Straf op sonde?

Hello Udo,

Ons het al ontmoet per geleentheid by KSM met ‘n praatjie of twee.

Die rede hoekom ek jou kontak is vir ‘n eenvoudige vragie.

Met verwysing na Samuel 16:23 waarin ons lees dat onse Hemelse Vader, God van Liefde ‘n Gees (bose gees) volgens die skrif in Saul laat vaar het.

Ek verstaan ons GOD is almagtig en bring lewe en liefde en kan van atome tot sonne stelsels verander.

Maar ons word geleer dat GOD geen spikkel sleg of boos op hom het nie. Maar tog wil ek die stukkie beter verstaan waar die BYBEL in al sy verskeie vertalings en sels die Hebreeuse oorspronklike skrif verwys hierna.

Ek kan ook my eie gevolgtrekking maak dat God Saul “afhanklik” van Dawid se musiek kon gemaak het om hom te waardeer of watse redes ookal.

Ek verstaan ook dat God slange tussen die Isrealiete los gelaat het en derduisende gedood het oor hulle ongehoorsaamheid.

Maar in my soeke na wie GOD is, verstaan ek nie baie goed hoe hierdie karakter eienskappe met mekaar versoen nie.

Enige ander verse wat jy my na toe kan verwys vir meer insig sal baie waardeer word.

Vriendelike groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Jy wonder oor hoe ons die feit dat die Here ‘n bose gees gestuur het (let wel, gestuur deur God, nie uit God nie) om Saul te teister, kan vereenselwig met sy liefdevolle karakter. En soos jy noem, daar is baie ander voorbeelde in die Ou Testament waar God se straf baie swaar rus op mense wat aan Hom ongehoorsaam was of wat willens en wetens verkeerd opgetree het.

Die feit is dat ons nie God se heilige karakter teen sy liefdevolle karakter moet afspeel nie. God is beide liefdevol én heilig. Sy oordeel oor sonde is ‘n uitdrukking van sy heiligheid. Hierdie heiligheid van God kan die duidelikste gesien word in hoe Jesus in ons plek gesterf het en ons sondeskuld gedra het sodat ons vergifnis kon ontvang. Terselfdertyd is Jesus se kruisdood ook die duidelikste voorbeeld van God se liefde, van sy begeerte dat mense in ‘n verhouding met hom herstel sal word en hoe Hy dit moontlik gemaak het.

So ek dink nie dat ons God se heiligheid van sy liefdevolheid moet of selfs kán skei nie. Ek dink egter dat ons moet verstaan dat God se oordeel op sonde in Jesus se kruisdood volvoer is. Daarmee bedoel ek dat Jesus die straf vir mense se sonde gedra het op ‘n manier waarop sulke straf sedertdien op niemand meer vergeld word nie. M.a.w. God straf mense nie meer vir hulle sonde op dieselfde manier as wat Hy gedoen het vóór Hy sy Seun gestuur het nie. Jesus het alle en almal se straf op sonde gedra. Mense beleef nog die gevolge van hul sonde, maar nie die straf daarop nie.

Die Heilige Gees se werk, sedert sy uitstorting ná Jesus se hemelvaart, is om mense bewus te maak van beide sy heiligheid en sy liefde, en dat dit juis beide hierdie eienskappe van God is (so duidelik te sien in die gebeurtenis van die kruis wat ons ‘genade’ noem) wat dit moontlik gemaak het om met God in verhouding te tree. Niemand hoef dus straf te wagte te wees nie, want Iemand het reeds ons straf gedra. Natuurlik is daar ook iets soos God se dissipline, maar sulke dissipline het altyd ten doel om te onderrig en te begelei – dit het niks te doen met straf op sonde nie.

Evert, hierdie is in breë trekke hoe ek die sentrale boodskap van die Bybel verstaan en wat ek as raamwerk gebruik om jou spesifieke vraag toe te spreek. Dit mag egter wees dat ek ‘n bepaalde nuanse van jou vraag gemis het of dat dit dalk nodig is om verder oor iets uit te brei, so tree asseblief verder met my in gesprek.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.