Oortuiging sonder goeie rede is skadelik

(Sien eerste deel van hierdie gesprek)

Udo,

Dankie vir jou brief.  Ek kan sien dat jy heelwat tyd daaraan spandeer het, en ek het waardering daarvoor, veral aangesien jy my nie ken nie. Ek verstaan ook dat dit met goeie bedoeling gedoen is, en ek hoop dat jy voel dit was die moeite werd.

Jy is reg wanneer jy sê dat “Iemand wat sy oortuigings met deurdagte integriteit kan stel en verdedig, hoef nie anoniem te wees nie”.  Dit is my keuse om anoniem te skryf.  Ek steek nie my sienings weg in my dag-tot-dag nie, en enigiemand wat godsdiens of geloof met my bespreek kan ‘n eerlike antwoord te wagte wees.  Ek wil nie hê dat my identiteit aandag moet aftrek van wat ek sê nie.  Almal kan self besluit of hulle my wil kontak of kommentaar lewer, of selfs my wil antwoord as ek ‘n vraag vra, en dit sal noodwendig met die verstandhouding wees dat ek ‘n pseudoniem gebruik.

Het ek ‘n anti-Christelike agenda?  My agenda – as ons die woord moet gebruik – is anti-godsdiens, anti-pseudoscience, pro-rede, pro-wetenskap.  Ek is gekant teen onbetroubare epistemologie. Ek is ‘n voorstander van menseregte, rasionaliteit en barmhartigheid.

Jy neem aan dat ek onlangs my geloof verloor het en nou die blog skryf omdat ek hardop in die openbaar my eie gedagtes vir myself wil duidelik maak.  Hieroor is jy verkeerd. My geloof het jare terug tot ‘n einde gekom, en my doel met Apostaat is om my gedagtes met ander te deel. Die rede hiervoor is dat daar nie genoeg bronne van inligting in Afrikaans beskikbaar is wat krities oor godsdiens praat nie.  Deel van die proses is om te verduidelik hoe my geloof ontrafel het maar dit is nie die rede vir die blog nie.  Ek doen dit omdat dit dalk vir iemand anders ook sal laat wonder of hulle eie geloof sin maak, nie omdat ek dink dat my ervaring besonders is nie.

Iemand wat energie wy aan iets waarteen hulle gekant is, doen dit gewoonlik omdat hulle dink dit is die moeite werd om die wêreld te verander.  Dit is hoekom aktiviste en kampvegters doen wat hulle doen. 

Iemand wat geen rede sien om in ‘n hiernamaals te glo nie het soveel meer rede daarvoor, want hierdie wêreld is die enigste een wat ons verseker kan weet ons ooit sal hê. 

Ek is van mening dat oortuiging sonder goeie rede skadelik is.  Dit is vir my teleurstellend dat dít nie duidelik genoeg is in die blog nie, maar nou dat ek dit weet sal ek meer aandag daaraan gee.

Ek is beslis bereid om ‘n gesprek te voer.  Ek vra graag vir mense wat dit was wat hulle oortuig het oor die dinge wat hulle glo.  Omdat jy onderskeid tref wil ek graag weet hoe jou antwoorde op hierdie vrae sou verskil:

  • Glo jy in God?
  • Glo jy dat God bestaan?
  • Weet jy of God bestaan?
  • Is jy oortuig dat God bestaan?

Apostaat

 

Hallo Apostaat

Ek reageer graag stuksgewys op jou e-pos.

Dankie vir jou brief.  Ek kan sien dat jy heelwat tyd daaraan spandeer het, en ek het waardering daarvoor, veral aangesien jy my nie ken nie. Ek verstaan ook dat dit met goeie bedoeling gedoen is, en ek hoop dat jy voel dit was die moeite werd.

Jy is reg wanneer jy sê dat “Iemand wat sy oortuigings met deurdagte integriteit kan stel en verdedig, hoef nie anoniem te wees nie”.  Dit is my keuse om anoniem te skryf.  Ek steek nie my sienings weg in my dag-tot-dag nie, en enigiemand wat godsdiens of geloof met my bespreek kan ‘n eerlike antwoord te wagte wees.  Ek wil nie hê dat my identiteit aandag moet aftrek van wat ek sê nie.  Almal kan self besluit of hulle my wil kontak of kommentaar lewer, of selfs my wil antwoord as ek ‘n vraag vra, en dit sal noodwendig met die verstandhouding wees dat ek ‘n pseudoniem gebruik.

Ek het aangedui dat ek anonimiteit in my ervaring beleef as ʼn masker en het nie baie tyd vir anonieme vrae of kommentaar nie. Maar soos ek gesê het, ek aanvaar jou anonimiteit, en daarom dat ek bereid is om met jou in gesprek te tree.

Het ek ‘n anti-Christelike agenda?  My agenda – as ons die woord moet gebruik – is anti-godsdiens, anti-pseudoscience, pro-rede, pro-wetenskap.  Ek is gekant teen onbetroubare epistemologie. Ek is ‘n voorstander van menseregte, rasionaliteit en barmhartigheid.

Ek het verduidelik dat ʼn anti-Christelike agenda vir my beteken dat iemand vasgeval het by dit wat hy verwerp en een van die duidelikste tekens is die karikature wat iemand maak van dit waarteen hy is. Iemand wat karikature skep van ʼn ander se standpunt sonder om eers seker te maak van wat die ander party werklik glo, is nie besig met eerlike gesprek nie. Ek het genoem dat ek bepaalde retoriek in sommige van jou skrywes opmerk wat in daardie rigting neig (en jou artikel, Heilig, heilig heilig is baie problematies in hierdie verband), maar dat ek jou die voordeel van die twyfel wil gee en dat ek daarom tog bereid is om met jou in gesprek te tree.

Jy neem aan dat ek onlangs my geloof verloor het en nou die blog skryf omdat ek hardop in die openbaar my eie gedagtes vir myself wil duidelik maak.  Hieroor is jy verkeerd. My geloof het jare terug tot ‘n einde gekom, en my doel met Apostaat is om my gedagtes met ander te deel. Die rede hiervoor is dat daar nie genoeg bronne van inligting in Afrikaans beskikbaar is wat krities oor godsdiens praat nie.  Deel van die proses is om te verduidelik hoe my geloof ontrafel het maar dit is nie die rede vir die blog nie.  Ek doen dit omdat dit dalk vir iemand anders ook sal laat wonder of hulle eie geloof sin maak, nie omdat ek dink dat my ervaring besonders is nie.

Nee, ek het nie enigiets aangeneem nie. Ek het nie probeer aandui dat ek dink ek weet hoe lank terug jy jou geloof vaarwel geroep het nie.  Ek weet maar net uit my eie ervaring dat om jou eie gedagtes neer te pen meestal daarmee gepaard gaan om sulke gedagtes ook te orden (en dus duidelikheid vir jouself te kry oor wat presies jy oor iets dink), veral as jy dink dat ander daarby kan baat vind.

Iemand wat energie wy aan iets waarteen hulle gekant is, doen dit gewoonlik omdat hulle dink dit is die moeite werd om die wêreld te verander.  Dit is hoekom aktiviste en kampvegters doen wat hulle doen. 

Wat dink jy is die grootste motivering vir aktiviste en kampvegters: dit waarteen of dit waarvoor hulle is? My punt was maar net dat baie mense met ʼn anti-Christelike agenda véél meer energie wy aan dit waarteen hulle is as dit waarvoor hulle is, en in baie gevalle vind ek dit verdag. Weereens, ek wil jou die voordeel van die twyfel gee en daarom hierdie gesprek.

Iemand wat geen rede sien om in ‘n hiernamaals te glo nie het soveel meer rede daarvoor, want hierdie wêreld is die enigste een wat ons verseker kan weet ons ooit sal hê. 

Dis nou presies hier wat ek iets by jou sien van ‘n “dogmatiese skeptisisme” wat gesprekvoering moeilik maak: “want hierdie wêreld is die enigste een wat ons verseker kan weet ons ooit sal hê”. Mmmm. Okay, dan. Geen verdere gesprek dus nodig nie?

Ek is van mening dat oortuiging sonder goeie rede skadelik is.  Dit is vir my teleurstellend dat dít nie duidelik genoeg is in die blog nie, maar nou dat ek dit weet sal ek meer aandag daaraan gee.

Nee, dit kom baie duidelik in jou blog uit. Die probleem is net dat jy dit baie duidelik stel dat jy dink dat om as ʼn Christen te glo per definisie beteken dat jy nie ʼn goeie rede het nie. Ek lys dit weer vir jou:

  • “Glo is hoop of vrees wat vir jou soos kennis lyk” of
  • “Geloof is ‘n verskoning om op te hou soek, om die waarheid te ignoreer” of
  • “as dit jou gewoonte is om te glo jy’s reg sonder goeie rede…” of
  • “die idee dat dit deugsaam of eerbaar is om feite te verwerp ter wille van hoop en vrees”.

Wat ek vir jou probeer aantoon het is dat geen van hierdie beskrywings inherent waar is van wat dit sou beteken om byvoorbeeld Christelike oortuigings te hê nie. Dis bloot karikature.

Ek is beslis bereid om ‘n gesprek te voer.  Ek vra graag vir mense wat dit was wat hulle oortuig het oor die dinge wat hulle glo.  Omdat jy onderskeid tref wil ek graag weet hoe jou antwoorde op hierdie vrae sou verskil:

Glo jy in God?

Ja! Ek vertrou God vir wie Hy is, dat hy vertrouenswaardig is, vir sy beloftes aan almal wat Hom liefhet en dat hy my toerus vir die taak waarvoor hy my in hierdie lewe geroep het.

Glo jy dat God bestaan?

Ja! God se bestaan maak vir my sin van verskeie aspekte van die wêreld waarin ek myself bevind op ʼn manier waarop die alternatiewe nie doen nie. Sien bv. hier.

Weet jy of God bestaan?

Ja! My kennis van God is gegrond in my onmiddellike ervaring van Hom en in my daaglikse verhouding met Hom.

Is jy oortuig dat God bestaan?

Ja! Die kombinasie van bogenoemde antwoorde oortuig my dat God bestaan, dat die stelling “God bestaan” ooreenstem met wat werklik die geval is.

Ek hoor graag van jou.

Groete

Udo

Sien ander dele van hierdie gesprek:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.