Leibniz se argument vir God se bestaan

NB – Apostaat skryf in sy artikel, Vryheid en spraak, hoe hy dink dat dit ʼn goeie idee is dat mense mekaar se idees kan bevraagteken en kritiseer. Sulke vryheid, sê hy, is immers die essensie van vryheid van spraak. Daar is egter ʼn belangrike beperking op sulke vryheid, laat Apostaat my egter onlangs weet: Jy tree onwettig op deur my volledig aan te haal wanneer jy my idees in jou skrywes kritiseer. Ter wille van die letter van die wet en skynbaar omdat Apostaat nie die gees daarvan verstaan nie en daarom vir een of ander rede bedreig voel, is die volgende artikel dus ʼn wysiging van die oorspronklike, in ʼn poging om my direkte aanhalings uit Apostaat se skrywes tot ‘n minimum te beperk.

In die artikel, Iets eerder as niets, poog Apostaat om sin te maak van Leibniz se Kondisionele Argument vir God se bestaan. Ek lewer graag kommentaar op sy skrywe.

Apostaat noem dat die vraag oor hoekom daar iets eerder as niks is, ʼn goeie vraag is. Tog wonder ek waarom Apostaat so verbaas klink dat dit ook in die  “apologiek” (sic) belangrik sou wees. Dis immers ʼn vraag wat filosowe al baie lank bespreek.

Apostaat noem dat dit frustrerend is om ‘n vrae te vra sonder om by antwoorde te kan uitkom, en hoe daar nog altyd vrae was waarop ons nie kon antwoorde kry nie. Niemand ontken natuurlik die feit dat daar baie vrae is waarvoor ons nie antwoorde het nie. Dit help egter nie om soos Apostaat, suspisie te saai oor die beantwoording van vrae in die algemeen nie. Die vraag is of ʼn spesifieke vraag wat gevra word, ʼn antwoord het.

Apostaat sê dat hy nie weet wat die antwoord is op die vraag hoekom daar iets is eerder as niks nie. Dis goed en wel. Maar dan maak hy ʼn merkwaardige stelling: omdat hy wat Apostaat is, nie weet nie, twyfel hy of enigiemand anders kan weet, want watse inligting het hulle wat nie ook tot sy beskikking is nie? Hierdie effense arrogansie laat my wonder of Apostaat dink dat hy wel al die inligting tot sy beskikking het, of selfs of hy dink dat hy die inligting wat wel tot sy beskikking, reg verstaan? Wel, kom ons kyk.

Die argument lyk so:

  1. Everything that exists has an explanation of its existence, either in the necessity of its nature, or in an external cause.
  2. If the universe has an explanation of its existence, that explanation is God.
  3. The universe exists,
  4. The explanation of the universe’s existence is God.

Apostaat spring vol selfvertroue weg en dan, sommer met sy eerste beswaar oor die eerste stelling, duik hy in die hek. Stelling 1 stel baie eenvoudig dat daar ʼn verduideliking is vir waarom iets bestaan en dat daar twee tipes verduideliking is – maak nie saak hoe en vir wie jy dit verduidelik nie.

Dit help ook nie om, soos Apostaat die fout maak, bloot te sê dat jy nie weet wat die verduideliking is nie. ʼn Mens hoef nie eers te weet wat die verduideliking vir iets se bestaan is vóórdat jy kan weet dat dit ʼn verduideliking het nie. Tensy Apostaat wil ontken dat iets soos die heelal ʼn verduideliking nodig het?

Wat is meer redelik? Om te sê die heelal bestaan sonder enige verduideliking, of eerder iets soos stelling 1 wat stel dat daar twee opsies is vir enigiets wat bestaan: 1) iets bestaan omdat dit deur iets anders veroorsaak is, of 2) iets bestaan omdat dit in die aard daarvan is om noodwendig te bestaan (hier dink ʼn mens aan dinge soos nommers, stelle, of ander wiskundige entiteite wat baie filosowe dink op so ‘n manier bestaan).

As Apostaat egter ontken dat die heelal ʼn verduideliking nodig het, dan beteken dit dat die heelal bloot as ʼn onverklaarbare feit bestaan. En dis presies wat ateïste gewoonlik aanvoer: aangesien God nie bestaan nie, is dit vals om te sê dat alles ʼn verduideliking nodig het vir waarom dit bestaan, die heelal bestaan bloot as ʼn onverklaarbare feit. M.a.w. as ateïsme waar is, dan bestaan die heelal sonder enige verduideliking.

Die logiese ekwivalent van laasgenoemde stelling is om te sê dat as die heelal wel ʼn verduideliking het vir waarom dit bestaan, dan is ateïsme vals. En dis presies wat stelling 2 verduidelik: As die heelal die tipe dinge is wat ʼn verduideliking nodig het, dan is daardie verduideliking God. En opsigself is dit ook ʼn baie redelike gedagte, want as die heelal verteenwoordigend is van alle tyd, ruimte en materie, dan moet die oorsaak daarvan, tyd, ruimte en materie transendeer en kan daarom nie sélf materieel van aard wees nie. Weereens, daar is slegs twee dinge wat aan hierdie beskrywing voldoen: abstrakte objekte, soos nommers, of ʼn onbeliggaamde verstand (m.a.w. ʼn immateriële self of ʼn siel wat ʼn effek kan uitoefen). Abstrakte objekte staan egter nie in oorsaaklike verhouding tot enigiets anders nie. Dit beteken dus dat as die heelal se bestaan ʼn verduideliking het, dan moet daardie verduideliking wees dat ‘n transendente en onbeliggaamde Verstand die heelal geskep het – en hierdie is natuurlik kenmerke van ʼn intensionele wese wat onder die beskrywing van “God” sal val.

So Apostaat is weereens eenvoudig verkeerd om te sê dat ons nie kan sê of die verduideliking van die heelal ʼn intensionele wese is nie. Om te dink dat Leibniz (en dan ook seker ander kontemporêre filosowe soos Alexander Pruss, Robert Koons, Richard Swinburne, Stephen Davis, William Lane Craig, ens., ens.) aan iets wat hy nie verstaan het nie, bloot ʼn naam gegee het, is seker die duidelikste bewys van die arrogansie en onkunde wat hier ten toon gestel word.

Apostaat se wanpersepsies kan ook verder uitgespel word. Met Leibniz se Kondisionele Argument word daar nie gevra, soos Apostaat verkeerdelik dink, wat die oorsaak van die oerknal is nie. En God word ook nêrens sommer lukraak as die oorsaak daarvan verklaar nie. Apostaat se fout is om te dink dat hierdie argument oor oorsake gaan. Dit doen nie. Dit gaan oor verduidelikings. Die feit dat Apostaat nie die verskil verstaan nie, wys dat hy nie eintlik bekend is met die argumente soos hy elders verklaar het nie.

Goed, noudat Apostaat hopelik (!) beter verstaan hoe Leibniz se argument werk, kan hy gerus vir die “apoloog” (sic) verduidelik na watter “aannames en onvermoë om die feite te verduidelik,” hy verwys. Die probleem is dat sodra iemand filosofie met mitologie verwar, of dink dat die wetenskap alles moet of kan verklaar, dan weet jy dat so iemand nie eintlik weet waarvan hulle praat nie.

3 Comments

  1. Hi Udo. Ek sal graag wil verstaan wat jy bedoel daarmee wanneer jy sê die bestaan van die heelal “‘n verduideliking nodig het”. Wat beteken die woord “nodig” in hierdie geval?

    • Die eerste stelling van Leibniz se argumnet is: alles wat bestaan het ‘n verduideliking vir waarom dit bestaan en daar is twee opsies: 1) alles iets wat bestaan, bestaan omdat dit deur iets anders veroorsaak is, of 2) alles iets wat bestaan, bestaan omdat dit in die aard van daardie ding is om noodwendig te bestaan. Daar is egter’n derde opsie, maar met ‘n geweldige bewyslas naamlik 3) die heelal het nie ‘n verduideliking nie, dit bestaan onverklaarbaar – dit het dus nie ‘n verduideliking nodig nie. Dis waarom ek gewonder het of jy dalk dink die heelal het nie ‘n verduideliking nodig nie. Indien jy nie opsie 3 aanvaar nie, watter van die ander twee opsies dink jy bied ‘n verduideliking vir waarom die heelal bestaan?

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*