Jou rede vir God?

Ek lees onlangs die volgende op Facebook:

“Ken jy iemand wat sê dat God die beste verduideliking is wat ons het vir die heelal? Dit is gewoonlik nie die rede hoekom iemand in God glo nie, maar eerder ‘n regverdiging wat hulle later uitdink en dan sonder veel navorsing verkondig. In hierdie video verduidelik Sean Carroll in eenvoudige taal hoekom God nie ‘n goeie teorie is nie.”

Dit lyk partykeer asof ateïste maar net nie tevrede gestel kan word nie. Die aanklag is dikwels dat iemand wat glo dat God bestaan, nie goeie (of enige) redes het vir hul oortuiging nie, dat hulle bloot blindelings glo. En sou daar dan tóg redes aangebied word vir waarom dit redelik sou wees om te glo dat God bestaan, dan is die beswaar dat sulke redes bloot ʼn “regverdiging” is, dat dit niks te doen het met waarom iemand in die eerste plek tot die oortuiging gekom het dat God bestaan nie.

Dit is natuurlik ʼn drogredenasie om te sê, sou dit gesê word, dat die blote feit dat iemand ʼn bepaalde oortuiging het of hoe hulle tot ʼn bepaalde oortuiging gekom het, beteken dat daardie oortuiging daarom opsigself vals is. ʼn Mens noem dit ʼn oorsprongsvergissing (the genetic fallacy). Veronderstel my kamer is klankdig en die gordyne toegetrek. Ek kan die oortuiging hê dat dit buite reën, al het ek absoluut geen rede vir waarom die stelling “Dit reën buite” sou ooreenstem met wat werklik die geval is nie, en tog kan dit steeds die geval wees dat dit buite reën. Of ek kan tot die oortuiging kom dat dit buite reën omdat die koekoekhorlosie teen my kamermuur twaalfuur slaan, en ook in hierdie geval kan dit die geval wees dat dit buite reën. Die gronde vir my oortuiging dat dit buite reën is dus nie rasioneel nie, maar sulke nie-rasionaliteit in hoe my oortuiging gevorm het, maak die werklikheid waarop die oortuiging dui (dat dit buite reën) nie opsigself vals nie.

Met ander woorde, die feit dat sommige mense nie ʼn weldeurdagte rede kan gee vir waarom iemand anders moet glo dat God bestaan nie, of selfs al bied die redes wat hulle wel gee, nie rasionele gronde vir ‘n oortuiging dat God bestaan nie, beteken nie opsigself dat God daarom nie werklik bestaan nie.

Verder mag dit so wees dat die manier waarop ons oortuigings vorm dat God bestaan, juis ʼn interne en subjektiewe ervaring van God veronderstel. Dit kan vergelyk word met baie ander voorbeelde van dinge wat ons onmiddellik ervaar en sodoende geregverdig is om te aanvaar dat dit ooreenstem met wat werklik die geval is, sonder dat ons enige eksterne of addisionele redes hoef te hê waarop ons oortuiging gegrond is. So byvoorbeeld kan ek ‘n estetiese ervaring hê dat ʼn spesifieke sonsondergang baie mooi is, of ‘n morele ervaring dat dit verkeerd is om my kat te martel, of ‘n geheue-ervaring dat ek eiers gehad het vir ontbyt, of ‘n verstandservaring van sekere aksiomas in logika (bv. dat ʼn stelling nie op dieselfde tyd en op dieselfde manier beide waar en vals kan wees nie). Al hierdie ervarings is onmiddellike ervarings waardeur ek die oortuiging oor iets vorm (dat iets mooi, moreel en waar is of dat ʼn gebeurtenis plaasgevind het), maar waarvoor ek geen ander of eksterne bevestiging hoef te hê voordat ek kan glo dat my oortuiging geregverdig is nie.

Op dieselfde wyse kan dit gesê word dat as ‘n onmiddellike ervaring van God primêr verantwoordelik is vir die manier waarop ons oortuigings gevorm word dat God bestaan, dan is dit inderdaad rasioneel en geregverdig om te glo dat God bestaan selfs al kan ek nie een enkele ander rede aanbied vir waarom God bestaan nie. (Vir ʼn goeie bespreking van die kwessies hier te sprake, sien die volgende vier opeenvolgende video’s: een, twee, drie, vier).

Maar selfs al is ons geregverdig om te glo dat God bestaan op grond van onmiddellike ervaring sonder addisionele redes, dan beteken dit natuurlik nie dat daar nie óók onafhanklike redes kan wees vir waarom dit redelik sou wees om te glo dat God bestaan nie. So behoort die waarheidsgehalte van ʼn aanspraak tot ʼn regverdiging vir God se bestaan op meriete ondersoek word, maak nie saak deur wie of wanneer enige redes uitgedink is of hoe dit verkondig word nie. Die vraag is of spesifieke aspekte van die wêreld waarin ons onsself bevind, beter verduidelik word wanneer God sou bestaan as wanneer Hy nie sou bestaan nie. Dis dinge soos die volgende:

  • Daar bestaan iets eerder as niks (sien hier).
  • Die begin van die heelal (sien hier).
  • Die fyn-ingestelde aard van die heelal vir die bestaan van intelligente lewe (sien hier).
  • Die realiteit van objektiewe morele waardes en morele plig in die wêreld (sien hier).
  • Die historiese feite rondom Jesus van Nasaret (sien hier).
  • Selfs die moontlikheid dat God bestaan impliseer dat Hy moet bestaan (sien hier).
  • Soos reeds genoem, dat God persoonlik geken en ervaar kan word (sien hier).

So, wat is dit van wat Sean Carroll in sy lesing gesê het, wat sommige van bogenoemde redes sou ondermyn? Deurdagte Christene behoort nie weg te deins van enige kritiek nie, en hierdie redes vir die redelikheid van God se bestaan, dien nie as voorbeelde van dogmatiese uitsprake nie. Dalk is daar inderdaad gronde om sommige of selfs al hierdie redes te verwerp, maar dit kan nie maar net aangeneem word nie, dit moet geargumenteer word.

Sien die volgende gedeelte van hierdie gesprek: Om te dink jy weet dat ander nie weet wat hulle dink hulle weet nie

6 Comments

  1. As jy in ‘n klankdigte kamer is met die gordyne toe en iemand vra jou: “Reën dit buite?” is die eerlike antwoord “Ek weet nie.” Om te sê jy is oortuig sonder dat jy kan verduidelik hoe jy by die oortuiging uitgekom het is oneerlik.

    • Om te antwoord as iemand jou vra, met “Dit reën buite”, kan dalk ‘n heeltemal ongegronde raaiskoot wees of jou redes kan verregaande wees, maar dis nie noodwendig oneerlik nie. Maar jy mis ongelukkig die punt van die illustrasie as voorbeeld van ‘n oorsprongsvergissing. Die punt is dat om te dink dat jy iets weet of te verduidelik waarom jy dink dat jy dit weet, kan nie summier gebruik word as die rede waarom iets daarom nie werklik die geval is nie.

  2. Jou oortuiging dat dit reën is dalk toevallig korrek, maar jou oortuiging dat jy weet of dit reën is ‘n ongegronde raaiskoot.
    Kom ek maak egter asof dít nie ‘n probleem is nie, en ons gesels verder: As jy sou belangstel daarin om eerlik te wees, en iemand vra jou “Reën dit buite?”, wat sou jy doen? Ek sou by die venster uitkyk, of buitentoe gaan sodat ek die reën kan sien en hoor en voel.
    As iemand vra “Bestaan God?” hoe sou ‘n eerlike mens te werk gaan om ‘n eerlike antwoord op die vraag te vind?

    • Jip, dis korrek: dis toevallig korrek en die oortuiging gebaseer op ʼn ongegronde raaiskoot. Maar hierdie feit alleen maak nie daarom die stelling, “Dit reën buite” ongeldig nie. Dit sou ʼn oorsprongsvergissing wees.
      Natuurlik is dit altyd belangrik om die gronde van enige aanspraak te ondersoek. Niks wat ek al ooit êrens gesê het dui op die teendeel nie. So ook met God. Dis jy wat met jou Facebook-plasing insinueer dat ʼn “regverdiging” vir die bestaan van God maar geïgnoreer kan word, omdat dit nie die basis is vir gelowiges se oortuiging dat God bestaan nie. Maar dit sou ʼn oorsprongsvergissing wees. Die regverdiging staan of val op eie meriete.

  3. Wat ek gesê het is dat God nie ‘n goeie teorie is vir hoekom die heelal is soos dit is nie. Wat ek gesê het is die regverdiging val op eie meriete. As jy dan oor logiese denkfoute wil praat: wat jy daar het, is ‘n strooipop.

    • In jou plasing insinueer jy op ʼn taamlik aanstellerige manier met die woorde “wat hulle later uitdink en dan sonder veel navorsing verkondig” dat ‘n “regverdiging” reeds verdag is (en per implikasie maar geïgnoreer kan word) omdat dit nie verband hou met die rede vir waarom iemand in God glo nie. Ek het probeer aandui waarom so ʼn verdagmaking op ʼn denkfout dui. Jy probeer verder aandui waarom die regverdiging misluk, maar die aanvanklike verdagmaking is ongevraagd en onnodig – en dit is my probleem met jou plasing.
      Maar kom ons gesels gerus ook oor die detail van wat Sean Carroll gesê het. Spesifiek waar en hoe ondermyn hy die idee dat God die beste verduideliking is vir bepaalde aspekte van die heelal?

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.