Gebed en klimaatsverandering

(‘n Gesprek op Facebook)

Apostaat: Hoekom nie liewer in klimaatwetenskap belê nie? Hoekom nie liewer die geleentheid gebruik om mense betrokke the kry by die gesprek oor Afrika se situasie in terme van wêreldwye klimaatverandering nie. Daar is regte probleme in die wêreld, en dit help niemand om te maak asof gebed ‘n invloed het nie. Dit is ‘n verskoning om te dink jy het aan die probleem gewerk sonder dat jy ooit hoef ‘n vinger te lig.

Udo: Dis natuurlik ʼn gegewe dat ‘n ateïs dink dat God nie bestaan nie en daarom is die idee van gebed onsinnig (en waarskynlik die hoofrede waarom jy aanstoot neem oor ʼn brief soos hierdie). Om gebed hier egter af te maak as “ʼn verskoning om te dink jy het aan die probleem gewerk sonder dat jy ooit ʼn vinger hoef te lig” is bloot tipiese goedkoop retoriek met die doel om te beledig. Jy verkeer skynbaar onder die indruk dat om vanuit ʼn gelowige perspektief oortuig te wees dat God bestaan en betrokke is in die wêreld in antwoord op gebed, onversoenbaar is met ʼn menslike besorgdheid (en verantwoordelikheid) oor klimaatsverandering. Dalk wil jy meer spesifiek verduidelik hoe presies hierdie onversoenbaarheid na jou mening werk en waarom jy dus hierdie twee sake teen mekaar afspeel? Terloops, ʼn mens moet dalk nie te veel aannames maak oor die Botswana regering se houding teenoor klimaatsverandering nie: http://www.bw.undp.org/content/botswana/en/home/ourwork/environmentandenergy/successstories/botswana-embarks-on-ambitious-plan-to-tackle-climate-change-.html

Apostaat: Udo, jy is heeltemal reg dat die hoofrede hoekom ek die brief kritiseer is inderdaad dat ek dink God bestaan nie, en dus dink gebed maak nie ‘n verskil aan omstandighede nie. Ek dink dit is onverantwoordelik vir ‘n regering om godsdienstige beginsels te hê. Ek dink dit is nie moontlik of te bewys dat gebed werk nie, so dit is oneerlik om te maak asof dit iets is wat ons kan weet. Dit beteken dat Botswana se regering oneerlik is met hulle burgers.
My eintlike punt was natuurlik dat dit ‘n goeie geleentheid was om belangrike inligting te kommunikeer, en dit is jammer dat hulle eerder gebed gekies het.
Wat ek nooit gedoen het nie, is om te impliseer dat Botswana se regering onverantwoordelik optree met betrekking tot klimaatverandering.
As godsdiens dan deur die staat befonds en bevorder sou word, hoe kan ‘n besorgde burger uitvind of dit ‘n verantwoordelike bestuursbesluit is? Ons wil tog ons staatsamptenare aanspreeklik hou.

Udo: Kom ek probeer verstaan. Wanneer jy beswaar maak teen hierdie brief vanuit die president se kantoor en jy sê in dieselfde asem dat gebed ʼn verskoning is om nie ʼn vinger te lig nie, dan moet niemand dink jy impliseer dat die Botswana regering, waarvan sommige gebed ernstig opneem, onverantwoordelik optree t.o.v. klimaatsverandering nie? Okay, as dit nie is wat jy impliseer nie (!!), dan kan ʼn mens mos aanneem dat ʼn lid van die regering beide godsdienstig kan wees én verantwoordelik kan wees t.o.v. klimaatsverandering? Waarom dan die misplaaste beskuldiging van oneerlikheid en onverantwoordelikheid?

Apostaat, die idee van skeiding tussen “staat en kerk” is ʼn goeie ding. Maar hierdie brief is tog nie opheffing daarvan nie. Dit wys bloot dat daar lede van die regering is wat aan hul godsdienstige oortuigings wil uiting gee, maar dit word op ʼn nie-regerende, nie-dwingende manier gedoen. Hoe word die regering se beleid teenoor klimaatsverandering hier geraak? Hoe is hierdie brief ʼn voorbeeld van die staatsbefondsing van godsdiens of ʼn onverantwoordelike bestuursbesluit?

Terloops, niemand hoef te veronderstel dat belangrike inligting oor klimaatsverandering nie óók by ʼn gebedsbyeenkoms gekommunikeer kon word nie. Waarom nie? Maar dit sou tog nie die primêre doel nie – daar is sekerlik ander geleenthede waar dit met meer fokus gedoen sou kon word. Maar weereens, jy speel die twee sake teen mekaar af vanuit jou ateïstiese perspektief sonder om te wys waar daar werklik onversoenbaarheid of onsinnigheid ter sprake is indien God wel bestaan soos wat baie mense dink. Om te sê gebed werk nie of dat ons dit nie kan weet nie, is jou vertrekpunt en die bewering van ʼn ateïs, nie ʼn argument teen enigiets nie.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.