Verkragting en die Bybel: ʼn repliek

Soos baie ander Christene is ek iemand wat al my hele lewe lank stoei om sin te maak van die Bybel. Dalk ʼn snaakse ding om te sê, mag iemand dink, want glo Christene dan nie dat die Bybel God se Woord is nie?

Inderdaad. Maar nie dat ons daarom nie daarmee gaan of selfs mág worstel nie. Inteendeel, dis waarskynlik slegs wanneer jy werklik met God se Woord stoei dat jy daardeur sal seën ontvang. Soos die seën wat Jakob van die Engel van die Here gevra het nadat hulle die heel nag gestoei het en hy nie opgegee het nie, selfs in sy pyn (Gen. 32 24-32).

As ek dus sê dat ek al my hele lewe stoei om sin te maak van die Bybel, dan probeer ek sê dat ek sodoende al genoeg seën van die Here ontvang het om te weet wanneer iemand nie weet waarvan hulle praat nie.

Neem die artikel, Seks en die Bybel as voorbeeld. (Die skrywer noem homself ʼn eks-Christen, en gebruik die skuilnaam Apostaat.)

Apostaat voel omgekrap omdat moderne mense nog na ʼn stel barbaarse reëls van primitiewe mense in die bronstydperk verwys in hul nadenke oor seksuele etiek.

Dis vir Apostaat gans ondenkbaar dat die raamwerk vir die uitlewing van seksualiteit slegs tot die huwelik beperk kan wees. Hoe barbaars! Hoe ongesond! As ons tog net van hierdie argaïese praktyk ontslae kan raak! Dink net, dan was ongewenste swangerskappe, enkelma’s, afwesige pa’s, seksueel oordraagbare siektes, ontroue minnaars, ja, al die euwels wat ontstaan deur seks tot die huwelik te beperk, soveel minder van ʼn probleem en die wêreld mos ʼn beter plek!

Die eintlike fokus van Apostaat se versier is egter op die feit, so meen hy, dat daar in die Bybel geen verbod op verkragting is nie, nie binne óf buite die huwelik nie. Vanuit ʼn Bybelse perspektief kan verkragting daarom nie werklik as sonde beskryf word nie. Of so meen hy. Apostaat verwys dan spesifiek na drie gedeeltes in die Bybel om sy punt te probeer staaf.

Die eerste gedeelte is die “barbaarse wette” in Deuteronomium:

  1. “Wanneer ‘n man ‘n verloofde meisie in die stad raakloop en met haar gemeenskap het, moet jy altwee na die stadspoort toe uitbring en met klippe doodgooi. Hulle moet sterf: die meisie omdat sy nie in die stad om hulp geroep het nie en die man omdat hy die verloofde van sy volksgenoot onteer het. So moet jy hierdie soort kwaad tussen julle uitroei.” (Deut. 22:23-24)
  2. “Maar as ‘n man ‘n verloofde meisie in die veld raakloop en haar oorweldig en met haar gemeenskap het, moet net die man sterf. Die meisie moet ongestraf bly. Sy het niks gedoen wat die dood verdien nie, want in haar geval is dit soos wanneer ‘n man iemand gryp en vermoor. Die verloofde meisie is in die veld raakgeloop, en sy het om hulp geroep, maar daar was niemand om haar te help nie.” (Deut. 22:25-27)
  3. “Wanneer ‘n man ‘n meisie wat nie verloof is nie, raakloop en haar gryp en met haar gemeenskap het, en hulle word betrap, moet die man wat met haar gemeenskap gehad het, vyf honderd en sewentig gram silwer aan haar pa gee en met haar trou. Hy het haar onteer en daarom mag hy nooit van haar skei nie.” (Deut. 22:28-29)

Apostaat meen dat scenario A impliseer dat ʼn vrou skuldig is aan haar eie verkragting as sy nie hard genoeg om hulp roep nie. Apostaat neem sommer aan dat dit hier oor verkragting gaan. Sou die wetsopsteller dan nie in ag kon neem dat die vrou dalk fisies of emosioneel daarvan weerhou kon word om vir hulp te roep nie? (ʼn Insiggewende verhaal in die Apokriewe boeke dien as goeie illustrasie van wat hier op die spel is.) Die punt is dat die wet bedoel is om aan te dui dat daar omstandighede sou wees waar dit baie duidelik is dat beide man en vrou willens en wetens buite-egtelike gemeenskap gehad het maar wat vir Israel baie streng verbied was.

Dis egter in ʼn evaluering van scenario’s B en C dat ʼn mens duidelik die bluf in Apostaat se aanklag sien dat daar geen gebod teen verkragting is nie. Scenario B verduidelik dat ʼn man wat ʼn verloofde meisie oorweldig en met haar gemeenskap het (m.a.w. verkrag) moet sterf, maar die meisie moet ongestraf bly. M.a.w. daar is omstandighede waar daar nie gespekuleer hoef te word oor iemand se onskuld nie, dit word veronderstel – soos die teenoorgestelde veronderstel word in scenario A. Maar hier is die vraag: Hoe kan enigiemand argumenteer dat hier nie ʼn eksplisiete verbod op verkragting geplaas word nie?

Ook in scenario C word daar ʼn straf vir verkragting opgelê en per implikasie is dit óók ʼn verbod op verkragting. Die feit dat daar in scenario C van die verkragter verwag word om met die meisie te trou, maak die verkragting nie minder verkeerd of erg nie. Dis egter belangrik om die konteks hier te verstaan, want ons is geneig om in gevalle soos hierdie bloot ons moderne Westerse sentiment op ʼn antieke Nabye Oosterse kultuur terug te projekteer. In daardie kultuur, soos wat selfs vandag nog te vinde is, het die konsepte van eer en skande sentraal gestaan, nie net vir die individu nie, maar ook vir die familie waarvan daardie persoon deel was. Dit was vir ʼn vrou en haar familie baie erger dat sy in skande as verstoteling sou leef (soos die verhaal van Tamar illustreer) eerder as saam met die man wat skande oor haar en haar familie gebring het (en terloops ook oor sy eie familie) en wat verplig word om haar voortaan te beskerm en te versorg onder die voorwaardes van ʼn wettige huwelik. In vandag se individualisties gesentreerde samelewings is so ʼn reëling ondenkbaar en ongewens. In samelewings soos dié van antieke Israel waar sosiale en maatskaplike strukture inherent anders gelyk het, was so ʼn reëling vir die vrou en haar familie ʼn uitkoms asook kompensasie vir die onreg wat haar aangedoen is en nie ʼn straf nie.

Ons, in vandag se moderne samelewings, sal ook frons oor die swaar strawwe wat opgelê is volgens die streng stipulasies van die Wet van Moses onder die Verbond wat Israel met God gehad het. Maar dit beteken nie dat die wette opsigself, wat spesifiek vir Israel as God se volk en net vir ʼn bepaalde tyd gegeld het in ʼn bepaalde tydperk van die geskiedenis, daarom summier barbaars was nie (sien ook Heb. 8:7-13).

Tweedens verwys Apostaat na die verhaal van Sigem en Dina om die punt te probeer maak dat ons nie uit daardie verhaal kan aflei dat Dina se verkragting verkeerd was nie (Gen. 34). Ongelukkig beywer Apostaat hom hier vir niks anders as ‘n retoriek van verdagmaking nie:

  • Eerstens, hoe Apostaat kan wonder of Dina se verkragting verkeerd was, is totaal onverstaanbaar gegewe dat die hele verhaal in Genesis 34 gaan oor hoe Levi en Simeon die onreg wat hul suster aangedoen is wou wreek. ʼn Mens wreek nie gewoonlik iets as jy nie juis sterk voel dat ʼn onreg gepleeg is nie! Of hoe?
  • Tweedens, Apostaat verwys na ʼn obskure punt in ʼn skrywe êrens op die internet oor Dina se motiverings wat hy darem erken die “meeste dominees” onaanvaarbaar sal vind. En tog voel Apostaat dit darem belangrik genoeg om te noem. Waarom?
  • Derdens, Apostaat verwys na Levi se bedrieglikheid en die gevolge daarvan asof dit êrens goedgekeur word. Maar word sy optrede dan nie juis deur Jakob afgekeur nie (Gen. 34:30)? En besef Apostaat régtig nie dat nie alles wat in die Bybel opgeteken is, vir goedkeuring daar staan nie?
  • Vierdens, Apostaat verklaar dat “die Bybel ons leer dat die regte reaksie op verkragting is vir mans om oorlog te maak.” Ja, slegs jou vooroordele en gebrek aan eksegetiese erns kan jou by so ʼn misplaaste gevolgtrekking bring.

Apostaat verwys laastens na Amnon en Tamar, en gebruik ook hierdie verhaal om daarop te wys wat die Bybel skynbaar sou sê oor verkragting: “dat ‘n vrou nie kan ‘ja’ sê vir seks nie, want dit is haar pa wat haar vir haar man gee, en dat ‘n vrou nie kan ‘nee’ sê vir seks nie, want sy is ‘onteer’ selfs al het sy haar teëgesit.”

Apostaat is egter in beide opsigte verkeerd.

Eerstens, die kwessie van seks kan nie in isolasie beskou word van die aard van die huwelik in die antieke Nabye Oosterse kulture nie. Dit was juis ter wille van hul dogters se welstand – en dogters sou dit so verstaan en aanvaar – dat pa’s so direk by hul dogters se voorgenome huwelik betrokke was. Om daarom te dink dat daar ʼn noodwendige verband bestaan tussen seksuele dwang (verkragting) of misbruik en sulke gereëlde huwelike, is eenvoudig ongegrond.

Tweedens, natuurlik kan ʼn vrou nee sê vir seks, soos Tamar self gedemonstreer het (2 Sam. 13:12)! Tamar is ook nie onteer omdat sy haar teëgesit het soos Apostaat moedswillig aandui nie, sy is onteer omdat Amnon haar verkrag het ten spyte dat sy haar teëgesit het! Tamar rou ook nie eerstens oor haar verkragting nie, maar oor haar skande: dat sy as onteerde vrou weggestoot is sonder die moontlik dat sy mag trou om haar skande te mitigeer. Weereens, dit maak die verkragting van Tamar nie minder verkeerd of erg nie (daarop dui die teks selfs), maar dis duidelik dat ons in vandag se tyd verkeerde aannames kan maak oor waar die skande werklik gelê het vir die mense van daardie tyd.

Maar wat van verkragting binne die huwelik? Apostaat kla dat “die Bybel nooit ‘n verkragting noem wat binne ‘n huwelik plaasvind nie, want die skrywers van die Bybel sou nie dink dit is enigiemand se besigheid nie.” Maar volgens die Nuwe Testament is dit juis iemand se besigheid: die gelowige man teenoor sy vrou. Ek verwys na dieselfde gedeelte waarin Apostaat skynbaar so ʼn weersin het: Efesiërs 5:22-33.

Watter man wat volgens laasgenoemde gedeelte verstaan wat dit beteken om sy vrou lief te hê soos Christus sy kerk liefgehad het, of hoe dit is om sy eie liggaam lief te hê, sal enige motivering hê of dink dat hy enige reg het, om ooit so teenoor sy vrou op te tree dat sy dit as verkragting kan vertolk?

Die vrou se onderdanigheidsgesindheid aan haar man, waarin so baie mense ʼn hekel het, is direk gekoppel aan die man se liefdesgesindheid teenoor sy vrou – jy kan nie die een hê sonder die ander nie. As sodanig kan hier hoegenaamd geen sprake wees van toestemming tot baasspelerigheid, meerderwaardigheid, uitbuiting, of enige ander vorm van misbruik van die huweliksverhouding nie.

Die kriminalisering van verkragting in die huwelik in Suid-Afrika in 1993, kom dus ongeveer 1993 jaar ná daar vir Christene al lankal beginsels met morele implikasies uitgespel was vir ʼn gesonde dinamiek in die huwelik. Paulus, ʼn Joodse godsdienstige leier voor sy bekering, het ook nie in ʼn vakuum oor die huweliksverhouding geskryf nie. Die wortels en motivering vir sy skrywes kan deels na vroeër teruggetrek word, na Mosaïese tradisies waarin hy formeel geskool was, en waar daar besinning sou wees oor die implikasies van die sewende gebod oor egbreek.

Dis duidelik dat Apostaat nie weet uit watter hoek die wind waai in sy oppervlakkige uitsprake oor verkragting en hoe die Bybel daartoe spreek nie. Geen oopkop mens kan die Bybel lees en tot die gevolgtrekking kom dat verkragting, binne óf buite die huwelik, nie sondig of immoreel is nie. Slegs iemand wat lankal sy gedagtes opgemaak het oor hoe verdag en verouderd die Bybel is en wat verantwoordelike eksegese totaal in die wind slaan, gaan die Bybel so lees.

19 Comments

  1. My stelling was: “Gesonde seks is enige seks waar die betrokke partye vryelik instem, deelneem en mekaar met respek behandel.” Dit sluit duidelik nie die huwelik uit nie, want gesonde seks soos ek dit beskryf is moontlik in ‘n huwelik.
    Ek het nooit vir die afskaffing van die huwelik geargumenteer nie, maar eerder ten gunste daarvan dat ons nie mekaar moet veroordeel vir seksuele gedrag wat geen skade doen nie.
    Ek het ook nooit beweer dat gesonde seks sal beteken dat “ongewenste swangerskappe, enkelma’s, afwesige pa’s, seksueel oordraagbare siektes, ontroue minnaars, ja, al die euwels wat ontstaan deur seks tot die huwelik te beperk, soveel minder van ʼn probleem” sou wees nie. Hoekom sit jy al dié woorde in my mond?
    Vir die rekord, hier is hoe ek dink ons party van die “euwels” kan aanpak: Seksonderrig met ‘n fokus op instemming en feite. Toegang tot voorbehoedmiddels. Goeie kommunikasie binne verhoudings. Geslagsgelykheid.
    Met betrekking tot scenario A: Ek dink daar is ‘n belangrike detail wat jy hier in gedagte moet hou. ‘n Daad is ‘n verkragting wanneer die slagoffer nie instem nie. Die sleutelfrase is “sonder instemming” eerder as “met teëstand”.
    Die wet sê nie “as sy ingestem het is sy ook skuldig” nie. Die wet sê dat sy skuldig is tensy ‘n getuie kan bevestig dat sy haar teëgesit het. Dit plaas die verantwoordelikheid op die slagoffer.
    Ek verstaan dat buite-egtelike seks ook onwettig is in hierdie konteks, en dat dit die rede is vir hoe hierdie wet gestel word. My probleem daarmee is dat ‘n verskeidenheid situasies wat wel verkragting is volgens hierdie wet as die slagoffer se losbandigheid kan geïnterpreteer word. Dit is onregverdig.
    Vir die rekord dink ek ook dit is onregverdig om mense tereg te stel vir seks. Gelukkig is daar nog net ‘n paar plekke oor waar die doodstraf vir egbreuk opgelê kan word.
    Jy is reg dat hierdie wette verkragting verbied, maar dit is ook duidelik dat ons oor spesifieke situasies praat, eerder as oor die algemeen. Daar is ook die implikasie dat verkragting verkeerd is omdat sy nie jou vrou is nie, eerder as omdat sy ‘n mens met regte is. Dit laat ‘n gaping presies waar verkragting binne die huwelik voorkom, en dit is hoekom ek sê die Bybel verbied dit nêrens nie. Dit is beslis moontlik om die boodskap in die algemeen te interpreteer op so ‘n manier dat dit met moraliteit soos ons dit deesdae verstaan oplyn, maar dit verander nie die woorde wat daar staan nie.
    Ons kan tog almal saamstem dat slawerny immoreel is, en tog word dit nooit verbied in die Bybel nie. Ons kan sê wat ons wil oor die tyd en die plek, maar dit maak nie ‘n verskil daaraan dat regte mense regtig verslaaf was, en dat die God in die Bybel dit goedgekeur het nie.
    So van slawe gepraat: Hoe kan ‘n slaaf dit vermy om te sondig as sy moet gehoorsaam wees aan haar meester en ook nie mag ja sê nie? Watter keuse het die krygsgevangene in Deut.21:10-14 wanneer sy gedwing word om met die man wat haar gevang het te trou? Waarvoor sou die Israeliete die Midianietiese maagde laat lewe en vir hulleself vat? (Numeri 31:18) En ook die maagde van Jabes in Gilead (Rigters 21:12-14)
    In Deut.20 verduidelik God hoe presies Israel moet oorlog maak, en ook hoe hulle oorwinnings moet vier: “Dan moet jy al die manlike inwoners daarvan om die lewe bring, maar die vrouens en klein kindertjies, die vee en alles wat in die stad is, alles wat gebuit kan word, moet jy buitmaak sodat jy kan geniet wat jy by jou vyand buitgemaak het, wat die Here jou God vir jou gegee het.” (Deut 20:13:14)
    Verkragting was ‘n baie groot werklikheid in die antieke wêreld, en die verhale van die Ou Testament loop oor daarvan.
    Jy is reg, ‘n mens moet die konteks verstaan. Byvoorbeeld sou die konteks in Scenario C wees dat iemand ‘n traumatiese ervaring het, wat vererger word daardeur dat haar gemeenskap haar daarvoor kwalik neem, en dat sy dan kan gedwing word om lewenslank onderdanig te wees teenoor iemand wat ‘n gewelddadige misdaad teen haar gepleeg het. Die feit dat dit ‘n kultuurnorm was beteken nie dat dit goed was nie. Dit beteken dat God vir die mense geen beter wette gegee het nie.
    Hoekom bestaan die idee dat ‘n vrou onteer is as sy verkrag is? Sy het niks verkeerd gedoen nie. Hoekom sou sy nou minder eerbaar wees as vantevore?
    Maar my eintlike punt was dat ons lankal nie meer al die reëls in die Bybel volg nie, veral nie dié oor seks nie, so dit is absurd om steeds gay mense se seksualiteit te veroordeel. Ek sou graag wil hoor wat jy hieroor te sê het.

    • Apostaat, ek het nêrens geïnsinueer dat jy vir die afskaffing van die huwelik argumenteer nie. Wat jy wel doen is om te pleit vir die afskaffing van die praktyk om seks tot die huwelik te beperk. Gaan lees gerus weer wat ek geskryf het, want jy lees skynbaar net wat jy wil.

      Ek het ook nêrens woorde in jou mond gesit nie. My punt was (as ek dalk te subtiel ironies was na jou sin) dat om seks eksklusief as deel van die huweliksverhouding te beskou, is om besorg te wees oor die gesonde ruimte waarbinne ongewenste swangerskappe, enkelma’s, afwesige pa’s, seksueel oordraagbare siektes en ontroue minnaars soveel minder van ʼn probleem is. Let wel, ek sê nie dit verhoed al hierdie dinge nie; my punt is bloot dat om die huwelik reg te verstaan, is om te besef dat al hierdie dinge minder problematies gaan wees as enige alternatiewe (ja, selfs al het almal goeie seksonderrig en toegang tot voorbehoedmiddels en goeie kommunikasievaardighede). Jy dink dat om seks tot die huwelik te beperk onderdrukkend is, terwyl ek dink dat om die huwelik reg te verstaan juis die beste ruimte en potensiaal bied waarin seksualiteit ʼn paartjie se verhouding gaan versterk en die basis gaan lê vir ʼn gesonde gesinslewe en uiteindelik ʼn gesonde samelewing moontlik maak. Jy dink jou definisie van seks as ʼn daad van wedersydse, respekvolle instemming verruim ʼn mens se siening van wat gesonde seks is. Ek dink so ʼn definisie is ʼn verskraling en minimalisering van die impak en potensiaal van gesonde seks wat in die konteks van ʼn huwelik uitgeleef behoort te word.

      Wat die gedeelte in Deuteronomium aanbetref. In scenario A word die wet as verbod op buite-egtelike seks geïllustreer deur ʼn voorbeeld van twee mense wat daaraan skuldig bevind is. Dis tog nie bloot omdat hierdie wet bestaan wat outomaties sou beteken dat twee mense in enige soortgelyke scenario skuldig is nie – dit sou tog steeds eers bepaal moet word. Ek dink nie hierdie wet is bedoel as simplistiese uitspraak oor die vrou se skuld tensy ʼn getuie dit kan bevestig nie, maar dit gaan oor of daar rede is om te glo dat sy in daardie omstandighede wel om hulp geroep het. Om hierdie wet te kan toepas, sou die gemeenskap tog steeds al die faktore in ag moes neem om tot die gevolgtrekking te kan kom dat “sy nie in die stad om hulp geroep het nie”. Trouens, om die wet in scenario B toe te pas sou daar ook eers tot die gevolgtrekking gekom moes word dat “sy het om hulp geroep,” maar dis ʼn redelike beginsel om te aanvaar dat die vrou onskuldig is totdat daar rede is om die teendeel te glo. Daar is geen rede om te glo dat die gemeenskap hierdie wette onregverdig gaan toepas en bloot blind gaan wees vir ʼn verskeidenheid van faktore wat ʼn rol gaan speel om te bepaal of ʼn bepaalde situasie met verkragting of losbandigheid te doen het nie.

      Die feit dat jy steeds verwys na “ʼn gaping presies waar verkragting binne die huwelik voorkom, en dit is hoekom ek sê die Bybel verbied dit nêrens nie” beteken dat jy nie my antwoord daaroor gelees nie, dit nie verstaan nie of bloot moedswillig is.

      Die kwessie van slawe in die Ou Testament verdien ʼn bespreking om sy eie, net soos die redes vir Israel se oorloë teen die Kanaänitiese volkere en die hantering van omstandighede wat daarvan ʼn gevolg was (oorlog is op sy beste ʼn aangeleentheid waarvan daar opsigself niks goeds gesê kan word nie, en verseker gaan dit in die beste van gevalle ook met misbruike gepaard).

      Ek stem egter saam dat verkragting ʼn baie groot werklikheid was in die antieke wêreld en dat daar talle voorbeelde in die Ou Testament is. Maar jy maak ʼn groot fout (en jy is hieroor bloot moedswillig of oneerlik, of albei) om te suggereer dat die Bybel leer dat God hierdie voorbeelde van verkragting in die Bybel enigsins goedkeur of dat verkragting nie in die Bybel verbied word nie. Dis asof jy dink dat alles wat in die Bybel staan summier God se goedkeuring dra bloot omdat dit in die Bybel staan.

      Ek is verder nie seker of jy verstaan dat die Mosaïese wette en die Kanaänitiese verowering slegs vir Israel en slegs vir ʼn bepaalde tyd en vir ʼn baie spesifieke doel, gegeld het nie. Daar is ʼn verskil tussen die Ou Verbond waaronder Israel aan God toegewy moes wees en die Nuwe Verbond waaronder almal wat hulself Christene noem aan God toegewy sou wees (sien bv. Heb. 8:7-13). Terloops, gegewe dat Christene nog nooit onder enige van die Mosaïese wette gestaan het wat spesifiek net vir Israel gegeld het nie, is jou mening dat ons lankal nie meer die reëls van die Bybel volg nie, taamlik oorbodig en waarskynlik oningelig. Self jou verwysing na “reëls” is verdag vanuit ʼn Christelike perspektief.

      Ek kry die gevoel dat jy nogal ʼn gewoonte daarvan maak om ander mense se skrywes baie oppervlakkig te lees. Jy beaam die belangrikheid van konteks, maar dan wys jy dat jy dit eintlik glad nie verstaan nie. Kom ek probeer weer. Dis juis omdat die huwelik as ruimte vir die uitleef van seksualiteit vir die antieke Nabye Oosterse kulture so belangrik was dat die skande van verkragting vir vroue baie erger was as verkragting self (wat steeds nie beteken dat dit nie traumaties was nie). Ek het ook aangedui dat dit vir so ʼn vrou in daardie kultuur baie meer gewens sou wees om in ʼn huwelik te tree met die man wat haar skande veroorsaak het as om alleen te wees (ek verwys weer na Tamar se geval, sien spesifiek 2 Sam 13:16). Dit het niks met “beter wette” te doen nie. Die feit dat jy dit vanuit jou 21 eeuse, blanke, Westerse en manlike perspektief onaanvaarbaar vind, sê absoluut niks oor hoe mans sowel as vroue van daardie tyd oor sake gedink het nie. En waarom suggereer jy dat scenario C impliseer dat haar gemeenskap haar daarvoor kwalik sou neem?

      Na aanleiding van jou verdere verdediging van die idee dat verkragting nie binne of buite die huwelik nie in die Bybel verbied word, wonder ek hoe sinvol gesprek met iemand soos jy kan wees. Jy bevestig al hoe meer jou anti-Christelike agenda en ʼn mens kan tog nie regtig met ʼn onredelike en skoorsoekende mens gesprek hê nie. Of hoe?

  2. Jy sê ek het óf nie jou antwoord gelees nie, óf ek verstaan nie, óf ek is moedwillig. Ek het jou antwoord gelees, en jy sal self moet besluit of ek moedwillig is of nie, so miskien is dit die geval dat ek nie verstaan nie.
    Ek wil graag probeer verstaan. As jy bereid is om verder hieroor te praat, versoek ek dat jy my hierop antwoord.
    Ons weet verkragting is verkeerd. Hoekom weet ons dit?

    • As jy my antwoord gelees het, help my dan verstaan waarom jy steeds verwys na “ʼn gaping presies waar verkragting binne die huwelik voorkom, en dit is hoekom ek sê die Bybel verbied dit nêrens nie” nadat ek verduidelik het waarom die verhoudingsdinamiek in Efesiërs 5 juis van die idee van “verkragting binne die huwelik” ʼn teenstrydigheid in terme maak.

      Ons weet verkragting is verkeerd soos ons weet baie ander dinge is moreel of immoreel: n.a.v. ʼn besinning oor ons morele ervaring as morele wesens. Die vraag is oor wat die beste verduideliking is vir ons morele ervaring in objektiewe terme (bv. dat die verkragting van ʼn ander persoon altyd en in alle omstandighede verkeerd is), of vir die feit dat ons morele wesens is wat morele verpligtinge en waardes kan herken.

      Vanuit ʼn Christelike perspektief het die mens intrinsieke, objektiewe waarde in verwysing na die feit dat alle mense na die beeld van God geskape is. Verkragting is iets wat hierdie waarde ontken deurdat dit ʼn persoon objektiveer en dus van iemand minder maak as ʼn volwaardige persoon.

      Hoe weet jy vanuit jou perspektief dat verkragting verkeerd is?

      • Ek wil nie verkrag word nie, so ek sien dit nie aan ander mense nie. Ek verstaan dat dit skade doen, dat die wêreld ‘n beter plek daarsonder is.

        Dink jy verkragting was altyd verkeerd?

        • Natuurlik is en was verkragting altyd verkeerd. In geen van die verhale in die Bybel waar verkragting beskryf word, word dit goedgekeur nie. Dit word juis afgekeur.

  3. Apostaat, dit amuseer my dat jy op jou blog kommentaar lewer: “Dit was miskien ‘n fout om op die stories te fokus wat oor enkele (waarskynlik fiktiewe) slagoffers gaan, eerder as die meer algemene kulturele houdings teenoor vrouens, seksualiteit en moraliteit.”

    Miskien moet jy vir jou lesers verduidelik waarom jy dink dat dit (miskien?!) ʼn fout was? Omdat daardie voorbeelde nie jou aanspraak regverdig dat die Bybel nie verkragting verbied nie. Maar waarom sal jy nou toelaat dat so ʼn kleinigheid jou keer om ʼn hele artikel daaroor te skryf en lukraak na voorbeelde te soek om jou vooroordele jeens die Bybel te probeer regverdig?

    En natuurlik gaan jy weer probeer. En weer. En niks wat iemand ooit sê sal, gaan of kan ʼn verskil by jou maak nie.

    Ek aanvaar dit so. Maar ek weet dat dit met redelikheid niks te doen het nie.

  4. Apostaat en Jaco, die gedeeltes waarna julle verwys in Numeri 31:14-18, 25-27, 35, Deuteronomium 20:13-14 en Deuteronomium 21:10-14 het almal te doen met vroue as krygsgevangenes en wat van hulle moes word onder die omstandighede van oorlog waarin Israel met die Kanaänitiese volkere gewikkel was. Nie een van hierdie gedeeltes impliseer egter dat hierdie vroue sommer net verkrag mag word nie (selfs al is hulle ook). As krygsgevangenes is hulle omstandighede allesbehalwe wenslik, maar die opdragte oor hoe hierdie vrouens in tye van oorlog behandel moet word, sluit nie summier toestemming tot verkragting in nie. Julle wil dit bitter graag so vertolk, omdat julle vasbeslote om die Bybel op elke moontlike manier verdag te maak.

    Rigters 21:12-14 is ʼn duidelike voorbeeld van ongeoorloofde optrede deur Israel wat beslis nie as ʼn bevel van God gekom het nie (sien die amper terloopse opmerking aan die einde van dieselfde hoofstuk, asook Rigters 17:6). Die hele boek van Rigters gee voorbeeld na voorbeeld van hoe Israel gedoen het wat verkeerd was in oë van die Here en hoe hulle hulle eie koppe gevolg het.

    Rigters 5:30 is deel van Debora en Barak se hiperboliese kommentaar op gebeure as deel van ‘n oorwinningslied, maar selfs hier is nie sprake van eers ʼn implisiete toestemming tot verkragting nie.

    • Udo. Dalk het ons hier weereens te make met die semantiek of die uiteenlopende betekenisse wat mense heg aan sekere woorde. Dr Craig erken dat – volgens die “ware oorspronklike” betekenis van sekere Bybelverse, die Bybelse god die Israeliete opdrag gegee het om derduisende vroue en kinders om die lewe te bring, maar hy weier egter om dit as “volksmoord” te beskou. Soortgelyk hieraan weier jy om die “lelike” woord “verkragting” te gebruik om na sekere aaklige gebeure te verwys. Miskien moet ons eers vasstel wat presies die “algemeen aanvaarde” betekenis is wat aan die woord “verkragting” geheg word, alvorens ons verder gaan met hierdie gesprek. Hier is drie van die belangrikste daarvan wat ek raakgelees het na ʼn Google-soektog van “definition of rape”. Let veral op die “Archaic” betekenis wat aan hierdie woord geheg word:

      http://www.dictionary.com/browse/rape:
      =====================================

      1. unlawful sexual intercourse or any other sexual penetration of the vagina, anus, or mouth of another person, with or without force, by a sex organ, other body part, or foreign object, without the consent of the victim.

      2. statutory rape.

      3. an act of plunder, violent seizure, or abuse; despoliation; violation: the rape of the countryside.

      4. Archaic. the act of seizing and carrying off by force.

      https://en.oxforddictionaries.com/definition/rape:
      =================================================

      1. The crime, typically committed by a man, of forcing another person to have sexual intercourse with the offender against their will:

      ‘he denied two charges of rape’
      [count noun] ‘he had committed at least two rapes’
      [as modifier] ‘a rape victim’

      1.1 archaic: The abduction of a woman, especially for the purpose of having sexual intercourse with her: ‘the Rape of the Sabine Women’

      2. The wanton destruction or spoiling of a place:‘the rape of the countryside’

      https://www.justice.gov/opa/blog/updated-definition-rape:
      ========================================================

      “The penetration, no matter how slight, of the vagina or anus with any body part or object, or oral penetration by a sex organ of another person, without the consent of the victim.”

      • Jaco, ek weier nêrens om die woord verkragting te gebruik nie – inteendeel, ek erken dit juis in verskeie gevalle. Die vraag is of daar by die gebeure waarna jy spesifiek verwys werklik van verkragting sprake is. Jy is daarom bloot meerwaardig en neerpratend met jou verwysing na hierdie definisies van verkragting.

  5. As die wet sê jy kan met jou gevangene trou, het sy die reg om nee te sê? Waar staan dit dat ‘n vrou moet instem, anders is dit verkragting?

    • Wat kan ʼn vrou in die Nabye Oosterse kultuur van daardie tyd in die konteks van die oorlog verwag wanneer sy gevangene geneem is? Om met haar gevangenemer te trou en dus in omstandighede geplaas te word waarin sy die beskerming as getroude sou hê? Nee, en tog is dit presies wat met sommige vroue gebeur het. Het hierdie vroue as gevangenes die reg gehad om te weier om ʼn vrou van ʼn Israeliet te word? Nee, maar dit sê nog steeds nie dat verkragting en misbruik daarom aan die orde van die dag was of enigsins goedgekeur is nie.

      Apostaat, ek probeer sin maak van praktyke in ʼn antieke kultuur onder abnormale omstandighede ver verwyderd van ons hedendaagse denke oor en doen van dinge. Jy wend geen so ʼn poging aan nie, wat baie duidelik is uit jou aanvanklike artikel en in die res van ons gesprek hier. Dis mos baie maklik om bloot simplisties te kritiseer en aannames te maak oor die barbaarse optredes van bepaalde mense onder bepaalde omstandighede met geen besorgdheid vir konteks en vir faktore wat dalk ʼn rol speel om hierdie situasies werklik te verstaan nie. Ek probeer rekening hou met sulke faktore (sien bv. http://christianthinktank.com/remarkable.html) wat as verduideliking dien vir konteks. Jy hoef niks daarvan te aanvaar nie, maar in die proses maak jy simplistiese uitsprake oor iets wat jy duidelik nie probeer verstaan nie.

    • Apostaat, die onus rus op jou om te bewys dat verkragting deel was van die Israelitiese man se huwelik met sy vrou, selfs al was sy ‘n krygsgevangene. Ek het geen rede om uit die wette wat hier ter sprake is af te lei dat verkragting van hierdie vroue, self binne die huwelik, goedgepraat of aangemoedig word nie.

  6. Gestel ek is ‘n krygsgevangene wat teen my sin met ‘n Israeliet trou. Hy probeer my verkrag en ek keer hom en sê, jy mag dit nie doen nie. Hy vra my hoekom. Wat sê ek vir hom?

      • Jy stem saam dat verkragting ‘n werklikheid was in die antieke wêreld, en ook dat dit voorgekom het onder die Israeliete. Ek beskuldig nie hier enigiemand spesifiek nie, maar vra jou wat jy dink sou gebeur in die hipotetiese scenario wat ek hier voorstel. As jy dink dit is ‘n onredelike vraag sal ek graag hoor hoekom.

        • Daar is geen motivering vir ‘n Israelieit onder Mosaïese wet om die vrou met wie hy getrou het te verkrag nie. Dat dit wel gebeur het gee ek toe. Die Israeliete was nie engeltjies nie. Maar gegewe ander wette wat verkragting spesifiek verbied en ander wette wat seksuele gedrag reguleer, selfs al was dit nie met die oog op tye van oorlog nie, is jou hipotetiese scenarios bloot verdagmakery.

          Hiermee eindig ek my gesprek oor hierdie onderwerp. Ek is ook vir die volgende twee weke op vakansie en aflyn. Ek sal my weer in Januarie vergewis van hoe jou anti-Christelike agenda vorder.

  7. Apostaat skryf in op sy Facebook-blad: “As jy nie verder weet nie, beweer die onus is op die ander party.” Apostaat dink dat ek beweer dat daar ‘n onus op hom rus omdat ek nie weet wat om te sê nie. Ongeag Apostaat se onverstaanbare protestasie lê die plig by die persoon wat die aanspraak maak om sy bewerings te staaf. En wat presies is Apostaat se aanspraak hier waarvoor hy ʼn bewyslas het? Apostaat suggereer dat in gevalle waar die Israeliete vrouens geneem het uit hul gevangenes, ‘n regverdiging bied vir Israelitiese mans om sulke vroue te verkrag, dat sulke gevalle as voorbeelde dien vir hoe vrouens noodwendig na willekeur deur wellusgedrewe mans verkrag mag en sal word. En sy bewyse hiervoor? Niks, behalwe dat Apostaat dink dat hy iets noemenswaardig gesê het met sy retoriek van verdagmaking…

    Apostaat werk met ‘n hermeneutiek van suspisie in sy lees van die Bybel. Hiervolgens is daar voorbeelde in die Bybel waarvolgens verkragting implisiet indien nie eksplisiet nie, Bybels aanvaarbaar sou wees. Eers probeer hy met spesifieke voorbeelde aandui hoe verkragting in die Bybel goedgekeur word. Hierin misluk hy op so ‘n treurige wyse dat hy self erken: “Dit was miskien ‘n fout om op die stories te fokus wat oor enkele (waarskynlik fiktiewe) slagoffers gaan, eerder as die meer algemene kulturele houdings teenoor vrouens, seksualiteit en moraliteit.”

    Maar na presies watse “algemene kulturele houdings teenoor vroue” en wat terselfdertyd God se goedkeuring dra en ʼn regverdiging bied vir verkragting, verwys Apostaat?

    Dis waarom Apostaat hom bloot tot die hipotetiese kan wend. Die gevalle waar die Israeliete vrouens geneem het uit hul gevangenes, móét eenvoudig vertolk word as ‘n regverdiging vir verkragting. Niks in die teks self ondersteun natuurlik so ‘n gedagte nie. Voeg hierby die feit dat Apostaat dit totaal onnodig ag om Nabye Oosterse se siening van geslagsrolle te probeer verstaan of dit summier as onderdrukkend interpreteer asook hoe hy met minagting na Israel se seksuele reinheidswette verwys, dan is dit nie moeilik om te sien waarom Apostaat nie verstaan waarom die onus op hom rus om sy onsinnige aansprake te verdedig nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*