Hoe praat ek oor die wederkoms?

Hello Udo,

Hoe kan ek my volwasse kinders oortuig dat die koms van Christus so naby is, dat daar nie meer tyd is om te mors op onbenullighede, geld najaag, partytjies ens.nie sonder dat hulle weer vir my sê, “Ja ma ons hoor al die koms van Jesus is naby vandat ons kinders is. daar is baie tyd, of ek is nog nie reg nie.”
Ek bid vir hulle en hul vroue se siele dat hulle tot bekering sal kom maar kan nie deurdring tot hulle wanneer ons gesels nie.

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek dink ons as gelowiges behoort versigtig te wees om die fokus te laat val op die “wanneer” van die wederkoms. Ons weet eenvoudig nie, en daarom kan dit naby wees of dit kan nie naby wees nie.

Tog sou ek sê dat ons moet leef asof dit naby is juis omdat ons nie weet nie. Maar steeds behoort die fokus nie te wees op hoe naby dit dalk mag wees nie, maar of ek gereed is indien dit wel naby is (sien Luk. 12:35-36, 40).

Die vraag is dus die volgende: watter tipe mens is ʼn mens wat die Here enige oomblik verwag en waarmee is so ʼn mens besig terwyl hy of sy op die Here wag (sien 2 Pet. 3:11-15):

  • Dis iemand wat daagliks al meer soos Christus wil word, wat daarom toenemend die Vrug van die Gees as deel van hul karakter openbaar.
  • Dis iemand wat altyd daarna opsoek is om na ander mense uit te reik, ter wille van gees en van liggaam.
  • Dis iemand wat lief is vir die Woord omdat hulle lief is vir die Here en daarom graag tyd maak vir die Woord en vir die oordenking daarvan.

Wat belangrik is om te besef is dat hierdie dinge in baie verskillende kontekste uitgeleef en nagestreef kan word. My werk, my ontspanningsaktiwiteite, my verhoudings met ander, my besittings – dis alles dinge wat die konteks bied waarbinne my karakter en doel in die lewe verwesenlik kan word. Hierdie dinge is nie opsigself verbode nie, solank dit nie die doel opsigself word nie.

Hier is my vraag aan enigiemand wat homself ʼn Christen noem: Hoe bevorder die dinge waarmee jy besig is en die kontekste waarin jy jouself daagliks bevind, om bogenoemde drie dinge uit te leef? As jy vir bepaalde redes verhinder word om hierdie dinge uit te leef deur wát jy doen en wáár jy dit doen, dan is dit nie eerstens dat jy nie gereed is vir die wederkoms nie; dan is dit dalk (en dit vra self-ondersoek) dat jy nie gereed is om jouself ʼn “Christen” te noem nie.

So, dalk is die vraag eerder oor hoe jy jou volwasse kinders kan lei om te besin oor wat dit beteken om ʼn Christen te wees. Hierop het ek nie regtig vir jou die antwoord nie; elke ouer het mos maar ʼn unieke verhouding met sy of haar kinders. ʼn Mens wil in elk geval versigtig wees om nie veroordelend oor te kom sonder om iemand anders se intensies en situasie werklik te verstaan nie. Dan stoot ons maklik ander weg eerder as om gesprek te bevorder en insig te stimuleer.

Nietemin, laat weet gerus of bogenoemde vir jou sin maak.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*