering of verswakking nie, niks wat God nodig het buite homself nie (die feit dat God geskep het is uiteindelik tot óns voordeel en nie omdat God iets nodig gehad het deur te skep nie). Daar is dus niks wat God in die afwesigheid óf teenwoordigheid van ‘n skepping hóéf aan te vang nie. (Sien ook Creation and Time)

Die onderliggende vertrekpunt waarby jy ingekoop het, is natuurlik dat ons niks van God kan weet nie en daarom is alle woorde oor God bloot selfgeproduseerde mensewoorde wat eintlik niks oor God sê nie (sien my skrywe hieroor: God: ‘n Godslasterlike Gedagte?). En tog, dit lyk of jy skynbaar heel goed weet hoe ver ons “tekort skiet om God te verstaan” en dat “Sy alomteenwoordigheid, alleswetende aard, en almagtigheid onbeskryflik is”.

Hier is egter my vrae aan jou, Winkelsmidt, want daar is ‘n teenstrydigheid in jou siening. As jy sê dat ons siening “ver tekort skiet”, en dat God “onbeskryflik” is, dan kan jy slegs so doen omdat jy tog genoeg van God weet om te kan sê dat Hy onbeskryflik is, en dat ons siening daarom tekort skiet (per implikasie sou eintlik net jou siening oor God nie te kort skiet nie). En tog is dit presies wat jy probeer ontken – dat enigiemand werklik iets van God kan weet. Jy sê, “God is onbeskryflik”, maar ignoreer dan die beskrywende aard van so ʼn stelling. Maar dis tog ʼn baie spesifieke kennisaanspraak waarvoor jy verantwoording moet kan doen. Waar kom jou kennis oor God vandaan waarvolgens jy hierdie tipe uitsprake oor God kan maak?

My kennis oor God kom uit ʼn teologiese en filosofiese refleksie (ja, ʼn menslike aktiwiteit en enige aanspraak tot kennis feilbaar, maar nie vir hierdie rede summier vals nie) oor God se algemene openbaring (dit wat Hy geskep het) en spesifieke openbaring (volgens die Skrif) van homself. As iemand wil betwis dat ek werklik enige kennis oor God het, dan help ‘n selfweersprekende stelling soos “God is onbeskryfbaar” glad nie. Iemand kan ook betwis dat God enige spesifieke eienskappe het of dat daardie eienskappe iets sê wat werklik waar is van God. Maar so ʼn persoon sal dan moet verduidelik wie of God wél is en hoe hy dit weet. Anders is dit soos om te sê “die bal is beslis nie rooi nie, want niemand weet wat die kleur van die bal is nie”. Maar sien jy die probleem hier?

Jou illustrasie van die geseëlde kubus maak insiggewende punte, soos dat ʼn mens nie die grense van bepaalde kennisaansprake volgens die ondersoekmetodes wat jy gebruik, moet oorskry nie. Ironies genoeg sou die illustrasie ook impliseer dat ‘n onvolledige beskrywing nie noodwendig ʼn valse beskrywing is nie. Dis nou indien jou illustrasie toelaat dat iets soos sonar of x-straal toetse wel bepaalde resultate oplewer. Indien hierdie kubus egter aan geen empiriese toetse onderwerp kan word wat enige empiriese resultate oplewer nie, dan ontstaan daar vrae soos waarom ʼn mens sou dink dat hierdie kubus hol is of waarom hierdie kubus noodwendig ʼn inhoud moet hê, of waarom geen toetse enige resultate oplewer nie, of waar hierdie spesiale, toetsings-weerstandige kubus vandaan sou kom – wat, interessant genoeg, by gebrek aan die onderwerping aan eksperimentele ondersoek, alles filosofiese vrae sou wees!

Waar jy egter fouteer is om te dink dat hierdie illustrasie een of ander voor die hand liggende analogie veronderstel. Die probleem is dat jy God sommer so summier binne-in die kubus plaas, so asof almal tog weet dat ʼn mens niks oor God kan sê nie. Dit weerspieël egter bloot die aanname waarmee jou denke oor God begin. Boonop is dit ‘n problematiese aanname waarvan ek reeds die fundamentele probleme uitgewys het.

Die enigste manier om te verklaar dat ons in beginsel niks van iets kán weet nie, is wanneer dit waarna ons verwys, nie enige eienskappe het nie. Die probleem is dat dit wat nie enige eienskappe het nie, nie van gesê kan word dat dit in realiteit bestaan nie. So dalk wil jy jou siening eerder verander na ‘God bestaan nie’, want sulke quasi-agnostisisme is nie besonder betekenisvol nie.

Jou illustrasie sou ten beste wys dat niemand in beginsel enigiets weet oor wat in die kubus is nie, maar dis nie uit jou illustrasie duidelik waarom dit noodwendig die geval moet wees nie. Maar indien jou illustrasie, soos jy dit weergegee het, die punt maak dat die vier ondersoekers wel met bepaalde data vorendag kan kom, dan veronderstel dit tog nie teenstrydige data nie. As elkeen ʼn bepaalde hipotese ondersoek n.a.v. eienskappe soos magnetisme, klankgolwe, molekulêre struktuur en vorm, dan sou dit tog komplimenterende resultate veronderstel en nie teenstrydige data nie. Indien die verskillende metodes vir toetsing vir dieselfde hipotese egter verskillende resultate oplewer, dan kan almal nie reg wees nie en is daar allerlei faktore wat ondersoek kan word en foutkontrolering wat gedoen moet word ten einde die diskrepansie te verklaar. Die vraag is oor hoe goed die getuienis die gevolgtrekkings waartoe hy gekom het, ondersteun en of dit daarom ʼn geldige aanspraak is.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.