Om te dink jy weet dat ander nie weet wat hulle dink hulle weet nie

Die volgende is ʼn voorsetting van ʼn gesprek waarvan die eerste deel hier gevind kan word.

Apostaat skryf ʼn artikel op sy blog, waarop ek stuksgewys soos volg reageer:

“Na ek Sean Carroll se video “God is not a good theory” op Facebook gedeel het, het Udo van AntWoord ‘n stuk gepubliseer waarin hy sê dat die rede wat iemand het om iets te glo maak nie saak as die geloof waar is nie.  In sy eie woorde:

ʼn Mens noem dit ʼn oorsprongsvergissing (the genetic fallacy). Veronderstel my kamer is klankdig en die gordyne toegetrek. Ek kan die oortuiging hê dat dit buite reën, al het ek absoluut geen rede vir waarom die stelling “Dit reën buite” sou ooreenstem met wat werklik die geval is nie, en tog kan dit steeds die geval wees dat dit buite reën. Of ek kan tot die oortuiging kom dat dit buite reën omdat die koekoekhorlosie teen my kamermuur twaalfuur slaan, en ook in hierdie geval kan dit die geval wees dat dit buite reën. Die gronde vir my oortuiging dat dit buite reën is dus nie rasioneel nie, maar sulke nie-rasionaliteit in hoe my oortuiging gevorm het, maak die werklikheid waarop die oortuiging dui (dat dit buite reën) nie opsigself vals nie.

Ek stem natuurlik nie saam met Udo nie.  Ek het nooit beweer dat ‘n irrasionele rede vir ‘n oortuiging beteken dat dit vals is nie.  My standpunt is dat jy nie iets weet as jy ‘n foutiewe epistemologie gebruik om daarby uit te kom nie.”

Dis reg, Apostaat het nie gesê dat ʼn irrasionele rede vir ʼn oortuiging beteken dat dit vals is nie – en ek het ook nêrens gesê dat hy dit gesê het nie. Wat hy wel gedoen het is om met die woorde “wat hulle later uitdink en dan sonder veel navorsing verkondig” in sy Facebook-plasing te insinueer dat ‘n “regverdiging” vir God se bestaan verdag is omdat dit nie verband hou met die rede vir waarom iemand in God glo nie. Ek het probeer uitwys dat so ʼn verdagmaking op ʼn denkfout dui en daarom ongevraagd en onnodig is.

“Udo vra toe:

Spesifiek waar en hoe ondermyn [Sean Carroll] die idee dat God die beste verduideliking is vir bepaalde aspekte van die heelal?

Carroll se punt – en ek stem met hom saam – is dat God nêrens waarneembaar is nie.  Dit is iets wat jy slegs kan weet as jy bereid is om na die waarheid te soek.” 

Nee, Carroll se punt is nie dat God nêrens waarneembaar is nie, sy punt is dat God nie ʼn goeie teorie is om bepaalde kenmerke van ons heelal te verklaar nie. Daar is immers baie entiteite en prosesse wat nie waarneembaar is nie, maar waarvan die bestaan deur ʼn spesifieke wetenskaplike teorie veronderstel word omdat dit ‘n bepaalde verklaringsmag het (dink aan entiteite soos “singularities”, kwantumdeeltjies, “dark matter”, die “multiverse” en selfs swaartekrag).

“As jy in daardie klankdigte vertrek is, met die gordyne toe, en ek vra jou, “Reën dit buite?” en jy sê, “Ja.  Die koekoekhorlosie sê vir my dit reën buite” dan is jy oneerlik.

Want jy weet nie of dit buite reën nie.  En jy weet nie of die koekoekhorlosie reg is nie.  En jy weet nie of die horlosie regtig met jou praat of jy jou bloot verbeel nie.”

As my antwoord is dat die koekoekhorlosie vir my sê dat dit buite reën, dan kan ek aan verskeie scenario’s dink waar indoktrinasie, psigose of ander vorms van selfmisleiding ʼn rol speel in hoekom ek so antwoord, maar wat niks met oneerlikheid per se as motivering te doen het nie. Ek is slegs oneerlik as ek sê dat ek iets weet terwyl ek weet dat ek dit nie weet nie. Daar kan egter verskeie redes wees waarom iemand mag dink dat hulle iets weet, maar dit nie regtig weet nie. Maar dan is hulle antwoord nie oneerlik nie, maar misplaas.

Natuurlik sou ʼn mens kon sê dat die mees betroubare manier (hoewel nie die enigste betroubare manier nie) om ʼn antwoord te gee op die vraag of dit buite reën, is om eers sélf buite toe gaan om te sien en te voel of dit reën voordat jy antwoord. Maar ek verskil nie hiermee nie! Die vraag na God se bestaan, soos die vraag oor of dit buite reën, is ʼn vraag na wat waar is (selfs al kies Apostaat om die teendeel te glo) en moet op betroubare maniere ondersoek kan word.

“God is nêrens waarneembaar nie.  Voordat jy hom kan beleef is daar altyd die vereiste dat jy moet glo hy is daar.  Daar is altyd die vereiste dat jy die koekoekhorlosie moet vertrou en dat jy moet weier om die gordyn oop te trek.

Dit is nie ‘n opsie vir iemand wat die waarheid soek nie.  Dit is nie eerlik om aan jou vooropgestelde idees vas te klou as meer inligting beskikbaar is nie.”

Ek neem aan dat Apostaat bedoel dat God nêrens empiries waarneembaar is nie. Ja, God is nie ʼn fisiese entiteit wat met die sintuie waargeneem of deur die wetenskaplike metodologie ondersoek kan word nie. My oortuiging dat God bestaan en wat my in staat stel om Hom ook te beleef, is egter nie gebaseer of afhanklik van empiriese feite nie. Die vorming van my oortuiging dat God bestaan lê op dieselfde vlak as my oortuiging van estetiese, morele en logiese waarhede en wat met empiriese verifiëring niks te doen het nie.

So presies waar “weier” ek om na die getuienis te kyk? Waar is ek oneerlik oor iets? Waar klou ek vas aan vooropgestelde idees? Watter inligting is beskikbaar wat ek nie oorweeg nie? Apostaat??

“Ek weet dit is moeilik.  Dit is maklik om uit te vind of dit buite reën, maar veel moeiliker om uit te vind of daar goeie redes bestaan om in God te glo.  As jy in ‘n gemeenskap woon waar almal rondom jou sê hulle glo – en jy weet dat dit mense sal omkrap as jy hulle sou teëstaan – is die maklike uitweg om maar saam te speel.  Dit is maklik om te maak of jy glo.  Om die wêreld te verstaan vat werk.  Dit vat werk om te dink oor moraliteit en watter beginsels regtig vir jou belangrik is en hoe jy jou omgewing wil beïnvloed.  Dit vat werk om te dink oor hoe jy jou beperkte tyd op hierdie aarde gaan gebruik.  Dit is maklik om te maak asof jy glo dat dit in iemand anders se hande is.  Asof jy virewig ‘n kind is wat in sy pa se huis kan bly.”

Ek kan hier met Apostaat simpatiseer. Dis jammer dat dit sy ervaring was/is dat Christene oor die algemeen nie hulle verantwoordelikhede nakom en nie erns maak met die dinge wat hy hier noem nie. Maar die intellektuele tradisie wat sedert die vroegste tye deel is van die Christelike geloof, het nog altyd probeer om hierdie dinge aan te spreek. Natuurlik het Christene ook verskillende opinies oor dinge (soos alle mense geneig is om byna oor alles te verskil), maar dis nie soseer die feit dat Christene verskil wat problematies is nie, want die begronding vir bepaalde uitsprake wat tot verskille lei, moet altyd op meriete beoordeel word.

“‘n Christen het my ‘n rukkie terug gevra: “Wat as jy verkeerd is?”

Nou vra ek dieselfde vraag vir enige Christen wat hierdie woorde lees:  Wat as jy verkeerd is?  Wat as die stem in jou kop wat jou gids en troos is, jý was?  Al daardie kere wat jy ‘n briljante ingewing gehad het, elke goeie idee, elke slim plan, elke grap, elke keer wat jy die regte ding sê om iemand anders te help, wat as dit jý was?

Jy is tog alreeds bewus daarvan dat al die foute, die vegissings, die slegte keuses, die vrot planne… jy weet tog dít was alles jy.  Wat as die goeie goed ook uit jou uit gekom het?”

Inderdaad, die moontlikheid dat ʼn mens verkeerd is oor iets, is altyd daar. Die enigste manier om te bepaal of jy oor iets verkeerd is, is natuurlik die oorwig van getuienis. Die vraag is dus nie óf enigiemand verkeerd kan wees nie (die antwoord is ja), maar wat die redes is om te glo dat iemand verkeerd is. Enige mens behoort altyd bereid te wees om die geldigheid van sulke redes te ondersoek.

“Party gelowiges raak skrikkerig wanneer hulle hieroor dink.  Hulle hou nie van die idee dat ons op ons eie is nie.  Hulle wil nie hê dat ons elkeen alleen in ons verstand moet wees nie.  En dan ignoreer hulle die feit dat die waarheid nie beïnvloed word deur wat mense wil hê nie.  Hulle kies om iets te glo omdat hulle wil hê dit moet waar wees, en vermy die verantwoordelikheid wat ons het as deel van die mensdom.  Elke mens met die vermoë om te dink het die verantwoordelikheid om te dink.  As jy hoegenaamd belangstel in die waarheid moet jy daarna soek.”

Die teenoorgestelde kan natuurlik ook van die ateïs of agnostikus gesê word: “Party raak skrikkerig as hulle hieroor dink. Hulle hou nie van die idee dat daar ʼn God is nie. Hulle wil nie hê dat God nie maar net ʼn produk van ons verstand is nie. En dan ignoreer hulle die feit dat die waarheid nie beïnvloed word deur wat mense wil hê nie. Hulle kies om iets te glo [dat God nie bestaan nie] omdat hulle wil hê dit moet waar wees, en vermy die verantwoordelikheid wat ons het as deel van die mensdom. Elke mens met die vermoë om te dink het die verantwoordelikheid om te dink. As jy hoegenaamd belangstel in die waarheid moet jy daarna soek.

“Om te sê jy weet wanneer jy nie regtig weet nie, is ‘n leuen.”

As iemand weet dat hy iets nie regtig weet nie maar sê dat hy dit wél weet, dan is dit inderdaad ʼn leuen.

Die probleem is dat ʼn mens darem goeie redes moet kan gee wanneer jy sê dat jy weet dat iemand anders iets nie regtig weet nie. Byvoorbeeld, as Apostaat sê dat ek nie regtig weet dat God bestaan nie, op grond waarvan maak hy van my ʼn leuenaar as ek sê dat ek dit wél weet? Miskien dink Apostaat dat ek bloot dink dat ek dit weet, maar dit nie regtig weet nie. Maar die vraag bly dieselfde: op grond waarvan dink Apostaat dat wat ek dink ek weet, ek eintlik nie weet nie? Apostaat??

(Sien die volgende deel van hierdie gesprek: Morele, logiese en esteties waarhede en empiriese verifiëring)

3 Comments

  1. Terloops, Apostaat sê dat ek sê dat “die rede wat iemand het om iets te glo, nie saak maak as die geloof waar is nie”. Ja, ʼn gebrekkige rede om iets te glo, ondermyn nie die waarheid van dit wat geglo word nie (anders is dit ʼn oorsprongsvergissing) en in hierdie sin maak iemand se rede nie saak nie. Maar ʼn gebrekkige rede maak beslis saak as ʼn motivering vir waarom iets geglo word, want gebrekkige redes is epistemologies irrelevant. En hieroor het ek nog nooit met Apostaat verskil nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*