Het ons ʼn vrye wil?

Hi Udo,

Ek wil graag ‘n onderwerp met jou deur praat (let wel, nie debatteer nie, maar as dit iets opduik sal ons dit kan beredeneer.)

Dit gaan oor die wil van God en die wil van die mens.

Ek is ook baie bewus van mense se beperkte woordeskat met die uitdrukking van spesifieke gevoelens of bedoelings.

Natuurlik is die voorbeelde baie los van enige konteks af, so dit kan seker lei tot ‘n raai-raai gesprek.

Maar ek hoop maar in my lomp verduideliking kan jy moontlik sin maak van my konsep.

Jou wil, ons wil, God se wil… hoe definieer ons “wil”?

“Ek wil nie eet nie” beteken dit ek wil nie nou eet nie, ek wil nie dit eet nie of ek wil nooit weer eet nie. 

Soms word gese ek wil nie eet nie, wanneer dit is as gevolg van iets anders is. 

Ek kan nie eet nie, want ek het tand pyn.

Ek is nie honger nie, ek het reeds geeet.

Of ek wil nie eet nie, ek wil gewig verloor. (Die “wil” is dus soms versteek)

Hierdie is als basiese taal gebruik en ongelukkig is my Afrikaans seker nie eers hoërgraad vlak nie. 🙂

“Ek wil eet” is die ander kant van ek wil nie. Is dit dus die wil om honger te bly?

So hoe word ons wil, uitgebeeld en hoe word die woorde gebruik?

Wanneer ons wil uitgespreek word, is dit kort of lang termyn.

Of word die woord “wil” nou die vervanging van “wens”.

Wanneer is ons wil ‘n wens? 

En wanneer is ons wil vervul?

“Luister na raad, aanvaar wat jou geleer word, sodat jy uiteindelik wysheid kan hê. Al maak mense hoeveel planne, wat die Here besluit, staan vas.” SPREUKE 19:20-21 AFR83

Ek wil graag die “Wil” so definieer dat wanneer ek aan iemand iets eenvoudigs moet oordra ek nie in dieselfde modder poel trap en moontlik die hele argument betroebel nie.

Ek het ook ‘n baie interessante web blad wat ek graag met jou sal wil deel, Ek vermoed die siening op die web blad word verkeerd uitgedruk of vertolk as gevolg van eenvoudige woorde wat komplekse gedagtes moet probeer uitbeeld.

Laat my asseblief weet wat jou opvatting hiervan is:

http://godallinall.org/bq_free_will_and_freedom_of_choice.htm

Vriendelike seëninge en groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Die gebruik van die woord “wil”, soos in al die voorbeelde wat jy noem, is meestal ‘n uitdrukking van iemand se strewes, begeertes, verlange of wense oor bepaalde dinge.

Daar is egter ook die konsep van “ʼn menslike wil” wat spesifiek verwys na ons vermoë om te kan dink en op te tree sonder die dwingende effek van eksterne faktore. Of anders gestel: ons wil is vry, wat beteken dat ons kan keuses en besluite maak waarvoor niemand anders verantwoordelik is nie behalwe onsself. Natuurlik word ons almal beïnvloed deur omstandighede en faktore buite ons beheer, maar selfs dán word ons keuses en gedrag nie daardeur bepaal nie.

Ongelukkig kan ek glad nie saamstem met die skrywer van die artikel waarna jy verwys nie. Sy vra byvoorbeeld aan die einde van daardie artikel die volgende: “What is the good news of having neither free will, nor freedom of choice?” Dan antwoord sy: “To be short and sweet… It makes forgiving easy…understanding adversity better…relieves us from stress…and thus removes this boulder that keeps us from experiencing lasting joy.”

Ek dink dis ʼn geheel en al foutiewe siening. Let onder andere op die volgende. As ons nie vryheid het om keuses te maak nie, dan is ons ook nie moreel verantwoordelikheid nie. Dit maak die idee van vergifnis sowel as die lyding (adversity) wat ons weens ander se optrede beleef, heeltemal onsinnig. Dis tog juis in die konteks daarvan dat ons dink dat iemand verkeerd opgetree het en terselfdertyd die vermoë gehad het om anders op tree, dat ons verstaan waarom ons leed ervaar en dat die potensiaal vir vergifnis moontlik is. Ons is tog nie diere wat maar net doen wat ons instinkte bepaal ons sal doen nie. Ons vergewe tog nie diere wat nie anders kon optree as volgens hul instinkte nie. Die leeu wat die toeris aanval in die Kruger Wildtuin (dalk omdat hy die veiligheid van sy motor verlaat het), het nie nodig om vergewe te word nie, want leeus is nie morele wesens nie. Leeus doen bloot instinktief wat leeus in bepaalde omstandighede sal doen. Dis juis omdat mense morele wesens is wat kan onderskei tussen reg en verkeerd, dat ons verantwoordelik gehou word vir ons keuses (enige regstelstel is dan ʼn klug en alle samelewings sal in duie stort as hierdie beginsel nie waar is nie).

Daar is nog veel meer om te sê oor die implikasies daarvan om te dink dat ons nie vrye wil het nie. Een laaste opmerking. Elke morele opdrag in die Bybel (selfs die opdrag om te bekeer, sien bv. Hand. 3:19; 17:30) veronderstel dat die mens die vermoë het om die opdrag te kan uitvoer en dus ʼn keuse het om daaraan gehoorsaam te wees of nie. As ons nie so ʼn keuse gehad het nie, dan maak die opdrag nie sin nie. ‘n Mens gee tog nie opdrag wat jy weet iemand nie kán nakom nie.

Wat dink jy? Laat hoor gerus van jou, dan gesels ons verder.

Groete

Udo

 

Haai Udo,

Ek voel ons is belyn op die “wil” aspek, alhoewel ek graag ‘n paar gevalle wil deur gesels. 

Ek verstaan en stem saam dat ons wil en God se wil verskil en ons verhouding en liefde vir God ons nader aan God se wil bring hoe beter ons verhouding groei. Vir die eenvoudige rede dat ons hom konstant in gedagte het en al fyner ingestel word tot Sy wil en natuurlik in absolute gehoorsaamheid wil leef.

Een van die gevalle wat ons kan bestudeer is;

Saulus se hart en wil wat verander is teen sy sin, moontlik met intimidasie?

“En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik ’n lig van die hemel af; en hy val op die grond en hoor ’n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop. En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: Here, wat wil U hê moet ek doen? En die Here antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen.” HANDELINGE 9:3-6 AFR53

(Neem ook kennis dat Die Here homself voorstel as Jesus, en nie enige ander naam nie. )

Is God ooit spyt oor sy besluite?

“En Samuel het Saul tot die dag van sy dood nie meer gesien nie, want Samuel het getreur oor Saul; 

en die Here het berou gehad dat Hy Saul koning gemaak het oor Israel.” I SAMUEL 15:35 AFR53

Jammer dat my uitleg en beskrywings so kort stondig is. Ek sal volgende keer nie van my foon af antwoord nie. My tik op hierdie klein skermpie is nie ideaal nie.

Lekker aand, hoop om gou weer van jou te hoor.

Vriendelike groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Kom ons kyk na die twee gedeeltes wat jy noem.

Hand. 9:3-6:  Daar is niks in die teks waaruit ʼn mens genoodsaak word om af te lei dat Saulus se hart en wil teen sy sin verander is nie. Dit was verseker ʼn radikale ervaring met die Here en ʼn ervaring wat selfs angs kon opwek. Maar niks hiervan is ‘n aanduiding dat Saulus se wil bloot oorrompel is en dat hy daarom noodwendig en onafwendbaar aan die Here gehoorsaam móés wees nie. Dis egter redelik om te dink dat die Here op die regte tyd en op die regte manier in Saulus se lewe ingegryp het (ter wille van beïnvloeding), juis omdat die Here geweet het dat Saulus ontvanklik sou wees vir so ʼn ingryping. Maar in die hele proses vandat Saulus deur die lig verblind is, was sy denke en besluite steeds sy eie. Selfs al was daar sterk eksterne faktore wat hom beïnvloed het, is dit steeds nie die geval dat hy gedwing was sodat hy nie anders kon optree as wat hy het nie.

My werkende aanname is dat God niemand dwing om teen hulle sin iets te doen nie – ook nie om Hom lief te hê nie (gedwonge liefde is ʼn teenstrydigheid in terme). Natuurlik werk die Heilige Gees om ons te beïnvloed ter wille van ons voordeel, maar dan het ons steeds die vryheid om daarteen weerstand te bied.

1 Sam. 15:35: Ek dink dat as God alwetend is, dan maak dit nie regtig sin om te dink dat God onverhoeds betrap gaan word deur die verloop van gebeure nie. Daar is egter inderdaad baie gedeeltes in die Bybel wat dit laat blyk asof God verras sou wees deur bepaalde gebeure. Sulke beskrywings het egter meestal ten doel om as positiewe of negatiewe kommentaar te dien op die stand van gebeure wat beskryf word. Kom ek verduidelik dit aan die hand van ʼn ander gedeelte in die Bybel.

In Genesis 6:6 verwys die skrywer na God se spyt en selfs droefheid omdat hy die mens gemaak het. Probeer die skrywer suggereer dat God ʼn onbekwame skepper was wat nie kon voorsien hoe sy skepping sou uitdraai nie? Nee, die skrywer wil God se diepe afkeur in die mens se verdorwenheid beklemtoon. Dis soos ʼn ma wat vir haar woelige peuters wat hulleself nie vir vyf minute kan gedra nie, sê: “Ek is spyt dat ek julle na die restaurant gebring het, julle maak my só hartseer”. Is sy egter verbaas dat haar kinders hulle nie kan gedra nie? Nee, nie regtig nie. Het sy vooraf gedink dat hulle heeltyd soos goedgemanierde volwassenes sou optree? Nee, natuurlik nie. Haar woorde is bedoel om haar afkeur uit te druk (wat sy selfs met werklike emosie kan doen) en haar kinders te vermaan.

God se uitdrukking van frustrasie of teleurstelling op verskeie plekke in die Bybel (soos Sy berou dat Hy Saul koning gemaak het) is dus kommentaar op die aard van die bepaalde gebeure of stand van sake en nie ʼn aanduiding dat Hy daardeur verras is of dat Hy verkeerde besluite gemaak het nie.

Maak dit sin?

Groete

Udo

 

Goeie môre Udo,

Ek hou van jou vergelyking met die kinders in die restaurant. En dit is nogal presies hoe dit is. Ek vind natuurlik steeds dat taal en skrif ‘n baie beperkte kommunikasie middel is. Maar natuurlik hoe meer mens dit reg gebruik en oefen hoe beter word ons daarmee. Maar ongelukkig word ons beter en meer vertroud met ‘n gehoor (ontvanger) van ons boodskappe en wanneer die gehoor verander (minder of meer geletterd of belese) dan is die risiko van misverstande weer hoër. 

Terwyl ons die Heilige Gees altyd moet vra om ons te lei en insig gee met die lees van die Bybel. 

So ek verstaan daar is geen pertinente teks wat sê Saulus is teen sy wil verander nie. Net soos vele mense verander ons self van besluit in die middel van die uitvoering van ‘n taak om iets heel anders te doen. 

Met die duidelike intensie/bedoeling dat Saulus sterk oppad Demaskus toe was om die dissipels gevange te neem en in boeie teneem vir veroordeling, sou dit nie ‘n ligte ingryping kon neem om hom van oortuiging te verander nie. 

Die goeie deel vir my was ook dat God homself aan Saulus voorstel as Jesus en nie as die Here of die God van Dawid of so nie.  

Ek voel tog dat nuwe lesers en nuwe christene en selfs ou geykte christene, gereeld deur skrif soos 1 Samuel 15:35 of Genesis 6:6 bietjie mislei kan word dat God nie alwetend is nie en dat sy besluite nooit wankel nie. So ek voel daar is soms insig of inkennigheid wat verlore gaan as gevolg van vertalings. Dit maak die punt eintlik net sterker waar ons moet betrokke wees by bybelstudie groepe of selfs ‘n kenner van die Bybel wat in ‘n verhouding met God is om mense bytestaan in die verkenning en studie van God se Woord. 

Ek waardeer jou flinke antwoorde en natuurlik jou moeite met elke antwoord wat jy aanstuur. 

Ek hoop om binnekort weer die sessies Dialoog Sondag aande te kom vergesel. 

Geseënde dag vir jou

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ja, die beperking in die gebruik van taal lê veral by die feit dat daar altyd ʼn groter konteks is wat die nodige agtergrond bied, en dikwels onontbeerlik is, vir goeie en akkurate begrip. So ek is dit met jou eens dat nuwe lesers en Christene, soos jy tereg noem, die toepaslike begeleiding nodig het wanneer hulle met die teks van die Bybel besig raak. Natuurlik vertrou ons die Heilige Gees om die Woord vir ons oop te breek, maar dit maak nie die taak van goeie eksegese onnodig of selfs moeiteloos nie. Jy sal verbaas wees (kyk maar net na sommige van die artikels op ons webwerf) oor hoe gereeld skeptici die Bybel kritiseer wanneer dit duidelik is dat hulle nie naastenby besorg is oor heel basiese hermeneutiese beginsels wat geld in die interpretasie van enige teks nie.

Dankie vir jou interaksie en betrokkenheid, ek waardeer dit. Skryf gerus weer as jy oor iets wil gesels.

Mooi bly.

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.