Epicurus se vrae

(‘n Gesprek op Facebook)

Apostaat: Daar was nog nooit regtig ‘n goeie antwoord op hierdie stel vrae nie.

Udo: Nog nooit regtig ‘n goeie antwoord nie? Mmm. Okay, kom ons gesels…

Epicurus se argument (soos gepopulariseer deur David Hume) is dat God nie beide liefdevol en almagtig kan wees as dit terselfdertyd die geval is dat daar kwaad in die wêreld is nie (en daarom bestaan God waarskynlik nie). Maar dis glad nie duidelik waarom die kwaad noodwendig ʼn liefdevolle en almagtige God se bestaan ondermyn nie. Beskou die volgende antwoorde op Epicurus se vrae:

Is God by magte om die kwaad te verhoed? As God kies om die tipe wêreld te skep waarin wesens, soos die mens, bestaan en wat vry is om morele keuses te maak, dan maak dit nie sin dat God terselfdertyd verhoed dat sulke morele wesens bose keuses maak nie (want mense is dan nie vry om morele keuses te maak nie). M.a.w., dis ‘n logiese teenstrydigheid dat God ʼn morele wese maak wat net die goeie kán kies, en het dus niks met God se almag te doen nie, God kan ook nie ʼn vierkantige sirkel maak nie – dis nie logies moontlik nie, selfs vir ‘n almagtige God.

Is God gewillig om die kwaad te verhoed? Ja hy is, maar God mag terselfdertyd ook weet dat deur ʼn sekere hoeveelheid van die kwaad toe te laat (omdat hy morele wesens geskep het wat morele keuse kan maak), ʼn groter hoeveelheid goed sou moontlik word – tot so ʼn mate dat, indien hy minder van die kwaad sou toelaat, dan sou dit daardie groter hoeveelheid goed verhoed of selfs tot groter kwaad aanleiding gee. ʼn Liefdevolle God kan dus goeie redes hê om die kwaad toe te laat wat niks sê van ‘n onwilligheid om die kwaad te verhoed nie.

Nou ja, dis dalk nie ‘n “goeie antwoord” vir iemand wat dink dat God se bestaan in die eerste plek onmoontlik is nie. Maar hoe is dit ʼn onvoldoende of onredelike antwoord op die idee dat ʼn liefdevolle en almagtige God deur die werklikheid van die kwaad ondermyn word?

[Insetsel ná hierdie gesprek: Lees gerus ook die volgende:

Apostaat: Dink jy regtig daar is ‘n goeie, liefdevolle wese wat enigiets kan doen, maar wanneer hy sien miljoene word in sy naam vermoor dan staan hy terug? Watter mens sal só optree? Volgens jou argument is ek en die meeste mense op aarde meer moreel as God.
Dit is beslis ‘n cliché, maar hier is nog ‘n voorbeeld. Jy loop êrens verby en jy sien iemand wat ‘n kind verkrag. Daar is niemand anders naby nie. Wat doen jy?

Udo: Voordat ek reageer wil ek noem dat ons voorbeeld na voorbeeld kan opnoem van die mees hartverskeurende gevalle van lyding wat tot breekpunt gelaai is met emosionele gewig. Daar is baie sensitiewe en emosionele aspekte verbonde aan spesifieke mense se spesifieke lyding wat baie persoonlike en baie spesifieke aandag verdien. Niks wat hier bespreek word, is bedoel om enige mens se spesifieke pyn enigsins minder pynlik te laat klink nie. Dit moet pertinent genoem word sodat iemand nie die fout maak om die intellektuele hantering van die vraag oor kwaad en lyding met die emosionele hantering daarvan te verwar nie. Dis die intellektuele vraagstuk oor die kwaad en lyding waaroor ons hier gesels.

Apostaat, jou vraag illustreer dat jy ongelukkig hoegenaamd nie probeer erns maak met die implikasies daarvan as God sou kies om ʼn wêreld te skep met morele wesens nie. Om die mens se morele aksie af te speel teen God se skynbare apatie, is ʼn uiters simplistiese omgaan met die faktore wat hier ʼn rol speel en wat jy kies om bloot te ignoreer. Om te dink jy sien ‘n cliché, sê daarom dalk baie meer oor jou eie vooroordele as wat werklik die geval is.

Na aanleiding van jou vrae, sou ek dus graag die volgende by jou wou weet:

Veronderstel, ter wille van die argument, dat God as Skepper bestaan en dat hy op welke manier vir die mens se bestaan verantwoordelik is. As dit die geval is, dink jy dis  ʼn goeie ding dat God die mens as ʼn morele wese geskep het, m.a.w. met die vermoë tot morele keuse? Indien die mens se inherente morele natuur dan wel opsigself goed is, op watter manier is die mens steeds werklik ʼn morele wese as God elke keer sou ingryp om te verhoed dat enige mens verkeerde morele keuses maak? M.a.w. as geen verkeerde morele keuse ooit geaktualiseer kon word nie, in watter opsig sou die mens dan nog ʼn morele wese wees?

Die implikasie hiervan is dat mense, juis omdat hulle morele wesens is, hul eie keuses kan uitoefen om, byvoorbeeld, ander mense in die naam van God te vermoor, of te besluit om ʼn kind te verkrag. Die emosionele reaksie hier is geregverdig wanneer ʼn mens met sulke boosheid gekonfronteer word, dis hoe ons veronderstel is om te reageer. Maar om vanuit sulke emosie te vra waarom God dit dan nie verhoed nie, maak ʼn mens gewoonlik blind vir die werklike implikasies van so ʼn vraag, soos die volgende argument illustreer:

  1. God behoort alle verkragtings te verhoed.
  2. Verkragting is ʼn immorele optrede.
  3. Dus, God behoort alle immorele optredes te verhoed.
  4. Die mens is ʼn morele wese met die vermoë tot morele keuse.
  5. Immorele optrede is die gevolg van die vermoë tot morele keuse.
  6. Dus, God behoort die mens se vermoë tot morele keuse te verhoed.

In effek beteken dit dus dat iemand dink dis beter dat God die mens eerder nie moes geskep het nie. Die implisiete aanname is dat die sleg wat moontlik is wanneer mense hulle vermoë tot morele keuse misbruik, baie swaarder weeg as die goed wat moontlik is omdat mense goeie morele keuses kan maak. Maar is dit werklik die geval? Is ʼn wêreld met morele wesens, soos wat in ons wêreld die geval is, nie ʼn wêreld waarin daar baie méér goed as sleg die geval is nie? En is God, as alwetende Skepper, dan nie in die beste posisie om so ‘n oordeel te fel nie?

Dis die eerste punt. Die feit dat God lyding nie verhoed nie, is daarom nie summier ʼn bewys van apatie asof God maar net belangeloos toekyk nie. As daar in hierdie wêreld morele goed geopenbaar gaan word, dan is daar ook altyd ʼn moontlikheid vir morele kwaad. Weereens, hierdie feit maak nie enige spesifieke geval van boosheid minder verdoemenswaardig of enige lyding minder pynlik as wat dit werklik is nie. Dit wys bloot daarop dat ʼn sekere hoeveelheid lyding en boosheid dalk onvermydelik is in ʼn wêreld met morele wesens wat God sou kies om te aktualiseer.

Die tweede belangrike punt met verwysing na God se skynbare apatie, is dat God se vermoë om genesing en/of vernuwing te bring, ten spyte en selfs te midde van lyding, nie buite rekening gelaat moet word nie. Gesels gerus met sommige mense wat al onder die allerverskriklikste lyding gebuk gegaan het (of dalk steeds daaronder gebuk gaan) en jy sal getuienis hoor van hoe God hul lewens ten goede verander het juis vanweë die pyn en lyding wat hulle ervaar of al ervaar het. Sommige mense beleef selfs dat hulle eie lyding dalk iets is wat primêr eerder vir iemand anders iets sou kon beteken. Vir al hierdie mense staan God beslis nie apaties teenoor hulle as mense wat lyding beleef nie. Wat jy ook sal hoor as jy mooi na hierdie mense luister, is dat hulle tot die besef gekom het, juis vanweë hul lyding, dat gelukkigheid (happiness) nie die hoogste doel van ʼn mens se bestaan is nie, maar ʼn verhouding met God.

Terloops, vanuit ʼn Christelike perspektief het God homself nie onwaardig geag om die gestalte van ʼn mens aan te neem en self in ons lyding te deel nie. Waarom het hy dit doen? Juis omdat hy omgee, omdat Jesus se kruisdood ‘n verhouding met God moontlik maak. Dit het ook gewys dat lyding nie die finale sê het nie, dat dit van verbygaande aard is en dat daar ʼn hoop en vooruitsig is wat aardse lyding in perspektief plaas.

Apostaat: So, jy gaan nie my vraag beantwoord nie?

Udo: So, jy verstaan nie my antwoord nie?

Apostaat: My vraag was: Wat sou jy doen?

Udo: So, jy verstaan nie my antwoord nie. Dit gaan nie oor wat ek sou doen nie, dit gaan oor wat God doen as hy morele wesens skep.

Apostaat: Udo, ek vra ‘n vraag. Jy kan kies of jy my antwoord of nie, maar dit is nie vir jou om te sê dat ek die verkeerde vraag vra nie.

Udo: Apostaat, wat jy skynbaar nie verstaan nie is dat ek jou reeds geantwoord het. Jou vraag wys dat jy nie my antwoord verstaan nie. Die kwessie is tog oor waarom God lyding toelaat, en nie wat ek of enigen ander mens in bepaalde situasies behoort te doen nie. So, as jy die onderwerp wil verander, dan is jy welkom. Maar op die oomblik lyk dit bloot asof jy nie die sentrale kwessie verstaan nie.

Apostaat: Okay, kom ek gee jou die voordeel van die twyfel en neem aan jou antwoord sou wees dat jy die verkragter sou stop en die kind help. My punt is dat dít sou beteken jy is meer moreel as God. Hy is veronderstel om alwetend en almagtig te wees, so hy weet wanneer so iets gebeur en hy keer dit nie, al kan hy. Want om een of ander rede is dit belangrik dat mense daardie soort keuse kan maak. Want om een of ander rede is só ‘n soort wêreld meer wensbaar as ‘n wêreld waar God intree om ‘n kind te red.
Terselfdetyd belowe hy om sy skapies hemel toe te neem na hulle dood. Die hemel is ‘n wêreld waar daar geen lyding moontlik is nie. Jy sê dat “ʼn sekere hoeveelheid lyding en boosheid dalk onvermydelik is in ʼn wêreld met morele wesens wat God sou kies om te aktualiseer”. Beteken dit dat mense in die hemel amorele wesens is?

Udo: Dit lyk nie asof jy die implikasies daarvan verstaan of eers probeer verstaan, om te sê dat God elke keer moet ingryp om te verhoed dat mense verkeerde morele keuses maak nie. Dan is mense nie meer mense nie, maar robotte of marionette wat God beheer en manipuleer. God is nie by magte om iemand iets vryelik te maak doen nie. Dit het egter niks met God se almag te doen nie, maar met ‘n logiese onmoontlikheid. Tensy jy dink dat teïste dink dat God die logiese onmoontlike kan doen.
Die spottende toon in oploop tot jou tweede vraag is nou nie juis bevorderlik vir gesprek nie, né. Ek dog jy is oop vir gesonde dialoog?
Maar laat ek ‘n moontlike verduideliking bied vir wat dit werd mag wees. Die lewe na die dood, d.i. die hemel, veronderstel ‘n lewe vir mense wat graag na ‘n verhouding met God begeer en in sy teenwoordigheid wil wees. Hierdie aardse lewe en die verskansheid (hiddenness) van God, bied egter die miljeu waarin hierdie begeerte, of gebrek daaraan, by meeste mense na vore kom. Wanneer mense met die begeerte na God egter in die volle teenwoordigheid van God kom, soos wat dit nie tans die geval is nie vir die rede wat genoem is, mag die heerlikheid van God so helder skyn (om metafories te praat) dat die begeerte om God te eer bloot sterker word en per implikasie dat die wil om die teendeel te doen al swakker word. In so ‘n geval mag ons nog altyd ‘n vrye morele wil hê, maar terselfdertyd dit nooit gebruik om die bose te aktualiseer nie.

Apostaat: Dink jy dat vir die goeie om te bestaan, dit altyd moet gebalanseer word met die slegte?

Udo: Nee, die goeie kan bestaan sonder die slegte, maar nie andersom nie. Maar waaroor dit hier gaan is dat die skep van ‘n morele wese veronderstel dat so ‘n wese vryelik tussen goed en sleg kan kies. As so ‘n wese eenvoudig nie vir die sleg kán kies nie, dan is daar nie sprake van so ‘n morele wese om mee te begin nie.

Apostaat: In jou opinie, het God al ooit ingegryp en ‘n situasie op aarde verander?

Udo: Inderdaad, God is ‘n God wat op allerlei maniere by mense betrokke is en wat soms wel in omstandighede ingryp vir bepaalde redes. Maar dis iets anders as om te dink dat God ‘n mens direk teen sy wil kan forseer om iets te doen of nie te doen nie.
Dis ook hier waar ons beperkte insig ‘n faktor word. Vanuit ons perspektief dink ons dalk dat as God bloot x en y sal doen om omstandighede te beïnvloed, dan sal z die gevolg wees. Maar vanuit God perspektief mag dit wees dat om x en y te doen steeds nie z te weeg kan bring nie omdat mense ook vryelik op hulle omstandighede reageer. Of erger, dalk weet God dat om x en y te doen sal beteken dat q die gevolg sou wees en nie x nie, en dat q baie sleg is of dat dit selfs tot nog slegter gevolge sou lei oor die lang duur.
Die punt is dus nie dat God nie wel soms in die wêreld ingryp of kan ingryp nie; die punt is dat hy nie noodwendig kan ingryp op maniere wat *ons dink* ‘n bepaalde uitkoms sal waarborg of wat uiteindelik tot die beste uitkoms sal lei nie. Weereens, dit het nie te doen met ‘n gebrek aan God se almag nie, maar met watter rol vrye morele wesens speel in die komplekse ontvouing van omstandighede op aarde.

Apostaat: Stel my gerus reg as ek verkeerd is, maar dit klink vir my asof jy sê dat God kan inmeng, en dit soms doen, maar meeste van die tyd wanneer vreeslike dinge gebeur besluit hy om niks te doen nie, want daar is nagevolge vir sulke aksies, en dit is nie iets wat hy kan verander nie.

Udo: Dis nie dat God sonder goeie rede en asof hy impotent is “besluit om niks te doen nie”, dis dat vir morele wesens om morele wesens te wees, moet hulle toegelaat word om bepaalde keuses te kan maak. God kan wel ʼn omstandighede beïnvloed en sodoende ʼn indirekte invloed uitoefen op iemand se besluite (om iets te verander), maar dit beteken nie dat bepaalde besluite daarom noodwendig gaan plaasvind of selfs dat die beste ding is vir God om omstandighede so te beïnvloed nie.

Kom ek probeer laasgenoemde verduidelik. Veronderstel dat al drie die volgende stellings waar is:

  1. God kan fisiese omstandighede beïnvloed.
  2. God kan nie mense met ‘n vrye wil vryelik iets *maak* doen nie (anders was daardie mens nie vry om dit nié te doen nie)
  3. Mense met vrye wil, kies hoe hulle op omstandighede reageer.

Veronderstel verder dat Q ʼn spesifieke geval van lyding is. Wat is die moontlikhede m.b.t. tot Q as A, B, C waar is?

  1. Onder bepaalde omstandighede sal daar mense wees wat hul vrye wil aanwend om Q te doen op ʼn manier dat God dit nie kan verhoed nie (weens B en C).
  2. Onder bepaalde omstandighede sal daar mense wees wat volgens hul vrye wil op ʼn bepaalde manier reageer indien God omstandighede op ʼn bepaalde manier beïnvloed. Vanuit die mens se perspektief is die rede waarom ʼn liefdevolle God omstandighede sou wou beïnvloed, dus om Q te vermy. Met ander woorde:
    1. God doen X, die mens kies om daarop te reageer en doen Y en sodoende word Q vermy.

Die probleem is dat vanuit God se alwetende perspektief dit nie noodwendig die enigste uitkoms is nie:

b. God doen X , die mens kies om daarop te reageer deur Y te doen en sodoende word Q vermy, maar deurdat die mens Y doen (selfs al is daar niks inherent fout met Y nie) lei dit later tot omstandigheid P wat veel slegter is as Q. (Dit gaan hier oor die sogenaamde Butterfly-effek; het jy al die fliek Sliding Doors gesien?)

So, in antwoord op waarom God spesifieke gevalle van lyding toelaat en nie ingryp nie, word deur 1 en 2b geïllustreer sonder dat dit enigsins dui op God se apatie of gebrek aan almag. So tensy jy dink dat ʼn mens as ʼn wese met die vermoë tot vrye morele keuse, nie ʼn goeie ding is nie, behoort jy te verstaan waarom God lyding toelaat. (Voeg hierby my ander punt oor die feit dat lyding vir baie mense nie opsigself sinloos is nie en dat daar genesing en vernuwing moontlik is, en dat lyding nie blywend is nie, dan is lyding nie iets wat God se goedheid summier in twyfel trek nie.)

Terloops, 2a mag op tallose maniere die geval wees, juis omdat God liefdevol is en by mense se lewens betrokke is – selfs al is ons in meeste gevalle nie eers duidelik daarvan bewus nie. God se betrokkenheid mag in meeste gevalle op baie meer subtiele maniere plaasvind (eerder as ʼn kragtige bonatuurlike ingryping).

-Einde-

Sien ook die volgende verduidelikings:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.